was van geboorte af aan God gewy.
•Samuel was profeet en priester, Jesus ook.
•Die koningskap van Saul en Dawid wys vooruit na Jesus, die finale Koning.
•Dawid, die herder-koning, is ’n voorloper van Jesus, die goeie Herder.
Woensdag 25 Februarie 2105 • Lees eers 1 Samuel 1:1-8
Ongelukkige huwelik
So het dit jaar vir jaar gegaan: elke keer as Hanna in die huis van die Here gaan offer het, het Peninna haar gespot, sodat sy gehuil het en nie wou eet nie (1:7).
GESELSVRAAG:
Wat maak huwelike ongelukkig?
“Die Here het vir my gesê ek moet ’n tweede vrou neem,” sê ’n jong vader met groot oortuiging. Hy het gereken veelwywery is nie verkeerd nie. Hy het nooit raakgesien watter hartseer hierdie ontrouheid vir sy eie vrou en hul twee kinders veroorsaak het nie. Hy het ook nie opgelet dat God se plan met die huwelik net vir twee mense voorsiening maak nie (vgl Matt 19:5-6).
Elkana het ook twee vroue gehad, al was hy eintlik ’n Leviet van afkoms. En soos in alle ander huwelike met meer as een vrou, was sy huwelikslewe ook ongelukkig. Daar was nie eenheid tussen die vroue nie. Hanna was daarby onvrugbaar en dit het haar baie hartseer gemaak. Die eer van ’n vrou in daardie tyd was dat sy kinders, veral seuns, in die wêreld moes bring. Hanna het elke jaar gevrees wanneer dit tyd was om die offer in Silo te gaan bring, want dit was vir haar ’n groot vernedering. Peninna het met haar gespot en haar seergemaak. Elkana se trooswoorde het nie gehelp nie. Dit is in hierdie ongelukkige gesin dat Samuel uiteindelik gebore is.
Kinderloosheid bring vandag nog ongelukkigheid in baie huwelike. Maar kinders maak nie ’n huwelik gelukkig nie. Kinders het ’n gelukkige huisgesin nodig om gebalanseerd groot te word.
GEBED: Here, ek bid vandag vir alle ongelukkige huwelikspare.
Lees vanaand in 1 Samuel 1:9-19a hoe ernstige gebed vir Hanna vrede in haar hart gebring het.
Donderdag 26 Februarie 2015 • Lees eers 1 Samuel 1:19b-28
Aan die Here gewy
Sy het hom as klein seuntjie weggebring na die huis van die Here toe in Silo (1:24).
GESELSVRAAG:
Wat is die moeilikste ding om aan die Here te gee?
“Jy moet nooit vir die Here sê daar is iets wat Hy nie van jou moet vra nie, want dan moet Hy dit van jou wegneem of laat wegneem om te wys dat Hy die Here is,” vertel iemand wat swaar beproewings deurgemaak het, maar besonder vrugbaar was in diens van die Here. Dit is dikwels die toets van ons oorgawe: Kan die Here enigiets van my vra? ’n Vriend vertel dat hy rugby moes laat vaar omdat dit vir hom ’n afgod geword het. ’n Ander gelowige vertel dat hy sy boot moes verkoop omdat dit hom van die kerk af weggehou het. Die Here wil Nommer Een in ons lewe wees.
Hanna het haar beloftes gehou. Sy het die Here belowe as Hy haar ’n kind gee, sal sy hom aan die Here toewy. Dit was nie vir haar maklik om haar seuntjie aan Eli se sorg toe te vertrou nie, maar sy het haar belofte nagekom. En die Here het ’n plan met hierdie seuntjie gehad. Hy sou die hele volk teruglei na die Here toe, soos ons nog sal sien.
Die Here het ’n plan met ons elkeen – reeds van voor ons geboorte af. Dit sal tragies wees as enigeen van ons God se plan misloop, net omdat ons onwillig is om Hom te gehoorsaam. Ons kan die Here vertrou. As Hy dus iets van jou vra, kan jy dit met vreugde gee. Dit is oor en oor die moeite werd.
GEBED: Here, ek wil niks van U terughou nie. Gebruik my.
Lees vanaand in 1 Samuel 2:1-11 hoe Hanna die almag van God besing. Nou was haar aanbidding vir haar vreugde.
Vrydag 27 Februarie 2105 • Lees eers 1 Samuel 2:12-17
Selfsug se vrug
Hierdie sonde van Eli se seuns was baie groot in die oë van die Here, want daardeur het die mense hulle agting vir die offer van die Here verloor (2:17).
GESELSVRAAG:
Watter kerkleier se optrede het groot skade gedoen?
“Ons elkeen het ’n doel – al is dit bloot om as ’n waarskuwing vir ander te dien,” lees ek op die internet. En as ’n mens kyk na die soort stories wat deur die TV in ons huise ingedra word, lyk dit asof die skrywers verplig voel om soveel afbrekende en slegte gedrag moontlik uit te beeld en enigiets opbouend te vermy. Die probleem is dat ons later so gebreinspoel word dat ons begin dink almal is net so sleg soos die karakters in die sepies.
Eli se kinders was heel anders as hul pa. Hulle was opstandig, ongehoorsaam en selfsugtig. En dit het groot skade veroorsaak. Hulle het geen respek vir die Here of die toegewyde aanbidders gehad nie. Dít het op ’n verskriklike einde afgestuur.
“Die predikant se kinders is die stoutste,” word graag gesê. (Dis omdat hulle net gemeentekinders het om mee te speel, voeg sommige by.) In ons Kweekskoolklas was ons ’n hele paar predikantskinders. Toe ons saam gesels, het ons ontdek dat almal die druk van pastoriekinders ervaar het. Sommige het daarteen in verset gekom en opsetlik stout opgetree, en ander het huigelaars geword. Tog het ons almal ons uiteindelik aan die Here oorgegee en sy roepstem tot die bediening gehoor. Waarvoor roep die Here jou?
GEBED: Here, bewaar ons kinders van verkeerde keuses.
Lees vanaand in 1 Samuel 2:18-26 hoe Samuel se optrede anders was as dié van Eli se seuns.
Saterdag 28 Februarie 2105 • Lees eers 1 Samuel 2:27-36
Wie is die baas?
En waarom ag jy jou seuns belangriker as vir My …? (2:29).
GESELSVRAAG:
Hoekom het ons dissipline in ons huis nodig?
“Dit het my tydens my besoek aan Amerika getref hoe gehoorsaam die ouers aan hul kinders is,” het koning Edward VIII glo by geleentheid opgemerk. Ons kan amper dieselfde van ons ouers en kinders sê vandat dissipline uit baie van ons huise en skole verdwyn het. Baie ouers leef in vrees en bewing vir hul kinders en die kinders doen net wat hulle wil. Buite-egtelike seks en enkelouergesinne het algemeen geword. Die gevolg is dat duisende kinders alleen grootword sonder ouers wat hulle op die regte pad kan begelei. Jeugbendes het baie woonbuurtes oorgeneem. Misdaad is algemeen. Niemand is meer veilig nie.
Die seuns van Eli was ook sonder dissipline. Ons weet nie hoekom hulle so geword het nie. Het hul pa nie omgegee as hulle verkeerd doen nie? Ons lees van ’n keer dat hy met hulle gepraat het, maar hulle het hulle nie aan hom gesteur nie (vgl v 23-25). Eli kry dus die boodskap dat sy twee seuns op dieselfde dag sou sterf (vgl v 34).
Om ’n ouer te wees is ’n baie groot verantwoordelikheid. Ons moet nie net sorg vir elke behoefte van ’n kind nie. Ons moet self die regte voorbeeld stel, want kinders leer baie beter uit voorbeelde as deur woorde. Hoe gaan dit met jul gesin? Is jul kinders veilig?
GEBED: Here, help ons om ons prioriteite reg te kies ter wille van ons kinders en u koninkryk.
Lees vanaand in 1 Samuel 3:1-9 hoe die jong Samuel die Here se stem vir die eerste keer gehoor het.
Maart
Sondag 1 Maart 2015 • Lees eers Psalm 31:1-9
Oorgee maak vry
In u hande gee ek my lewe oor, want, Here, troue God, U het my vrygemaak (31:6).
GESELSVRAAG:
Wanneer gee ’n mens oor?
“Kyk net na daardie ryk man wat ewe vroom op slawe bie. Ek haat hom. Ek wens ek kan hom doodmaak,” dink ’n slavin by haarself terwyl sy wag om opgeveil te word. Toe haar beurt kom, bie die man sowaar op haar en hou aan totdat sy bod aanvaar word. Toe hy haar kom haal, val sy hom summier aan. “Wag, wag, ek wil jou nie kwaad aandoen nie,” verduidelik die koper. “Ek het jou gekoop