bly stil. Hy het nog altyd ’n hoë agting vir Sophia gehad, maar sy het in ’n vitterige, patriotiese oujongnooi ontaard. Al wat hom gerusstel, is dat sy nie die huis sal bemaak aan iemand wat dit nie kan bekostig om dit reg te maak nie.
“Ek kan met Alfred praat om by te dra,” sê Eunice na ’n lang stilte.
Suzanne glimlag minagtend. “Hy sal nie ’n dooie duit gee nie. Hy haat die Van Wyngaardts.”
Eunice kyk na haar niggie. “Soms voel ek presies soos hy,” sê sy ysig. “Jy het my nog nooit tot groot familieliefde geïnspireer nie, my liewe Suzanne.”
“En jý heg net waarde aan jou prestige en aansien onder die rykes in Johannesburg,” antwoord Suzanne vinnig.
Philip glimlag skeef. “Kietsie, kietsie!” Hy grinnik toe die twee vroue hom woedend aangluur. “Ek wonder wat julle in julle toe kamers oor die stomme Engela te sê het. Iets moois kan onmoontlik uit sulke bitterbekke kom.”
Eunice kyk hom ergerlik aan.
“Jý kan nie juis praat nie, Philip! Jou reputasie onder die vroue is wyd en syd bekend. ’n Regte haan wat nie ’n snars omgee hoeveel harte hy breek nie.”
Philip lag gemoedelik. “Maar nie een van hulle is sulke venynige katte soos jy en Suzanne nie.”
Suzanne se oë glinster. “Jou sjarme is ’n dun, aangeplakte lagie, my neef. Daaronder is jy meer gewetenloos as ’n geldskieter.”
Philip se glimlag verstyf.
“Jy sal jou woorde nog sluk, Suzanne,” sê hy stadig. “Jy is niks meer as ’n duur flerrie nie.”
Sophia staan vinnig op. “Dis nou genoeg! Ek het vanaand genoeg van julle wedersydse haat en minagting gesien om te weet dat ek die regte ding doen!”
Almal draai onbegrypend na haar.
“Waarvan praat jy, Sophia?” wil Cornelius weet.
Sy staan regop soos ’n kers aan die bopunt van die tafel. Die lamplig blink op haar wit hare en versag die diep lyne op haar verrimpelde gesig. Hartseer trek aan haar mondhoeke en laat die ou oë bleek en leeg lyk.
Daar heers ’n onrustige stilte. Die sielewroeging op Sophia se gesig is iets wat hulle nie kan begryp nie.
Sy kyk van die een na die ander, sien die onsekerheid op hulle gesigte en besef dat hulle vermoed iets gaan gebeur. Binne-in haar is daar net die eindelose moegheid van die las wat sy al soveel jare met haar saamdra … ’n las wat nou net te veel vir haar geword het. Ook sý het gefaal. Sy kon hulle nie bymekaar hou soos wat haar oorlede vader en moeder gedoen het nie. Sy kon nie die harmonie wat daar was, behou nie. Dit is alles ruïnes, soos Alfred gesê het. Die huis … die familie … alles wat eens mooi was, het vergaan.
“Daar is ’n jong man op Vredestad,” begin sy skielik sag praat. “Hy kom uit ’n ou, ou gesiene familie. Sy grootvader was die hertog van Savoye, ’n edelman in hart en siel. Armand de Savoye is ’n edelman soos wat sy grootvader was. Hy het die grootmoedigheid en opregtheid van die werklike aristokrasie. Hy is vir my soos ’n eie seun, en as hy een van ons was, sou oupa Lodewyk trots op hom kon wees. Hy dra die naam van sy familie hoog … As ek kon, sou ek dit aan hom gegee het, maar ek het die geld bitter nodig … Ek het Rust der Vrede aan hom verkoop!”
Pandemonium bars los om die tafel. Almal spring gelyk op en probeer mekaar doodpraat. Engela bly sit met haar hande oor haar ore gedruk. Sy hoor hoe die ander protesteer en op mekaar skree en verwyte heen en weer slinger.
Hulle baklei om die behoud van die laaste familievesting. Rust der Vrede was die hele spil waarom hulle trots gegaan het … ’n valse trots wat nou met een hou onder hulle uitgeruk word. Die fondamente van hulle belangrikheid verkrummel en hulle bly as gewone mense agter. Sonder Rust der Vrede is daar gaan Van Wyngaardt-tradisie nie. Hulle wil nie terugsak tussen die gewone mense nie. Die huis en die ou familietradisie het hulle nog van die ander onderskei. Daarsonder is hulle … net mense.
Sophia bly roerloos staan. Haar grys oë blink onnatuurlik toe sy haar stem bo die geraas probeer hoorbaar maak.
“Armand de Savoye sal die nuwe eienaar van Rust der Vrede wees!” roep sy uit en die gepraat bedaar effens. “Die naam sal bly omdat hy óns voorouers en tradisies respekteer!” Dis nou doodstil om die tafel, en almal kyk met gloeiende oë na Sophia. “Hy sal hier kom woon soos ’n edelman … Hy sal die huis na sy oorspronklike glorie terugbring …” Dan voeg sy sag, skaars hoorbaar, met ’n snik in haar stem by: “Hy is Rust der Vrede waardig …!”
2
Daar is ’n lang ruk doodse stilte om die tafel. ’n Oomblik lank het hulle gedink dat Sophia dit nog net oorwéég het om hulle familiewoning te verkoop, maar nou weet hulle dat dit finaal is. Rust der Vrede behoort nie meer aan hulle nie.
Cornelius se mond ruk toe hy praat: “Jy kon ons gewaarsku het, Sophia,” sê hy verwytend. “Ons sou gehelp het.”
Sy skud haar kop stadig.
“Nee, julle sou nie, Cornelius. Dis meer as twintig jaar nou dat ek alleen hier woon, en niemand van julle het ooit daaraan gedink dat ek dalk nie meer van my klein toelae kan leef nie. Julle het van die herehuis gevat wat julle kon kry, maar niks in ruil gegee nie. Ons het dit almal verdien om Rust der Vrede te verloor.”
Philip is baie bleek.
“Maar tog nie op só ’n manier nie, Tante! Een van ons kon die huis by u gekoop het, en dit sou in die familie gebly het.”
Sy draai na hom.
“Sou enigeen van julle bereid gewees het om my iets daarvoor te betaal? Wat sou jý aangebied het, Philip?”
Hy aarsel. “Agtduisend pond. Dit is baie vir so ’n ou bouval.”
Cornelius glimlag suur. “Jy onderskat die waarde van die plek, ou seun. Ek sou Sophia twaalf aangebied het; niks meer nie, maar ook nie minder nie.”
Philip frons. “Dit gaan nie om die waarde van die huis nie, oom Cornelius, dit gaan om die feit dat dit nog in die familie sou gewees het.” Hy kyk na Sophia. “Hoeveel het hierdie De Savoye vir Tante betaal?”
“Veertigduisend pond.”
Daar is weer eens doodse stilte om die tafel. Philip fluit saggies.
“Hy moet geld hê, dié De Savoye.”
Sophia gaan swaar sit.
“Ek wou net twintig gehad het, maar … toe die kontrak opgestel is, het hy my veertig betaal. Hy het gesê dit is om te vergoed vir die herinneringe en dié soort verliese waarvoor ’n mens eintlik nie kan betaal nie.”
“Hy is ’n gek,” brom Cornelius.
Philip grynslag.
“’n Ryk gek is beter as ’n ryk vrek. Ek sal hierdie man graag wil ontmoet. As ’n mens twee keer soveel betaal vir ’n ding as wat nodig is, moet jy iemand heel besonders wees.”
Sophia glimlag effens. “Julle sal hom ontmoet. Hy kom môreoggend hierheen om met julle almal kennis te maak.” Sy kyk van die een na die ander. “Julle sal hom hoflik behandel soos wat dit opgevoede mense betaam. Ek wil geen snedige opmerkings hê nie. Ek verwag van julle om ’n bietjie van julle ou Van Wyngaardt-waardigheid vorendag te haal.”
Eunice spring skielik op en stap uit die vertrek. Niemand kyk haar agterna nie.
Cornelius staan ook op.
“Al is dit die laaste ding wat ek doen, Sophia, sal ek verhoed dat die koop deurgaan!” sê hy vol ingehoue woede.
Sy kyk kalm na hom. “Die huis behoort aan my, en oupa Lodewyk het in sy testament gesê dat ek daarmee moet doen wat ek goed dink.”
Cornelius werp haar ’n vernietigende blik toe en beduie vir Suzanne om hom te volg. Sy staan sonder ’n woord op en volg haar pa by die deur uit.
Philip