of melk, niks nie. Dis egter nie afgeskakel nie. Die liggie brand en na ’n tydjie begin die motor gons.
Noudat sy met skerper blik kyk, kan Berna net een afleiding maak: Annalien bly nie in hierdie woonstel nie. Tog was sy eergisteraand hier om die foon te beantwoord. Maar, ofskoon die geiser aan is, is daar nie handdoeke of seep in die badkamer, geen tydskrif of gebruiksartikel wat rondlê nie, en dit terwyl Annalien eintlik maar ’n argelose mens is. Berna vroetel met haar wysvinger in die grond van die potplante en stel vas dat dit nie verdroog is nie.
Onbegryplik en onverstaanbaar. ’n Draai by Annalien se ou woonstel, een verdieping hoër op, bevestig dat daar ’n nuwe huurder is wat glad nie weet wie Annalien is nie en wat met ’n opperste geselshonger vir Berna probeer vashou. Indien die ou dame kon, sou sy haar gewillig verander het na die gesoekte persoon ter wille van die voortgesette menslike aanraking.
Met ’n soort grimmige vasbeslotenheid bel Berna die kantoor en vra om na Annalien deurgeskakel te word. Nie lank nie, of Annalien se “Hallo” klink in haar oor. Hierdie keer probeer Annalien uit die staanspoor wakker en meelewend klink, maar dis duidelik dat sy geskrik het toe sy hoor waar Berna is.
“Luister, Annalien, bly jy ooit in hierdie woonstel van my?” vra Berna onomwonde. “Kyk, ek gee glad nie om nie, dis om ’t ewe, ek moet dit tog betaal tot die einde van hierdie maand toe. Maar jy gaan dan mos in my plek huur, of hoe?”
“Nie meer nie,” sê Annalien vaag. “Ek was van plan om jou te laat weet.”
“Jy het eergister met my gepraat, en jy sê niks? En jy het dan hoe lank gesukkel om so ’n groot noordewoonstel in hierdie selfde blok te kry.”
“Snaaks, ek wil nie meer daar bly nie. Dalk omdat jy en die kinders weg is. Ek maak net elke middag ’n draai daar om na die plante en alles te kyk.”
“Van waar af? Daar is dan ’n nuwe huurder in jou woonstel.”
“Ek sal jou laat weet sodra ek sekerheid oor my nuwe adres het.”
“Maar ek sien jou vanaand, dan gesels ons. Ek slaap hier.”
“Ek weet nie of ek vanaand by die woonstel sal uitkom nie. Regtig, ek weet nie.”
“Sal uitkom nie, of wil uitkom nie?” vervies Berna haar. “Jy móét hier uitkom, Annalien.” Anders is ek in ’n penarie, besef sy. Alleen met Roux en sy kind in die woonstel. Hy sal mos nooit glo dat sy hom met suiwer bedoelings genooi het nie. Sy was immers doodseker dat Annalien ook hier sal wees.
Sy sal werklik haar pinkie gee om te weet wat met Annalien aangaan. Het iemand by die kantoor kwaad gestook, denkbeeldige skinderstories oorvertel, of iets in dier voege? Het Hartogh dalk ’n eie storie oor haar weggaan versin en versprei?
Annalien is lank stil aan die ander kant.
“Annalien? Wat makeer, jong? Moet ek kantoor toe kom?” Hoewel dit die laaste ding is wat sy sal wil doen: om in Christiaan Hartogh se gesig vas te kyk tensy dit bitter nodig is.
“Nee,” sê Annalien gesmoord. “Moenie kom nie.” Dan sê sy nog iets, haar stem byna tot onhoorbaarheid gesmoor deur ’n onbekende emosie.
Nadat die gesprek beëindig is, staan Berna nog verdwaas en nadink oor daardie laaste woorde. Sy is seker dat sy nie verkeerd verstaan het nie. “Moenie kom nie,” het Annalien gesê, en toe iets wat kompleet geklink het soos: “En moet my nie veroordeel nie.”
Veroordeel waarvoor? wonder Berna terwyl sy doelloos in die lewelose woonstel rondbeweeg. Hoe ontsettend verlang sy na haar kinders noudat sy hier is, hier waar sy en hulle tweetjies so baie dinge saam deurgemaak het. Die probleem wat haar voor die deur staan, sou dalk kleiner gewees het as hulle ook hier was. Hulle sou meteens na ’n veilige menigte gevoel het.
Hoe gaan sy anders die situasie aan Roux verduidelik as hy hier aankom? Sal hy veelbetekenend glimlag en haar op en af bekyk, oortuig daarvan dat sy kop in een mus met sy ouers is om hom aan te keer en die strop met geweld om sy nek te dwing? Die ouers wat hy juis so verfoei?
Sy wens sy kon vir Johan Jonker raad vra.
Maar hy was nog nooit verder buite haar bereik as juis nou nie.
9
Dis die langste, eienaardigste dag wat Berna nog ooit beleef het, en die vreemdste deel lê sekerlik nog voor. Daar was die vroeg opstaan vanmôre, wat voel asof dit in ’n ander eeu was; die rit saam met Roux, die oplaai van Bambie, die besoek by Julia, die opperste vreemdheid van Annalien se optrede.
En nou gaan sy saam met die niksvermoedende Roux hier in die woonstel sit, en sy weet nie hoe om die situasie te beredder nie. Sy besluit om die duidelikste weg te volg, dié van absolute openlikheid. Maar eers, om dit uit te stel en ook haar kommer oor die tweeling te verlig, bel sy Rensdal toe. Sy probeer glad nie dink aan die dinge wat Roux haar vandag op so ’n bitter trant vertel het nie. Vir my was hulle goed, besluit sy oor en oor as sy dink aan Lammie en Dawie, en ek is nie van plan om hulle goed met kwaad te vergeld nie.
Soos ’n regte oupa en ouma praat albei. Eers Dawie, om te vertel hoe hy, soos afgespreek, vir die tweetjies nuwe skoene gaan koop het, wat ’n bietjie ruim sit, soos Berna gevra het, sodat dit nog in die winter bo-oor kousies kan pas. En hy beskryf hoe hulle nou met die te groot skoene loop, “so klap-klap en met sulke hoog voetjies,” en toe gee hy die foon vir Lammie om te vertel van winkelsake. Lammie het ’n stukkie nuus wat sy nie kan wag om mee te deel nie: sy het ’n stukkie ou weggooitapyt in die hande gekry, vuil en vol gate, Dawie het dit van die asgate af gebring toe hy die laaste bourommel weggery het. Een van die vroutjies van Koskas het dit geëien as ’n egte Persiese mat, en nou het Lammie vier heel stukke daaruit gesny gekry wat sy behoorlik gewas en laat droog word het.
“Om wat mee te doen, tannie Lammie?” vra Berna verbaas. Om iets uit niks te maak, is nie een van haar eie talente nie en dit vul haar met die hoogste verering as iemand dit wel kan doen.
“Vir jou ’n ‘carpet bag’ te maak, op die stel van ’n ‘doctor’s bag’,” vertel Lammie trots, “en drie vir die winkel.” Berna het vir haar vertel hoe in die mode dié soort handsak is en hoe duur jy in die winkel daarvoor kan betaal, en daarom is Lammie nou kliphard aan die werk.
“Ek is nou skoon opgewonde,” sê Berna, wat weet dat Lammie ’n doring met ’n naald is. “Is jou hande nie gaar nie? Dis mos seker te dik vir ’n masjien om te stik.”
“Dit is, ja, maar ek gebruik ’n vingerhoed, en Dawie help met die els en tang en alles.” En dis glo te oulik om te sien hoe die tweeling se handjies al die bewegings namaak sonder dat hulle daarvan bewus is. Ten slotte sê Lammie heel terloops: “O ja, en doom Johan was hier en hy neem ons erg kwalik dat ons hom nie betyds van jou ma se dood vertel het nie.”
“Ek het gedink hy sal ons kwalik neem, hy is so pligsgetrou.”
“Hy sê hy sou jou ook gevat en die begrafnis gehou het as dit moet.”
“As ek terugkom, sal ek hom verseker bedank vir die bereidwilligheid.”
“Watse kind hoor ek dan praat?” vra Lammie skerp. Berna ys; sy het skoon vergeet om te vra dat Roux vir Bambie stil hou. Wat sal Lammie tog dink as sy moet weet? Verseker sal sy trouklokkies hoor lui, en goedjies vir die troutafel begin hekel.
“Die woonstelle is maar baie op mekaar hier, tannie Lammie,” soek Berna flouweg na ’n uitleg.
Toe is die gesprek verby en Berna het geen verskoning meer om Roux nie in die oë te kyk nie. Sy het alles gevra wat sy moet vra: oor die kinderarts wat reken Bambie se pyne kan porfirie wees, maar dat toetsing eers na puberteit betroubaar is. En oor die omsetter waarna hy kom kyk het, en oor hoe dit die plaashuishouding ten goede te staan sal kom. Sy val hom nie in die rede, dat Lammie en Dawie gedink het dis ’n alarm, en of die twee goed dalk verband hou nie. En of hy nou seker is dat môre se draai nie vir hom ongeleë is nie, want sy is seker sy sal by vriende of haar skoonouers geholpe raak met vervoer.
Toe is dit uiteindelik Roux wat die leiding neem. “Hou nou eers op met besig wees