die trappies opgaan, kyk hy na haar.
“Is die drie broers en hulle suster baie geheg aan mekaar?” wil hy weet.
Sy skud haar kop. “Daar is baie onenigheid in die familie. Hulle mag jou dalk ook skerp kritiseer omdat jy die huis gekoop het. Ek glo nie jy gaan ’n baie vriendelike ontvangs kry nie.”
Hy kyk swyend op na die groot, soliede kliphuis en ’n ligte frons verskyn tussen sy oë.
Engela hou hom ongemerk dop. Hy is baie soos die deftige here wat soms die dames vergesel wat na haar moeder kom. Sy liggrys hardebolkeiltjie en handskoene verleen aan hom die aristokratiese voorkoms wat hom anders maak. Selfs sonder die vonkelende diamant wat sy krawat in posisie hou, sou ’n mens nog kon raai dat hy ryk moet wees. Hy het die selfversekerde houding van iemand wat aan alles gewoond is.
Sy kyk weg. Hier op Rust der Vrede voel sy byna die gelyke van ’n man soos Armand de Savoye, maar wat sal hy sê as hy die twee armoedige kamertjies sien waarin sy en haar ma woon? Dan sal hy haar dalk ook soos die ander deftige here met minagting bejeën.
Haar moeder is ’n goeie kleremaakster, en sy sorg altyd dat Engela modieus en goed geklee is. Die rok wat sy vandag aanhet, is van sagte voile oor ’n sy-onderrok. Die lyfie is vol opnaaiseltjies en die moue diep geplooi. Dit lyk sag en vroulik, en sy weet dat sy baie mooi daarin lyk. ’n Fronsie verskyn tussen haar oë. Hier op Rust der Vrede kon sy werklik die kleindogter van Lodewyk en Engela van Wyngaardt wees. Nou sal die huis aan ’n vreemdeling behoort, en sal sy maar net die dogter van ’n kleremaakster wees. Sy is baie lief vir haar moeder en geniet dit om met die maak van die duur, deftige tabberds te help, maar Rust der Vrede was altyd vir haar ’n toevlugsoord wanneer hulle moeilike bestaan vir haar te veel geword het.
Sy bloos toe sy besef dat De Savoye haar dophou. Hy glimlag.
“Dit was nie aangename gedagtes nie, juffrou Engela?”
Sy draai vinnig om en gaan met die trap op. “Die ander wag al op u,” sê sy en stap voor hom uit na die groot eikehoutvoordeur.
Harde stemme klink op uit die rigting van die woonkamer en Engela verkleur verleë.
“Ek is bevrees hulle het nog nie genoeg gestry nie,” sê sy.
Hy glimlag. “Dan steek ek my kop nou in ’n bynes.”
Sy lag senuweeagtig. “Dis sagkens gestel.” Sy stap deur die voorportaal na die woonkamer en stoot die deur oop.
Cornelius draai om na haar. In sy hande hou hy ’n fyn porseleinbeeldjie wat hy haastig op die kaggelrak terugsit toe hy die besoeker sien.
Sophia glimlag vriendelik vir Armand en nooi hom in.
“Jou tydsberekening is baie goed, my liewe Armand. Jy kry ons almal hier bymekaar besig om die erfstukke uitmekaar te skeur.”
Cornelius werp haar ’n vriendelike blik toe. Eunice kyk fronsend na die jong man, en Philip maak hom swyend in ’n leunstoel tuis. Suzanne se oë blink toe sy die aantreklike nuwe eienaar van Rust der Vrede sien.
Armand de Savoye haal sy keil af toe hy die dames groet en verwyder ook net een van sy handskoene toe hy die twee mans elkeen ’n handdruk gee.
“Ek sal liewer nie steur nie,” sê hy nadat hy aan almal voorgestel is.
Suzanne haak haar arm deur syne en lei hom na die rusbank.
“Kom sit tog eers, meneer De Savoye. Ons wil almal graag die nuwe eienaar van Rust der Vrede beter leer ken.” Sy kyk na die ander. “Of hoe, liewe familie?”
Philip grynslag. “Natuurlik, my nuwe niggie. Sal ons jou nou alleen laat met jou jongste vangs?”
Suzanne kyk woedend na hom. “Jou maniere is skokkend, Philip! Jy kan gerus ’n poging aanwend om jou te gedra!”
Philip lag net onbekommerd en steek ’n lang, dun sigaartjie aan.
“Daar is baie dinge wat net nooit sal verander nie,” sê hy.
Sophia lui ’n klokkie sodat die bediende vir hulle tee kan bring en dan draai sy na Armand.
“Hulle is maar almal ontsteld oor wat ek gedoen het, Armand. Oor ’n week of so sal hulle seker weer hulleself wees.”
Cornelius snork minagtend.
“Jy het baie vertroue in jou familie, Sophia! Dis baie gevra om van ons te verwag om te aanvaar wat jy gedoen het. Ek dink hierdie verwaande pierewaaier behoort die kontrak te kanselleer!”
Armand staan stadig op.
“Ek het meer selfrespek van ’n Van Wyngaardt verwag,” sê hy sag, maar met die onmiskenbare ondertoon van gesag in sy stem. “So ’n kru belediging is u nie waardig nie.”
Engela kyk verskrik van die een na die ander. Sy het verwag dat hulle De Savoye koel sou ontvang, maar oom Cornelius gaan nou te ver.
Cornelius is te kwaad om logies te dink.
“Ek het nie ’n teregwysing van ’n bogsnuiter soos jy nodig nie!”
Suzanne spring geskok op. “Pappa!”
Hy draai om om haar ’n skerp antwoord te gee en bly dan skielik stil. Suzanne … Sy kan De Savoye aankeer na die kansel en dan sal Rust der Vrede eendag aan haar en haar kinders behoort. Hy het ’n baie groot fout gemaak deur kwaad te word, maar dis iets wat hy nog kan regstel. Hy draai terug na De Savoye en glimlag verleë.
“Vergewe my, asseblief, meneer De Savoye. U moet verstaan dat ons almal ’n bietjie ontsteld is oor wat my suster gedoen het. Sy het nie een van ons oor haar besluit geraadpleeg nie, en ons is dus magteloos om iets aan die toedrag van sake te doen.”
Armand se gesig verraai niks van wat hy dink nie. Hy maak net ’n klein, stywe buiginkie in Cornelius se rigting en sê: “Ek aanvaar u verskoning, meneer Van Wyngaardt.”
Engela slaak byna ’n sug van verligting. Sy hoop net dat Philip nie ook ’n stuiwer in die armbeurs gaan gooi nie. Die atmosfeer is reeds gespanne.
Eunice staan op om die tee te skink toe die bediende dit op die koffietafel neersit.
“Hierdie huis, meneer De Savoye, was al wat die familie nog bymekaar gehou het. Hulle sal nou soos rotte uitmekaar spat.”
Armand bly staan. Hy wend geen poging aan om weer langs Suzanne te gaan sit nie.
“Dit spyt my dat dit die geval is, mevrou Benson, maar dit sal ’n jammerte wees as die huis inmekaarstort. Die familie het nie juis omgegee vir die plek nie. Dis in ’n swak toestand.”
Philip grinnik. “Hulle het nie vir mekáár omgegee nie.”
Sophia neem die tee wat Eunice haar aanbied.
“Julle bly so wonderlik getrou aan julleself,” sê sy ietwat bytend. “Julle probeer nie eens om die indruk van ’n gelukkige familie te skep ter wille van ons gas nie. Jy het nou genoeg met jou knuppel rondgeswaai, Philip. Ek dink jy kan nou heeltemal tevrede voel dat jy ’n paar mense seergemaak het.”
Hy staan op en haal sy skouers ongeërg op.
“Ek glo nie in valse fronte nie. Hier is mense teenwoordig wat daardie spelletjie uitmuntend speel.” Hy kyk betekenisvol na Cornelius en stap dan by die vertrek uit.
Engela kyk hom ingedagte agterna. Philip staan met sy twee voete op die grond en skroom nie om te sê wat hy wil sê nie. Hy raps almal geniepsig met die waarheid, maar hy is ook besig om baie vyande te maak. Die Van Wyngaardts is gedugte vyande. Dit het sy vroeg reeds in haar lewe ondervind.
Nadat Philip die vertrek verlaat het, verdwyn die rukkerigheid en byt uit die gesprek en kan die res gemaklik gesels. Engela neem nie deel aan die gesprek nie, maar sy luister afgetrokke hoe die ander die huis en die familie se geskiedenis bespreek.
Armand de Savoye is ’n hoflike, sjarmante jong man, besluit sy. As eienaar van Rust der Vrede sal hy die ou prag en praal van die herehuis laat herleef. Sy kan al in haar