die ekstatiese Shmu’el iets te ete, neem Yhoshi op die arm en vat die pad Kotel toe. Toe hulle bo-aan die lang ry treetjies kom, tel hy Yhoshi op sy skouers en galop met hom ondertoe. Die skommelende kind op sy skouers skater van plesier en gryp in sy pa se krulhare.
Hulle kom albei uitasem op die plein voor die Kotel aan. Marc tel Yhoshi af en sit hom op die grond neer. Op onseker beentjies waggel hy dadelik in die rigting van ’n paar duiwe wat op die grond aan ’n oopgebarste granaat sit en pik. Toe hulle opvlieg, kreet hy gefrustreerd en pluk die kippah wat Marc vir hom by die huis opgesit het van sy kop af en gooi dit neer.
’n Yeshiva-student wat verbyhaas, steek in sy vaart vas en tel dit op. Hy hou dit na die seuntjie met die lang donker krulhare uit wat hom wantrouig aankyk. Die student laat vaar sy dringende missie vir eers en hurk by die kind. Hy glimlag gerusstellend met hom en hou die kleurryke, gebreide kippah na hom uit. Maar Yhoshi ignoreer dit en steek sy handjie na die jong man se swart breërandhoed uit. Dié aarsel effens, maar toe laat sak hy sy kop sodat Yhoshi die hoed kan bykom. Hy neem dit met albei handjies stewig vas, huiwer net ’n oomblik en sit dit toe op sy eie kop. Die hoed sak oor sy oë. Dit laat die student grinnik en hy kantel die hoed effens sodat die twee groot bruin oë onder uitloer. Yhoshi lag hard, leun vorentoe en hou sy mondjie om gesoen te word. Die jong man kyk vlugtig na Marc vir goedkeuring, toe trek hy die kind teen hom aan en soen hom op albei wangetjies sodat die hoed afval en oor die grond rol. Die wondermooi tafereel teken homself in Marc se geheue af.
Hy bedank die student, gee sy hoed terug, tel die protesterende Yhoshi op, druk sy kippah terug op sy kop en stap met hom deur die ingang na die mansafdeling by die Kotel. Die lug het effens koeler geword, maar daar walm steeds hitte uit die klippe op. Dis nog redelik stil by die muur, want dis nog nie tyd vir die aandgebed nie. Drie soldate, arms om mekaar geslaan, staan dig teen die muur en bid. Die eeue oue klippe rys voor hom op en bokant teen die blou lug roer ’n landsvlag lui.
Yhoshi het opgehou kriewel, asof hy, klein soos hy is, die heiligheid van die plek verstaan. Marc hou die kind se kop teen sy skouer aangedruk en buk met sy voorkop teen die louwarm stene. “Abba, U het dit goedgedink om ons in hierdie tyd en in hierdie omstandighede nog ’n kind te gee.” Hy sug en soen die kleintjie se vingertjies. “Ek loof u Naam daarvoor, want U het vir elke ding ’n vasgestelde tyd. Wees ons genadig. Maak my vrou rustig en gee my die wysheid wat ek nie het nie.”
’n Ruk staan hy woordeloos. Die andersins woelige Yhoshi lê rustig met sy kop teen sy pa se skouer. Bokant hulle swerm klein voëltjies tjirrend langs die muur op en af. Verder weg galm die stem van ’n muezzin oor die Kotel.
Ineens skiet die woorde van ’n Psalm hom te binne en terwyl hy ligweg op sy voete wieg, prewel hy die woorde wat hy so goed ken in Hebreeus:
“Laat my elke môre u liefde ondervind,
want in U stel ek my vertroue.
Wys my die pad wat ek moet loop,
want my hoop is op U gevestig.
Red my van my vyande, Here,
want by U skuil ek […] ”
Op sy terugtog gaan hy ’n oomblik aan die bopunt van die eerste ry treetjies staan om voor hom uit te kyk. Yhoshi wriemel om neergesit te word en hy laat hom gaan. Die lug oor Jerusalem het rosig pienk geword. Vir die soveelste keer vandat hy hier kom woon het, staan hy ontroer en kyk na die kleurskakering van die muur, die sagte bruin en die donker room, die skadu’s wat oor die Joodse begraafplaas teen die Olyfberg begin val, die helder wolke …
Hy raap sy protesterende seun weer op en hardloop met hom die laaste treetjies uit. Dit laat Yhoshi opnuut van plesier gil. In Tiferet Yisra’el, die smal drukgang terug na die Hurvah-plein, krioel dit van mense. Mans en vroue in sober swart-en-wit Ortodokse drag, omswerm deur hul spruite aan die hand en in stootwaentjies, yeshiva-studente en toeriste met maar een bestemming voor oë – die Kotel. Toe Yhoshi die plein sien, wurm hy hom weer skoppend uit sy pa se arms. Marc sien daar is nog ’n halfuur voor eet- en slaaptyd en hy besluit om die kleintjie nog ’n rukkie op die grasperkie tussen die ander kleuters los te laat. Self gaan sit hy op die lae muurtjie aan die rand van die speelterrein waar hy Yhoshi goed onder oë kan hou, maar ook al die interessante figure kan dophou wat heen en weer oor die plein op pad is.
Hy kyk op toe hy vaagweg musiek hoor. Om die hoek van die Hurvah-sinagoge se bouval, kom ’n ou Joodse man met sy viool spelend aangestap. Sy dun grys baard en oorkrulle beweeg in die ligte bries. Die yl klanke van die viool verdwyn byna in die plein se geluide. Hy beweeg met stadige danspassies wat sy swart manelpunte laat wip. Dit is duidelik dat hy skaars van sy omgewing bewus is. Die kinders staak hul spel en kom aan die rand van die park staan. Yhoshi kom na Marc toe, leun met sy warm lyfie teen sy bene. Hy bekyk die ou man met verwondering.
Twee jong meisies wat verbyloop, bly staan. “Fiddler on the roof!” roep die een hom toe.
Die ou man gaan staan ook. Hy kyk stip na die twee skraps geklede toeriste. Toe buig hy, stram van jare, potsierlik voor hulle. “Shalom,” sê hy hees, “Bru’chim ha’ba’im l’Yisra’el.” Dan druk hy weer sy viool teen sy skouer vas en dans traag verder op die treurige note wat sy gehawende strykstok uit die snare trek. Die meisies skud hul koppe en loop verder.
Yhoshi sug en kyk op na sy pa. “Abba,” sê hy. Toe tel hy sy beer van die bank af op, druk hom styf vas en waggel weer terug na sy speelplek.
Marc trek sy sketsboek en houtskool uit sy skouersak, en teken haastig die maer ou man in sy swart manel en hoed wat stadigaan in Tiferet Yisra’el af verdwyn. Toe hy klaar is, begin hy ook die ontmoeting van vroeër die middag tussen Yhoshi en die yeshiva-student skets. Hy werk kwistig met houtskool en pastel. Hy teken die yeshiva-student se laggende oë agter sy groot bril. Yhoshi met die hoed wat oor sy oë val. Die vingertjies wat die hoed vasvat. Die rondewangprofiel van die kleintjie wat ’n soen aanbied. Hy vergeet byna om die kind op die grasperk in die oog te hou.
Heelwat later kyk hy op toe twee mense langs hom kom staan. Dis ’n middeljarige swart man en ’n fyn wit vrou met ’n bos rooi hare. Hulle verlustig hulle openlik in die skilderagtige toneeltjie van fraai geklede Ortodokse kindertjies wat op die gras speel terwyl hul ma’s met babas in stootwaentjies ’n wakende oog hou.
Albei is in byderwetse sportdrag geklee. Marc besluit dis sonder twyfel buitelandse toeriste en gaan voort met sy tekening. Maar toe praat hulle meteens Afrikaans met mekaar en die houtskool in sy hand raak stil.
Hy kyk op, vang die vrou se oog en kan homself nie keer om te vra nie: “Suid-Afrika?”
Die twee kyk verras na hom, knik. “Ja, Kaapstad.” Die vrou hou onmiddellik haar hand uit. “Jy?”
“Oorspronklik Suid-Afrika, maar ek woon al vier jaar hier. Marc Krige.”
“Henok en Sarah Kambungu.”
“Is julle met ’n toergroep hier?”
“Ons was dapper, of dalk dom genoeg, om op ons eie te kom. Nie geweet ons gaan ons in ’n oorlog vasloop nie. Ons het Woensdag aangekom, dieselfde dag wat die oorlog begin het.” Die man glimlag verleë.
“Erg, ja,” sê Marc. “Het julle darem al iets van die land kon sien?”
“Wel, ons kon natuurlik net in ’n suidelike rigting beweeg. Ons was van Donderdag af in Eilat, vanoggend eers teruggekom.”
“Waar bly julle?”
“Gastehuis naby Jaffa-poort.”
“Christ Church,” sê sy vrou. “Werk jy hier?”
“Nee, ek woon permanent hier, ek het nou Israelse burgerskap … en is met ’n Israeli getroud. Daar’s my seuntjie.” Hy wys na Yhoshi, wat ’n ander kleinding se speelgoedtrekker afgevat het en daarmee in hul rigting aankom. “Laat ek net eers hierdie saak uitsorteer.”
Hy hurk by Yhoshi en neem die speelding by hom af, gee dit vir die ander huilende kind terug. Toe tel hy Yhoshi, wat verontwaardig aan die gil gegaan het, op en kom met hom terug na die twee Suid-Afrikaners, wat geamuseerd toekyk. Hy haal ’n beskuitjie uit sy sak en toe hy