dat u seun nie sy Tora-huiswerk wil doen nie, vertel hom van die prys wat ’n Tzaddik soos Hillel en Doron Mahareta betaal het vir kennis van die Tora …”
Die TV-program kom tot ’n einde met Hillel Fendel wat vertel hoe hy die Vrydagoggend ná die vorige aand se aanval in ’n bus verby die yeshiva waar die aanval was, gery het.
“Elke môre haal ek bus no.35 werk toe. Dis ’n klein entjie en gewoonlik neem die rit nie langer as twaalf minute nie. Die derde halte nadat ek by die Machane Yehuda-shuk opklim, is direk voor die yeshiva Mercaz HaRav. Ek het ongemaklik gevoel, ek was nie seker wat ek sou sien as ons daar verbyry nie. Toe ek rondkyk, sien ek doodsberigte wat oral langs die straat opgeplak is, en die hele ingang na die yeshiva was vol blomme. Toe ons by dié bushalte kom, het die bestuurder stilgehou, die bus afgeskakel en uit sy plek agter die stuurwiel opgestaan. Daar was trane in sy oë toe hy vir ons passasiers vertel dat een van die seuns wat daar doodgeskiet is, ’n broerskind van hom was. Hy het gevra of ons sal omgee as hy ’n paar woorde sê oor sy nefie en die ander seuns wat daar gesterf het. Toe hy koppe oral in die bus sien knik, het hy in ’n trotse stem vertel dat sy nefie ’n jong seun was wat altyd op die uitkyk was vir waar hy iemand in nood kon help. Hy was lief om te leer en het ure aan die ingewikkeldhede van die Gemara bestee. Hy was opgewonde oor die feit dat hy oor ’n paar jaar by die IDF sou aansluit, en wou uiteindelik betrokke raak by opleiding vir minderbevoorregtes.
“Terwyl hy praat,” vertel die ooggetuie Fendal verder, “het ek gemerk dat die bejaarde vrou langs my in die bus huil. Toe ek my sakdoek vir haar aanbied, het sy vertel dat sy ook iemand wat sy geken het in die bloedbad verloor het. Haar bure se seun was een van die jongmense wat daar vermoor is. Terwyl sy my hand styf vashou, het sy opgestaan en gevra of sy ook ’n paar woorde ter herinnering aan haar buurseun kon sê. Sy het hom beskryf as ’n jong man wat bruisend van lewenslus was. Elke Vrydag het hy vir haar kom kuier met ’n bos blomme vir Shabbat en ’n gedagte uit die Tora wat hy gedurende die week by die yeshiva geleer het. Hierdie Shabbat was daar nie blomme in haar huis nie.”
’n Ruk nadat Marc die TV-stel afgeskakel het, sit hulle stil daar. Eindelik draai Rivkah haar na Marc en hy neem haar in sy arms. Toe huil sy vir die eerste keer, lank en sidderend.
Drie
Jerusalem
Maart 2008
Voordat Adar, die vreugdemaand, tot ’n einde kom, is dit duidelik dat die Joodse staatjie nog nie die einde van terroristedade gesien het nie. Dit lyk eerder vir Israeli’s asof die gebeure van die afgelope paar jaar en maande dié Arabiere wie se uitsluitlike doel dit is om die Jode uit te dryf en die hele streek vir Islam terug te wen, grootliks aangespoor het.
Dit blyk egter dat dit nie net Arabiere is wat hulle tot terrorisme wend nie. Skaars twee weke ná die Mercaz HaRav-tragedie, is daar ’n geweldige ontploffing in die huis van ’n Messiaanse pastor, David Ortiz, in Ari’el. Sy vyftienjarige seun, Ami, word ernstig verwond. Soos die ondersoek vorder, raak die polisie oortuig daarvan dat die verskriklike daad nie, soos aanvanklik vermoed is, deur Palestynse terroriste gepleeg is nie, maar deur Joodse antisending-aktiviste wat die teenwoordigheid van alle Jode wat in Yeshua glo, teenstaan.
Op 20 Maart word ’n mandjie, wat soos ’n Purimgeskenk vermom is, by die voordeur van die Ortiz-gesin se tuiste op die derde vloer van ’n woonstelblok in Ari’el gelaat. Onbewus van die dodelike gevaar wat daarin skuil, bring Ami dit na binne en maak dit op die kombuistafel oop. Daarmee aktiveer hy die kragtige bom wat die woonstel in puin laat lê. Selfs die ruite van motors onder in die straat word deur die geweldige slag versplinter.
Die Jerusalem Post berig later dat Ami se ma, Leah, pas die gesin se vullisdrom ondertoe geneem het toe die bom ontplof. Toe sy vlamme deur die woonstel se vensters sien bars, het sy boontoe gehardloop en haar seun dodelik gewond op die grond aangetref. Onder meer was daar ’n twintig sentimeter lange sny in sy nek. Sy kon gelukkig haar paramediese opleiding toepas en ’n tydelike trageotomie in sy lugpyp aanbring sodat hy kon asemhaal. ’n Ambulansbestuurder wat binne minute op die toneel was, het verder sý besondere vaardighede aangewend om die seun aan die lewe te hou. By die hospitaal is daar op vyf verskillende plekke aan Ami se liggaam geopereer.
Die koerant haal ’n toeskouer aan wat vertel: “Dis onmoontlik om na die Ortizwoonstel te kyk en te glo dat iemand daar lewend kon uitkom. Elke stukkie huisraad is totaal vernietig. ’n Stuk staal van ’n paar sentimeter lank sit in die yskasdeur vas. Die mure is oortrek van skrapnelgate.”
Die volgende aand berig ’n TV-stasie dat die gewonde tienerseun se brein en hoofslagare ongeskonde is, ten spyte van afgryslike wonde aan sy niere, ’n long en ander organe. Trouens, die prognose vir sy oorlewing is baie goed. Een van die dokters verskyn op die program en verklaar openlik dat dit “’n wonderwerk” is dat die seun oorleef het. Oral in Israel, veral onder Messiaanse gelowiges, gaan intense dankgebede op.
Intussen word vuurpyle uit Gasa op Sderot en Ashkelon in die Negev steeds op ’n daaglikse basis afgevuur. Die terroriste wat sê hulle het die dood lief, begeer dit oënskynlik ook vir hul kinders. Volgens World Net Daily is hulle in besit van ’n video waarop ’n prominente lid van die Arabiese opstandsbeweging Hamas met die feit spog dat hulle vroue, kinders en bejaardes as menslike skilde gebruik in hul skietgevegte met die Israeliese weermag. Israel reageer deur te sê dat hulle lankal bewus is van dié optrede deur Hamas, maar dat dit nie dikwels so openlik erken word nie.
Verdere berigte haal ’n Hamasparlementslid, Fahti Hammad, aan wat ook onlangs met hierdie menslike skilde gespog het: “Die vyande van Allah weet nie dat die Palestynse volk die begeerte het om te sterf nie. Vir die Palestynse volk het die dood ’n industrie geword waarin vroue, maar ook die res van die bevolking uitmunt … Bejaardes is uitstekend daarmee, en so ook kinders en martelare. Vroue, kinders en oumense gee nie om om as menslike skilde op te tree … om die Sioniste se bommasjien uit te daag nie.”
World Net Daily rapporteer selfs die geval waar Hamas ’n tienjarige seun voor die oë van Israeliese militêre die slagveld in gestuur het om die wapen van ’n gevalle terroris op te tel en vir ’n ander terroris te gee. Die Israeliese bevelvoerder op die toneel het sy soldate beveel om vuur te staak terwyl hulle magteloos staan en kyk het hoe die kind die wapen van een terroris na die ander dra. By ander geleenthede het Hamasskerpskutters op hul opponente geskiet vanuit die vensters van huise waarin daar duidelik vroue en kinders teenwoordig was. Die netwerk maak dit egter ook duidelik dat dié soort optrede nie die goedkeuring van alle Arabiere, selfs onder Moslems, wegdra nie. Uit sommige oorde word dié skandelike misbruik van vroue, kinders en bejaardes veroordeel. Daar is Moslems wat alle vorms van terrorisme veroordeel, soos die onlangse bloedbad by die Mercaz HaRav-yeshiva. Koning Abdullah van Saoedi-Arabië word aangehaal as een van die verantwoordelike Moslemleiers wat aangedui het dat hy graag ’n konferensie tussen Joodse, Christene en Moslemgeestelikes wil bewerkstellig, met die tema “respek vir alle gelowe”. Volgens die Saoedi-Arabiese nuusagentskap is senior Moslemleiers die idee goedgesind en wil hulle hê dat daar ook met Islamitiese gesagvoerders uit ander lande oorleg gepleeg moet word. ’n Ander bron berig dat koning Abdullah ook gesê het: “Ek nooi verteenwoordigers van alle monoteïstiese gelowe uit om as broers in die geloof byeen te kom … Met die hulp van God sal ons saam met ons broers van ander gelowe bymekaarkom, ook dié wat in die Tora en in die Evangelie glo, om te kyk of ons maniere kan vind om die mensdom te beskerm.”
Die aand ná die aanval op die Ortizhuishouding, kan Marc nie slaap nie. Wanneer hy aan Rivkah se asemhaling hoor dat sy vas slaap, staan hy sag op en gaan na die kinders se kamer. Shmu’el, wat in sy hondemandjie langs hul bed slaap, is dadelik by hom. By die skynsel van die flou nagliggie staan Marc en kyk af op Yhoshi in sy bedjie. Soos altyd het hy sy beddegoed weggeskop en Marc trek dit versigtig weer oor hom. Hy tel die beertjie wat van die bed af geval het op en lê dit by die kind neer. Die kind se donkerblou oë flikker ’n oomblik oop en ’n effense glimlaggie raak aan sy mond. Toe tas hy na die sagte speelding en daarmee in sy arm draai hy hom op sy maag om en slaap verder. Marc sien die ligte skadu van die donker wimpers teen sy wangetjie. Hy dink aan Ami Ortiz en sy binneste krimp ineen.
By Natan se kot rus hy met sy arms op die tralies en kyk na die slapende baba. Soveel mense het dit al opgemerk, en hy