Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 8


Скачать книгу

is besig om die heel sagte filetgedeelte van die geroosterde vleis vir die twee kleintjies in blokkies te sny, toe die klop aan haar voordeur kom.

      Gelukkig darem, dink sy toe sy gaan oopmaak, dat sy vir enige smous net nee kan sê. En, as hy aandring: “Jammer, ek is werkloos.” Sy beproef die woorde saggies op haar tong toe sy die deur op ’n skreef oopmaak en vir Christiaan Hartogh daar sien staan.

      Sonder dat sy die veiligheidsketting afhaal, praat sy met hom: “Indien dit oor kantoorwerk gaan … jammer, ek is nie meer in u diens nie.”

      “Dit gaan nie oor kantoorwerk nie.” Sy stem is gedemp, amper deemoedig. Sy kry die gedagte dat hy dalk om verskoning kom vra. Hy wil sekerlik nie ’n nuwe kans kom waag nie. Wat dink hy? Dat ’n weduwee noodwendig uitgehonger en desperaat vir enige man se lyf sal wees?

      Die twee kinders is gelukkig ’n doeltreffende afweermiddel. As sy net haar selfbeheersing kan behou; hy kan darem sekerlik nie die woeste geklop van haar hart sien en hoor nie. Sonder ’n verdere woord haak sy die ketting uit en maak die deur wyer oop.

      Hy kom versigtig binne, beslis met groot voorbehoud. Sy is meteens nie meer bang dat hy gisteraand se toertjies sal probeer herhaal nie. Toe hy binne is, kyk hy ietwat verbaas na die tweeling. Hulle staan aan weerskante van haar, elkeen met ’n bakkie kos in die hand, en beskou hom nuuskierig terwyl hulle tussendeur hap uit die teelepels wat deur nog dom handjies gehanteer word. “Ek het nie geweet …” begin hy. “Ek bedoel, van jou kinders nie, ek het net geweet jy is alleenlopend.”

      Sy antwoord nie. Wat wil hy hê moet sy sê? Ja, liewe meneer Hartogh, ontsien tog my krosie en vat my weer in diens, ek sal lewenslank die stof van jou skoene aflek daarvoor … Wel, as dit is wat hy wil hoor, sal hy lank wag.

      “Toe antwoord een van hulle netnou toe ek bel.”

      “Dit spyt my. Ek het nou-nou eers gesien die gehoorbuis lê eenkant. Maar aangesien dit my tuiste is en nie ’n kantoor nie, is ek nie van plan om verantwoording te doen daarvoor … of die kind te straf nie.”

      Sy voel genadiglik dat sy eindelik in beheer is. Gisteraand, toe hy haar met mening aan sy wellustige wil wou onderwerp, was dit op sy terrein; en vanoggend toe hy haar gedwing het om te bedank, ook. Maar nou staan sy op eie voete op eie bodem, al is dit gehuurde bodem wat sy dalk binnekort sal moet verlaat. Dit hoef hy nie te weet nie.

      “Dit was ook nie my idee nie,” weerlê hy. “Ek het maar net gedink om wat ek netnou oor die telefoon wou sê, liewers persoonlik te kom sê. Ek was minute lank op die telefoon en ek het … wel, ek het gehoor hoe jy met jou kinders speel en gesels en hoe … hoe geduldig jy is …” Hy stamel sowaar.

      “En dalk het u selfs gewonder by wie ek hulle gisteraand op kort kennisgewing gelos het toe ek u moes gaan ‘bystaan’?”

      Sy gelaatskleur verdonker. “Gisteraand was ’n fout. ’n Groot oordeelsfout. Ek weet dit nou. Het jy nog nooit ’n fout gemaak nie?”

      “Baie. Soos gisteraand.”

      “Vanmôre was ook ’n fout,” sê hy . “Die werk is vanaand reeds in chaos.”

      “Is Cathy nie goed genoeg … ek bedoel, op alle terreine nie?”

      “Los nou maar die sarkasme, mevrou Joubert. Kan ons nie die saak soos grootmense bespreek nie? Ek het baie sleg gevoel nadat u vanoggend daar uit is. Toe het my bui bedaar, en kon ek redelik begin dink. My donker sy het ’n wyle oorgeneem, ek erken dit. En daarby het ek jou heeltemal verkeerd gelees. Ek was seker jy is net so bewus van my soos ek van jou, al die maande.”

      Sy wens hy wou liewer by die “u” bly, dit was veiliger.

      Gelukkig verwag hy nie ’n antwoord hierop nie, want hy gaan met ’n skewe glimlag voort: “Wat meer is, my pa gaan my sleg uittrap as hy terugkom en jy is weg.”

      Die tweeling het belang verloor in ’n grootmensgesprek wat bo hulle begripsvermoë is, en hulle sit nou soet by die gedekte ronde tafeltjie en eet.

      “Die kos ruik lekker,” sê Christiaan Hartogh, die man in hom ’n oomblik lank verdring deur die ewige seun.

      “Dankie,” sê Berna, en voel ongasvry om hom nie vir ete te nooi nie. Maar daar is in elk geval nie genoeg kos nie, en so ’n intieme samesyn sou haar ook net saf kon maak vir nuwe toenadering.

      Want natuurlik is hy reg; sy was al hierdie maande wel deeglik bewus van hom, en dit sou kon herleef. As hy hom so gedra soos vanaand, beslis. Daarom is dit beter dat hy gaan. Dit sal dom van haar wees om haar ’n tweede keer bloot te stel aan verraad en vernedering.

      “Dalk het ek my nie duidelik genoeg uitgedruk nie,” sê Hartogh met ’n diep asemhaling. “Ek het jou kom vra om terug te kom werk toe.”

      “Baie dankie, maar ek is reeds ’n ander betrekking aangebied.”

      Hy swyg ’n oomblik. “Moenie bluf nie,” sê hy dan.

      Sy haal haar skouers op en staan deur se kant toe om aan te toon dat die besoek, wat haar betref, afgeloop is. “U hoef dit nie te glo as u nie wil nie, meneer Hartogh. Ek het volkome vrede met wat u glo en wat nie.”

      Hy kyk haar lank aan, maar haar blik wyk nie ’n aks voor syne nie. “Moet nooit sê: ‘Fonteintjie, ek drink nie weer van jou nie’,” sê hy eindelik.

      “Nee, dit sê ek nie. Maar as sy water bitter proe, soek mens soeter by ’n ander bron.”

      “Jy vergewe my dus nie,” besluit hy. “Dis seker jou goeie reg.”

      Waar sy met gevoude arms in die deur slaan, kyk sy hom onbeskaamd agterna. Hier is nie ’n hyser nie, maar dis net een stel trappe tot onder. Laat hom bietjie oefening kry. Op kantoor sou sy nooit haar arms vou nie, in lyftaal beteken dit dat jy ’n hek toemaak. Wel, hierdie hek is beslis gegrendel. Sy wens sy kan tevrede voel, asof sy hom lekker teruggekry het. Maar al wat sy voel, is ’n vreemde heimwee oor verspeelde en verbroude kanse, en oor al die ou seerkrye van die verlede waarmee ’n mens geen raad weet nie.

      Daar is ook ’n soort selfverwyt omdat sy nie vir Christiaan Hartogh kan help dra aan dit wat sy hom pas aangedoen het nie. Sy gewaar ’n versaktheid in sy andersins ferm skouerlyn. Hy is ’n man van sowat dertig, en een wat daarvan hou om intens te leef. Daar word heelwat agteraf gesinspeel dat die van Hartogh so na aan “hartstog” lê. Sy kan maar net raai dat die lewe so iemand ook al ’n paar taai klappe moes gegee het.

      Om by haar skoonouers te kom, lê altyd soos ’n berg voor Berna. Dat die kleintjies ook nie danig opgetoë is nie, bied weinig troos. Aan haar eie ma het hulle ook nie veel nie. Dié het haar ’n klompie jare gelede in ’n dwase tweede huwelik begewe. Om in hierdie situasie te oorleef, het sy al haar kragte nodig en bly daar vir haar dogter weinig aandag oor, vir die kleinkinders net mooi niks.

      Dan het sy ook nooit ’n geheim daarvan gemaak dat Ronald Joubert nie haar goedkeuring weggedra het nie. “’n Regte mamma-se-seuntjie”, was haar oordeel kort en klaar. En al het sy sedertdien self ’n groter keusefout begaan, val eie foute vir haar skynbaar in ’n meer onstrafbare kategorie as dié van kinders, veral as dit ’n enigste kind is.

      Haar skoonmense het ’n mooi plek, dit moet Berna toegee. Julia Joubert het ’n hand vir tuinmaak, soos vir honde en katte. Menigmaal het Berna al gedink, nie sonder ’n tikkie wrewel nie: plante en diere vra nie vrae nie, kan nie terugpraat nie, vergewe alles. Met mense het jy meer kundigheid nodig, en moet jy meer druk uitoefen om jou wil te laat geld. Ron Joubert het onlangs afgetree na ’n halwe leeftyd in die mynwese, waar hy ’n hoog genoeg pos beklee het om meer as goedversorg verder te kan lewe.

      Terwyl hy hiervoor geswoeg het, het Julia vir sosiale status geswoeg. Daar is geen ding waarop sy nie dien en geen prestigefunksie wat sy nie bywoon nie, maar die bittere ironie is dat die stoele aan weerskante van haar meestal leeg bly totdat daar geen ander sitplek meer vir die laatkommers beskikbaar is nie.

      Niemand soek haar op nie, nie eens haar man nie, al deel hulle dieselfde huis. Haar twee dogters wat elders woon, kritiseer haar doen en