aan die slaap raak, begin hulle drie stadigaan terugstap in die rigting van die Ou Stad. Dis skuins voor nege en al het hy die middag geslaap, is dit duidelik dat Yhoshi, wat steeds weier om in die waentjie te klim, baie moeg begin word.
“Met so baie mense op straat sal die winkels seker tot middernag oopbly?” vra Marc vir Danny, ’n ou vriend, by wie se toeristewinkeltjie in Ben Yehudastraat hulle ’n rukkie vertoef om ’n paar woorde te wissel.
“Ek reken so,” sê Danny sydelings terwyl hy besig is om met ’n toeris ’n prys vir ’n kosbare tallit te beding. Marc blaai ingedagte deur die pragtige talliyot wat daar hang, terwyl Rivkah en Yhoshi hulle verlustig in al die ander mooi dinge in Danny se unieke winkeltjie.
Dan lui Danny en Marc se selfone byna gelyktydig.
“Wat?” vra Rivkah onmiddellik toe sy die verandering in Marc se stemtoon hoor.
Hy druk die selfoon in sy sak en tel Yhoshi vinnig op. “Kom! Dit was Abba. Daar was ’n skietery by ’n yeshiva hier in die stad. Ernstig. Baie gewond. Party waarskynlik dood. Een terroris is doodgeskiet, maar daar is ’n moontlikheid dat ’n tweede op pad middestad toe is.”
Rivkah sê niks. Sy vou vinnig ’n kombersie oor Natan en kom blitsig met die stootwaentjie agter Marc en Yhoshi aan. “Waar?” vra sy toe sy langs hom kom.
“Hy reken dis ’n yeshiva in Mea Shearim.”
“Avinu,” fluister sy geskok, “in ’n yeshiva …?”
Sy probeer nog vinniger loop. Mea Shearim is nie baie ver van waar hulle hul bevind nie.
“Sit Yhosh in die waentjie! Dan kan ons vinniger beweeg!” roep sy uitasem.
Maar toe Marc dit probeer, klou die kind so angstig aan hom vas dat hy die poging laat vaar en met hom in sy arms begin hardloop. Terselfdertyd luister hy instinktief of hy iewers in ’n huis of gebou ’n dringende nuusberig hoor. Ná ’n paar jaar in Israel weet hy dat die Israeli’s byna altyd iewers in hul omgewing ’n radio of TV aan het. Dis ’n wesenlike deel van die lewe in Israel. Party radiostasies raak stil tussen middernag en vyfuur soggens, maar hulle bly nogtans heeltyd op die lug al is daar geen uitsending nie. As daar probleme is, kom die radio’s onmiddellik hard en duidelik aan. Israeli’s bly voortdurend in kontak met mekaar en met die werklikhede van hul omgewing. Letterlik almal in Israel het selfone en dit word nooit afgeskakel nie. Elke Israeli het ook ’n tipiese “Joodse ouma” of iemand anders wat ’n versorgende rol speel: “Eet jou kos. Neem ’n jas, dit kan koud word. Pas op! Is jy oukei?” Ja-nee, daag ’n wrang gedagte by Marc, Jode ís professionele “kwellers”en “omgeërs”, en dit is nodig in hierdie bedreigde landjie. Miskien het dié neiging om altyd besorg te wees oor die mense wat jy liefhet, ná eeue van vervolging … die kruisvaarders, die Inkwisisie, pogroms en die Holocaust … deel van Jood-wees geword. Vanaand is daar ook nêrens gillende sirenes nie; geen polisiemotor met ’n luidspreker wat aankondigings uitbasuin nie. Al wat uit ’n paar strate verder gehoor word, is die ambulanse se geloei.
Chaim het seker van die skietery in die Jerusalem-yeshiva gehoor toe radio- en televisie-uitsendings vroeër vanaand onderbreek is om die skietery aan te kondig, dink Marc. Dis waarom Chaim, wat geweet het hulle is stad toe, hom onmiddellik gebel het. Almal weet as daar enige spesifieke plek is wat “middestad-Jerusalem” genoem kan word en waar honderde potensiële slagoffers byeen is, is dit Ben Yehudastraat – presies waar Marc se gesin hul op die oomblik bevind.
Hoewel daar rondom Marc-hulle geen geluid van luiende selfone opklink of waarskuwings in Hebreeus heen en weer geskree word nie, verdwyn honderde mense oor die hele stad heen binne tien minute soos mis voor die son van die strate af. Rondom hom, Rivkah en die kinders spat mense haastig uiteen, asof hulle so afgerig is, waarskynlik na die naaste huis waar hulle by vriende kan skuil totdat hulle weet wat presies aangaan.
Wanneer die Kriges hul woonplek haal, versorg hulle eers die kinders voordat hulle die televisie aanskakel. Die gebeure van die aand het Yhoshi duidelik geweldig ontstel. Marc moet by hom in sy bedjie in die kinderkamer gaan lê totdat die kind in sy arms aan die slaap raak. Eers wanneer hy seker is sy oudste slaap vas, kom Marc uit die kamer. Klein Natan het makliker gaan slaap, maar hy skrik ook na ’n rukkie wakker en van sy klaende gehuil kan hulle aflei dat die grootmense se angstigheid en die haastige terugkeer uit die middestad ook by hom nie ongemerk verbygegaan het nie.
Dit word halfelf voordat Marc en Rivkah by die televisie uitkom.
Maar toe het die telefoon al vir die soveelste keer gelui. Eers was dit Chaim en Hadassah, Rivkah se ouers, toe Re’uven, haar broer, en daarna Ofer, Marc se oom, wat almal wil seker maak dat hulle veilig tuis is.
“Die aanval was by Mercaz HaRav,” sê Chaim toe hy later weer bel.
“Opsetlik dáár? Dus het die aanvallers nie sommer net die eerste die beste yeshiva geteiken nie …?”
“Dit lyk nie so nie. Almal weet mos dat Mercaz HaRav vir gelowige Sioniste die oudste en belangrikste yeshiva is. ’n Mens kan sê dis die setlaars s’n, maar daar’s studente van oor die hele land,” verduidelik Marc se rabbi-skoonpa.
Ook Mara, Marc se ma, bel uit Suid-Afrika, hoogs ontsteld omdat hulle pas op DStv ’n berig oor die terroristeaanval gehoor het.
“Wat is ’n yeshiva nou weer, Marc?” wil sy weet toe sy gerusgestel is dat hulle in geen onmiddellike gevaar verkeer nie.
“Mense in Suid-Afrika sal dit ’n soort kweekskool noem, Mamma. Maar hier is dit meestal opleidingsplekke vir hoërskoolseuns wat hoofsaaklik op Tora-studie fokus.”
“O ja, nou onthou ek. Maar daar is mos nie net jong seuns nie?”
“Dis reg. Party mans bestudeer die Tora vir die res van hul lewe in ’n yeshiva.”
“Maar oor Sky-nuus hoor ek hulle noem dit ’n settlers-yeshiva,” sê Hannes, Marc se stiefpa, wat op dieselfde telefoonlyn tussenin saampraat. “Wat bedoel hulle daarmee?”
“Dis waar die meeste van die gelowige setlaars – dié wat glo die Bybel sê HaShem het die land vir die Jode gegee – se seuns studeer.”
“Ek sien. Jy reken dus die aanval was spesifiek op setlaars gemik?”
“Ek dink so.”
Toe die telefoon uiteindelik tot bedaring kom, sit Marc en Rivkah voor die televisie en kyk hoe die afgryslike tonele wat in die yeshiva afgespeel het oor en oor vertoon word. Marc het Rivkah se hand in syne en haar vingers sluit krampagtig om syne.
Dit word duidelik dat die terroris by die yeshiva ingebars en wild begin skiet het. ’n Student in een van die slaapsale het die skietery gehoor, sy persoonlike wapen gegryp, tot op die dak van ’n nabygeleë gebou gespring en toe die aanvaller al skietende uit die studiesaal kom, het dié student hom twee maal geskiet. Maar dit kon hom nie keer nie. David Shapira, ’n man wat daar naby woon en wat vroeër aan dié yeshiva studeer het en nou ’n offisier in die valskermtroepe is, het na die toneel gehardloop toe hy die skietery hoor. Dis hý wat die aanvaller doodgeskiet het. Marc weet dat ’n hoë persentasie van die land se bevolking voltyds in die Israeliese verdedigingsmag, die IDF, is of as reserviste optree. Soos hy self ook. Hulle beskik almal oor vuurwapens, hou dit gelaai en wanneer hulle van ’n skietery hoor, sal hulle ná die toneel toe haas, nie wég daarvan soos ’n mens se natuurlike instink is nie.
“Het jy dan nie in een van jou skoolvakansies by dié yeshiva gewerk nie?” vra Marc vir Rivkah.
“Ja, in my voorlaaste jaar. Ek weet presies hoe dit daar lyk, dié dat dit my so ontstel. In daardie studiesaal van die biblioteek is daar letterlik vier en twintig uur van die dag talle studente aan die werk.”
Marc knik. “Ek weet in die IDF is ook baie offisiere wat daar studeer het.”
“Ja, daardie yeshiva se studente is van die mees patriotiese in Israel,” voeg Rivkah by. “Hulle word grootgemaak om die land én sy mense én vir HaShem te dien. Die meeste van Israel se geestelike leiers het by Mercaz HaRav geleer.”
“Hulle is