staan op en skakel die televisie beslis af. Hy kom weer langs haar sit. “Hoe lank is Marc en Rivkah nou getroud?” vra hy, deels om haar aandag van die oorlog af te lei.
“Drie jaar.”
“Kan dit wees? Dit voel soos verlede jaar.”
“Tyd vlieg,” sê sy.
“Dit was darem ook ’n tyd waarin baie dinge gelyk met jou gebeur het.”
Sy knik. “Marc wat oornag ’n Jood geword het. Israel toe is. Met ’n Israeli gaan trou het …”
“En jy wat jou biologiese ma vir die eerste keer ontmoet het.”
Sy vryf ingedagte oor sy hand wat op die bank se leuning rus. “Ja, op vyftig vir die eerste keer van aangesig tot aangesig met my eie ma.”
“Jy het tog altyd geweet jy’s aangeneem, of hoe?”
“Ek het. Maar ek het natuurlik nie geweet dat Pappa waarlik my eie pa was nie.”
Haar gedagtes gaan terug na ’n dag toe haar pa ernstig siek geword en haar hospitaal toe laat kom het. Dit was ’n jaar of wat ná die dood van haar aanneemma, Margriet. Dié dag het hy haar vertel dat hy inderdaad haar eie pa is. Dat hy in 1954, tien jaar ná sy troue met Margriet, vir ses maande in Duitsland gaan werk het. Daar het hy ’n verhouding met ’n meisie gehad wat swanger geraak het. Sy wou die baba laat verwyder, maar hy wou nie. Omdat Margriet nie kon kinders hê nie, wou hy graag die baba aanneem. Direk ná die geboorte. Margriet het daarvoor kans gesien. Sy was daardie baba.
“Ek is jammer ek het Margriet nooit geken nie. Sy moes baie moed gehad het om vir so iets kans te sien,” sê Hannes.
Mara knik. “Ja, sy het. Haar enigste voorwaarde was dat niemand ooit moes weet dat hy die pa was nie. Dit moes soos ’n gewone aanneming lyk. Hulle is Duitsland toe vir die bevalling en het twee weke later met die … met my teruggekom.”
“Niemand het dit ooit bevraagteken nie?”
“Hulle het vertel hulle het die baba deur ’n agentskap in Londen aangeneem. Om te sê dat dit in Duitsland gebeur het, sou my pa te veel met die baba verbind.”
“En jy?” vra Hannes sag en vryf haar vingers tussen syne.
Sy skud haar kop en praat nie. Sy sien haar pa se gesig voor haar dié dag in die hospitaal. Sy bleek hande wat die laken so styf vashou. Op 82 was hy steeds ’n aantreklike man. Sy kon haar voorstel hoe hy byna 50 jaar tevore moes gelyk het. Hy het na haar gekyk. “Jou … eie ma leef nog, Mara. Sy is Joods … Ruwth …” Sy stem het gebreek en dit het ’n rukkie geneem voordat hy verder kon praat. “Jy is Joods. Jy, en daarom Marc ook.” Sy was stil van skok.
“Mara?” vra Hannes ná ’n rukkie. Hy ken die storie, maar hy wil haar laat praat. Dit laat haar altyd beter voel.
Sy sug. “Ek kon dit nie vir Marc wegsteek dat hy en ek albei Joods was nie. Veral nie omdat sy ouma aan sy pa se kant ook ’n Jodin was nie.”
Hannes skud sy kop. “Wat ’n wonderbaar verwikkelde storie.”
“Ja, eintlik is dit. Die verskil is net dat sy Joodsheid Marc van die begin af soos ’n handskoen gepas het. Vir my het dit geen betekenis nie.”
“Hoekom nie?”
Dis lank stil voordat sy sê: “Oor ek nie aan Ruwth as my ma dink nie, miskien.”
“Wat is dit wat jy haar nie vergewe nie? Dat sy ’n aborsie wou hê?”
“Ek dink nie so nie. Dis meer dat ek nie kans sien vir hierdie … Joodsheid nie. Marc het daarmee byna ’n volslae vreemdeling geword. Hy het alles waarmee hy grootgeword het, sy geloof, alles, agtergelaat. My enigste kind.”
“Daarvoor kan jy Ruwth darem beswaarlik kwalik neem.”
“Ek weet nie. Sy het wat my betref wel daarmee te maak. Toe Marc in 2002 vir die eerste keer Israel toe is, het my pa Ruwth se besonderhede vir hom gegee.”
“Het jou pa en Ruwth dan nog al die tyd met mekaar kontak gehad?” vra Hannes ietwat verbaas.
“Volgens hom nooit persoonlik nie, maar hy het haar wel deur ’n prokureur op hoogte gehou van my en Marc.”
“En jou pa het gereken dat dit ná Margriet se dood reg is om vir Marc sy eintlike ouma se telefoonnommer in Israel te gee?”
“Wel, dis seker redelik. Maar wat my kwaad gemaak het, was dat sy hom daar met aandag oorweldig het. Én met haar sogenaamde Messiaanse geloof.”
“Maar hy het tog nie vir Rivkah deur Ruwth leer ken nie, het hy?”
“Nee, hy het nie, maar sy het ook niks gedoen om die verhouding te ontmoedig nie. Inteendeel, sy het dit aangemoedig. Sy was daarop ingestel om hom Joods te maak.”
“Dis darem effens onredelik, Mara, hy is immers Joods.”
“Ag, net in naam. Dis eintlik sy wat dáár van hom ’n Jood gemaak het. En dis veral dít wat ek teen haar het,” sê Mara driftig.
“En toe oupa Lukas ook nog hoog in sy tagtigs na sy vroeëre geliefde in Israel wou terugkeer, was dit sout in jou wonde?”
Sy glimlag flou. “Eintlik, ja.”
“Maar hy is dood voordat dit kon gebeur.”
Sy knik.
“Eintlik behoort jy simpatie met Ruwth te hê, weet jy. Sy het in haar lewe al soveel verloor.”
Sy kyk op na hom. “Weet jy wat?”
Hy trek haar kop teen sy skouer aan. “Wat?”
“Daar kom dae dat ek na haar verlang … om haar te ken. Maar dan is daar weer tye dat ek nog baie kwaad is vir haar.”
“Sy is wel later getroud, nè? Of ja … natuurlik, Ofer is tog haar seun. En dan is daar nog Uri, wat in Amerika woon. Twee halfbroers, dus.”
“Ek sien vir hulle eintlik meer kans as vir Ruwth.” Sy gee ’n droë laggie. “Ek wou nog altyd so graag ’n broer gehad het.”
“As ons in Desember vir hulle in Israel gaan kuier, sal dit in minder emosionele omstandighede wees as met die troue. Dan kan jy en Ruwth dalk gepraat kry oor die dinge wat jou so seermaak.”
Sy sug. “Wie weet.”
Drie
Jerusalem
Sondag 16 Julie 2006
Toe Marc dié Sondagoggend met die Ben Yehudastraat langs loop, sou mens nie sê dit is die begin van die lang somervakansie nie. Weinig van die gewone vakansie-uitgelatenheid is sigbaar. Oral sien hy mense in groepies staan en praat, bekommerde uitdrukkings op die gesigte. Dis die vyfde dag van die Libanon-oorlog en dis duidelik dat Jerusalem in skok verkeer.
Hy het Yhoshi by hom. Dis bloedig warm en hy trek besorg die sonskerm van die stootwaentjie laer af, sit die laphoedjie wat die kleintjie afgepluk het weer op sy kop en gee vir hom sy bottel vrugtesap. Hy sien hoe rooi die gesiggie is, maar die kleintjie waai vrolik vir hom. Vanmôre doen hy die weeklikse inkopies, want Rivkah is by die ginekoloog. Om te bevestig waarvan hulle albei byna heeltemal seker is. Die inkopiesak aan die stootkarretjie is al vol en hy wil nog vir Rivkah rose koop. Om dit te vier waaraan hulle tot nou toe nog nie regtig met blydskap gedink het nie. Maar nou moet hy eers met die kind uit die son kom.
Hy koop die Jerusalem Post en gaan een van die vele koffiewinkeltjies binne. Dis ietwat koeler, maar dis duidelik dat die lugreëlaar nie goed werk nie. Hy kyk hulpsoekend om hom rond. ’n Vreemdeling wat by ’n ander tafeltjie sit, knik vir hom.
“Hou maar uit,” sê hy. “Stel jou voor jy sit in ’n tenk op die Libanese grens.”
Marc glimlag flou, voel sy maag draai. Hy het al in ’n tenkafdeling reserwediens gedoen. As hy opgeroep word, hoop hy van harte dis nie waarheen hy sal gaan nie,