Deon Meyer

Proteus


Скачать книгу

sy dit verstel, danksy ’n middeljarige motorfietshandlanger.

      10

      Miriam lê op die dubbelbed in die donker kamer, haar hande op haar bors gevou, haar oë starende na die dak. Sy hoor nie die oorbekende naggeluide van Guguletu nie, die ewige geblaf van honde, die uitroepe van groepies wat van die sjebeen af huis toe gaan, ’n laaste uitbundigheid voor die week weer begin, die wen van ’n motorenjin in ’n agterplaas-herstelplek, die insekte, musiek wat iewers net in die laagste basregister hoorbaar is, die sug en kraak van hul huisie wat regskuif vir die nag.

      Haar gedagtes soek na Tobela en kom elke keer terug na die wete: Hy is ’n goeie man.

      Waarom jag hulle hom?

      Hierdie land. Sal hierdie land nooit ophou om in die laatnag aan jou deur te kom klop nie? Sal hierdie land nooit die boek van die verlede kan toemaak nie?

      Doen hy iets verkeerds? Is Tobela iemand anders as die man wat sy ken?

      “Ek was anders,” het hy een middagete gesê, vroeg in hul verhouding, toe hy nog moes veg om haar vertroue te wen.

      “Ek het ’n ander lewe gehad. Ek is nie skaam daaroor nie. Ek het gedoen waarin ek geglo het. Dis verby. Hier is ek nou. Net soos jy my sien.”

      Sy het daardie eerste dag in die konsultant se kantoor hom nie eens raak gesien nie. Net nóg ’n kliënt. Sy het die teebestelling van die trollie op die skinkbord gepak en die skinkbord op die lessenaar ingeskuif en geknik toe die konsultant en die kliënt dankie sê. Sy het die deur agter haar toegetrek, onwetend dat dié aflewering haar lewe sou verander. Hy het tot in die kombuis na haar kom soek, glo die konsultant se sekretaresse laat verstaan hy wil kom sê hoe lekker die tee was. Hy het sy hand na haar uitgesteek en gesê: “My naam is Tobela Mpayipheli,” en sy het gedink dit is ’n mooi naam, ’n eerbare naam. Tobela beteken “met respek”, maar sy wou weet wat hy wil hê. “Ek het jou daar in Van der Linde se kantoor gesien. Ek wil met jou gesels.”

      “Waaroor?”

      “Enigiets.”

      “Vra jy my uit?”

      “Ja, ek vra jou uit.”

      “Nee.”

      “Is ek te lelik?” Sy glimlag, en sy breë skouers.

      “Ek het ’n kind.”

      “’n Seuntjie of ’n dogtertjie?”

      “Ek kan nie nou staan en gesels nie. Ek moet werk.”

      “Sê my jou naam.”

      “Ek moet werk.”

      “Net jou naam, asseblief.”

      “Miriam.”

      “Dankie.” Hy het geen van die populêre Township-woorde gebruik nie, geen van die kwasi-Amerikaanse cool van die pierewaaiers nie. Hy het omgedraai en sy het aangegaan met haar werk, en twee dae later was daar telefoon vir haar. Niemand bel haar by die werk nie, sy het gedink daar is dood in die familie. Hy moes haar herinner wie hy was. Hy het haar gevra wanneer sy middagete neem, maar sy het ontwykend geantwoord en gesê hy moet haar nie by die werk bel nie, daar is nie ’n buitelyn in die kombuis nie en ontvangs hou nie daarvan as personeel op hul telefone lê nie.

      Die volgende dag het hy buite gewag. Nie iewers teen ’n muur aangeleun nie, maar reg voor die ingang, met sy bene wyd geplant en sy hande voor sy bors gevou. Toe sy die sonskyn van Thibaultplein wou gaan opsoek tydens haar middagete, was hy daar.

      “Kan ek saam met jou stap?”

      “Wat wil jy hê?”

      “Ek wil met jou gesels.”

      “Waarom?”

      “Want jy is ’n mooi vrou en ek wil jou ken.”

      “Ek ken genoeg mense.”

      “Jy het nooit gesê of jy ’n seun of ’n dogter het nie.”

      “Dis reg.” Hy het langs haar gestap, sy het op ’n trappie gaan sit en die waspapier van haar toebroodjie afgehaal.

      “Kan ek hier sit?”

      “Dit is ’n openbare plek. Jy kan sit waar jy wil.”

      “Ek is nie ’n tsotsi nie.”

      “Ek kan dit sien.”

      “Ek wil net gesels.”

      Sy het hom laat gesels. Daar was ’n tweestryd in haar – aan die een kant die vrees, aan die ander kant die verlange. Die ervaring wat agter haar lê, teenoor die moontlikhede voor haar. Die beskerming van haar kind en haar hart teenoor die mooi, groot, rustige, ordentlike man wat in die lentesonskyn langs haar sit. Haar oplossing vir dit alles was om te wag en te kyk, om te sien wat gebeur, om passief te bly. Laat hy gesels.

      En hy hét. Elke paar dae was hy buite, en soms het hy iets te ete saamgebring. Nooit luukshede nie: Bunny rolls, slapskyfies met hul onweerstaanbare geur van sout en asyn, soms ’n klein bakkie kerrie en rys of sy gunsteling, ’n chilli bite van die Maleier-wegneemplek in Adderleystraat, vars en geurig en skerp. Hy het haar laat proe, sy ete met haar gedeel. Stadigaan het sy ontdooi, het sy ontspan, het sy hom vertel van Pakamile en haar huis waarvoor sy so hard gewerk het, waaraan sy so moeilik afbetaal. Toe bring hy ’n geskenk vir die seun, ’n legkaart, en sy sê nee, dit is genoeg, sy wil hom nie meer sien nie, sy gaan nie vir Pakamile blootstel nie. Mans gaan weg, mans bly nie. Hy is ’n goeie mens, maar sy dink nie mans kan dit help nie, dit is hoe die lewe is: Mans is tydelik. Onbetroubaar. Onnodig. Onnodig vir Pakamile.

      Nie alle mans nie, het hy gesê en dit was op die punt van haar tong om te sê: “Dit is wat julle almal sê,” maar daar was iets in sy oë, in sy kyk, in die trek om sy mond en die klemming van sy tande wat haar weerhou het, wat haar geraak het en sy het stilgebly en toe sê hy: “Ek het ’n rowwe lewe gehad. Ek het dinge gedoen …”

      “Watse dinge?”

      “Dinge in die naam van die Struggle. Ek was anders. Ek het ’n ander lewe gehad. Ek is nie skaam daaroor nie. Ek het gedoen waarin ek geglo het. Dis verby. Hier is ek nou. Net soos jy my sien.”

      “Ons het almal dinge in die naam van die Struggle gedoen.” Sy was verlig.

      “Ja,” het hy gesê. “Ek het gesoek na myself. En nou het ek myself gekry. Ek weet wie ek is en ek weet wat ek wil hê. Ek is nie ’n wegloper nie.” Sy het hom geglo. Hy het in haar oë gekyk en sy het hom geglo.

      * * * * *

      “Ons het ’n weersituasie, Rooivalk Een,” sê die toring by Bloemspruit. “Trog aan die ontwikkel in die weste, al die pad van Verneukpan tot by Somerset-Oos en ’n swak frontale stelsel op pad. Dit kan nat raak.”

      Die vlieënier kyk na sy lugplan. “Kan ons nog deur?”

      “Affirmatief, Rooivalk, maar julle sal moet wikkel,” sê die toring, wat weet die Rooivalk se operasionele plafon is net onder die twintigduisend voet.

      “Rooivalk Een gereed vir opstyg.”

      “Rooivalk Twee gereed vir opstyg.”

      “Rooivalk Een en Twee, klaring vir opstyg. Laat julle voete raas.” Die lawaai van die dubbele Topaz turbo-asmotore is oorverdowend.

      * * * * *

      In die pas net voor die Hexriviervallei raak hy die R 1150 GS baas. Hy besef dit wanneer hy uit ’n draai kom en die versneller draai, en daar is genot uit die krag en die uitlaatpyp snork sag agter hom as hy een rat terugskop; hy kies die lyn vir die draai, kantel die motorfiets, sy skouer sak in die draai in en daar is nie ongemak nie, daar is nie vrees vir die hoek van masjien en pad nie, net die tinteling van ’n sekere behendigheid, vir ’n klein oorwinning, beheerde krag. Hy versnel anderkant uit, sy oë daar voor vir die volgende een, neem kennis van die rooi agterligte ’n kilometer vorentoe, ’n vragmotor. Hy voel meer in beheer, stukke en brokke van die instrukteurstem by die Gevorderde