Dirna Ackermann

Haar beste bruidegom


Скачать книгу

presies net dit,” reageer sy met ’n halwe sug om net die beswaardheid so bietjie te verlig. “Ek wil nou trou. Ek wil ’n bruid wees. ’n Man en kinders en my eie huis hê waar ons gelukkig kan wees. Ek word nie jonger nie en ek is rêrig moeg van self probeer. Ons weet albei watter klaaglike mislukkings my eie pogings tot nou toe was, en dink jy nie ek verdien die heel beste bruidegom nie?”

      “Jy bedoel seker die heel beste man?”

      “Tsk! Natuurlik, maar mens begin tog by ’n bruidegom. En soos ek ook nog wou sê, niemand ken my so goed soos jy nie. Jy is eenvoudig die perfekte een om Kupido te speel.”

      Hy beloer haar van onder wimpers wat halfmas oor sy oë hang. ’n Truuk wat haar soms rasend maak, want dan kan sy nog minder agterkom wat in sy kop aangaan. “Jy moet darem dink ek gaan die een of ander arme drommel sommer so in sy eie ondergang in lei.”

      “Ondergang? Wat bedoel jy met ondergang?” Sy gee hom ’n kyk wat sy hoop hom in sy spore sal neervel, maar hy blyk onaangeraak te bly. “Mens sou sweer ek is ’n sirene wat mans naderlok en dan onder die water intrek om hulle te verdrink.”

      “En jy is nie?”

      “De Wet, wat dink jy van my?”

      “Waarom die skielike haas om te trou?”

      Dan sê hulle die vroulike spesie is die onvoorspelbare een. Sy weet nie aldag hoe om die mansmens te lees nie. Een oomblik is hy alfa-man tot in sy voetsole. Veral wanneer hy lyk asof dit die een of ander natuurkrag sal verg om hom van gedagte te laat verander. Die volgende is hy die ene metro-man. Sit hom bietjie in ’n aandpak en haar ondier verander voor jou oë in Prince Charming.

      Dalk moet sy maar vir hom sy eie kategorie skep. So iets soos ek-hettie-’n-boksie-nie, en net ’n plakker opsit om die res van die vroulike populasie te waarsku – gevaarlik!

      “Luister jy nie? Ek sê dan ek word nie jonger nie. Oor ’n week is ek drie-en-twintig en my biologiese klok stap aan.”

      “Snert, Annemé. Jy is bloedjonk. Daar is nog baie jare om die regte man te ontmoet.”

      “Moet nou nie maak asof ek nie myself ken nie. Ek is moeg van alleen wees. Ek wil ook iemand hê aan wie ek behoort. Iemand vir wie ek die heel belangrikste een op aarde gaan wees. Saam met wie ek kan wakker word en weet vanaand gaan hy weer daar wees.”

      Hy gaan staan. “Mykie-bykie, wat is nou eintlik hier aan die gang? Jy bly by jou ouers in die huis –”

      “As hulle die slag daar is, ja.”

      “Goed, ek gee jou dit toe, maar al is hulle nie daar nie, het jy steeds vir Rebecca, en ek is reg langsaan. Jy het jou vriendinne, en daar was nog nooit ’n tekort aan manlike geselskap in jou lewe nie. Ek verstaan werklik nie waar hierdie ding nou vandaan kom nie.”

      Moet die mansmens so verstikkend logies wees? Dis hartsake hierdie. Annemé begin weer aanstap. “Ek sê dan vir jou” – sy gaan staan toe hy nie saamstap nie – “ek is moeg van alleen wees, en ek is nou reg vir kinders. Ek wil nie te oud wees om hulle te geniet nie.”

      “Is dít waarom dit gaan? Die feit dat jou ouers eers op gevorderde leeftyd vir jou gehad het?”

      “Gaan jy my help of nie?”

      De Wet kruis sy arms oor sy bors in ’n bekende gebaar, en toe hy sy voete wyd plant, weet sy: as hy eers lyk asof hy geanker is, beteken dit haar pleidooie val op dowe ore.

      “Wie het jy nogal in gedagte? Ek bedoel, jy wil seker nie hê ek moet die eerste die beste ou wat verbykom, vra wie hy is en hom dan aan jou voorstel nie . . . Of wil jy?”

      “Moenie vir jou simpel hou nie.”

      “Dit beteken jy het iemand spesifiek in gedagte. Wie?”

      “Jy het baie vriende.”

      “Nee.” Hy gee ’n blaaslaggie. “Jy het ’n spesifieke een in gedagte, so uit daarmee.” Sy kry ’n kwaai frons. Een wat sê hy weet waarmee sy besig is. Sy probeer draaie om hom loop om te sien of sy hom nie in ’n hoek kan vaskeer nie.

      “Of is dit ’n reaksie-ding? Jy is skaars verlos van een man en nou soek jy ’n nuwe?”

      “Kry end, De Wet. Ek is ernstig, al hou ek nie van die manier waarop jy dink ek is verlós omdat ek nie meer ’n verloofring dra nie. Ek was nog nooit enigiemand se gevangene nie. Dat ek my verlowing verbreek het, was die regte ding om te doen, en jy wéét dit.”

      “Goed. Goed.” Hy beklemtoon die woorde met waaiende hande voor hulle op sy heupe land. “Ek stem saam met jou, maar wie is dit dan?”

      “Ehm . . . Die nuwe ou by die klub. Cameron White.”

      “Oor my dooie liggaam.”

      “Hoekom nie? Ek dog julle is pelle. Julle doen dan soveel sport saam.”

      Sy het van die eerste dag ’n ogie op die blonde ou met die uitheemse sportmotor, die ou wat sedert die begin van die seisoen saam met De Wet rugby speel. Ongelukkig was hy die paar keer dat sy gegaan het om vir De Wet te ondersteun, die meeste van die tyd omring deur ander mense. Veral vroumense. Of sy was net bewus van sy kyke oor die lengte van die klubhuis. So al asof sy ’n soort kragveld om haar het wat hom verhoed om nader te kom dat hulle mekaar beter kan leer ken.

      “Die blote feit dat ons op die sportveld – nee, slegs die rugbyveld – klaarkom, beteken nie ek gaan my kleinsus aan hom . . .”

      “Dis nie asof ons nog nie ontmoet het nie.”

      “Ek weet, Annemé, ék het julle aan mekaar voorgestel.”

      “Nou?” vra sy palms na bo. “Ek vra net dat jy ons bietjie meer in mekaar se geselskap bring, en ek is nie jou suster nie.”

      Sy blik hou hare, maar sy kan nie agterkom of dit is om haar vas te pen tot hy sy sê gesê het, en of hy ’n boodskap wil oordra nie. “Glo my, poppielap, ek is deeglik bewus van daardie feit.”

      Moet die man gedurig kodetaal praat? “Hoekom wil jy my nie help om Cameron beter te leer ken nie?”

      “Sommer nie.”

      “Sal ek jou herinner aan jou geliefde gesegde toe ons – oukei, ek – nog kind was? Sommer is nie ’n rede . . .” Haar woorde raak op toe haar gedagtes ’n wilde sprong maak. “Wag so bietjie, jy is jaloers op hom!”

      Sy snorklag is definitief bedoel om neerhalend te wees. “Wat het hy waarop ek jaloers moet wees?”

      “De Wet, dan begryp ek nie. Hoekom hou jy nie van hom nie?”

      “Dis die een-en-twintigste eeu, poppielap. Vra self die man as jy iets meer wil hê. Jy was nog nooit beskimmeld nie, wat is nou die probleem?”

      “Ek weet watter flippen eeu dit is,” begin sy haar erg vir die man se dwarsheid. “Maar dis nog lank nie nodig dat ek alles slaafs moet nadoen nie, is dit? Ek doen my eie ding. Ek dink in elk geval dis voorbarig en sommer plein common. Ek is nog van die outydse soort. Ek hou daarvan – nee, ek verkiés – dat die man die jagter moet wees.”

      “Nou toe nou.”

      “Nou,” sy wip die dik poniestert in haar klamgeswete nek na agter. Dis uitermate warm vir die einde van Mei. “Dan sal ek dit maar self –”

      “Annemé!” Haar naam sweepklap en sy sluk verskrik vir sy hewige reaksie. “Ek waarsku jou, los daardie man uit! Jy gaan meer afbyt as wat jy kan kou.”

      “Wanneer jy vir my kan sê waarom ek hom moet uitlos, sal ek.”

      “Omdat sy reputasie met vroue, om die minste daarvan te sê, stink.”

      “Sê wie? Dié wat jaloers is?”

      Die vernouing van sy oë is die enigste reaksie voor hy vra: “Sê my iets.”

      “Wat?”

      “As dit dan net oor kinders gaan, kan ek hulle mos ook vir jou