se regter, sy stukkende regter, die hand wat hy tog nie kan gebruik nie. Maar Sean gebruik die vuis wel; hy plant dit met al sy krag in Waite se gesig.
Waite sien ’n warboel kleure voor hom en dan word alles swart. Hy swaai half-om, slaan neer en kom met sy skouer op die luiperdvelmat te lande. Met mat en al skuif hy oor die vloer tot in die kaggel. In die donkerte voel Waite Sean se hande op hom en hoor hy sy stem.
“Pa! O, my Here! Pa, lewe Pa nog?”
Dit word effens ligter voor Waite en hy sien Sean se gesig vaagweg. Die woede is weg, maar in die plek daarvan groot kommer wat aan paniek grens.
“Pa, asseblief, Pa!”
Waite probeer regop kom, maar hy kan nie. Sean moet hom help. Hy kniel langs Waite en hou hom vas terwyl hy lomp met sy gesig werskaf, probeer om die hare uit sy oë te vee en die deurmekaar baard reg te strook.
“Ag, ek’s jammer, Pa! Regtig, ek’s jammer. Laat ek Pa na die stoel toe help.”
Dan sit Waite in die stoel en vryf die kant van sy kaak. Sean hang bekommerd oor hom. Hy het skoon vergeet van sy eie hand.
“Wat het jy probeer doen – my doodmaak?” vra Waite bedruk.
“Ek het dit nie bedoel nie. Ek het net my humeur verloor.”
“Ek weet,” sê Waite. “Dit het ek so pas agtergekom.”
“Pa, omtrent Garry. Pa het mos nie nodig om met hom te praat nie, nè?”
Waite laat sak sy hand van sy gesig en kyk ernstig na Sean.
“Ek sal ’n ooreenkoms met jou sluit,” sê hy. “Ek sal nie met Garry praat nie, mits jy my twee dinge beloof. Die eerste is: Moet nooit weer vir my lieg nie.”
Sean knik vinnig.
“Twee: As enigiemand ooit weer met ’n sweep na jou slaan, beloof my jy sal hom dieselfde gee as wat jy nou vir my gegee het.”
Sean begin glimlag en Waite gaan norserig voort. “Laat ons nou kyk na jou hand.”
Sean hou die hand uit en Waite ondersoek dit. Hy roer die een vinger na die ander. Sean krimp ineen.
“Seer?” vra Waite. Hy het my hiermee geslaan! dink hy. Liewe hemel, ek het darem vir myself ’n woeste entjie mens grootgemaak.
“So effens,” antwoord Sean. Hy is weer bleek.
“Die hand is ’n hele gemors,” sê Waite. “Jy moet liewer maar dadelik dorp toe sodat dokter Van Rooyen dit kan probeer regmaak.”
Sean staan deur se kant toe.
“Wag ’n bietjie!” Sean gaan staan en Waite kom moeisaam uit die stoel op. “Ek gaan saam met jou.”
“Ek sal regkom, Pa. Bly Pa liewer hier en rus.”
Waite steur hom nie daaraan nie en stap deur toe.
“Regtig, Pa, ek sal alleen regkom.”
“Ek kom saam met jou,” sê Waite hard. Dan voeg hy saggies, amper onhoorbaar by: “Ek wil saamgaan, dêmmit!”
Hy tel sy arm op asof hy dit om Sean se skouers wil sit, maar voor dit hom raak, laat hy dit weer langs sy sy val. Saam stap hulle uit in die gang.
15
Met twee gespalkte vingers sukkel Sean hard om sy mes met middagete die volgende dag te hanteer. Sy eetlus makeer egter niks. Soos dit hoort, neem hy nie deel aan die gesprek nie, behalwe wanneer ’n vraag regstreeks aan hom gestel word. Hy luister met aandag terwyl sy kakebene op en af werk en sy oë van die een spreker na die ander dwaal. Hy en Garry sit eenkant van die tafel, met die ander gaste in orde van senioriteit om Waite gegroepeer.
Stefaans Erasmus sit aan Waite se regterkant omdat hy die oudste en die rykste is. Oorkant hom sit Tim Hope-Brown, net so ryk maar tien jaar jonger, onderkant hom Gunther Niewenhuizen, Sam Tinge en Simon Rousseau. ’n Mens sou kon sê dat Waite Courtney omtrent ’n vyftig duisend morg grond en ’n half miljoen sterling daar by hom om die tafel het. Dis ses bruin mans: bruin klere, bruin skoene en groot bruin vereelte hande. Hulle gesigte is bruin en verweerd en noudat die maaltyd end se kant toe staan, is hul gebruiklike terughoudendheid weg; hulle is geneig om almal tegelyk te praat en kwaai te sweet. Dit is nie net die skuld van die dosyn bottels goeie Kaapse moselwyn wat Waite voorgesit het of die stapels kos wat hulle weggeslaan het nie, daar is nog iets. Daar is ’n soort afwagting onder hulle, ’n gretigheid wat hulle moeilik in bedwang hou.
“Kan ek maar die bediendes roep om te kom afdek, Waite?” vra Ada van die onderpunt van die tafel af.
“Ja, dankie, my liefste. Ons sal die koffie hier drink.”
Hy staan op, haal ’n boks sigare uit die buffet en hou dit om die beurt vir elkeen van sy gaste. Toe die sigare gesny en die punte aan die gloei is, en elkeen terugleun in sy stoel met sy opnuutgevulde glas en koppie koffie voor hom, glip Ada uit die vertrek. Waite maak keel skoon om stilte te verkry.
“Here.” Hulle hou hom ernstig dop. “Verlede Dinsdag het ek twee uur by die Goewerneur deurgebring. Ons het die onlangse ontwikkelings anderkant die Tugela bespreek.”
Waite tel sy glas op en drink ’n mondjie vol wyn. Dan hou hy die glas aan sy steel tussen die vingers en rol dit heen en weer terwyl hy voortgaan.
“Twee weke gelde is die Britse Resident by die Zoeloekoning se kraal teruggeroep. ‘Teruggeroep’ is moontlik nie die regte woord nie; die koning het aangebied om hom met heuning te smeer en oor ’n miershoop vas te maak, ’n aanbod wat Haar Britse Majesteit se Resident met dank van die hand gewys het. Kort daarna het hy sy goed ingepak en die grens oorgesteek.”
’n Gelag roffel ’n oomblik om die tafel.
“Sedertdien het Cetshwayo al sy vee wat naby die Tugela geloop het, bymekaargemaak en hulle noordwaarts weggevoer. Hy het ’n buffeljag afgekondig waarvoor hy besluit het om al sy impies te gebruik – twintig duisend soldate. Hierdie jag sal langs die Tugela gehou word, waar die laaste buffel tien jaar gelede gesien is.” Waite drink weer ’n mondjie vol wyn terwyl hy hulle gesigte dophou. “En hy het beveel dat alle gewonde wild oor die grens gevolg moet word.”
Hulle sug en mompel onder mekaar. Almal weet dat dit die tradisionele oorlogsverklaring van die Zoeloes is.
“Nou ja, wat gaan ons daaraan doen? Moet ons hier bly sit en wag totdat hulle oor die rivier kom en ons aan die brand kom steek?” Erasmus leun vooroor en kyk na Waite.
“Sir Bartle Frere het Cetshwayo se indoenas verlede week ontmoet. Hy het ’n ultimatum aan hulle gerig. Hulle het tot 11 Januarie kans om hul impies te ontbind en die Koningin se Resident in sy posisie in Zoeloeland te herstel. As Cetshwayo die ultimatum verwerp, sal lord Chelmsford ’n strafekspedisie teen hom aanvoer wat uit gereelde soldate en burgers sal bestaan. Die mag word op die oomblik in Pietermaritzburg op die been gebring en vertrek binne die volgende tien dae. Hy moet die Tugela by Rorkesdrif oorsteek en die impies daar bydam voor hulle deurkom. Die gedagte is om nou ’n einde te maak aan hierdie voortdurende bedreiging van ons grense en die Zoeloes as ’n militêre mag te breek.”
“Dis omtrent bleddie tyd,” sê Erasmus.
“Die Goewerneur het my volle mag as kolonel gegee en my opdrag is om ’n kommando uit Ladyburg se distrik op die been te kry. Ek het beloof dat ons minstens veertig man sal kan stuur, ten volle gewapen, bereid en voorsien van provisie, wat gereed sal wees om hulle by die Tugela by Chelmsford aan te sluit. Tensy een van julle beswaar maak, stel ek julle, menere, as my kapteins aan. Ek weet dat ek op julle kan staatmaak om my te help om my belofte aan Sy Eksellensie gestand te doen.” Skielik los Waite sy hoogdrawende houding en glimlag vir hulle. “Julle moet self jul betaling gaan haal. Dit sal, soos gewoonlik, weer beeste wees.”
“Hoe ver noordwaarts het Cetshwayo sy troppe gestuur?” vra Tim Hope-Brown.
“Ek wed dis nie ver genoeg nie,” kekkel Erasmus.
“ ’n