Marzanne Leroux-Van der Boon

Tiferet Yisra'el. Die roem van Israel


Скачать книгу

soveel van homself dat dit hom by tye diep ontroer.

      Ten spyte van die letsels wat die voortdurende spanning in Israel op hom gelaat het, het Yhoshi kennelik sy ma se onverskrokke Israeliese temperament, haar skerp intellek, haar onmiskenbare Joodsheid geërf. Marc voel egter baie van sy eie stilte en soms onsekerheid, sy geweldige sensitiwiteit, in sy jongste seuntjie aan. Hy buig oor die tralies en soen hom op sy voorkoppie wat nog na die aandbad se baba-olie en babapoeier ruik. Die kleintjie lag in sy slaap.

      Marc gaan staan voor die venster en kyk oor die donker Hurvah-plein uit. Dis asof die nag weet van die pyn wat Adar, die sogenaamde maand van vreugde, hierdie jaar meegebring het. Die halfmaan hang versluier tussen wolke en ’n triestige windjie roer die eerste blare in die iepe. Ver weg tjank ’n hond beroerd.

      “Abba,” prewel hy, “hoe sal ek hulle óóit kan beskerm teen die verskrikkings van hierdie land en hierdie wêreld?”

      Hy staan lank oor die stil toneel voor hom en uitkyk voordat die woorde van die antieke psalmis by hom opkom: “Dit is my swakheid wat maak dat ek kan dink die Almagtige se arm kan verander.” ’n Bewerige glimlaggie kom om sy lippe. “Vergeef my my kleingeloof.” Toe hoor hy ook daardie stem in sy hart wat hom al deur soveel moeilike tye in sy lewe gedra het. “Marc, Marc … Die Roem van Israel sluimer of slaap nie.”

      Die volgende middag haal Marc die bus van die universiteit af huis toe. Toe hy in King Georgestraat afklim omdat hy nog iets by ’n apteek bo in Ben Yehudastraat vir Rivkah wil gaan haal, loop hy hom in Udi vas. Daar word hartlik gegroet. Hulle twee het saam bitter ervarings in die Libanon-oorlog gedeel en diep in mekaar verweef geraak. Hulle val vinnig by ’n stoepkafeetjie in en bestel koffie. Gou gaan die gesprek oor die Mercaz HaRav-bloedbad.

      “Weet jy, ek was nou die aand by ’n byeenkoms waar David Shapira sy storie vertel het.”

      “David Shapira?” vra Marc ’n oomblik in die war.

      “Die ou van die valskermbataljon wat die aand daarheen …”

      “O ja, natuurlik,” onthou Marc, “hy’t die terroris doodgeskiet.”

      “Hý, ja. Dis nogal ’n storie, hoor!”

      “Vertel.”

      “Hy was daardie Donderdagaand veronderstel om by die basis te wees, maar hy het dringende sake gehad wat hy vir die bataljon in die stad moes afhandel. Toe het hy met ’n ander offisier vir die naweek uitgeruil.”

      “Hy’t ’n gesin, het ek gehoor …”

      “Dis reg. Hy het twee jong kinders en sy vrou is sewe maande swanger.”

      Marc fluit saggies deur sy tande. “En hy duik sowaar in so ’n gemors in.”

      Udi knik. “Hy’t vertel hoe hy dié aand net die kinders klaar gebad en die een aan die slaap gekry het toe hy die ontploffings uit Mercaz HaRav oorkant die straat hoor.”

      “Kiryat Moshe, nè? Ons was daardie aand in Ben Yehuda toe ons die nuus hoor. Toe het mense nog gedink die skietery was in Mea Shearim.”

      “Baie mense het aanvanklik só gedink.”

      “Iemand het gesê Shapira het self by Mercaz HaRav gestudeer.”

      “Dis reg. In elk geval, Shapira vertel ons toe dat hy eers gedink het hy hoor klappers. Ouens was mos oral besig om Purim te vier. Maar hy’t baie gou agtergekom dit is geweerskote. Toe het hy onmiddellik sy dienswapen gegryp en oor die straat na die yeshiva toe gehardloop.”

      “Maar ek het gehoor daar was polisie ook?”

      “Inderdaad. Maar om die een of ander onverklaarbare rede het hulle búite bly staan en hulle kon nie besluit wat binne aan die gang was nie. Hulle was onseker hoeveel aanvallers daar was, en het vir Shapira gewaarsku om nie in te gaan nie. Maar hy’t hulle net opsy gestamp en ingehardloop. In die biblioteek het hy op die skietende terroris afgekom. Hy sê hy’t tot omtrent twee of drie meter van die man af gevorder en toe altesaam sestien skote afgeskiet om hom te stop.”

      “Maar toe was dit te laat?”

      “Ongelukkig. Agt studente was reeds dood.”

      “Verskriklik!”

      Udi gryns effens. “Ek kon nie help om te lag nie toe Shapira vertel hoe hy direk na die skietery, bloot uit gewoonte, die hoof van 890-valskermbataljon gebel het om hom in te lig dat hy die terroris geneutraliseer het, en nou besig was om die area te deursoek vir ander aanvallers. Dit betaam mos ’n goeie offisier om sy bevelvoerder te laat weet wat gebeur het.”

      “Dís die IDF daai!” Marc se stem tril van emosie.

      “Sê dit weer. In die geselskap nou die aand het iemand vir David Shapira gevra wat hy gedoen het toe al die nooddienste daarná op die toneel verskyn. Hy’t so skewerig gelag en gesê hy’t gevoel hy’t gedoen wat gedoen moes word en is toe maar huis toe om die kinders verder aan die slaap te maak.”

      “Nogal tipies.”

      “Ja. Maar hy het wel die volgende dag ’n oproep gekry van ’n ou wat diep wortels in die paratroopers se mededingers het.”

      “Jy bedoel ’n ou van die Golani-brigade.”

      “Net so. Nogal a main peanut ook.”

      “Wie dan?” vra Marc nuuskierig.

      “Niemand anders as Gabi homselwers nie.”

      Marc fluit. “Die chief nogal.”

      “Einste. Shapira sê hy het hom gelukgewens en wou alles wat gebeur het eerstehands hoor. Maar toe ons uitvra oor wat Gabi Ashkenazi gesê het, was hy te verleë om uit te brei. Sy vrou het toe maar vertel dat Gabi vreeslik in sy skik was met Shapira se vinnige en korrekte optrede. Hy het gesê dit is hoe hy verwag enige offisier hom sal gedra – of hy nou in sy eenheid is of op die pad of met vakansie; dat wat David gedoen het, sprekend is van die IDF se waardestelsel. Hy’t dit gehad oor leierskap, kalmte, dapperheid – al die dinge wat ou David daai aand reggekry het. Sy het vertel dat Gabi veral in sy skik was dat David die vyand agternagesit het totdat hy hom kon neutraliseer.”

      “Dis ’n mondvol,” sê Marc. “Ek het baie respek vir Gabi.”

      “Ek ook. Jammer hy was nie stafhoof met die Libanon-inval nie. Dan het ons sekerlik beter daarvan afgekom.”

      “Ek kan net nie verstaan wat énigiemand kan besiel om tussen ’n klomp jong seuns in te vaar en hulle voor die voet dood te skiet nie.”

      “Wel, ek het nou die dag met ’n Arabiese onderwyseres gesels wat in Silwan skoolhou,” antwoord Udi. “Sy sê jongmense soos dié Abu Dhein is beïnvloed deur TV-tonele van dooie kinders en vroue in Gasa. Jy weet, met die IDF se operasies verlede week in Gasa?”

      Marc knik. “Ek het self gesien hoe Arabiese TV-stasies, veral Al Jazeera, dieselfde foto’s oor en oor wys. Ek kan my voorstel dat dit mense sal woedend maak, veral as hulle nie hoor wat daartoe aanleiding gegee het nie.”

      Udi knik. “Het jy die onderhoud met die aanvaller se pa en neef op TV gesien?”

      “Nee.”

      “Hulle het gesê Abu Dhein was ’n stil man, verloof en veronderstel om in die somer te trou. Hulle het skynbaar geen idee gehad dat hy so iets beplan nie. Die familie ontken dit, maar van die inwoners van Silwan sê dié ou was bekend daarvoor dat hy Hamas en die Islamitiese Jihad ondersteun.”

      “Ek het iewers gelees dat hy ’n baie godsdienstige Moslem was.”

      “Ja, wat sal ons sê? Daar is natuurlik ook baie sterk gerugte dat dit Yad l’Achim of die ekstremistiese sekte Gur Hasidim is wat die bom by die Ortiz-huis afgelewer het.”

      Marc knik en nadat hulle hul koffie ’n paar oomblikke in somber stilte gedrink het, vra hy: “Weet jy waarvoor is ek bang? Ek is bang dat, noudat die selfmoordbomaanvalle van buite af ’n bietjie afgekeer is, ons terrorisme van binne Israel self gaan begin kry.”

      Udi