jy gewerk het?”
“Hmm.”
“Sê dit mooi, Sean. Sê dit behoorlik vir my.”
“Ek het jou gemis, Anna. Ek het die hele tyd aan jou gedink,” lieg Sean en hy soen haar op die mond.
Anna spring orent en tel haar mandjie op. “Komaan, kom ons gaan na die waterkuile toe.”
Hulle het ’n spesiale plek. Daar is riete rondom en ’n groot boom op die wal bokant die kuil gooi ’n skadukol op die wit en skoongespoelde sand. Sean gooi sy saalkleed oop sodat hulle daarop kan sit. Hulle kan hoor hoe die rivier verbykabbel, maar hulle kan dit nie sien nie. Met elke luggie ritsel die riete en knik met hul donserige koppe.
“… en ek kon nie van hom ontslae raak nie,” babbel Anna voort terwyl sy die mandjie eetgoed uitpak. “Hy het net daar gesit en gesit, elke slag as ek iets sê, bloos hy en wikkel hy op sy stoel. Oplaas het ek sommer gesê: Jammer, Garry, maar ek moet nou loop.”
Sean lyk suur. Garrick se naam herinner hom aan die dip. En hy het hom nog nie vergewe nie.
“En toe ek in die huis kom, kry ek Ma en Frikkie aan die baklei. Ma was in trane en die ander kinders was in die slaapkamer toegesluit.”
“Wie het gewen?” vra Sean belangstellend.
“Hulle het nie regtig baklei nie, hulle het mekaar sommer staan en verskree. Albei was dronk.”
Sean is altyd effens geskok deur die ongeërgde manier waarop Anna van haar familie se drinkgewoontes praat. Almal het geweet van mnr. Van Essen en sy twee oudste seuns, maar dit was nie vir Anna nodig om daaroor te praat nie. Eenkeer het Sean probeer om haar reg te help. “Jy moenie sulke goed oor jou pa sê nie. Jy moet hom respekteer.”
En Anna het kalm na hom gekyk en gevra: “Hoekom?” Wat nogal ’n moeilike vraag was om te beantwoord. Nou praat sy dadelik oor iets anders.
“Wil jy eet?”
“Nee,” sê Sean en vang haar. Sy sit haar teë, protesteer preutserig totdat Sean haar vasvat en haar soen. Dan lê sy stil en beantwoord sy soene.
“As jy my nou gaan stop gaan ek kwaad raak,” het Sean gefluister en die boonste knoop van haar rok doelbewus losgemaak. Sy het sy gesig met ernstige oë dop gehou en haar hande het op sy skouers gebly totdat hy haar bloes tot by haar middellyf los gemaak het en sy die skerp swart kurwes van sy wenkbroue met haar vingers omlyn het.
“Nee, Sean, ek sal jou nie stop nie. Ek wil ook, ek wil net so graag soos jy wil.”
Daar was so baie om te ontdek. Elke deel was vreemd en wonderlik en hulle was die eerstes om dit te vind. Die manier hoe die spiere uitstaan aan die kant van sy bors onder sy arms maar hoe dit terselfdertyd ’n plek ooplos waar sy die buitelyn van sy ribbes kon sien. Die tekstuur van haar vel, glad en wit met die vae, blou aanduiding van die are daar onder. Die diep holte in die middel van sy lae rug – sy kon sy rugraat voel toe sy haar vingers daarin druk. Die donsies op haar wange, so bleek en fyn dat hy dit slegs in die sonlig kan sien. Hoe hulle lippe gevoel het teen mekaar en die fyn gefladder van tonge benede. Die reuk van hul lywe, die een melkerig en warm en die ander swaar en intens. Die hare op sy bors wat dikker groei onder sy arms, en hare: verbasend donker teen haar vel, ’n klein, syerige nes. Elke keer was daar iets nuuts om te ontdek en te groet met sagte geluide van plesier.
Hy kniel nou voor haar, haar kop agteroor gegooi en haar arms effens opgelig om hom te ontvang. Maar Sean buig skielik sy kop en raak aan haar met sy mond. Die smaak van haar is skoon, soos die smaak van die see.
Haar oë vlieg oop. “Sean, nee, jy moenie – o nee, jy moenie.” Daar was lippe binne-in lippe en ’n knoppie, saggies veerkragtig soos ’n klein, groen appel. Sean het dit gevind met dit punt van sy tong.
“O Sean, jy kan nie dit doen nie. Asseblief, asseblief, asseblief.” Maar haar hande was in die dik hare agter sy kop om hom daar te hou.
“Ek kan die nie meer vat nie, kom oor my … vinnig, vinnig, Sean.”
Vol soos ’n seil in ’n stormwind, opgeswel en hard en styf, verder as sy limiet gestrek tot dit bars en tot niet geblaas word in die wind. En toe is alles weg. Die wind in die seil, die spanning en die lus, alles weg. Net die groot niksheid van vrede het oorgebly. Miskien is dit ’n tipe dood; miskien is dit hoe die dood is. Maar net soos die dood, nie ’n einde nie – want selfs die dood besit die saadjies van opstand. Hulle het teruggekom van die vrede na ’n nuwe begin, eers stadig en toe vinniger totdat hulle weer twee mense was. Twee mense op ’n kombers tussen die riete, die sonlig wit op die sand rondom hulle.
“Dit is elke keer beter en beter – nè, Sean?”
“A!” Sean strek sy arms en lê terug.
“Sean, jy het my regtig lief, nie waar nie?”
“Natuurlik. Natuurlik het ek jou lief.”
“Ek dink jy moet my liefhê om te doen,” sy huiwer, “om te doen wat jy nou net gedoen het.”
“Maar ek het mos so gesê, het ek nie?” Sean se aandag dwaal af na die mandjie kos. Hy vat ’n appel en vryf dit blink teen die kombers.
“Sê dit vir my behoorlik. Hou my styf vas en sê dit vir my.”
“Goeiste, Anna, hoeveel keer moet ek dit vir jou sê?” Sean hap die appel. “Het jy van jou ma se brosbeskuit gebring?”
Dit word al sterk donker toe Sean op Theuniskraal terugkom. Hy gee sy perd aan ’n staljong en stap die huis binne. Sy lyf tintel van die son en hy voel die leegheid en melancholie van die na-liefde, maar dis ’n lekker gevoel soos die melancholie van ou herinneringe.
Garrick sit alleen in die eetkamer aan tafel. Sean stap in en Garrick kyk senuweeagtig op.
“Naand, Garry.” Sean glimlag en ’n oomblik lank is Garrick skoon uit die veld geslaan. Sean kom sit op die stoel langs hom en gee hom ’n houtjie op die arm.
“Het jy vir my ook ’n bietjie kos laat bly?” Sy haat is weg.
“O, daar’s baie.” Garrick beduie gretig. “Vat vir jou van die aartappels. Hulle smaak vorentoe.”
14
“Hulle sê die Goewerneur het jou pa laat haal terwyl hy in Pietermaritzburg was. Goed twee uur lank met hom alleen gepraat.” Stefanus Erasmus haal sy pyp uit sy mond en spoeg ’n blink straal op die spoorstawe onder hom. In sy tuisgemaakte bruin klere en sy velskoene lyk hy nie juis na ’n ryk beesboer nie. “Nou ja, ons het tog g’n profeet nodig ons vir om te vertel wat gaan gebeur nie, of hoe?”
“Nee, oom,” stem Sean ontwykend saam. Die trein is laat en Sean luister nie eintlik na wat hy sê nie. Daar is ’n aantekening in die veeregister wat hy moet verduidelik en hy berei sy toespraak in sy kop voor.
“Ja, ons weet goed genoeg waaroor dit alles gaan.” Ou Erasmus sit die pyp terug in sy mond en praat om die steel. “Dis nou al twee weke sedert die Britse Resident teruggeroep is van Cetshwayo se kraal by uMgungundlovu. Liewe Here! Vroeër dae sou ons die kommando al lankal uitgeroep het.” Hy stop sy pyp, druk met ’n eelterige wysvinger die gloeiende tabak vas. Sean let op dat die vinger krom getrek en vol littekens is deur die snellerbeuels van honderde swaar geweers.
“Jy was nog nooit op kommando nie of hoe, jong?”
“Nee, oom!”
“Dan’s dit tyd dat jy op kommando gaan, bleddie hoog tyd, jong.”
Teen die berg fluit die trein en Sean skrik skuldig.
“Daar kom hulle.” Erasmus staan op van die bankie waarop hulle gesit het en die stasiemeester kom uit sy kantoortjie met ’n opgerolde vlag in die hand. Sean voel hoe sy maag stadig in sy binneste wegsak, totdat dit êrens bokant sy knieë tot rus kom.
Die trein kom die stasie binne, blaas-blaas verby terwyl die remme knars en kerm. Die enkele passasierswa kom presies regoor die houtperron tot stilstand.