die terroriste het lankal agtergekom hoe hol daardie dreigement is, veral onder die Olmert-regering. Ons soldate word in lokvalle gelei, doodgemaak en ontvoer. Maar ek glo die gort is nou gaar.”
Toe alles ná ete opgeruim is, skop hulle hul skoene uit en sak behaaglik in die twee groot stoele voor die venster neer. Sy kyk na hom oor die klein ruimte wat hulle skei. Haar oë is baie donker en haar vel gloei in die laaste lig wat deur die venster oor haar val.
“Ek dink ek is swanger,” sê sy.
Hy maak rasendsnel berekenings in sy kop en trek toe sy asem skerp in. “Natuurlik.”
“Ek het gehoop oor ek Yhoshi nog voed … maar nou is ek ’n week …”
“En jy is altyd …”
Sy knik. “Presies op die dag.”
Hy haal diep asem. Hulle kyk mekaar ’n paar oomblikke stil aan. Toe staan hy op, gaan na haar toe en berg sy kop in haar skoot. Sy trek haar vingers deur sy digte krulhare.
Toe hy eindelik sy gesig oplig, is haar oë nat. “Ek het dit nie verwag nie.”
“Ek ook nie. Met die oorlog, ek …”
Hy neem haar gesig in sy hande. “HaShem maak nie foute nie.”
“Ek weet, maar …”
“Wat?” vra hy sag.
“Ek wil ook … my deel doen.”
Hy sak terug op sy hurke. “Ons het mos nou die aand oor jou deel gepraat.”
“Ek weet. Maar ek wou tog gaan help, op die een of ander manier.”
“Nou is dit uit jou hande uit, my lief.”
“Nie noodwendig nie,” sê sy.
Marc byt sy onderlip vas en wag totdat sy asemhaling rustig is voordat hy praat. “Ag, kom, ons weet nie eens vir seker nie.”
“Ek weet vir seker,” sê sy gedemp.
Hy staan op, trek haar uit die stoel op en hou haar styf vas totdat hy voel sy ontspan. Toe soen hy haar lank en hard.
“Ek het jou lief,” sê hy teen haar gesig.
“Marc …”
“Hmm?”
“Het jy daaraan gedink dat jy ook opgeroep sal word as daar regtig oorlog kom?”
“Ek het,” sê hy.
“Gou ook, jy het maar pas in Februarie reserwediens gedoen.”
“Ek weet.”
Haar arms sluit om sy rug. “Ek is bang,” sê sy.
Hy hou haar stywer vas en antwoord nie. Hy weet waarvan sy praat.
Erev Shabbat
14 Julie 2006
Rivkah het ’n vriend en buurman vir die Shabbat-maal oorgenooi. Sy vrou is op die oomblik by haar ouers in die VSA, want haar pa is ernstig siek. Simcha is ’n F-16-vlieënier in die lugmag en hulle vra hom uit oor die gebeure van die afgelope drie dae.
“Ek kom Woensdagoggend terug van ’n roetine-oefensessie en toe ek oor die aanloopbaan na die parkeerarea taxi, hoor ek oor die radio zanek! … spring! Ek kon nie dink wat aangaan nie, want toe ek beswaarlik ’n uur gelede weg is, was alles doodkalm op die basis. Maar toe ek uit die vliegtuig klim, hoor ek daardie ander swaar dreuning van vegvliegtuie wat met ’n vol vrag bomme opstyg. Dis ’n baie dieper dreuning as die ligter en vinniger opstyg van oefenvlugte. Toe sê ek vir myself: Hier’s probleme.”
Rivkah skep vir hom nog ’n paar snytjies van die gebraaide skaapboud in. Hy maak sy slaaibord ook weer vol.
“Ek hardloop toe sommer reguit eskader toe en daar blêrskree die luidsprekers: ‘Alle vlugbemanning na die opdraglokaal.’ Van die eskaderbevelvoerder kry ons toe net ’n kitsrapport: Twee soldate ontvoer, katyushas val in die noorde. Alle opleidingsvlugte opgeskort. Almal moet onmiddellik gereed maak, prosedure en aanvalstaktiek check.”
“Hoe laat was dit toe?” vra Marc terwyl Simcha met mening aan sy tweede porsie wegval.
“Net voor tien. Hulle was nog besig om ons te brief toe die majoor wat my formasieleier is daar instorm. In sy jeans nog. Hy het nie eens geweet wat aangaan nie, net gehoor hy moet dadelik kom. Hy kry opdrag en ons werk uit wat ons gaan doen. Daai majoor is baie gepla dat ons nie foute maak nie. Hy’t al gesien dat ’n fout die dood van onskuldige burgerlikes kan kos …” Hy neem ’n hap van die heerlike vleis.
“Hoe so?” vra Rivkah nuuskierig.
“ ’n Vriend van hom, ’n helikoptervlieënier, het eenkeer ’n letter in ’n naam verkeerd gelees. Dit het gemaak dat hy ’n verkeerde teiken aangeval en ’n hele Arabiese gesin uitgewis het. Hy was nie van plan om self so iets oor te kom nie.”
“Dit moet erg wees om te weet jou fout het onskuldige mense se dood veroorsaak.” Marc leun oor om Simcha se wynglas aan te vul.
“Ek dink nie mens kom ooit daaroor nie. Dié majoor het seker gemaak ons hoor hom. Toe blaas die sirene al en weg is ons.”
“Wat? Vlieg julle toe dadelik in die rigting van Libanon?”
“Reguit vir die Libanese kus. Van daardie hoogte af lyk alles ongelooflik klein, Israel in die suide, Sirië in die ooste. Ek moes myself knyp om te onthou waarmee ek besig was, dit het alles so verskriklik vinnig gebeur …”
Rivkah kyk na Marc en knipoog ongemerk. Dis duidelik dat Simcha weer alles beleef en ’n bietjie van hulle vergeet het.
“As daar twee bomme ’n paar sekondes uitmekaar van elke vlerk af val, skommel ’n vliegtuig geweldig. Ons vlieg so hoog dat dit moeilik is om uit te werk presies waar elkeen van jou bomme sal val, maar ek kan wel die ontploffings sien.”
Hy bly stil en neem ’n groot sluk van sy wyn.
“Wat gaan deur ’n mens se kop wanneer jy ná so ’n sending terugvlieg?” vra Rivkah.
Hy glimlag afwesig. “Wanneer daai geweldige skoot adrenalien uitgewerk is wat jy aan die begin kry, wonder ek altyd of ek regtig die slegte ouens bygekom het en nie dalk tog burgerlikes ook nie. Ons … het mos al gesien dat Hisbollah niks daarvan dink om burgerlikes as menslike skilde te gebruik nie.”
“Hoe lank duur so ’n missie nou?” vra Marc belangstellend.
“Ons was halfvyf weer terug by die basis.”
“Wat was jul teiken toe? Of hoor julle dit nie ná die tyd nie?” vra Rivkah.
“Nee, ons hoor. Ek was verlig dat dit ’n Hisbollah-buitepos was. Waarskynlik nie eens beman nie.”
“Ek vergeet nooit daardie verskriklike vergissing die laaste keer toe ons in Libanon was nie …”
“Jy bedoel by Kfar-Kana?”
Sy knik.
“Wat was dit nou weer?” vra Marc. Toe Rivkah half ergerlik na hom kyk, kom die ou gevoel van nie weet wat aangaan nie, nie regtig Israeli wees nie, weer mislik by hom op.
Maar Simcha skyn geen sulke gedagtes te hê nie, want hy antwoord hom gewoonweg. “Met een van ons laaste operasies in Libanon in 2000 het die artillerie per ongeluk ’n vlugtelingkamp gebombardeer. Meer as ’n honderd mense is dood. Dit het gelei tot internasionale druk wat die hele operasie tot stilstand gedwing het. Dié dat die fokus dié keer nie is hoeveel sukses ons met ’n missie het nie, maar eerder met hoeveel presisie ons die teiken tref. Om die teiken te tref is wat van jou verwag word, om te mis is onaanvaarbaar. Mens word nie gelukgewens wanneer jy ’n opdrag suksesvol uitgevoer het nie. Maar jy kan doodseker wees jou harsings sal waai as iets verkeerd gegaan het. Dis ’n baie, baie duidelike boodskap bo van die eskaderbevelvoerder af tot by die groenste vlieënier. Één fout kan ’n hele oorlog in gevaar stel.”
“Klink