Ettie Bierman

Fluisterliefde


Скачать книгу

pas by mekaar soos ’n hand in ’n handskoen. Sy het nie gedink so ’n yster-ou wat ’n trekker met sy linkerhand kan optel, kan so mooi sentimenteel wees nie. Dit was kosbaar, spesiaal. Beamari het die groen wolhandskoen laat raam en bokant haar bed gehang, met ’n stukkie oop muur langsaan waar sy ’n foto van die afsender wou hang.

      Die lewe was ’n lied. Krisjan het elke aand gebel. Hy het in Pretoria kom kuier en haar plaas toe genooi. Op Valentynsdag het hy vir haar ’n teddiebeer gestuur, met ’n rooi hart op sy bors waarop geskryf was: Maak my dag. Trou met my! Sy het nie geweet of hy ernstig is nie, maar gehoop hy is, want teen daardie tyd het sy al haar trourok begin beplan.

      Die Haaie het nie die Curriebeker gewen nie. In die eindstryd het hulle op Loftus teen die Bulle vasgeval. Maar dit het nie saak gemaak nie, solank die liefde gewen het.

      Die klokke het ál harder gelui en sy het ja gesê toe Krisjan ’n fluweelboksie met ’n ring uit sy sak gehaal het. Aan die einde van die Drienasie-reeks is hulle getroud en Zanzibar toe vir hul wittebrood. Sy het by Jakaranda-lugdiens bedank en ’n boervrou geword.

      Omdat hulle albei nog jonk was, wou sy eers ’n jaar of twee wag, maar Krisjan wou dadelik met ’n gesin begin. Tydens hul wittebrood al ... Hy was uit sy vel uit, op ’n hartvormige pienk wolk in die paradys toe Stian gekom het. Weeskind Krisjan se eerste regte, egte, eie bloedfamilie.

      Heerlik romantiese herinneringe op ver paaie uit die verlede ... Maar die herinnering aan Stian se geboorte en die arms vol blomme wat sy trotse pa kraaminrigting toe aangedra het, laat sy ma skielik onthou dat daardie piepklein pap babatjie van destyds nou ’n woelige kleuter is, wat heeltyd opgepas en dopgehou moet word. Sy skrik toe sy op haar horlosie sien dis kwart voor drie. Die foksterriër het ophou tjank, in ’n bondeltjie opgekrul en aan die slaap geraak. Die gekap aan die sinkdakke het stil geraak en Khumbu is met ander werk besig. Terwyl sy helder oordag sit en dagdroom ... Sy spring skuldig op en gaan soek na Stian.

      Hy is nog steeds in die maltesie se hok, ewe soet besig om met die babahondjies te speel. Toe hy sy ma sien, kom vly hy hom teen Beamari aan.

      “Moe, ’blief-’blief?” soebat hy.

      Sy tel hom op haar heup, soen die blonde opstaankuif en druk die warm lyfie teen haar hart. Sy is net so trots op hulle kind, op hierdie klein wonderwerkie, soos wat Krisjan is. Hulle het gehoop daar is teen dié tyd reeds nog enetjie, of twee of drie. Maar dit het nie gebeur nie en daarom is Stian dubbel kosbaar. Dalk al wat hulle ooit sal hê ...

      Is dit waarom sy so broeis is oor die troeteldiere wat in haar sorg gelaat word? vra Beamari haar af. Omdat sy hulle as plaasvervangers beskou vir haar en Krisjan se kroos van ses, wat sy in haar onderbewuste weet nie gaan realiseer nie? Sy smoor die gedagte voor dit kan inslag vind. Agt en twintig is nog jonk. Daar’s nog tyd vir ’n kroos van meer as ’n halfdosyn.

      Tog is dit asof ’n skielike koue wind oor haar waai en onwillekeurig hou sy Stian stywer teen haar vas.

      “Wat wil jy hê, liefie? Wat vra jy so mooi ’blief-’blief?”

      “Kan ek ’blief ’n babatjie kry, Moe?”

      Sy ma se gedagtes dwaal nog om haar eie versugtinge en sy snap nie wat hy bedoel nie.

      “Teddie-babatjie,” verduidelik hy. “Kan ek ’blief ene kry?”

      Sy blou oë pleit by haar – ligblou, soos sy ma s’n, met ’n donkerder pers randjie om die iris. Hy pleit so mooi, sy kan nie weier nie.

      “Jy bedoel een van die babahondjies? Natuurlik, my skat, sodra hy groot genoeg is.”

      “Wanneer? Môre?” vra Stian hoopvol.

      “Nee, bietjie langer. As hy nie meer net melk drink nie en ander soorte kos kan eet.”

      “Swiets?”

      “Hondjies eet nie lekkers nie. Dit knoop hulle derms.”

      “Swiets het nie handjies nie, hoe knoop hulle derms?”

      “Ek weet nie. Maar dis wat Oupie sê.”

      “En kougom maak vlooie in my maag. Hoe maak hulle die vlooie?”

      “Ek weet nie. Vra vir Oupie.”

      Sy oupa bly in Pretoria en dis te lank om te wag tot hy weer kom kuier. Stian dink sy eie antwoord uit. “Lê die kougom eiers? Dan kom daar vlooie uit?”

      “Jy’s glad te slim vandag.” Beamari lag en vryf sy hare deurmekaar. “Is jy honger? Kom ons gaan huis toe, dan gee Moe vir jou kos.”

      ’n Troppie werfhoenders kom kôk-kôk hoopvol op soek na iets om te aas. Stian wriemel los en draf vooruit om vir Giftness ou broodkorsies te gaan vra, terwyl sy ma haar modderige waterstewels onder ’n buitekraan afspoel. Dan stap sy kaalvoet agterna, kombuis toe.

      2

      Krisjan het vergeet om die televisie af te skakel voor hy weg is. Vanuit die kombuis sien Beamari die wedstryd is aan die gang. Dis twintig minute se ry van Toti na Durban en sy hoop hy was betyds, sonder om soos ’n sneltrein te jaag. Hy is ’n goeie bestuurder, met goeie koördinasie en reflekse, maar hy sit graag voet in die hoek – veral sedert hy die skokrooi Mégane gekoop het. ’n Laai vol spoedboetes onderin sy lessenaar is die bewys daarvan.

      Giftness het ’n kastrol vol hoender en beenmeel gekook vir die honde, en vis vir die katte. Terwyl Stian eet, sny Beamari papaja op vir die kokketiele wat sy versorg. Sy gaan hoor by Precious of daar nuwe besprekings is en begin dan met die middagrondte van kos en skoon drinkwater. Een van Giftness se kleinseuns dra die kastrol en help met die uitskep. Stian help met die water gee – Beamari gooi met die tuinslang en hy met sy plastiekgietertjie.

      Hulle trek by die veglustige bulterriër wie se baas gevra het vir ’n oop hok weerskante van sy troeteldier toe Beamari se selfoon lui.

      Dis Zac. Gewoonlik kalm en rustig, al spuit jy bierskuim oor hom, al kleur sy vrou haar hare groen, al tref ’n reënbui sy braaivleisvuur. Maar op hierdie oomblik is hy vies en omgesukkel.

      “Bea? Waar de joos is Kris? Dis al rustyd, hy moes meer as ’n uur gelede hier gewees het! Coach wil hom moor! Hy wou Kris op die reserwebank gehad het vir die laaste tien minute, dalk opgestuur en getoets het as iemand seerkry. Maar hy’t nooit opgedaag nie. Waar de hel is hy?”

      Beamari frons. “Ek weet nie! Hy’s betyds hier weg stadion toe.”

      “Hoe laat?”

      “Net so ná twee.”

      “Dan moes hy mos al hier gewees het! Moenie vir my sê sy kop het uitgehaak en hy sit vasgeval in ’n kroeg êrens nie. Coach verwurg hom met sy kaal hande! Ek en die res van die span ook as hy ons drop!”

      “Krisjan sal nie so onverantwoordelik wees nie, jy weet dit, Zac. Het jy sy selfoon gebel?”

      “Tien keer! Voicemail, elke vervlakste keer. Daar’s nie nou tyd om weer te bel nie. Rustyd is om – ek moet op die veld kom. Probeer jy, kry die luis in die hande en sê hy beter in rat kom as hy nog ’n kans wil hê om ooit weer hierdie span te haal! Los vir my ’n boodskap as jy hom opgespoor het.”

      Onrus laat Beamari se keel toetrek. Sy maan haar om kalm te bly. Krisjan sal wel ’n verduideliking hê, ’n goeie rede. ’n Verkeersknoop. Motormoeilikheid. Verleggings op die pad. Hy het dalk sy selfoon verloor, of die battery is pap. Enigiets is moontlik. Sy moenie dadelik die ergste verwag nie ...

      Sy gaan aan met die waterbakke en bel elke tien minute. Maar Krisjan antwoord nie en sy hoor elke keer sy lawwe stemboodskap. “Haai, dis Kris. Ek kan nie nou antwoord nie. As ek die Lotto gewen het of as jy ’n mooi girl is, los ’n boodskap en ek sal terugbel.”

      Dis goed om sy stem te hoor – vrolik en vol grappe. Gerusstellend, asof niks verkeerd is nie. Maar ná die derde en vierde keer is dit nie meer snaaks nie. Dit werk op haar senuwees, sodat sy die foon dooddruk voor die res van die boodskap deurkom.

      Hy sou nie ’n bier of iets gaan drink het nie, nie voor ’n wedstryd nie. Hy weet