Marzanne Leroux-Van der Boon

Tiferet Yisra'el. Die roem van Israel


Скачать книгу

nie ironie nie, maar ’n baie diepe waarheid wat diep in geloof gegrond is. Hierdie jong lewens wat so aan Hom toegewy was, hét groot vreugde in die hemel veroorsaak.”

      “Daar is seker op hierdie oomblik studente wat na ons luister en wat ’n geweldige geloofskrisis ervaar?” por Dayan hom.

      “Vir seker! En as dit nié die geval is nie, is daar iewers iets verkeerd. Hulle moenie van gedagte wees nie: ‘Ek is gelowig, daarom verdien ek dit nie.’ Hulle het alreeds na my toe gekom met dié soort vrae. Die mees basiese vraag – en ek weet nie hoe dit moontlik is om dit nié te vra nie – is hoe dit kon gebeur het dat die studente doodgemaak is terwyl hulle die Tora bestudeer het. Nou ja, ek wil nie hê hulle moet ooit die gedagte hê dat mense wat gelowig is nooit sal seerkry nie …”

      Toe rabbi Weiss verder in die onderhoud vertel dat hy ’n halfuur voor die aanvang van Shabbat van ’n begrafnis af by sy huis gekom het, vra Dayan hom: “Watter soort Shabbat was dit vir u?”

      Die rabbi dink ’n paar oomblikke na. “Ons wysgere leer: ‘Shabbat hi mi-lizók’ – op Shabbat huil ons nie. Ons probeer om op Shabbat weg te draai van ons pyn en smart. Dit mag gekunsteld klink, maar dit is in werklikheid baie diep en maak ’n mens sterker. Ons vergeet nie wat gebeur het nie, maar daar is ’n soort … instemming om dit te aanvaar …”

      “Instemming wáártoe, rabbi Weiss? Wat is daar om mee in te stem? Met die verlies van agt lewens? Met die sinloosheid van die lewe? Waarmee kan ’n mens saamstem?”

      “Met die feit dat drie honderd studente nog lewe. Met die feit dat die volk van Israel sal oorleef. Ons kan saamstem oor die hoop van om te lewe, oor die geloof van om te lewe, oor die krag van om te lewe …”

      “Verskoon my dat ek jou in die rede val, Rabbi, maar ek probeer regtig verstaan. Is daar enigiets in hierdie ‘instemming’ wat die belangrikheid van die lewens wat kortgesny is, minder maak?”

      “Jy het my gevra waaroor ek nog op hierdie Shabbat gelukkig kan wees en ek sê dat ek gelukkig is met wat léwe beteken, met die glimlag van my kleinkinders, met die feit dat die lewe voortgaan. As jy my vra of die feit dat ek instem met wat HaShem verorden, die waarde van hulle wat gesterf het minder maak, dan sê ek: Nee, net die teenoorgestelde. Dit mag wees dat hulle uitverkies is om ’n soort brandoffer vir die hele volk te wees, maar sou ék enigsins so iets kon wéét? Al dié hemelse geheimenisse is totaal bo ons verstand, dit lê in ’n ander sfeer. Ons wysgere het dit op ’n aanskoulike manier gestel: Die sleutels tot lewe en dood is in die hande van HaShem, ons het geen beheer daaroor nie.”

      “Het jy in die loop van hierdie Shabbat vrae aan jouself gestel wat jy nooit vantevore gevra het nie?”

      Daar kom ’n pynlike trek om die rabbi se mond. “Ja, ek het die vrae gevra wat ek al ’n tyd lank nie meer gevra het nie. Ons lewe lank worstel ons met hierdie vrae oor Goddelike regverdigheid en oor boosheid …”

      Ten slotte wil die joernalis weet of die rabbi al begin het om sy studente te mis. Sy gesig verwring van pyn en hy kan beswaarlik die woorde uitkry. “Vir seker.”

      “En sou u geloof u darem in dié opsig kon help?”

      Sy stem is dadelik weer sterk. “Dít is ’n totaal ander saak. Geloof is my verhouding met HaShem, en die verskriklike verlies wat ons gely het, is iets anders. Lewe begin met die Een wat lewe gee, en daaraan is geen einde nie. Met die dood word ons vrygemaak van die las van die fisieke liggaam en ons lewe gaan op ’n ander plek voort … Vanuit die mens se oogpunt is die dood die ergste van alle dinge wat kan gebeur. Ons hele lewe is daaraan gewy om die dood te voorkom. In werklikheid lewe ons nie vanuit die positiewe aspekte van lewe nie, maar net om van die dood af weg te hardloop. Maar ons weet daar is ’n plek waar die lewe werklik positief is en dat dít is waarheen ons op pad is.”

      Ná die onderhoud met die rabbi word daar in ’n volgende besprekingsprogram weer eens op die Donderdagaand se verskriklike gebeure teruggekyk. Die programleier verduidelik dat die aanvaller skynbaar die dood van die aartsterroris Mughniyeh, wat in Februarie in Damaskus doodgeskiet is, wou wreek. ’n Berig van Hisbollah se televisiestasie, Al-Manar, word aangehaal, waarvolgens ’n groep wat hulself “die Galilese Vryheidsbataljon – die Martelare van Imad Mughniyeh” noem, verantwoordelikheid aanvaar vir die jong aanvaller se daad. Hul leuse het al ’n bekende Moslemslagspreuk geword: “Ons sal wen omdat, terwyl julle die lewe liefhet, ons die dood liefhet.”

      “Daar kan seker nie sprekender kommentaar as dít wees op die verskil tussen Islam en Judaïsme nie,” sug Marc tussen die gepraat deur.

      Rivkah skud net haar kop in sprakelose ellende.

      Die ankerman verstrek ook nuwe inligting wat aan die lig gekom het. Toe die twintigjarige aanvaller, Alaa Abu Dhein, die Donderdagaand kwart voor nege met ’n groot TV-boks in sy arms by die yeshiva opdaag, het van die studente net grappenderwys gevra wat hy met ’n televisie by die yeshiva kom maak, maar niks vermoed nie en hom ook nie toegang geweier nie. Dis uit dié houer dat hy die outomatiese wapen gehaal en die biblioteek binnegegaan het waar tagtig studente aan die studeer was terwyl hulle gewag het om die begin van die Adar te vier.

      Toe die aanvaller op dié studente losbrand, het pandemonium losgebars. Terwyl hy rondte op rondte in die biblioteek afgevuur het, het skreeuende studente in alle rigtings gespat. Party het deur die vensters gespring om aan die dodelike koeëls te ontkom. Party het op die vloer geval en net daar bly lê terwyl hulle nog hul teksboeke en gebedsjaals vasgeklou het.

      Later kom Yehuda Meshi-Zahav, hoof van ZAKA, in beeld. Met afgewende oë en ’n byna onhoorbare stem vertel hy wat hy waargeneem het toe hy ná die aanval die biblioteek binnegegaan het: “Die hele gebou het soos ’n slagveld gelyk. Die vloer was besmeer met bloed … Omdat die studente besig was om te studeer toe die aanval plaasgevind het, het daar oral in die saal ook bebloede heilige boeke en talliyot verstrooi gelê.”

      Verskeie ander mense word ook by die program betrek. Een van hulle is rav Lazer Brody wat die verhaal vertel van die Etiopiese student Doron Mahareta (26), een van die agt wat in Mercaz HaRav gesterf het.

      “Gisteraand was ek op shiva-besoek by Doron se gesin,” vertel hy, duidelik ontroer. “Daar was Jode van elke soort bymekaar, van Etiopiese tot Poolse Chassidim. Mans het enigiets van veelkleurige gebreide tot wit Yerushalmi-kippot gedra; van jeans en sandale tot lang swart gewade. Jammer dat dit vir ’n martelaar van Doron se statuur nodig was om geloofsgenote só te verenig. Een van die rabbi’s van Mercaz HaRav het vir my ’n feitlik ongelooflike storie vertel – van Doron Mahareta se toegewydheid om die Tora te leer. Dis ’n storie wat meeding met die Talmoed se verhaal van Hillel wat byna doodgevries het op die dak van Shmaya se yeshiva soos ons in die Yoma-traktaat 35b lees.

      “Die rabbi het vertel dat Doron graag die Tora aan die Mercaz HaRav wou studeer omdat dit een van die beste yeshivot in Israel is. Maar omdat hy in Etiopië ’n redelik gebrekkige vroeë skoolopleiding ontvang het, het hy ’n goeie Talmoedagtergrond kortgekom. Dit het hom egter nie ontmoedig nie. ‘As julle my dan nie die Tora wil laat leer nie, sal julle my die skottelgoed in die kombuis laat was?’ het Doron aan die yeshiva-leiers gevra. Hulle het ingestem en ’n jaar en ’n half lank het hy daar in die kombuis gewerk. Maar elke vrye oomblik het hy in die studiesaal deurgebring. Hy het altyd rondgevra waarmee die yeshiva-studente besig was, en dan het hy die meeste van die tyd snags en op Shabbat met sy kop in die Gemara gesit om te leer wat hulle geleer het.

      “Op ’n dag vra dié ‘skottelgoedwasser’ toe vir die rosh yeshiva om hom te toets. Dié man het hoflik geglimlag en probeer om op ’n mooi manier van hom ontslae te raak, maar Doron het geweier om pad te gee en die yeshiva-hoof feitlik in ’n Torabespreking ingedwing. Nou ja, die volgende dag was hy nie meer ’n skottelgoedwasser nie, maar ’n volwaardige yeshiva-student.

      “Wanneer hy oor naweke huis toe gegaan het na sy familie in Ashdod, het hy ook die ganse Shabbat óf in die Melitzer-shul óf in die naburige Gerrer-shtiebel deurgebring, waar hy die Halachah en die hoofkommentare bestudeer het. Drie weke gelede het hy toe dié studies suksesvol voltooi. Doron het in sy tere ses en twintig jaar bereik waarby ander nie in agt en tagtig jaar uit kon kom nie.”

      Dan