gawes. Ons almal verskil van mekaar, maar ons vul mekaar aan. Ons moet mekaar ’n kans gee om ons talente ten volle in diens van die Here uit te leef. Ongelukkig is dit in baie gemeentes net ’n klein groepie oorwerkte gelowiges wat alles probeer doen.
GEBED: Here, maak my gewillig om die werk waarvoor U my toegerus het, tot u eer te doen.
Lees vanaand in Galasiërs 2:11-14 hoe Christene mekaar moet help as een of meer van die suiwer leer afdwaal.
Dinsdag 17 Februarie 2105 • Lees eers Galasiërs 2:15-21
Jy kan vrygespreek word
En tog weet ons dat ’n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo (2:16).
GESELSVRAAG:
Wanneer word iemand in die hof vrygespreek?
“Wat moet ons doen om gered te word?” het ek ’n groep Xhosas tydens ’n buitediens in die Ciskei gevra. “Hou die wet!” het die antwoord soos in ’n koor gekom. Dit is wat hul leraar of ouderling by hulle ingedril het. Maar dit is presies die teenoorgestelde van wat die Here se Woord vir ons in Galasiërs leer. Ongelukkig is daar ook baie van ons eie lidmate wat dieselfde verkeerde idee het.
Dit is nie duidelik of hierdie verse deel is van Paulus se antwoord op Petrus se verkeerde optrede nie. In die oorspronklike Grieks word daar nie aanhalingstekens gebruik nie. Paulus sowel as Petrus was Jode en hulle het oor baie dinge saamgestem. Hulle was dit ook eens dat ons net deur geloof gered kan word, nie deur ’n reeks wette te gehoorsaam nie. Ons word vrygespreek, al was ons ook skuldig, omdat Iemand ons skuld en straf in ons plek gedra het. Die skuld is reeds betaal. Dit het sy bloed gekos. Dit is dus nie “goedkoop genade” nie. Dit is baie duur genade.
Maar dit gee ook vir ons elkeen wat nog nie volmaak is nie hoop vir die ewigheid. Uit eie krag het ons nie ’n kans om aan God se norme te voldoen nie. Dit is waarom Jesus na die aarde moes kom.
GEBED: Dankie, Here Jesus, dat U my skuld op U geneem het.
Lees vanaand in Galasiërs 3:1-9 dat alle geestelike seëninge net deur geloof ontvang kan word, nie deur verdienste nie.
Woensdag 18 Februarie 2105 • Lees eers Galasiërs 3:10-14
Aswoensdag
In sak en as
Daar rus ’n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie (3:10).
GESELSVRAAG:
Waaroor kan ons vandag jammer wees?
“Ek het bier laat staan vir die vastyd en whiskey is gans te sterk vir my,” grap ’n vrou wat gestruikel het op pad na die mikrofoon. In baie kerke word die vastyd (“Lent”) van vandag tot Goeie Vrydag en Paassondag gevier. Op hierdie dag sal die priester of leraar ’n kruisteken met swart as op elkeen se voorkop maak as teken dat hulle jammer is oor hul sondes waarvoor Jesus moes ly. Op hierdie dag sal hulle baie tyd bestee aan selfondersoek en sondebelydenis. Baie gelowiges sal vandag ook nie meer as een maaltyd eet nie. Vir die volgende 40 dae en 6 Sondae sal hulle iets lekkers prysgee om hul hartseer oor hul sonde te toon.
“Ek het bier laat staan vir die vastyd en whiskey is gans te sterk vir my,” grap ’n vrou wat gestruikel het op pad na die mikrofoon. In baie kerke word die vastyd (“Lent”) van vandag tot Goeie Vrydag en Paassondag gevier. Op hierdie dag sal die priester of leraar ’n kruisteken met swart as op elkeen se voorkop maak as teken dat hulle jammer is oor hul sondes waarvoor Jesus moes ly. Op hierdie dag sal hulle baie tyd bestee aan selfondersoek en sondebelydenis. Baie gelowiges sal vandag ook nie meer as een maaltyd eet nie. Vir die volgende 40 dae en 6 Sondae sal hulle iets lekkers prysgee om hul hartseer oor hul sonde te toon.
Paulus herinner ons hier aan die verskriklike gevolge van enige sonde. Dit bring ’n vloek oor ons. En dit help nie om van nou af te probeer om streng volgens die wet te lewe nie. Jy is reeds skuldig aan so baie dinge wat jy gedoen of nie gedoen het nie. Ons kan niks doen om die vryspraak te verdien nie. Daarom het Jesus gekom – daar is geen ander manier of godsdiens waardeur ons onsself kan red nie.
Vir die meeste van ons is vandag ’n gewone werksdag. Tog moet ons vandag tyd maak om onsself te ondersoek sodat ons met ware berou en dankbaarheid na die Here kan gaan.
GEBED: Dankie dat U ons aanvaar net soos ons is, Here.
Lees vanaand in Galasiërs 3:15-20 hoe die verbond reeds lank voor die wet geldig was. Dit het reeds na Jesus gewys.
Donderdag 19 Februarie 2105 • Lees eers Galasiërs 3:21-29
Ons nuwe familie
En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God (3:29).
GESELSVRAAG:
Wie is almal familie van ons?
“Ek wens ek het ’n getuienis soos joune gehad. Ongelukkig het ek in ’n Christelike huisgesin grootgeword,” sê ’n jong meisie aan iemand wat in ’n onverskillige huis grootgeword het en uit satanisme en dwelmverslawing gered is. “Weet jy hoe wens ek ek het ’n getuienis soos jy gehad? Ek sou wat wou gee om in ’n Christelike huis te kon grootword,” was sy antwoord. Ons kan nie ons verlede verander nie, maar deur die genade van die Here kan ons ons toekoms verander.
Die Galasiërs was nie Jode nie. Hulle het as heidene grootgeword. Maar nou het hulle die evangelie gehoor en die Here Jesus as Verlosser leer ken. Paulus verduidelik nou aan hulle dat hulle deur die geloof in Jesus deel van ’n nuwe familie geword het. Hulle was nou nie net afstammelinge van Abraham nie (vgl v 29), maar hulle het kinders van God geword (vgl v 26). Hul verlede en herkoms maak nie meer saak nie. In Christus is hulle nou almal broers en susters (vgl v 28).
Die gemeentes in Galasië het dus uit mense uit baie verskillende kulture en stande bestaan. Sommige was handelaars en ander slawe. Maar hulle het almal familie van mekaar geword en mekaar leer liefkry.
GEBED: Dankie dat ek nou deel is van u groot familie, Here.
Lees vanaand in Galasiërs 4:1-7 hoe Christus ons van die slawerny van die wet kom vrymaak het.
Vrydag 20 Februarie 2015 • Lees eers Galasiërs 4:8-20
Dominee se passie
My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle totdat Christus in julle gestalte kry (4:19).
GESELSVRAAG:
Wat is die hoofwerk van ’n predikant?
“Kyk na my!” sê die mamma en sit haar hande aan weerskante van haar seuntjie se kop sodat hy dit nie kan wegdraai nie. “Kyk in my oë.” Nou kan sy hom ernstig vermaan. Hy besef sy is ernstig. Dis nie lekker nie, maar nou sal hy onthou om gehoorsaam te wees sodat berisping nie weer nodig sal wees nie. Klink dit nie bekend nie?
Paulus is bekommerd dat sy geestelike kinders vir die stories van die dwaalleraars sal swig. Indien hulle glo dat ’n mens verlossing moet verdien, val hulle terug in ’n godsdiens soos al die ander godsdienste. Dan is die evangelie nie meer goeie nuus nie. Dit word weer ’n lys van moets en moenies. Paulus wou hê die gelowiges moes die familietrek van liefde en toewyding openbaar. Christus moet gestalte in hulle kry, sê hy. Hulle moet al hoe meer soos Jesus word.
Hierdie radikale verandering kom nie deur wette te gehoorsaam nie. Jy verander om soos ander mense te wees deur tyd saam met hulle deur te bring. ’n Kuiertjie een maal per week is nie goed genoeg nie. Jy moet hulle leer ken deur elke dag by hulle te wees. So moet ons ook tyd met ons hemelse Vader deurbring. Elke leraar se passie is om die gelowiges daarmee te help.
GEBED: Hemelvader, verander my om soos Christus te lewe.
Lees vanaand in Galasiërs 4:21-27 hoe godsdiens tot slawerny of tot vryheid kan lei.
Saterdag 21 Februarie 2015 • Lees eers Galasiërs 4:28-5:1
Lewe as vry mense
Staan