ek Rensdal toe is.”
“Die een van wie af jy moes wegkom?” vra Roux so ewe.
Berna ruk haar asem met ’n onhoorbare snak in. Hoe durf hy? Dit was nou uiters, uiters gemeen. Hiervan sal hy nog hoor. Sy sien Christiaan se gesig donker word en dink desperaat aan iets om te sê. Uiteindelik bly net die halmpie van die waarheid oor: “Ja, ons het ’n onderonsie gehad,” sê sy koel, “maar ek reken dis uitgestryk. Ons is nie vir mekaar kwaad nie, of hoe, Christiaan?”
Hy ignoreer die aanspraak. “Kan ek eenkant met jou praat?” vra hy dringend.
Roux glimlag suur. “Toe maar, ek wou afgaan om ’n koerant te koop. Poplap, kom ek sit jou solank in die bed.” Daar is reeds vir haar ’n bedjie gemaak in die klein spaarkamer waar hy self sal slaap.
“Annalien ontwyk my die laaste tyd,” sê Christiaan toe hy en Berna alleen is. “Waar bly sy deesdae?”
“Ek weet nie,” moet sy eerlik erken. “En as ek geweet het, sou dit seker nie reg gewees het om vir jou te sê nie. Jy sê dan self sy ontwyk jou.” Dus is, of was, daar iets tussen hom en Annalien.
“Ek moet met haar praat, daar is dinge wat ek en sy moet uitstryk.” Hy luister verbaas na sy eie stem. “Uitstryk … wie het onlangs die woord gesê?”
“Ek het. Netnou.”
“O.” Hy lyk verlig, die sakeman wat hou van sy greep op gegewens. “Jy moet verstaan dat dit nie juis anders kon gebeur het nie. Dit was nie ’n geval dat ek aan jou ontrou was nie. Ek het hier by haar gekom om jou adres te kry en toe loop dinge maar soos dit loop.”
Ontróú was nie? Waarvan praat hy? Iets is nie met hom pluis nie. Hy lyk verward, en dit ontstel haar meer as die feite oor hom en Annalien; feite wat sy reeds vermoed het.
Hy steek sy arms na haar toe uit. “Is alles nou weer reg tussen ons?”
Sy deins agteruit en sorg dat die tafel tussen hulle kom. “Christiaan, jy moet nou loop. Ek wil gaan slaap, môre is ’n moeilike dag. Ek het jou tog gesê, my ma word begrawe.”
Dit lyk of hy nie eens hoor nie. “Ek weet jy hou nie daarvan dat Annalien my baba verwag nie,” sê hy, “maar ek het nie geweet dit sal gebeur nie. Ek het na jou toe gegaan om alles te verduidelik. Na daardie plekkie toe … wat is die naam nou weer?” Hy frons om te onthou.
“Rensdal? Was jy daar? Is dit jy wat …?” Woede vul haar. Sy kan dit nie verhoed dat haar stem al hoe hoër rys nie. “Jy kon my kinders iets laat oorkom het. Hulle kon hulle morsdood geskrik het. Hoekom het jy nie soos ’n normale mens by die voordeur …” Dan besef sy die ironie van haar eie woorde. Normale mens … maar hy is nié normaal nie. Dit weet sy nou. Daar loop ’n donker knak, ’n breuk, deur sy oënskynlik nugtere sakemansbestaan; ’n breuk waarin Annalien getrap en gestruikel het en waaraan sy, Berna, betyds ontkom het.
Hy kom nog nader en hou steeds sy arms uit. Sy smyt ’n stoel om in haar poging om hom te vermy. Hoe lank duur dit om ’n koerant te gaan koop? wonder sy paniekerig. Sy durf nie skree nie, dit kan Bambie uit die kamer hierheen bring en haar ook in gevaar stel.
Dan gaan die voordeur oop en Christiaan is onmiddellik ten volle beheers.
“Alles nog reg hier?” vra Roux doodluiters. Hy het geen koerant by hom nie. Kan dit wees dat hy heeltyd buite die deur bly staan het?
Dit is die vraag wat sy heel eerste aan hom stel nadat Christiaan Hartogh beskaaf afskeid geneem het: “Was jy heeltyd buite?”
“Natuurlik. Ek weet nou al hy is ’n wellusteling en ek kon in sy oë sien hy is geheel en al nie lekker nie. Dink jy ek sal my kind aan so ene blootstel?”
“Nou nie dat ék juis saak maak nie, of hoe?” Sy hyg nog effens van die skrik. So, presies soos vanaand, was Christiaan se benadering daardie aand by sy huis, en sy het agterna gedink dat sy haar maar verbeel het dat dit so erg was.
“’n Vrou wat vir haar so ’n knopperige bed maak, moet maar daarop slaap,” sê hy onsimpatiek.
Sy wou hom nog bedank, maar nou sal sy dit vervlaks nie doen nie. Net voordat sy gaan slaap, bel sy vir Ron by die hotel waar hy volgens Julia tuis is. Sonder om blyke te gee dat sy weet van die breuk tussen hom en sy vrou, vra sy of hy moontlik kan reël dat haar klompie meubels by hulle geberg word. Die opsigter kan die woonstel oopsluit.
Hy is gaaf gewillig, soos sy hom ken; vra selfs uit na die kinders, en sê ten slotte: “Jy het net betyds gebel, ek is eintlik op pad huis toe. Julia was laatmiddag hier, en ons het besluit …”
“Ek is bly, Ron,” sê sy eenvoudig.
Om in haar ma se piepklein dorpshuisie rond te beweeg, bring vir Berna ’n hartseer mee wat anderkant beskrywing lê. Met ’n gevoel van tevergeefse agterna-liefde raak sy aan kledingstukke en persoonlike besittinkies, sommige waarvan sy nog uit haar kinderdae onthou. Daar is die duifies van wit porselein, fotoalbums, die musiekdosie, die tikmasjientjie waarop haar ma, danig professioneel, die koshuis se weeklikse spyskaarte uitgetik het.
En net as sy dink dat sy in stilte haar verlies kan bepeins, steek haar ou stiefpa sy neus by die kamerdeur in, doodbang dat sy alles kan inpalm en wegdra. En ja, hy is wel veel ouer as wat haar ma was, dit sien sy nou na ’n lang tyd van afwesigheid.
“O, jy kyk maar,” sê-vra hy toe hy die honderdste keer kom kontroleer.
Toe trek sy sommer moer. “Nee, oom Japie, ek kyk nie net nie,” sê sy. “Ek vat wat ek wil hê. Dis nie dinge van waarde nie, maar vir my het dit waarde.”
“Ek is mos maar die enigste erfgenaam,” sê hy uiters droefgeestig. “En as ek dink hoe ek haar die laaste tyd opgepas en bygestaan het.”
Se voet. Hoe het hy haar ma se lot nie verswaar nie. Haar ma was g’n so sieklik dat dit nodig was om haar te versorg nie, en so het Berna ook met haar aankoms by die buurtannie uitgevind. Sy het immers gereeld met haar ma oor die telefoon gepraat. Sy is op die ou end so onverwags dood, aan ’n beroerte, dat haar breinaalde nog in die stuk breiwerk op die rusbank was. Maar emosioneel het die ou man haar lankal behoorlik doodgelewe.
Wat ’n ramp dat hulle vannag nog hier sal moet oorslaap, sy en Roux en Bambie. En soos Berna gedink het, is daar talle uitstaande geldelike verpligtinge, hoewel die byna outydse begrafnisboekie darem die grootste uitgawes dek. Roux staan haar prakties by, waaroor sy diep dankbaar is. Sy skaam haar nie eens teenoor hom vir die powere omstandighede nie.
Die ergste sou nog voorlê: Berna se stiefbroer daag ook op, so bedroef soos ’n volgroeide krokodil kan droom om te wees. Hy het nie sy gesin saamgebring nie, “om hulle die smart te spaar”. En terwyl hy dit sê, kyk hy triomfantelik na Berna. Om hartseerder as sy te kan lyk, is skynbaar een van die min manlike prestasies, behalwe voortplanting, wat hy nog in sy lewe kon bemeester. Soos sy ou pa is hy dik en ongeskik. En, ook soos oom Japie, reken hy skynbaar dat daar ’n onnoemlik grote erfporsie op hom wag in hierdie nederige stiefma-huisie en hou hy vir Berna stip dop, gegrief oor die geringe goedjies wat sy meedoënloos inpak.
Laat hulle kyk, dink sy onbewoë. Haar kinders is ten minste geregtig op ’n paar aandenkings van hulle wettige ouma. En sy pak sommer ook die bekende lappieskombers, die geelkoperblompot, die waskom en beker en die Louis XIV-halfmaantafeltjie ook in.
“As jy nie vir alles in die kar plek het nie, sal ek agterna draf vir halfprys,” sê sy vasbeslote aan Roux wat twyfelend, maar ook geamuseerd, toekyk.
Stiefbroer versoen hom eindelik met die onvermydelike en bied selfs aan om vir Berna môre by die graf “by te staan”. Vir hierdie daad oefen hy deur haar die aand in die kombuis vas te keer. “Ek het nog nie eens behoorlik met jou gesimpatiseer nie,” sê hy, en druk haar teen sy geswolle buik vas. Sy ruik ou drank, ou twak, ou knoffel, en ou sweet in oksels wat vir die okkasie met goedkoop deodorant bespuit is. Hoe meer verbete sy hom probeer wegdruk, hoe deegliker versmoor hy haar in sy vertroosting. “Toe maar, ons is alleen,” verseker hy haar nogal met ’n stoterige asem.
Sy lig haar knie om hom in die mik te tref,