Dirna Ackermann

Haar beste bruidegom


Скачать книгу

jy het die vermetelheid om mý onvolwasse te noem? Dís hoekom ek partykeer lus het om jou met ’n plank te slaan.” Verbouereerd vou sy haar arms oor haar skoppende hart. “Jy sal die eerste een wees om jou pap te lag en vir my te vertel beste pelle word nie bedmaats nie.”

      Sy tol om na waar dit veiliger voel, uit onder sy amper swart blik wat haar vaspen asof sy ’n ruspe op een van sy saailinge is, en snip so skuins oor haar skouer: “Of het jy windbestuiwing in gedagte?” Uit die hoek van haar oog sien sy hy bly in een plek geanker. Redelik bleek om die kiewe.

      Goed so. Hy dink mos omdat hy ouer en groter is, moet hy altyd die laaste woord inkry. “Kom, ek het ’n vergadering elfuur en ek soek ’n bos blomme vir die raadskamer se tafel, en daarna moet dit voorportaal toe gaan. Die baas verwag belangrike besoekers.”

      “Gaan . . .” Hy skraap sy keel teen ’n heesheid wat, gemeet aan die gewone rasperklank in sy stem, na ’n grondverskuiwing klink, en val langs haar in. “Gaan jy darem dié keer daarvoor betaal?”

      “Wie het wat aan jou gedoen dat jy vanoggend so mislik is met my?”

      “Annemé, jy dra bosse blomme hier weg en ek moet finansieel instaan vir die versierings van Calvyn Calitz se plek terwyl jou baas geld rondgooi asof môre nooit gaan kom nie. Hy moet bietjie oppas, een van die dae sal jy blomme moet aandra vir sy graf.”

      “Wat bedoel jy? Hy is g’n siek nie.”

      “Ek bedoel sy finansiële graf, poppielap. Nie dat die skamele bydrae wat my ou kwekerytjie se blommetjies maak seker kan verhoed dat die gat wat hy vir homself grawe net dieper word nie.”

      “Waarvan práát jy, De Wet Dekker?”

      “Maak jou oë oop, Annemé. Jou baas gee geld uit soos een wat ’n onuitputlike bron het. Soms dink ek dis ’n wonder jy het nog ’n werk, maar loop nou, ék het werk om te doen.” Hy koers eenvoudig die teenoorgestelde rigting in en verdwyn sonder omkyk of groet tussen ’n ry vyebome met hulle voete in grondgevulde swart sakke.

      Annemé gee driftige treë na die hoofingang, waar sy ’n bos blomme koop. Dan bestorm sy omtrent haar Volksie. As sy haar sonde nie ontsien nie . . . Die deur kletter toe.

      Hy was nog nooit so lelik met haar soos die laaste weke sedert haar verlowing uit is nie. Pleks van die troos en bemoediging wat sy al amper as haar regmatige deel beskou, is hy sommer goor. Sou sy eksvrou weer van haar laat hoor het?

      Bid jou dit aan! Die graaf mis sy voet rakelings toe De Wet dit saam met die hark eenkant gooi. Hý moet vir haar ’n man soek, maar terselfdertyd is haar nommereenkeuse Cameron White! Hy sug, tel die gereedskap op en sit dit met meer sorg teen ’n sak neer.

      As hy nie so omvergegooi was nie, het hy dalk die eerste keer in sy amper twee-en-dertig jaar – of liewer, die twintig dat hy haar ken – sy moed bymekaargeskraap en haar gesoen tot sy nie genoeg asem oor het om sulke twak kwyt te raak nie. Daardie mond van haar het lankal toemaak nodig.

      “De Wet?”

      Vernon du Plooy, sy bestuurder, regterhand en vriend, kom om die hoek van die ry vyebome. “Is jou sel af, of al weer by die huis?”

      De Wet vroetel in sy broeksak, maar hy weet dis eintlik onnodig. “Lê weer iewers waar dit moes laai. Die battery was heeltemal pap. Jammer, man. Is daar fout?”

      “Daai ou van Sonnekus Eiendomme het al weer gebel. Hy sê jy skuld hom nog ’n antwoord.”

      “Ja, sê hy moet maan toe vlieg.”

      Vernon se glimlag wys effe krom maar spierwit tande. “Nogal so gedink, maar dis jou voorreg om hom ’n voorspoedige reis toe te wens. Hy sal wel weer bel, want ek het gesê jy is in ’n vergadering, en . . .” – sy mond kink – “dan gaan hy seker ook kla ek was ongeskik.”

      De Wet se glimlag vorm vanself as reaksie op die onnutsigheid wat in sy vriend se bruin oë glim. “Waaroor gaan dit vir my nodig wees om jou aan te spreek?”

      “Hy was astrant genoeg om te vra waar jou vergadering is, want dan kan hy jou mos maar gaan inwag. Tyd is glo kritiek. Toe sê ek, seker êrens in die bos, hy moet net genoeg vlieëgif saambring. Jy hou nie van brommers nie.”

      De Wet demp sy skaterlag toe klante wat in die paa­d­jie anderkant die ry bome verbyloop, omkyk. “Sy vel is te dik, hy sou nie eens gesnap het waarvan jy praat nie. Maar as hy weer bel, sê ek hou ook nie van rusverstoorders nie. Ek raak nou sat van hulle gekarring. 4Seisoene is nie te koop nie en klaar. Ylani sê reeds sy het gehoor hulle het geldelike probleme. Waarmee wil hulle my betaal? Toe ek die stuk hier voor waar Sondal nou staan aan hulle verkoop het, het dit haar baie moeite gekos om al my geld uit hulle te kry.”

      “Nogal handig, hè?”

      “Wat?”

      “As ’n man eers begin dom speel, is dit reeds te laat.”

      “Pel, ek het werk wat moet klaar. As jy ’n sê het, sê dit behoorlik.”

      “Ek bedoel nou maar net dit is heel handig as ’n man se prokureur eers jou probleme met trae betalers vir jou erfgrond uitsorteer en dan sommer jou main squeeze ook word.”

      “Ylani is nie my meisie nie.”

      “As jy so sê. Weet Annemé al wat aangaan? Sy het hoeka netnou hier deurgetrek soos ’n haelbui wat plek soek om uit te sak. Wat het jy dié keer vir haar gesê?”

      “Sy kort net die afgedankste pak slae wat haar ouers haar nooit gegee het nie.” Tot in die afgrond bederf, daardie witkop met haar asuurblou oë wat ’n man drome laat droom oor die warm waters en soel nagte van ’n tropiese eiland.

      Vernon lag. “En jy is nét die man om dit vir haar te gee, nè?” vra hy met ’n doodsedige gesig, maar pret glinster in sy oë.

      “En jý, ou pel, bevind jou op gevaarlike grond. Dalk moet jy bietjie onthou ek ís nog die baas, en die baas gaan nou huis toe om skoon aan te trek voor ek potensiële klante die skrik op die lyf jaag, en om my selfoon te kry.” De Wet tel die gereedskap op. “Vra asseblief een van die manne om die kruiwa en ander goed daar by die koidamme te gaan haal.” De Wet stap weg terwyl Vernon se lag agter hom aan eggo, sy gedagtes besig met sy vriend se woorde.

      Hy is bereid om te erken hy het wel al gewonder of hy en Ylani in die rigting van meer as prokureur en kliënt wees moet beweeg, maar vir Annemé hoef hy niks te vertel nie. Sy het nog altyd ’n mondvol te sê gehad oor elke meisie, en later vrou, wat hy uitgeneem het.

      Daardie parmantige bekkie het omtrent gif gespoeg toe hy en Miranda besluit het om te trou, en in die twee jaar wat sy huwelik gehou het, het sy hulle huis vermy asof die pes daar groei. Terwyl dit al die jare haar tweede tuiste was.

      De Wet bêre die gereedskap in die skuur, stap agterom die geboue en tik sy kode in om die veiligheidshek in die geëlektrifiseerde heining wat die kwekery van sy privaat eiendom skei, oop te maak. Hy buk en trek ’n pol onkruid uit aan die kant van die gruispaadjie wat van hier tot bo by Annemé-hulle se erf teen die voet van die berg loop.

      Die pragtige Dennevallei is sy tuiste van geboorte af. Eers het sy oupa, en later sy pa, toe dié nog gelewe het, dit net so ongerep probeer hou. Behalwe vir die laerliggende dele waar Sondal vandag gebou is en wat toe die kwekery gehuisves het, was dit net hulle huis so halfpad teen die hoogte uit.

      Twintig jaar gelede het oupa Danie die lappie grond anderkant die sloot vir ’n appel en ’n ei aan die bekende dirigent Morné Zeelie verkoop en ’n yslike gewerskaf het daar begin. Sommer gou was die Dekkers se huis nie meer die enigste hier nie en het die natuurlike afvoersloot uit die voetheuwels die grens tussen die twee huise geword.

      Te klipperig om behoorlik te beplant, maar met ’n asemrowende uitsig oor die vallei, het menigeen die kop geskud, en oupa Danie dan van allerhande versteekte motiewe beskuldig.

      Ouma Lenie het net gelag. Almal het geweet Oupa het ’n ding gehad vir Anne Garner, die beroemde Engelse operasangeres en Zeelie se vrou. Toe De Wet eendag vra of die praatjies haar dan nie pla nie, het sy