Marzanne Leroux-Van der Boon

Tiferet Yisra'el. Die roem van Israel


Скачать книгу

die slaap gemaak het. Sy bly in die woonkamer se ingang staan. Marc sit by die tafel met Yhoshi op sy skoot. Voor hulle lê die pragtig geïllustreerde boek met verhale uit die Tora wat haar ouers op sy tweede verjaarsdag vir Yhoshi gegee het. Die twee donker krulkoppe, albei met veelkleurige gebreide kippot op, is oor die boek gebuig. Hulle het haar nie sien kom nie.

      Yhoshi druk met sy vingertjie op die prent voor hom. “Moshe Rabeinu,” sê hy.

      Marc soen hom teen die kant van sy wangetjie. “Wat het hy in sy hande?”

      “Die Tora,” sê Yhoshi dadelik.

      “Watter Tora, Yhosh?”

      Die kind kyk op na sy pa. “Watter Tora, Abba?”

      “Die Tien Woorde, Yhosh.”

      “Die Tien Woorde,” sê hy.

      “Waar het Moshe Rabeinu die Tien Woorde gaan haal?”

      “HaShem het dit vir hom op die berg gegee.”

      Marc glimlag ingenome. “Dis reg, lieweling,” sê hy. Hy skep met ’n lepeltjie ’n bietjie heuning en Yhoshi maak dadelik gretig sy mond oop.

      “Waarom eet jy heuning, Yhosh?” vra sy pa.

      “Omdat die Tora so soet soos heuning is,” lag die kind, sy mondjie blink van die soet stroop.

      “Dis reg, ben Tziyon.”

      Rivkah wat die emosie in Marc se stem hoor, voel trane in haar oë opwel. Sy gaan stil na die oopplankombuis en luister hoe Marc in die kindertaal van die boek met Yhoshi elk van die Tien Gebooie deurgaan en dit aan hom verduidelik. Sy dink aan die woorde in Deuteronomium: “Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan …” Toe hulle klaar is, vra Marc: “Wat gaan ons nou bid voor jy gaan slaap, Yhosh?”

      “Sh’ma.”

      Marc neem die kleintjie se handjies albei in syne en saam bid hulle: “Sh’ma Yisra’el, Adonai Eloheinu, Adonai Echad.”

      Vier

      Jerusalem

      April 2008

      Toe die sherut Marc by die Sionspoort oplaai, is dit net ná vyfuur die middag en die verkeer is skrikwekkend. Waar hy net agter die bestuurder in die pendelbussie sit, is hy ná ses jaar in Jerusalem steeds beïndruk deur die sherut-chauffeurs se bekwaamheid. Te midde van die chaotiese situasie van arrogante taxi’s, lang passasiersbusse, motors, motorfietsies van alle soorte en voetgangers wat oor die pad swerm, sit en praat die chauffeur onverskrokke op sy selfoon, en af en toe ook nog met ander sheruts deur middel van radio’s wat feitlik onafgebroke ratel.

      Marc merk dat hy aan sy een hand net ’n duim en voorvinger oor het, en aan die ander net die stompies van drie vingers. En hy weet dat dié jong Israeli na alle waarskynlikheid die verminking in die afgelope Libanon-oorlog opgedoen het. Dat dit hom glad nie in die uitvoering van sy taak of sy selfvertroue pla nie, is egter glashelder. Op die paneelbord voor hom lê ’n handgeskrewe lysie van passasiers wat hy moet oplaai om na die Ben Gurion-lughawe te neem.

      Behendig vleg hy deur van die nouste Jerusalemstraatjies waar motors alkante van die pad voor die eindelose woonstelblokke geparkeer staan. ’n Paar minute voor hy iemand buite sy of haar woonplek of hotel optel, skakel hy dié se nommer op sy selfoon en beduie dat hulle moet regstaan, hy is byna daar.

      Daar gekom, hou hy stil, rits vir die passasier die flap van die sherut oop om in te klim, spring uit en skiet die tasse met ’n luide plof, wat die passasiers in hul sitplekke laat ruk, agter in die bagasiebak. Dan klim hy self weer in en ry ylings agteruit tussen al die ander geparkeerde en bewegende voertuie deur terug hoofpad toe. By tye maak Marc gewoon sy oë toe en wag vir die botsing wat gelukkig nooit kom nie.

      Wanneer al die passasiers eindelik aan boord is, vat die geel Mercedesbussie teen ’n verbysterende snelheid die afdraandes buite Jerusalem in die rigting van Tel Aviv. Marc glimlag gerusstellend vir die vrou op die bankie oorkant hom. Sy is waarskynlik ’n toeris, vir die eerste keer in Jerusalem, want sy klou die hele tyd benoud aan die stoel voor haar vas.

      “It’s okay …” sê hy, hopende sy is Engels magtig.

      Sy glimlag flou terug. “Thanks.”

      Hy kyk deur die venster na die landskap wat verbyflits. Na die wrakke van ou tenks en gepantserde voertuie uit die Onafhanklikheidsoorlog van 1948, wat gehawend van wind en weer as onvergeetlike relieke langs die pad lê en roes – bitter herinnerings aan die verwoede stryd om Jerusalem pas ná die totstandkoming van die jong staat Israel.

      In ’n effense vallei verder langs die pad staan ’n ry amandelbome vol in bloei. Dit bring ’n noute in Marc se keel omdat dit hom herinner aan die Here se vraag aan sy droewe ou profeet: “Wat sien jy, Jeremia?” En toe Jeremia sê hy sien ’n amandeltak het hy die Almagtige hoor sê: “Jy het reg gesien. Ek staan gereed om te doen wat Ek gesê het.”

      Amandelbome herinner hom altyd aan die tyd met klein Natan se geboorte toe daar ernstige komplikasies ingetree en Rivkah byna haar lewe verloor het. In daardie verskriklike ure het hy met die Ewige van Israel geworstel. Daar met sy voorkop teen die koue ruit van die hospitaalgang aangeleun, het sy skoonpa, Chaim, na hom toe gekom. “Marc …?” Hy het hom liggies geskud. “Jy het mos gevoel HaShem sê vir jou sy sal lewe. Hou nou daaraan vas.”

      Maar sy angs was so oorweldigend dat dit nie meer vir hom moontlik was om aan enigiets vas te hou nie. Wat die dokter gesê het, het alle ander stemme verdoof: “Marc, ek moet jou voorberei … Ons weet nie of sy die nag sal deurmaak nie.”

      Hy het radeloos voor die groot venster bly staan met geen woorde meer om te bid nie. En toe sien hy die amandelboom in die hospitaal se tuin wat net begin bloei het. Soos ’n bruid het dit daar gestaan, ongelooflik onaangeraak deur die reën en die dwarrelende sneeu. Op daardie oomblik het hy die Engelse woorde uit sy Complete Jewish Bible so duidelik in sy hart gehoor asof die Here dit self vir hom gesê het: “I am watching over my word to perform it …”

      Tien dae later kon Rivkah met die baba huis toe kom. Ingehoue trane laat sy oë nou brand. “Baruch Hu!” fluister hy.

      Twee aande tevore het Henok Kambungu gebel. Dié oproep laataand uit Suid-Afrika het Marc nie verbaas nie. Dit was Henok se gewoonte om daardie tyd van die aand te bel. Maar wat hy te sê gehad het, was onverwags.

      “Ek is vir Pesach in Jerusalem.”

      “Maar … dit begin dan al Saterdagaand?”

      Henok het sy aansteeklike lag gelag. “Dit weet ek! Maar luister, vriend, ek is al Vrydagaand vir Erev Shabbat in Jerusalem. Ek vat Woensdag El Al se dagvlug.”

      “Jy speel!”

      “Nee!”

      “Ek kom haal jou op Ben Gurion.”

      “Moenie verspot wees nie, ek vat ’n sherut.”

      “Kyk maar uit vir my.” Marc was meteens uitgelate van blydskap by die vooruitsig om Henok ná byna twee jaar weer te sien.

      “Ek sal.”

      “Kom Sarah saam?”

      “Nee. Interessante storie, sal jou vertel wanneer ek grondvat.”

      Terwyl die sherut nou tussen Jerusalem en Ben Gurion suidoos van Tel Aviv voortspoed, en die son in ’n rooi gloed wegsink, dink Marc aan Henok. ’n Glimlag raak aan sy mond.

      In 2006, presies met die uitbreek van die Libanon-oorlog, het Henok en Sarah Kambungu op hul eerste besoek aan Israel aangekom. ’n Mens sou dit toevallig kon noem dat Marc hulle juis toe op Hurvah-plein ontmoet het waar hy besig was om te skets en tegelyk ’n ogie oor Yhoshi te hou wat met sy maatjies gespeel het. Hy het twee toeriste naby hom Afrikaans hoor praat en, vreemd aan sy terughoudende aard, kon hy tog nie die versoeking weerstaan om met hulle te begin gesels nie. Dit