“Hoekom is jy so senuweeagtig?” wil hy weet.
“Omdat my vriendin nie vanaand hier kom slaap nie,” kom sy uit met die sak patats.
“Nou? Wat daarvan?” Hy rook rustig, lyk huislik. Hy wou ten alle koste op die balkon rook, is glo nie ’n binnehuisroker nie. Sy het hom egter oortuig dat dit in orde is, haar man was ’n binnehuisroker. En gewonder of sy dalk net die verkeerde ding gesê het.
“Wat daarvan? Alles daarvan. Dat jy van voor af kan begin dink ek probeer jou aankeer. Dat ek jou vanaand onder valse voorwendsels hierheen gelok het.”
“Het jy?” Die glimmende skrewe van sy oë terg of kla aan, sy kan nie besluit watter een van die twee nie.
“Natuurlik nie, en jy weet dit.”
“As jy dan weet ek weet, hoekom bekommer jy jou?”
“Ek is bang jy weet nie dat jy weet nie.”
“Genade,” lag hy en skud sy kop. “Hoe ingewikkeld kan dit wees? Ek sou geweet het as jy gejok het.”
“Solank jy net weet dat daar iets verskriklik snaaks met my vriendin aan die gang is en ek kan nie tot haar deurdring om uit te vind wat dit is nie. Ons was altyd soos susters, maar meteens het daar net ’n muur tussen ons gekom. Die idee was dat sy hier in die woonstel bly solank ek dit nog betaal en daarna sou sy dit oorneem. Nou woon sy nie eens hier nie, sy kom net in om reg te vat en dan verdwyn sy skynbaar weer en ek weet nie waarheen nie.”
“Hierdie bose stad van julle,” mymer hy met ligte spot. “Sy is dalk in die greep van ’n bose bende.” Dan raak hy ernstig: “Jy ken haar beter as ek, so ek vra maar: gebruik sy nie dalk verdowingsmiddels nie? Jy sê sy klink vér.”
“Sy klink afgetrokke, so half verstrooid. Sy het nou die aand gepraat dat sy hoofpynpille gedrink het wat te sterk vir haar was. Maar sy was nooit ’n hoofpynlyer nie. Sy rook ’n paar sigarette per dag, maar hou byvoorbeeld niks van alkohol nie. Ek kan nie glo dat sy haar skielik tot so iets sou wend juis noudat sy oor haar ergste persoonlike probleme gekom het nie. Haar man se verraad en die egskeiding was vir haar ’n knou, maar sy is ’n optimistiese mens en het moedig geveg.”
“Ek glo alles wat jy sê en dis ’n mondvol. Maar vergewe my as ek nie te erg bewoë oor haar lot kan voel nie. Dis omdat ek haar nie ken nie. Jy weet tog, mens hoor van ’n aardbewing in die ooste of ’n orkaan in die noorde en jy vergeet dit weer, behalwe as ’n naby familielid met vakansie daar was.”
Dis nogal baie woorde vir hom, en onnodig ook. Voel hy tog uiters ongemaklik met die situasie waarin hy beland het? “Ja, ekskuus, ek het my verbeel jy kan in my kop sien om te weet hoe sy lyk en is. Ek sal vir Bambie gaan bad, daarna kom ek vir ons iets te ete maak.” Sy het vroeër genoeg tyd gehad om ’n paar inkopies te doen en is voorbereid vir aandete. Daar is ’n paar skywe kalfsvleis waarvan sy schnitzel wil maak. Sy voel onseker oor haar vleisdisse vir die tafel van ’n fynproewer-boer en sal veiliger voel as die vleis met ’n beslag bedek is, en sy is gewoond aan degies en sousies om die begroting te rek. Verder net kapokaartappel, ertjies en slaai. Veilige kombinasie en dit sal nie lyk of sy hom wil beïndruk nie. Beslis geen kerse, blomme en wyn nie, o nee. Nie eens nagereg nie. Sy het mos ’n hele skoen vol sjokolade, wat sy darem intussen in ’n glasbak omgekeer het.
Toe eet Roux nogal besonder lekker. “Ek het nie gehelp met die uitgawes nie,” onthou hy.
“Nou hoe dan, jy wil niks vir reiskoste vat nie.”
Hulle is so beleef met mekaar dat dit eintlik pynlik is. Berna moet uiteindelik toegee dat hy net so ongemaklik soos sy is. “Gaan bad jy,” bied sy na ete aan, “ek sal opwas. Toe, jy het netnou al gesê jy voel sweterig. Hier is helaas nie ’n stort nie.”
Sy het voor ete reeds vir Bambie gehelp om te bad en haar slaapklere aan te trek. Die vyfjarige meisietjie is eintlik baie stil en afhanklik. Berna onthou die warm, nat armpies om haar nek toe sy die kind uitgehelp het. Toe verspreek sy haar en sê: “Goed, houvas maar aan Mamma … ek bedoel aan tannie.” Gelukkig het sy sag gepraat. Sy skaam haar dood as Roux gehoor het. As hy het, besef hy darem seker dat sy dit uit die mag van gewoonte gesê het.
“Nee, ek bad nie voor jou nie,” weier Roux. “’n Man is nie gebore in staat om ’n badkamer so netjies agter te laat as wat hy dit betree het nie. Daarvan het my dierbare oorlede gade my oortuig. Dis ’n onvermoë waarmee ek my versoen het. Buitendien, ’n vrou laat ’n badkamer geuriger agter. Gaan jy gerus eerste.”
Hy het weer te veel gepraat, en dit uit ongemak. Het hy doelbewus sy oorlede vrou genoem, seker dat sy nie moet dink hy deel Nerida Nel se badkamer op ’n gereelde basis nie? En kan hulle tog nie maar net ontspan nie? Hulle is nou eenmaal saamgegooi in die omstandighede waarby hulle al twee prakties baat.
Sonder om verder te redekawel, gaan sy dus badkamer toe en neem die nodige klere saam. Langbroek en warm bloes. Die aande begin al koel word en, gedagtig aan die Julia van vanmiddag en aan die ongemaklike saamgegooidheid met Roux le Roux hier in die woonstel, sal sy beslis nie haar snoesige kamerjas aantrek nie. Sy sal hom geen, maar geen rede gee om haar motiewe te wantrou nie, dis gewis.
Die gespoel van die krane sluit alle ander geluide uit, sodat sy skrik toe daar ’n geklop aan die badkamerdeur kom. Nogal eisend, asof die klopper wil binnekom. Skrik slaan verstikkend in haar keel vas. Die badkamer kan nie sluit nie en sy het nooit iets daaraan laat doen nie, omdat dit nie nodig was nie. Sy was bowendien altyd bang dat die tweeling hulle per ongeluk van binne af kan toesluit.
Kan mens dan niemand vertrou nie? wonder sy vlietend en draai die krane toe om die situasie beter te kan hanteer. “Ja?” roep sy gesmoord.
“Hier is iemand wat die huurder van die woonstel ken.” Roux se stem, en nogal bars daarby.
Sy is nameloos verlig. Wat sou sy doen as hy ingekom en geweier het om weer te loop, soos dit glo een keer met Annalien en ’n verlangse manlike familielid gebeur het? Sy wil roep en vra of dit Annalien is, maar dan sou hy dit anders bewoord het, iets soos “Jou vriendin is hier”. Sy besluit om liewers die aangename bad kort te knip en self te gaan kyk. Sy droog haastig af, trek aan en gaan sommer kaalvoet en met stoomklam hare uit.
In die middel van die sitkamer staan Christiaan Hartogh driftig rond, sy kuif deurmekaar. Toe hy vir Berna sien, ruk sy kop op. Sy weet onmiddellik dat hy haar nie hier verwag het nie.
As hy vir Annalien soek, sal dit baie dinge verklaar. En tog, selfs al vermoed sy vlietend dat hy en Annalien iets aan die gang kan hê, bly Annalien se optrede steeds vreemd. “Naand,” sê sy bloot, nie seker hoe om hom aan te spreek nie. Op sy voornaam sal te familiêr wees, en “meneer Hartogh” te formeel.
“Ek het hier verbygery en die lig sien brand. Nie geweet jy’s hier nie.”
Die lig sien brand? Nogal ’n kuns, aangesien dit ’n hele woonstelblok vol ligte is. Dit moet beteken dat hy die ligging van die woonstel goed ken, dit bestudeer het. Geweet het dat Annalien nie hier slaap nie?
“Ek … ons is net vir die nag hier. My ma word môre op Tierhoek begrawe en meneer Le Roux was so gaaf om my te bring. Hy was vandag by die dokter met Bambie.” Sy beduie na die dogtertjie wat in slaapklere met haar pop sit en speel, maar tog die grootmense fyn dophou asof sy vermoed dat hier die een of ander beslissing onder die oppervlak afspeel.
“Het julle mekaar ontmoet?” probeer Berna verder om die uiters ongemaklike situasie te oorbrug. Hier staan sy en Hartogh teenoor mekaar, onwennig en onseker, en Roux sit hulle onderlangs en aangluur asof hulle alle sedelike reëls oortree het bloot deur mekaar te ken.
Want, ja, Berna kan nie stry nie: die bitterheid het vervaag, en sy voel die aanvanklike aangetrokkenheid teenoor hierdie man weer in haar opleef. Wat gebeur het, was tog ten goede. Sy is voorspoedig gevestig in ’n ander omgewing, waar sy sekuriteit en vooruitsigte het. Sy is in niks meer van Hartogh afhanklik nie, en dit gee nogal ’n ander kleur aan hulle samesyn.
Haar vraag lok geen reaksie uit nie. Sy staan half tussen die twee mans, voel as ’t ware die nodigheid om hulle met haar lyf van mekaar af