Ettie Bierman

Fluisterliefde


Скачать книгу

net aan julle terwyl ons rugby gekyk het. Waar’s Krisjan dat hy nie gespeel het nie?”

      “Hy’s beseer, Pa.”

      “Steeds die enkel? Moet die terapeut nie –”

      “Nee, in ’n motorongeluk, Pa,” onderbreek sy hom en vertel kortliks – wat sy weet en vermoed, wat sy nie verstaan nie.

      “Ek verstaan ook nie hoekom Krisjan deur Pinetown sou gery het nie. Dis ’n groot draai,” stem hy saam. “My kind, stabiliseer beteken nie noodwendig die ergste nie. Dit kan ’n nekstut wees wat die medic vir Krisjan aangesit het, of ’n gebreekte been wat gespalk moes word. Krisjan ly waarskynlik aan skok, dis reg dat die medic hom nie laat praat het nie. Lui af en konsentreer op die pad. Is jy alleen in die bakkie? Sal jy die hospitaal kry?”

      “Ja. Stian was daar vir sy mangels.”

      “Hou kop en ry versigtig. Ek sal die hospitaal bel en jou laat weet as ek iets kon uitvind.”

      “Dankie, Pa.”

      “Het jy iemand wat jy kan bel, Bea? ’n Vriendin om jou by te staan?”

      Sy knik, onthou dan haar pa kan haar nie sien nie. “Ja.”

      “Sterkte, my kind, jy sal hier deurkom. Moed hou! Ons praat nou-nou weer.”

      Sy bel vir Keira. Om te vra sy moet vir Zac laat weet. En vir Coach. En hulle sal nie vanaand kan kom braai nie ...

      Keira bly kalm. “Moet jou nie oor ’n simpel braai bekommer nie, dis die minste! Ek prop die vleis en slaai in die yskas. Dalk vir môre, al loop Krisjan met gips en twee krukke – dis ook nie die ergste nie. Is daar iets wat ek kan doen? Waar’s Stian? Kan ek hom gaan haal en hiernatoe bring?”

      ’n Motor toet agter haar en Beamari besef sy is naby die Durban-afrit, sy het albei hande op die stuurwiel nodig. “Dankie, jy’s dierbaar, maar dis nie nodig nie. Giftness pas hom op. Ek’s nou naby die hospitaal. Sal jou bel as ek Krisjan gesien het.”

      Hibiskus-boulevard loop al langs die strand, ’n bedrywige vierbaanpad met hotelle, toringblokke met tyddeelwoonstelle en welige bottelpalms weerskante. Genadiglik is daar ’n parkeerterrein reg langs die hospitaal. Sy trek die gehawende bakkie tussen twee luukse viertrekvoertuie in en kyk rond vir die ongevalle-ingang. Vir die eerste keer is sy bewus van haar uitgerafelde kortbroek en stowwerige T-hemp. Maar dit maak nie saak nie. Niemand gee om hoe sy lyk nie. Sy ook nie.

      Voor by die swaaideure staan ’n ambulans, nog met flitsende blou ligte en die agterdeure oop. Krisjan? wonder sy. Beamari kan nie daaraan dink nie. Haar verstand is afgestomp. Makliker is om uit te klim, haar handsak te gryp en die inligtingtoonbank te vind.

      “Naudé? Pas opgeneem?” herhaal die middeljarige suster en raadpleeg ’n lêer voor haar op die kliniese wit melamienblad. “Ja, ’n meneer Christian Naudé is ingebring. Twintig minute gelede, motorongeluk, naasbestaandes op Pinetown.” Sy kyk op oor haar bifokale lense. “Is u familie? Slegs naasbestaandes word by hom toegelaat.”

      “Ek is sy vrou,” antwoord Beamari met stywe lippe.

      “Vrou?” Die suster frons en kyk na Beamari asof sy haar nie glo nie. “Maar ek dag dan –” Sy skud haar kop. “Nee, toemaar ...”

      “Christian Naudé se vrou,” herhaal Beamari. “Kan ek hom sien?”

      “Gaan hoor by trauma of dalk by intensiewe sorg. Om daai hoek, af in die gang.”

      Beamari stap met lang treë in die blinkgepoleerde gang af, al is haar knieë bewerig en voel haar keel soos ’n droë stuk kurk. Sy kom tot stilstand by ’n diensstasie, by nog ’n melamientoonbank.

      “Meneer Naudé?” herhaal die suster, jonger en vriendeliker as die vorige een. “Hy is geskuif pas nadat hy ingebring is. Na die meer ... private saal langsaan.” Sy tik simpatiek teen Beamari se hand wat krampagtig om die rand van die toonbank span.

      Beamari lek oor haar droë lippe. “Ek verstaan nie ... Is hy nie in intensiewe sorg nie?”

      Die suster se oë is sag. “Nee, hy is nie hier nie.”

      “Mag ek hom sien?”

      “Is u naaste familie?”

      “Ja.”

      “Sy vrou is net lig beseer, sy’s by hom. Sy sal dan seker nie omgee as jy ingaan nie. Stap maar deur.”

      Beamari bly staan, haar gesig strak en die knop op haar maag nou skielik ’n loodswaar klip wat haar hele lyf vol lê.

      “Maar ék is sy vrou.”

      Suster Visser kyk na die vrou se linkerhand. Sy dra wel ’n trouring. Mooi vroutjie, pragtige asuurblou oë. Maar bietjie onversorg. Seker sy eksvrou.

      “Gaan gerus in, mevroutjie,” herhaal sy vol deernis.

      Beamari klou steeds aan die toonbank vas asof sy bang is sy val om. “Wat ...” Sy sluk droog en probeer weer. “Suster, wat ... probeer jy vir my sê?”

      Die suster se gesig trek op ’n nog meer simpatieke plooi. “Ek is jammer. Die dokters het alles gedoen wat menslik moontlik was, maar daar was geen manier wat ons hom kon red nie. Hy het inwendig bitter seergekry en te veel bloed verloor.”

      Sy het verwag Krisjan gaan in ’n groot saal lê met verbande, gips, of selfs in traksie. Keira het dan selfs gehoop hulle sal nog môre kan braai! En sy het so kort gelede nog gedink aan saam stort. Alledaagse, normale dinge ...

      Daar is ’n suising in Beamari se ore en sy kan net stom na die suster agter die toonbank staar. Sy hoor haar vaagweg praat, weer iets van “gaan maar in ” ... Sy laat los die toonbank en klem haar handsak vas asof dit haar anker in ’n stormsee is. Haar voete kom in beweging, loop werktuiglik soos ’n robot die twaalf tree in die gang af na die privaat kamer langs intensiewe sorg.

      3

      Dit is ’n smal vertrek met ’n bed, twee lang bankies weerskante en kliniese wit gordyne, halfpad toegetrek – om die bed, nie voor die venster nie. Op een bankie sit ’n meisie met Krisjan se slap hand in hare vasgevang. Sy kyk verdwaas op, haar oë dikgehuil.

      “Hy’s ... weg,” fluister sy.

      Wie is dit? En wat maak sy hier? Iewers is fout, maar in Beamari se geskokte toestand het sy nie die krag om dit uit te pluis nie.

      “Alles was so skielik ...” Die meisie se stem is gebroke en plek-plek skaars hoorbaar. “Ons was op pad stadion toe. Ons het nog gesels, toe skielik was hierdie ... hierdie grys kolos reg óp ons. Dit was sy skuld, hy’t nie by die stopstraat stilgehou nie. Ons met ’n verskriklike slag getref ... Ons het gerol, om en om, ek weet nie hoeveel keer nie. Ek het uitgeval. Maar Kris ... Hy’t sy gordel aangehad en die 4x4 het ons aan die kant getref, aan ... aan sý kant.” Sy druk ’n nat, verfrommelde snesie teen haar oë en snik. “Hy’t nie ’n kans gehad nie, hy’s papgedruk ...”

      Die meisie was saam met hom in die motor, in Pinetown, op pad stadion toe. Hulle het gesels en dit was die 4x4 se skuld, nie Krisjan s’n nie. Dis al wat Beamari registreer.

      Die meisie is ’n indringer. Sy wil nie met haar praat nie. Nie terwyl Krisjan daar lê nie ...

      Beamari gaan staan by die voetenent en staar stom en verslae na haar man se gesig. Hy is wasbleek, met donker kneusings en skuurmerke van sy oog tot by sy ken en af teen sy nek, tot waar die laken die res toemaak. Sy onthou hy het vanoggend geskeer, maar ’n paar baardstoppels wys op sy kakebeen. Sy mond is ongedeerd, skoon en sonder merke, sodat selfs die twee kuiltjies weerskante sigbaar is. Hy lê op sy rug en sy oë is toe. Dit lyk of hy slaap, soos sy hom vyf jaar lank soggens langs haar in die dubbelbed gesien het – asof hy netnou gaan wakker word, op sy sy draai en lomerig ’n hand uitsteek om te voel of sy daar is. Sy groot beer-arm oor haar gooi en haar naderhark ...

      Net een hand steek uit bo die lakens. Die hand wat die indringermeisie vashou, met bloed onder die vingernaels ... Daar is geen uitdrukking op sy gesig nie, geen asemhaling nie, geen