uit?” vra Rivkah, wat die tafel afgedek het en voor elkeen ’n bordjie vrugte neersit.
Simcha begin ingedagte aan sy appel skil. “Ek is gisteraand al ingeroep en het sommer vannag op die basis geslaap. Edi is tog nie by die huis nie. Die nag was maar kort, want ek het laat eers daar aangekom en halfses was ek en die majoor al in die lug en ’n paar uur later was ons bokant Beiroet.”
“Hoe lyk dit daar?”
“Die skade is goed sigbaar. Ons kan die gate in die aanloopbaan sien. Daar’t ’n dik rookwolk oor die stad gehang, van die groot brandstoftenks het nog gebrand.”
Rivkah klik haar tong. “Ek’s jammer vir die arme mense van Beiroet. Dis soos premier Seniora van Libanon sê: Hulle is altyd die laaste om te hoor wat aangaan en die eerste om te boet.”
“Dis reg, ja. As mens terroriste huisves, moet jy sulke dinge verwag.”
“Het julle ’n teiken in Beiroet gehad?”
Simcha skud sy kop. “Nee. Ons is daarvandaan oos na die Bekaa-vallei toe. Dis mos naby die Siriese grens en ek het maar ’n versigtige oog op die waarskuwingstelsels gehou wat my moet sê as ’n missiel afgeskiet word. Ons verwag nie moeilikheid van Sirië se kant af nie, maar mens weet nooit. Ons het twee teikens gehad. Die een kon ons heeltemal verwoes, die tweede het ons ook getref, maar nie uitgewis nie. ’n Ander formasie het dit later gedoen.”
Toe hulle ná ete ontspanne in die woonkamer koffie drink en die Shabbat-stilte in die Ou Stad rondom hulle geniet, sug Simcha. “Dis moeilik om te glo dat ek vanmôre twee ton plofstof oor Libanon laat val het en hier sit ons rustig en koffie drink.”
“Dis Israel,” sê Rivkah gedemp.
Ná Havdalah bel ’n vriendin uit Hatzor HaGlilit in die noorde. Marc is besig om Yhoshi te bad. Toe sy klaar gepraat het, kom Rivkah op die kant van die bad sit om hom te vertel.
“Y’hudit sê die katyushas reën letterlik oor Safed en Rosh Pina. Hatzor HaGlilit is al twee keer getref. Sy sê dis ’n aaklige geluid wat die goed maak. Iets soos poom, poompoom, poom … poom en ’n geweldige slag wanneer dit die grond tref. Alles in die omgewing skud en beef. Sy sê toe die eerste een val, het mense in die strate uitgestorm, of dié wat in verdiepings bly, op hul balkonne. Hulle kon die rookwolke sien en die brand in die droë bos. Party mense het nog koffiebekers in die hand gehad. Party het ontsteld oor ’n selfoon gestaan en skree om vir familie of wie ook al te vertel wat aangaan. Dit was amper soos ’n karnaval. Mense het glad nie die gevaar besef nie.”
“Ek verstaan heelwat mense kom suide toe, na familie of vriende toe.”
Sy knik. “Dis reg. Maar sy sê toe die tweede katyusha dieselfde heuwel tref, was dit ’n ander storie. Mense het besef dis nie speletjies nie. Party het die bomskuilings wat hulle van 2000 af nie weer gebruik het nie en pakkamers van gemaak het, so vinnig hulle kon begin leegmaak. Sy sê sy en Yuri sit nou daar met ’n groot rugsak vol goed wat hulle reken hulle nodig sal hê as hulle ’n lang tyd in die bomskuiling moet bly. Hulle is nie seker wat hulle moet doen nie. Na haar ma-hulle in Tel Aviv toe gaan, of by die huis bly.”
“Klink nie goed nie.”
Marc het Yhoshi uit die bad getel en in ’n groot handdoek toegedraai. Die kleintjie gil verontwaardig. Rivkah neem hom by Marc en vryf sy ruggie behendig totdat hy tot bedaring kom. Hy kyk na sy pa met sy yslike bruin oë nog blink van trane. Oor sy krulkop kyk Rivkah na Marc.
“Dis oorlog,” sê sy.
Hy lees die ander onuitgesproke woorde in haar oë. En ek is swanger.
Stellenbosch
Saterdag 15 Julie 2006
Hierdie keer sit Hannes saam met Mara voor die televisie vasgenael. Hulle kyk na die onrusbarende oorlogstonele wat oor BBC op skotteltelevisie uitgesaai word. Die bomwerpers wat skreeuend oor Suid-Libanese stede skeer. Katyushas wat op Haifa reën. Bloedjong Israeli-soldate in olyfgroen uniforms, Hisbollah-milisie in gehawende T-hemde en jeans. Swaar Merkava-tenks wat soos enorme oerdiere deur feitlik onbegaanbare gebied ploeg. Swart rookwolke wat oor Beiroet hang.
Toe twee Israeli-soldate in beeld kom, elk met ’n tallit oor die skouer en hul M-16-gewere swaaiend teen die rug, fluister Mara skaars hoorbaar: “Dis Sabbat daar vandag.”
Hannes neem haar koue hand langs hom op die rusbank in syne. “Wat het Marc vanmôre gesê? Verwag hy om opgeroep te word?”
“Hy’t gesê hy dink nie so nie, maar ek glo niks meer wat hulle vir my sê nie. Kyk hoe lyk dit daar, hoe kan hy nié opgeroep word nie?”
Daar kom beeldmateriaal van ’n Merkava wat in vlamme staan.
“Hulle sê dan altyd dié goed is onvernietigbaar,” sê Mara.
Asof om haar vraag te beantwoord, verskyn ’n senior militêre offisier in beeld. “Hisbollah gebruik Russies vervaardigde Metis-M-tenkafweerprojektiele,” sê hy. “Hisbollah is nie ’n milisie nie, dit is ’n infanteriebrigade met al die ondersteuningseenhede van ’n moderne leër. Hulle het van die wêreld se mees gesofistikeerde tenkafweerprojektiele. Hierdie projektiele is aan Sirië en Iran verkoop, wat dit na Hisbollah deurgesmokkel het. Hierdie wapen het Israel se swaarbewapende Merkava-tenk, wat onder die beste ter wêreld tel, kwesbaar gemaak.”
“Marc is sover ek weet nie in ’n tenkbrigade nie.” Hannes kyk vraend na Mara.
Sy skud haar kop. “Hy’t vanmôre gesê infanterie.”
“Lyk nie of daardie nuwe minister van verdediging van hul voetsoldate gaan gebruik nie. Hy gooi net bomme.”
Mara antwoord hom nie en hulle kyk ’n rukkie in stilte na die ontstellende tonele van verwoesting voor hulle.
Skaars 24 uur nadat Hisbollah-terroriste Israel tot aggressie uitgelok het deur ’n oorgrensaanval waarin twee soldate ontvoer is en agt gesterf het, het die IDF met ’n volskaalse lugaanval op Libanon begin. Paaie, brûe, lug- en seehawes is bestook. Libanon lê aan skerwe. Die grootste deel van Suid-Libanon, waar dié terreurgroep hul hoofkwartier, skole en klinieke het, is tot ’n puinhoop gereduseer.
“Ek sou sê dis heeltemal buite verhouding,” sê Hannes.
“Wat?”
“Om vir die ontvoering van twee soldate ’n hele land te gaan bombardeer!”
“Luister,” sê Mara, wat onthou wat Marc hieroor gesê het, meteens kwaad, “as ’n mens van buite verhouding praat, moet jy daaraan dink dat die verlies van 10 Israeli-soldate gelykstaande is aan 500 Amerikaanse troepe. Hoe dink jy sal die VSA reageer as Mexiko ’n verrassingsaanval doen op van hul soldate wat die grens patrolleer en 500 sneuwel?”
Hannes kyk verbaas na sy vrou. “Ek het nie só daaroor gedink nie.”
“Dan moet jy nóú so begin dink!”
“Is jy nou vir my kwaad oor die oorlog?”
“Ek’s jammer,” sê sy gedemp, “ek het dit nie so bedoel nie.”
“Ek weet.” Hy vryf haar hand. “Dis ook nie vir my lekker om dit te sien nie.” Hy druk die afstandbeheerder se knoppie en die beelde op die skerm verdwyn.
“Moenie!” sê sy vinnig. “Dis vir my beter om te weet wat aangaan.”
“Is jy seker?”
Sy knik. “Dit maak my hartseer en kwaad. Oor die lewens wat verwoes word – nie net oor mense doodgemaak word nie, maar ook dié wat vermink word, wat alles verloor wat hulle het. Hul ideale en drome wat daarmee heen is. Ek’s kwaad vir Israel se regering, wat nie ’n oorlog kan aanpak en klaarmaak soos die vorige ou strydrosse … soos Sharon dit in sy tyd gedoen het nie. En vir Libanon se regering, wat toelaat dat hul grondgebied vir terroristebedrywighede gebruik word. Ek’s kwaad vir Hisbollah, wat haat aanblaas en enige middel gebruik om hul doel te bereik. En … vir twee nasies wat albei uit dieselfde voorvader gebore is, maar nie met mekaar kan saamleef nie.”