Marzanne Leroux-Van der Boon

Tiferet Yisra'el. Die roem van Israel


Скачать книгу

      “Ja, maar dit was baie vaag. Tog moes dit genoeg gewees het om my, toe ek omtrent tien was, vir my pa te laat vra wie my regte ma was en hoekom hy nooit oor haar praat nie. Hy het redelik ontwykend geantwoord dat sy van ’n ver plek af gekom het en dat sy dood is toe Miriam gebore is. Ek wou weet wat haar naam was. ‘Shira,’ het hy gesê. Dit was vir my ’n vreemde naam wat nie soos Ovambo geklink het nie. ‘Dit was ’n naam uit haar mense se taal,’ het hy gesê, en dit was die einde van die gesprek. Ek wou hom nog vra of dit van haar af kom dat ek swarter as die ander kinders is, maar ek het gesien hy gaan nie praat nie.”

      “Weet jy wat ‘shira’ beteken?” vra Marc toe hy asemskep.

      “Nee.”

      “Dis die Hebreeus vir ’n lied.”

      “Nou! Dan is dit seker hoekom daardie naam soos musiek in my kop bly klink het.”

      “Jy’t nie jou pa oor die kerse uitgevra nie?”

      Henok skud sy kop. “Dit was as kind al vir my duidelik dat hy nie oor haar wou praat nie. Toe los ek dit maar. Daai tyd is kinders mos ‘gesien en nie gehoor nie’.”

      “Maar jy het dit darem seker nie daarby gelaat nie?”

      “Nee. Toe ek gaan studeer, het ek hom weer eendag gevra. Toe het hy my vertel dat hy in die laat veertigerjare ’n tyd lank in Tanzanië gewerk het. Daar het hy my ma ontmoet. Toe hy teruggekom het Namibië toe, wat toe natuurlik nog Suidwes was, het hy haar saamgebring en met haar getrou. Ek is kort daarna gebore, maar sy is minder as twee jaar later oorlede. Maar toe was dit ook duidelik dat hy nie bereid was om veel te praat nie en ek het my pogings maar laat vaar.”

      “Sy was dus van Tanzanië, maar hoe dan …”

      Henok skud weer sy kop en slaan sy laaste bietjie bier weg. “In daardie stadium het dit my nie juis gekwel waarvandaan sy gekom het nie. Ek het geweet daar was van Suidwes se swart mense wat hoër op in Afrika gaan werk en vroue daarvandaan teruggebring het. Maar toe daardie vrou in die gemeente pertinent vir my sê sy het gewonder of ek dalk ’n Etiopiese Jood is, en ek daaraan dink dat Tanzanië en Etiopië so vlak bymekaar lê, toe begin ek mos wonder of daar nie dalk iewers ’n verband kon wees nie. Jy weet, dat my herkoms dalk iets te make kon hê met my malligheid van die afgelope twee jaar.”

      “Maar jou pa leef seker nie meer nie?”

      “Nee, hy leef inderdaad nog. Hy is agt en tagtig en nog helderder in sy kop as wat ek by tye is. Hy bly juis by Miriam, daardie einste suster van my, in Tsumeb. Ma Elisabet is twee jaar gelede dood.”

      “En jy is na hom toe.”

      “Ja. Verlede jaar in Junie het Sarah ’n paar weke lank by haar suster in Skotland gaan kuier en toe het ek die pad gevat Namibië toe. Ek het natuurlik nie aan haar of aan enigiemand anders ’n woord gerep oor die ware doel van my sending nie. Net gesê ek gaan by my pa kuier.”

      Marc sit geïnteresseerd vooroor en vryf sy hande. “En?”

      “Ek het hom vir koffie uitgevat sodat niemand sou hoor waaroor ons praat nie. Ek wou nie hase opjaag nie. ‘Pa’, het ek gesê, ‘vertel my nou vandag van my eie ma. Dis nodig dat ek weet.’ Hy was eers redelik steeks, maar dié keer het ek nie moed opgegee nie en stadigaan het die storie uitgekom. My ma was Shira Avraham en sy is in 1925 in ’n gehuggie in die Gondarprovinsie in Etiopië gebore. Hul mense het dit baie swaar gehad onder die regering en haar pa, wat ’n geleerde man vir sy tyd was, het met sy vrou, ’n seun en ’n dogter uit Etiopië padgegee. Eers is hulle Soedan toe en daarna na Uganda, en uiteindelik het hulle in Tanzanië gaan woon. Dis waar my pa haar in 1948 leer ken het toe hy daar gaan werk het.”

      “Hoe oud was hy toe?”

      “Wel, laat ek dink … hy is in 1920 gebore. Hy was toe agt en twintig en sy drie en twintig. In daardie stadium was dit vir my duidelik dat Pa nou alles gesê het wat hy bereid was om te vertel. Maar ek het nie bes gegee nie. Ek het intussen die een en ander nagelees oor die Etiopiese Jode, en ek wou weet hoekom hulle uit hul land moes vlug. Stadigaan het ons by die punt gekom dat hy gesê het hulle was swart Jode, afstammelinge van koning Salomo en die koningin van Skeba, en hulle is in hul eie land ernstig vervolg as gevolg van hul geloof.”

      “Waarom het hy dit nooit vir jou gesê nie?”

      “Dit wou ek ook weet. Maar hy’t gesê sy wou nie gehad het dat iemand moes weet nie. Sy wou nie weer aan dieselfde dinge blootgestel word as in die ander lande waar sy gebly het nie. En al het hy dit nie gesê nie, was dit vir my duidelik dat my pa ook nie kans gesien het vir twee swart Joodse kinders nie. Daar was ook in die destydse Suidwes genoeg probleme met rasseaangeleenthede. Toe sy in 1949 saam met hom die land binnegekom het, was die amptenary nie danig ingestel op die Ovambo’s se doen en late nie, en het hulle hul nie veel gesteur aan wat op haar paspoort oor haar herkoms staan nie.”

      “Ek neem aan daar het nie gestaan dat sy ’n Jood was nie?” vra Marc.

      “Nee, en Shira Avraham klink nou ook nie só vreemd nie. Niemand daar het in elk geval al ooit van swart Jode gehoor nie. Om die waarheid te sê, ek dink nie eens my pa het geglo sy’s regtig ’n Jood nie, maar eerder dat hulle, soos hy gesê het, ‘die Ou-Testamentiese geloof aangehang het’. Omdat hy vroeër nooit daaroor wou praat nie, was dit vir my duidelik dat sy haar vrees dat iemand moes uitvind sy’s Joods aan hom oorgedra het. Maar dit was ook vir my duidelik dat hy vir haar lief moes gewees het en dat haar dood hom dieper geraak het as waaroor hy kon praat.”

      “Het hy niks van haar oorgehou wat hy jou kon wys nie?”

      Henok pers sy lippe saam en sy neusvleuels beef effens. “Hy het. Toe ons huis toe gegaan het, het hy my ’n foto gewys van haar met my op haar skoot. Dis ’n paar maande voor haar dood geneem. Hy wou dit nie vir my gee nie, toe het ek ’n kopie laat maak.”

      Hy haal versigtig die swart-en-wit poskaartgrootte foto uit sy beursie.

      Marc kyk na die foto van die jong vrou met die fyn gelaatstrekke en die rondekopseuntjie met die yslike swart oë op haar skoot. Sy keel trek nou. “Tipies Etiopies,” prewel hy.

      “Ja,” sê Henok net, sy vuis weer teen sy mond.

      “En die kerse?” vra Marc sag.

      “Ek het daarna gevra, en ja, hy sê sy het elke Vrydagaand twee kerse aangesteek … Volgens haar Ou-Testamentiese gewoonte, soos hy dit genoem het.”

      “Ongelooflik.”

      “Ja.”

      “Was dit al wat jy kon uitvind?” vra Marc ná ’n ruk.

      Henok sug. “Ek kan jou sê dit was nege maande van … laat ons sê, hewige emosie, by gebrek aan ander woorde. Ek gaan nie nou ons tyd mors om jou te vertel van my stryd met amptenare en kantore en ambassades en wat nog alles nie. Die feit is dat ek haar oorspronklike geboortesertifikaat opgespoor het, en dat ek nou weet dat sy inderdaad ’n Etiopiese Jood was. Maar Sarah …” Hy sug. “Wat sal ek sê? Dat dit alles vir haar ontstellend is? Dat ons huwelik, wat al jare lank nie meer so honderd persent vas staan nie, wankelrig geraak het? Dat ek nie elke dag weet of ek die regte ding gedoen het om die gekrap in die verlede aan die gang te sit nie? Maar aan die ander kant weet ek ook dat ek my herkoms nooit weer sal kan misken nie.”

      Dis ’n rukkie stil tussen hulle voordat Marc vra. “Is daar ’n spesifieke rede waarom jy juis nou Israel toe gekom het?”

      “Kyk, ek wou graag vir Pesach kom, maar ek kon nie plek op ’n El Al-vlug kry nie. Toe bel hulle my skielik verlede week om te sê daar was ’n kansellasie. Ek het net so ’n behoefte om hier te wees met Pase, en om uit te vind of hier nie iemand is met wie ek persoonlik kan gesels oor Etiopië nie …”

      “Laat ek dink,” sê Marc.” Ná ’n minuut of wat helder sy gesig op: “Ja, ek dink ek ken só iemand!”

      Vyf

      Jerusalem

      18 April 2008