asof die hele wêreld ’n kleuter is en sy die enigste speelding.
“Ek het vir Ron gesê ek is seker jy kom vandag,” sê Julia toe Berna met die tweeling aankom by die skuifdeur wat op die patio uitkyk. Julia staan in die deur soos ’n vorstin wat oudiënsie verleen. Ten spyte van haar intense strewe na sosiale aansien, kon sy nooit die slag aanleer om treffend aan te trek nie, een van die dinge wat haar dogters haar knaend voor die kop gooi. Vandag lyk sy soos ’n oorgroeide tiener met klere wat te styf om haar vol postuur span. Haar hare is ’n wortelkleur.
Dat Berna gekleed is in ’n bedeesde maar elegante bloes en romp, en dat haar hare hulle eie natuurlike kleur het, beëindig skynbaar dadelik die sukses van die besoek. “Jy moet jou hare ook ’n bietjie opvrolik, Berna,” sê Julia. “Die lewe is vaal genoeg, dat ’n vrou nie nog vaal hoef te lyk ook nie. Middag, Julia-se-ou-bondeltjies-pragtigheid!” Hoewel Julia hierdie geykte troeteltaal in die meervoud gebruik, is dit vir Ronnie wat sy optel. Berna lig dadelik vir Mientjie op haar eie heup en gee haar ’n drukkie.
“Jy moenie vir Hermina so voortrek nie,” sê Julia, “’n kind is baie gevoelig daarvoor.”
“Jy trek dan vir Ronnie so voor,” sê Berna doodkalm. Nie dat sy hoop om hiermee agter Julia se skanse in te kom nie, want dié is ondeurdringbaar. Julia het net ’n mond, nie ’n oor nie. Geen dialoog vir haar nie. Berna loop agter haar skoonma die huis binne. “Waar sit jy, Julia, dan kom ek ook daar sit.” Sy het haar vroeg daarmee versoen om Ronald se ouers op die naam te noem, aangesien ’n ysige stilte haar eerste poging tot “tannie” begroet het. En “mevrou” kon sy tog nie aanhou sê nie. So het “Pa” en “Ma” nooit aan die beurt gekom nie.
“Sit? Ek sit?” Julia lag vergewend. “Die dag as jy my sien sit, moet jy weet ek is nie meer Julia Joubert nie.” Sy spreek dit “Djoelia Djoebêr” uit. Dit was ’n groot en dankbare meevaller toe die lewe vir Julia hierdie welluidend rymende getroude naam geskenk het. Berna skaam haar nie eens meer vir hierdie soort gedagte nie, want dis dikwels haar enigste verweer.
“Nee, ek is mos aan ’t reël vir die baie groot welwillendheidstee vir gades van erelede van die …”
Berna skakel innerlik gerieflik af terwyl dit tog lyk of sy luister, een van die oorlewingskunsies wat sy in die sakewêreld aangeleer het.
“Waar is Ron?” vra sy toe sy dit gepas ag. Vra sy te gou, kan Julia, doodjaloers op haar man, dink dat Berna reddeloos verlief op haar skoonpa is. Wag sy te lank, dink Julia dat Berna skandelik ondankbaar is oor “alles wat ek en Ron vir haar en die kinders doen”. Die “alles” sluit dan die geldnootjie in wat elke kind met elke kuier ontvang, en ’n geheimsinnige verwysing na Ron se testament. Berna sal nie verbaas wees as laasgenoemde neerkom op sowat vyf persent vir elke kleinkind nie, betaalbaar op vyf en twintig, en met die uitdruklike bepaling dat Berna of ’n volgende eggenoot nie die hande daarop mag lê nie.
“Ron?” eggo Julia, en haar gegrimeerde oë dans onrustig rond sonder om iewers te vestig. ’n Ontwykende blik. “Seker maar hier iewers rond, hy is nogal bedagsaam as dit by my vol program kom.” Wat stellig beteken dat Ron kaal blaarslaai en sardiens op roosterbrood vir middagete gehad het. In hierdie huis het Berna geleer dat alles wat blink, nie goud is nie.
Ron kom egter tydens die hele besoek nie te voorskyn nie. ’n Vermoede wat Berna lankal koester, du sterker na vore. Sy het Ron een keer met ’n vreemde vrou by ’n voetoorgang sien wag, sy hand onder haar elmboog. Sy was in spitsverkeer en kon nie deeglik kyk nie, het aldus die man net skuinsweg gesien. Maar die hele wese was dié van Ron Joubert.
Toe sy dit durf noem het teenoor Annalien, die enigste een met wie sy met hierdie vertroulike tipe inligting gedeel het, het Annalien net geglimlag. “Ja, jong, van mans en hulle skelmpies weet ek ook.” Annalien se man was een wat letterlik Annalien se beursie leeggemaak het voor hy vir goed na sy skelmpie toe is.
“En hoe gaan dit met die twee kinders by daardie oppasvrou?” As Julia uitvra, is dit nie op die verkryging van inligting gemik nie, maar op suspisie en aanklag. Berna weet al hoe om dit te systap, maar vanmiddag speel sy oop kaarte: “Hulle is nie meer by haar nie, Julia. Ek het hulle weggevat.”
Julia, wat bly moet wees omdat al haar profesieë teen hierdie dagmoeder en die buurt waar sy woon waar geword het, kyk geskok op. “En nou? Aan die verwaarlosing oorgelaat? Ek het jou lankal gesê ek sal hulle by my vat. Dit hoort so. Ronald was my enigste seun, ek is dit aan sy nagedagtenis verskuldig.” Dat Ron Senior ’n aandeel in sy seun se ontstaan en bestaan gehad het, blyk nie spesifiek nie.
“Hulle is nie aan die verwaarlosing oorgelaat nie, Julia. Ek het my werk bedank. Ek gaan weg, platteland toe. Ek het daar vir my werk gekry.” Noudat Berna dit wat blote voorneme was so in woorde stel, word dit ’n vaste besluit.
Julia se geskoktheid ken geen perke nie. Haar hand vol vroeë ouderdomsvlekke (dit kan sy nie doeltreffend weggrimeer nie) klem om die goue hangertjie wat die te diep V van die styfpassende bloes versier. ’n Cleavage is een ding, ’n spillage is iets anders, sê Annalien altyd, en van Julia se verslappende boesem is dit waar. By snykunde sal sy nie uitkom nie, doodgewoon omdat sy reken sy is perfek.
“En dan? Die familiebande?” Julia gee bevel dat haar oë vol trane moet skiet. “Dit sou nie Ronald se wens gewees het nie. En dis nie dat hy gekies het om so vroeg heen te gaan nie.”
Berna reageer nie op hierdie bedekte verwyt nie. Sy het dit immers al honderd keer aangehoor. Julia sal dit nooit aanvaar dat Ronald eintlik op Berna se plek gesit het toe die ongeluk plaasvind nie. Berna moes naamlik bestuur, want hy was na ’n hewige partytjie nie daartoe in staat nie. En hy was vies daaroor, en vasbeslote om sy tas te pak sodra hulle tuiskom, “want jy ag my nie meer nie”.
Maar sy wil nie in bitterheid aan hom dink nie. Sy het twee fraai kinders van hom, en hy en sy het hulle goeie oomblikke saam ook gehad. Daarvan getuig die talle foto’s in Julia se fotohoekie in die woonkamer. Berna wou al so graag die een gevra het waarop sy om Ronald se nek hang op ’n studentekamp, maar Julia bewaar dit jaloers. Die trui wat Ronald op die foto aanhet, is naamlik deur haar gebrei, en sy soek daardie verdwene trui al meer as ’n jaar lank by Berna.
“In elk geval, Julia, ek het maar net kom sê. Lig asseblief vir Ron ook in. En ek sal die kinders nog vir ’n hele naweek na julle toe bring. Sonder my,” voeg sy by toe sy Julia se wenkbroue die vraag sien vorm.
“Toe ek jou vanmiddag hier sien aankom, toe weet ek sommer jy is uit die werk uit,” sê Julia, getroos deur haar gewaande profesie. Sy wil so graag as ’n wyse vrou bekend wees.
“Maar jy was altyd goed met voorspellings,” prys Berna vroom. “Onthou, jy was die eerste een wat gesê het ek verwag ’n tweeling.” Sy was toe, vroeg reeds, so geil uitgedy soos ’n koei.
“En dit was toe ’n tweeling!” roep Julia uit en kyk triomfantelik na die tweetjies wat redelik bedees die kuier sit en verduur. Aan Ronald en die susters se weggepakte speelgoed sal die tweeling nooit durf raak nie … Net soet kyk, hoor, nie breek nie.
“Moet dit dan liewer nie vir hulle wys nie,” het Berna haar eendag bitsig belet. Hoe bitter min verstaan Julia van ’n kind se psige. Haar eie kleintyd het sy waarskynlik uit haar selektiewe geheue gesny.
Nog ’n besoek oorleef, dink Berna toe sy met ’n gevoel van verligting die smaaklose binnehuis verlaat en deur die mooi namiddagtuin loop. Geen geldnootjies vandag in die handjies gedruk nie.
Sou Annalien al tuis wees? Sy is, merk Berna toe sy parkeer en Annalien se afgeleefde motortjie sien staan. Soos gewoonlik, word haar beste aandag eers aan die tweeling gegee voordat sy by Berna uitkom.
“En toe?” vra sy eindelik, en skink vir haarself koeldrank uit Berna se klein yskas. Sy is kaalvoet en ontspanne, ’n heerlike vroumens. Haar man moes gek gewees het om haar te los.
Om die een of ander rede vertel Berna haar nie van Hartogh se versoek van gisteraand, dat sy terug werk toe moet kom nie. Sy het genoeg probleme om daardie besoek en haar gevoelens daaroor aan haarself te verwoord, wat nog te sê aan iemand anders.
Dus bepaal sy haar by