Wilbur Smith

Witwatersrand


Скачать книгу

is oor vuurwapens soos ’n duif wat terug hok toe vlieg of ’n stukkie yster wat na ’n magneet aangetrek word. Gou staan hy voor die rak skietgoed teen die oorkantse muur. Hy tel een van die Lee-Metfords van die rak af, maak die slotte oop en toe en streel met sy vingerpunte oor die hout van die kolf. Hy weeg dit in sy hande om die balans daarvan te voel en uiteindelik bring hy dit na sy skouer.

      “Dag, Sean.” Sy ritueel word onderbreek en Sean soek die skamerige stemmetjie wat met hom praat.

      “Nou toe nou, dis Strawberry Pie,” sê hy glimlaggend. “En hoe gaan dit in die skool?”

      “Ek is al uit die skool uit. Verlede kwartaal was my laaste.”

      Audrey Pye lyk net soos die ander lede van haar familie, maar daar is tog ’n verskil. In plaas van die wortelrooi hare van die ander, is hare soos aangeslane koper met flonkeringe daarin. Sy is nie juis ’n mooi meisie nie, daarvoor is haar gesig te breed en te plat, maar sy het ’n vel wat ’n mens selde by rooihaarmense kry, ’n roomkleurige, onbesproete suiwerheid.

      “Is daar iets wat jy wil koop, Sean?”

      Sean sit die geweer terug op die rak

      “Ag, ek kyk net so ’n bietjie,” sê hy. “Werk jy nou in die winkel?”

      “Ja.” Sy laat haar kop sak onder Sean se ondersoekende blik. Hy het haar ’n jaar laas gesien. Baie dinge kan in ’n jaar verander. En aan haar bloesie is dit duidelik dat sy nie meer ’n kind is nie.

      Sy kyk op en sien die bewondering in Sean se blik. Die room van haar vel word rooi. Vinnig draai sy om na die plat kissies vrugte agter haar. “Wil jy ’n perske hê?”

      “Dankie,” sê Sean en vat een.

      “Hoe gaan dit met Anna?” vra Audrey.

      “Hoekom vra jy my?” Sean frons.

      “Jy’s mos haar kêrel, nie waar nie?”

      “Wie het so gesê?” Sean se frons word ’n suur uitdrukking.

      “Maar almal weet dit.”

      “Dan is almal verkeerd.” Sean is vies dat hy beskou word as een van Anna se besittings. “Ek’s niemand se kêrel nie.”

      “O.” Audrey bly ’n oomblik stil en dan: “Ek wonder, Anna sal seker vanaand by die partytjie wees?”

      “Heel waarskynlik.” Sean vee die goue donsies van die perske af en hap daaraan. Hy bestudeer Audrey. “Gaan jy ook, Strawberry Pie?”

      “Nee.” Daar is ’n teleurgestelde klank in haar stem. “Pa wil nie hê nie.”

      Hoe oud is sy? Sean maak vinnig somme in sy kop … drie jaar jonger as hy. Dit beteken sy is nou sestien. Skielik is Sean jammer dat sy nie by die dans sal wees nie.

      “Dis darem jammer,” sê hy. “Ons kan dalk lekker pret gemaak het.”

      Sy gebruik van die woord “ons” bring haar weer heeltemal van stryk en sy sê die eerste gedagte wat in haar kop kom. “Hou jy van die perske?”

      “Mm.”

      “Dit kom uit ons boord.”

      “Ek dog ek herken die geur.” Sean grinnik en Audrey lag. Sy het ’n breë, vriendelike mond wanneer sy lag. “Ek het geweet jy het hulle gesteel. Pa het ook geweet dit was jy. Hy het altyd gesê hy gaan vir jou ’n strik in daardie gat in die heining stel.”

      “Ek het nie gedink hy sou daardie gat kry nie, ons het dit altyd weer toegemaak.”

      “Ons het die hele tyd geweet van die gat,” verseker Audrey. “Dit is nog steeds daar. Party nagte wanneer ek nie kan slaap nie, klim ek deur my venster en stap ek deur die boord en deur die gat die wattelbos in. Dit is so donker en stil snags in die bos – dis spookagtig, maar ek hou daarvan.”

      “Weet jy wat?” Sean praat nadenkend. “As jy dalk vannag weer nie kan slaap nie en omstreeks tienuur afkom na die heining, sal jy my dalk weer daar kry perskes steel.”

      Dit duur ’n paar sekondes voor Audrey besef wat hy gesê het. Dan stoot die blos weer in haar nek op en oor haar wange. Sy probeer iets sê, maar vind nie die woorde nie. Sy swaai met ’n gewarrel van rok om en verdwyn tussen die rakke.

      Sean byt die laaste stukkie vleis van die perskepit af en laat dit op die vloer val. Hy glimlag terwyl hy na die ander toe stap.

      “Verduiwels, Karl, hoe lank gaan jy nog sukkel?”

      17

      Omtrent vyftig waens staan uitgespan op die buiterand van die plein. Die plein self is oop en daar brand die vure in die koolgate. Twee rye boktafels staan naby die vure en hierop werk die vroue met die vleis en die boerewors, sny en smeer brood, stal rye gebottelde kos uit en stapel die eetgoed op skinkborde. Hulle vrolik die aand op met hul stemme en gelag.

      Op ’n gelyk plek lê ’n yslike seil uitgesprei, gereed vir die dans. Op elke hoek hang ’n lantern aan ’n paal. Die orkes is reeds besig om te stem. Die viole krys-krys en die enkele konsertina laat ’n aanvanklik asmatiese gehyg hoor.

      Die mans staan in groepies tussen die waens of sit gehurk by die koolgate. Hier en daar wys ’n beker se boom ’n paar oomblikke lank opwaarts.

      “Ek wil nie moeilik wees nie, Waite.” Petersen kom oor na waar Waite en sy kapteins staan. “Maar ek sien jy het Dennis in Gunther se troep geplaas.”

      “Dis reg.” Waite bied hom die beker aan en Petersen neem dit terwyl hy die nek met sy hempsmou afvee.

      “Dis nie omdat ek nie van jou hou nie, Gunther.” Petersen glimlag vir Gunther Niewenhuizen. “Maar ek sal baie gelukkiger wees as ek Dennis in my troep kan hê. ’n Ogie oor hom kan hou?”

      Almal kyk na Waite om te hoor wat hy gaan sê. “Geeneen van die seuns ry met hul pa’s saam nie. Ons het dit doelbewus so gereël. Jammer, Dave.”

      “Maar hoekom?”

      Waite Courtney kyk weg, oor die waens na die vurigrooi sonsondergang bokant die berg. “Dis nie sommer ’n kleinbokskietery hierdie nie, Dave. Jy sal vind dat jy beslissings moet neem wat vir jou makliker sal kom as jou seun nie daarin gemoeid is nie.”

      Die omstanders brom instemmend.

      Stef Erasmus haal sy pyp uit sy mond en spoeg ’n straaltjie in die vuur. “Daar is dinge wat nie mooi is vir ’n man om te sien nie,” sê hy. “Dis dinge wat te kwaai is vir hom om te vergeet. Hy moenie sien hoe sy seun sy eerste man doodskiet nie. En hy moet ook nie sy seun sien val nie.”

      Hulle is nou stil. Hulle weet dis waar. Hulle het nog nie voorheen daaroor gepraat nie, want te veel pratery maak ’n man se hart week. Hulle ken die dood en hulle weet waarvan Stef praat. Een vir een draai die koppe totdat almal oor die plein kyk na waar die klompie jongkêrels anderkant die vure saamdrom. Dennis Petersen sê iets en sy maats lag. Maar die mans kan nie hoor wat dit is nie.

      “Om te kan lewe, moet ’n man af en toe iemand anders doodmaak,” sê Waite. “Maar wanneer hy te jonk iemand doodmaak, verloor hy iets … respek vir die lewe, hy maak dit goedkoop. Dis net so met vroumense. ’n Man moenie met ’n vrou intiem verkeer voor hy die betekenis daaraan verstaan nie. Anders word dit ook goedkoop.”

      “Ek het my eerste vrou gehad toe ek vyftien was,” sê Tim Hope-Brown. “Ek kan nie sê dit het hulle juis goedkoper gemaak nie. Om die waarheid te sê, ek het agtergekom dat hulle maar verdomp duur is.”

      Waite se diep dreunlag klink bokant die ander uit.

      “Ek weet jou oukêrel betaal jou ’n pond per week, maar wat van ons ouens, Sean?” maak Dennis beswaar. “Ons is nie almal miljoenêrs nie.”

      “Nou goed dan. Vyf sjielings in die pot. Die wenner vat alles.”

      “Vyf sjielings is billik,” sê Karl, “maar kom ons kry eers gou die reëls duidelik sodat daar