Deon Meyer

Proteus


Скачать книгу

op sy bors en die goue vleuels se oordadigheid. Lang vergaderings van luister en skryf en vrae vra. ’n Professionele verhouding, hoflik, op ’n afstand, asof hy effens verhewe was.

      Tot daardie laat, sweetwarm someraand in haar kantoor. Hy in die stoel met die staanlamp agter hom, sy uniformbaadjie uitgetrek, die ligblou hemp se moue opgerol, maar die das nog netjies en styf, dokumente op sy skoot, goue pen in sy lang, byna vroulike vingers. Sy agter haar lessenaar, verdiep in haar herlees van die verslag wat hulle saam moet indien. Sy het die blik op haar gevoel en opgekyk. Sy gesig was strak.

      “My gewese vrou,” het hy gesê met ’n sagte stem waarin deernis verweef is met die wysheid van diepe retrospek, “was haar lewe lank die gevangene van haar selfbelang.”

      Hy het getalm, ’n bruin leersakkie uit sy baadjiesak gehaal en sy pyp daaruit opgetower.

      “Sy was manjifiek daarin. Haar vermoë om mense te manipuleer was verstommend.”

      ’n Blink instrument het die pyp se kop oopgekrap en die geur van tabak en pypolie het deur die vertrek uitgekring.

      “Sy kon die situasie, die persoon bespeel met ’n skrikwekkende vaardigheid – sy het ’n spektrum van persoonlikhede gehad, soos ’n kas, nee, ’n huis van strooipoppe waardeur sy kon haas om die regte een vir die regte tyd te kry. Soms was sy ’n onbeholpe kind, ’n dogtertjie, soms ’n hulpelose en brose vrou. Sy kon sterk ook wees, onverbiddelik, hard. Of selfversekerd, of speels, of laf. Sy was ’n musikant wat ’n deuntjie gehad het vir elke situasie, vir elke gebeurlikheid, vir elke mens. Met elkeen het sy geweet wat sy wil hê en hoe om dit te kry.”

      Sy vingers het twak uit die leersakkie na die pyp verplaas, maar sy oë was op háár gerig. Janina het geweet waarom hy dit vir haar vertel, van die eerste keer toe hy sy mond oopgemaak het.

      “Die redding vir my was haar behoeftes. Sy kon haar talente vir baie dinge ingespan het. Gelukkig het sy dit net vir oorlewing gebruik. Haar grootste drang was om nie ontmasker te word nie.”

      Hy het die leersakkie terug in sy baadjie geplaas en die pyp met sy reguit steel en donker, glimmende hout vasgehou.

      “Ek het nooit geweet nie. Ek het die simptome gesien, maar dit was te verstrengel in die dinamika van ons huwelik. Ek kon dit nie uitmekaar haal nie. Dit was my gebrek aan verwysingsraamwerk. Onkunde. Te min verbeelding. Ek moes eers die afstand van egskeiding kry vir insig. Eers toe kon ek die somme maak.”

      Hy het teruggeleun in die stoel, sy hande met die pyp vergete op sy skoot.

      “Jy sien, sy was ’n buite-egtelike kind. En vir haar ouers was sy altyd die herinnering aan alles wat verkeerd was in hul huwelik, die oorsaak van hul onvervulde drome. Daar was ’n broer en ’n suster, binne die huwelik, en sy het instinktief geweet sy is anders. Kinders weet. Al hou die ouers die verwyte en pyn vir die binnekamer. Al is die suigelinge oënskynlik gelyk sover dit behandeling en liefde betref. Dit het haar gevorm, dit het die paaie van haar brein gebou. Sy het geweet haar geheim is veilig by hulle, maar sy het getwyfel of dit veilig was by haar. Daar is dinge wat ons nie weet ons weet nie, wat ons so diep vir onsself wegsteek. Ek dink nie sy het ooit bewustelik daaroor gefilosofeer nie – dit was net daar, onder, tussen soveel kamoeflering, dié ding wat haar aangedryf het.”

      Hy het ’n beweging met sy hande gemaak, asof sy woorde leeg en nutteloos was.

      “Sy is nou iewers daar buite in die wêreld, besig om aan haarself te dink, besig om iemand met haar lyftaal en haar woorde ’n doellose rat voor die oë te draai. Besig om te oorleef. Besig om die masker stywer en stywer teen haar vas te druk.”

      Vir ’n oomblik het hy doodstil gesit, toe met ’n klein skud van die kop ’n dosie van iewers te voorskyn gebring, die pyp na sy mond gelig en die vuurhoutjie getrek. Hy het geteug en die vlam gemanipuleer, met die gryswit rook wat hom en die staanlamp omhul.

      “Dit is ’n leë bestaan. En sy weet dit nie.”

      Sy het lank gesit en na hom gekyk. En gesê: “Ek sou verkies as jy nie rook nie.”

      * * * * *

      Transkripsie van onderhoud deur A.J.M. Williams met mev. Miriam Nzululwazi, 23 Oktober, 22:51, Govan Mbekilaan 21, Guguletu.

      W: Ek verteenwoordig die Staat, mev. Nzululwazi. Ek het ’n paar vrae oor ’n mnr. Tobela Mpayipheli en ’n mej. Monica Kleintjes …

      N: Ek ken haar nie.

      W: Maar u ken mnr. Mpayipheli.

      N: Ja. Hy is ’n goeie man.

      W: Hoe lank ken u hom al?

      N: Twee jaar.

      W: Hoe het u hom ontmoet?

      N: By my werk.

      W: Wat is u beroep, mev. Nzululwazi?

      N: Ek is ’n teemaker by Absa.

      W: Watter tak van Absa?

      N: Die Heerengracht.

      W: En hoe het dit gebeur dat u hom ontmoet het?

      N: Hy is ’n kliënt.

      W: Ja?

      N: Hy het een van die konsultante kom sien, en ek het tee gebring. Toe hy klaar was, het hy my kom opsoek.

      W: En gevra vir ’n afspraak?

      N: Ja.

      W: En u het ‘ja’ gesê.

      N: Nee. Eers later.

      W: Hy het dus weer teruggekom na die eerste keer?

      N: Ja.

      W: Waarom het u eers nee gesê?

      N: Ek verstaan nie waarom jy my kom wakker maak om vir my sulke vrae te vra nie.

      W: Mnr. Mpayipheli is in die moeilikheid, mevrou, en u kan hom help deur die vrae te beantwoord.

      N: Watse moeilikheid?

      W: Hy het ’n artikel wat aan die Staat behoort wederregtelik geneem en …

      N: Hy het niks geneem nie. Daardie vrou het dit vir hom kom gee.

      W: Mej. Kleintjes?

      N: Ja.

      W: Waarom het sy dit vir hom gegee?

      N: Sodat hy dit vir haar pa moet neem.

      W: Maar waarom het sy hom gekies om dit te doen?

      N: Want hy skuld haar pa ’n guns.

      W: Watse soort guns?

      N: Ek weet nie.

      W: Hy het nie gesê nie?

      N: Ek het nie gevra nie.

      W: U en mnr. Mpayipheli bly saam?

      N: Ja.

      W: Soos man en vrou?

      N: Ja.

      W: En u vra hom nie waarom hy gesteelde goedere in ontvangs neem en homself bereid verklaar om dit Lusaka toe te vat nie?

      N: Hoe weet jy hy gaan Lusaka toe?

      W: Ons weet alles, mevrou.

      N: As jy alles weet, hoekom kom sit jy hier in die middel van die nag en vra my vrae?

      W: Weet u waarby mnr. Mpayipheli betrokke was voor sy huidige betrekking?

      N: Ek dog julle weet alles.

      W: Mevrou, dit is so dat daar gapings in ons kennis is. Ek het vir u reeds om verskoning gevra vir die feit dat ek u so laat pla. Ek het reeds verduidelik dat dit ’n krisis is en mnr. Mpayipheli in groot moeilikheid is. En u kan help deur die gapings vir ons met inligting te vul.

      N: Ek weet nie wat hy gedoen het nie.

      W: Weet u dat hy vir georganiseerde misdaad …

      N: Ek wil nie weet nie. Hy het gesê hy het ’n ander lewe gehad. Hy het gesê hy het dinge gedoen