Dit is al wat ek nodig het om te weet.
W: Weet u of hy ’n lid van Umkhonto weSizwe was?
N: Ek weet.
W: Was hy?
N: Ja.
W: Het hy so gesê?
N: Op ’n manier.
W: Weet u waar hy gedien het?
N: Hy was in Tanzanië en Angola en in Europa en Rusland.
W: Weet u wanneer hy …
N: Dit is al wat ek weet.
W: Maar hy het u vertel dat hy as lid van MK daar ge…
N: Nee. Hy het nooit vertel nie. Ek het my afleidings gemaak.
W: Afleidings?
N: Ja.
W: Soos wat?
N: Soos wanneer hy met Pakamile gesels en van ander lande vertel.
W: U seun?
N: Ja.
W: U het u afleidings net daarop gebaseer?
N: Ja.
W: Hy het nooit pertinent gesê hy was by MK nie?
N: Nee.
[stilte – 8 sekondes]
W: Mev. Nzululwazi, die guns wat hy geskuld het aan Johnny Kleintjes …
N: Ek het jou al gesê ek weet nie.
W: U vind dit nie eienaardig dat mej. Kleintjes hier inkom en mnr. Mpayipheli onmiddellik instem om ’n lang en gevaarlike reis te onderneem nie?
N: Hoekom is dit gevaarlik om Lusaka toe te gaan?
W: U ken nie agtergrond van die data nie?
N: Watter data?
W: Die gesteelde data in sy besit.
N: Hoekom is dit gevaarlik?
W: Daar is mense wat hom wil keer. En daar is …
N: Soos julle?
W: Nee, mevrou …
N: Julle wil hom keer.
W: Ons wil hom help, mevrou. Ons het by die lughawe probeer, toe hardloop hy weg.
N: Julle wou help?
W: Ons wou.
N: Jy moet loop. Nou.
W: Mevrou …
N: Uit.
W: Mevrou …
N: Jy moet my huis nou verlaat.
* * * * *
By die ingang van die Lugmagbasis Bloemspruit is daar ’n plaket aangebring. Dit is in militêre terme ’n nuwe een, skaars drie jaar oud. Daarop staan die syfers en letters “16 Eskader”, en onder dit “Hlaselani”. Swart inwoners van Bloemfontein weet wat dié woord beteken, maar net om seker te maak dat begrip wyer strek, staan daar tussen hakies heel onderaan “Attack”.
Dit is veral die vlieëniers van 16 Eskader wat met selftevredenheid na die woorde kyk wanneer hulle vir diens kom aanmeld, want dit definieer wat hulle doen, dit onderskei hulle van die gevleuelde busdrywers en transportryers van ander eskaders, veral ander helikopterjokkies. Hulle is ’n aanvalseenheid. Vir die eerste keer in die byna 65-jarige bestaan van die eskader, as jy tegnies wil wees. Vergeet maar van die kwasibomwerpers soos Marylands, Beauforts en Beaufighters van die Tweede Wêreldoorlog. Vergeet veral van die Alouette III helikopters van die bose jare tagtig.
’n Groot deel van hul selftevredenheid het te doene met die inhoud van die reuseloodse: 12 amper nuwe Rooivalk AH-2A aanvalshelikopters, indrukwekkende lugplatforms met ’n neusgemonteerde 20 mm-kanon wat 740 rondes per sekonde kan vuur, en die kapasiteit om tot 16 lug-tot-grond-missiele soos die ZT-35, lasergestuurde teentenkmissiel te dra. En op die vlerkpunte is daar plekkies waar die Darter lug-tot-lug-missiele knus kan gaan lê. Voeg hierby die Rooivalk se elektroniese oorlogvoeringsuite, die ten volle geïntegreerde HEWSPS (Helicopter Electronic Warfare Self-protection Suite) met radarwaarskuwing, laserwaarskuwing en teenmaatreëlstelsel en die vlieëniers meen hulle is die enigstes in die SALM met 2lste-eeuse tegnologie tussen hulle bene, soos hulle dikwels in die offisiersklub oor ’n glasie Red Heart en Coke sal sê.
Wanneer die oproep om 21:59 van genl. Ben van Rooyen by Lugmaghoofkwartier kom vir twee Rooivalke om, met bykomende brandstoftenks wat die reikafstand tot 1 260 km verhoog, op te styg en na Beaufort-Wes te vlieg as deel van ’n werklike operasie (en nie die gesimuleerde oorlogvoering van die afgelope 36 maande nie), is die bevelvoerder van 16 Eskader se grootste probleem hoe hy aan die nie-verkose vlieëniers en kanonniers gaan verduidelik hoe hy sy keuse gemaak het.
* * * * *
“Hoe is dit moontlik dat die MK-rekords hom nie wys nie, Rahjev? As sy reg is en hy was in Rusland en Angola. Hoe is dit moontlik?”
“Mevrou, ons weet nie. Ons kan net kyk na wat daar in die databasisse is. Ons kan dit analiseer, dis al.”
“Gee vir my ’n persentasie van waarskynlikheid dat ’n MK-lid nie op rekord is nie.”
Rajkumar trek met ’n pofferhand aan die lang swart poniestert wat oor sy skouer hang. “Hel, mevrou … vyftien persent.”
“Vyftien persent.”
“As daar tienduisend MK-soldate was, is soveel as eenduisend vyfhonderd nie op rekord nie.”
“Nie op elektroniese rekord nie.”
“As daar vyftigduisend was, is vyftienduisend net weg?”’
“Ja, mevrou.”
“Maar hulle kan in Voortrekkerhoogte se lêers wees?”
Radebe antwoord: “Ek dink die kanse is groter dat hulle hom in die Voortrekkerhoogte-lêers gaan kry.”
“Hoe lank nog voor ons hoor?”
“’n Uur of twee. Daar is drie mense in die argief besig.”
“En die Boere se mikrofiche-biblioteek?”
Radebe haal sy skouers op. “Dit hang af hoe hard van bo af gepraat is.”
Sy loop ’n draai deur die vertrek. Om van ander afhanklik te wees, is haar groot frustrasie. Sy skud dit af.
“Wat maak ’n motorfietswinkel-handlanger by ’n konsultant van Absa?” vra Janina vir die Opskamer in die algemeen.
“Sê vir my ek kan in Absa se stelsels gaan rondkrap, mevrou. Asseblief.” Rajkumar strek sy saamgevlegte hande voor hom uit en die litte kraak in antisipasie.
“Hoeveel tyd het jy nodig?”
“Gee my ’n uur.”
“Jy het dit.”
“Dankie, dankie, dankie.”
“Wat is die situasie op die pad?” vra sy vir Radebe.
“Die tolhek sê geen groot motorfietse is vanaand deur na die noorde nie – ’n paar het suid ingekom, maar nie ’n swart man nie. Ons werk deur die polisie se streekhoofkantoor. Hulle sê die plaaslike wetstoepassers en vulstasies tot by Touwsrivier is reeds laat weet. Hulle gaan nou Laingsburg, Leeu-Gamka en Beaufort-Wes bel. Maar as hy nie die N1 vat nie …”
“Hy sal.”
Hy knik.
Sy kyk na hulle. Ywerig. Om tevrede te stel.
“Maak ons vordering met die mense wat Kleintjes se kollegas was, wat gehelp het met die rekenaarintegrasie?”
“Daar kom ’n transkripsie, mevrou.”
“Dankie.”
Dit is die een, dink sy. Dit is die een waarop sy wag. Sy kyk oor die