gaan hulle ongemaklik, hoes-hoes sit en skuifel die voete.
“Nou ja,” sê Waite, “laat ons nou by die besonderhede kom. Stef, jy sal kom, nè, en jou twee oudste seuns?”
“Ja, ons drie en my broer en sy seun. Skryf daar: Erasmus, vyf.”
“Goed. En jy, Gunther?”
Hulle begin hul planne voorberei. Manskappe, perde en waens word op papier ingespan; elke kaptein kry ’n presiese reeks take. Daar word vrae gevra en beantwoord, geredeneer, en voor die gaste Theuniskraal verlaat, is baie ure verby. Hulle ry op ’n bondel weg, hul perde trippel-trippel en hulle sit slap en met die bene lankuit in die saal. Waite en sy twee seuns staan op die voorstoep en kyk hoe hulle teen die verste helling op die pad na Ladyburg uitry.
“Pa …” Garry probeer sy pa se aandag trek.
“Ja, ou seun?” Waite hou sy oë op die groepie ruiters. Stef Erasmus draai hom in sy saal om en waai met sy hoed. Waite waai terug.
“Hoekom moet ons teen hulle veg, Pa? As die regering net iemand na hulle stuur om met hulle te praat, sal ons mos nie hoef te veg nie.”
Waite kyk na hom. Hy frons effens.
“Alles wat die moeite werd is om te hê, is ook die moeite werd om voor te veg, Garry. Cetshwayo het twintig duisend krygsmanne op die been gebring om dit alles van ons af te vat …” Waite maak ’n wye gebaar met sy arm wat die hele Theuniskraal insluit. “Ek dink dit is die moeite werd om voor te veg. Of wat sê jy, Sean?”
“Alte seker,” Sean knik gretig.
“Maar kan ’n mens nie net ’n verdrag met hulle sluit nie?” hou Garrick vol.
“Nog ’n kruisie op ’n stuk papier.” Waite praat met ’n skerp minagting. “Hulle het so ’n stuk papier by Piet Retief se lyk gekry – dit het hom baie gehelp!”
Waite stap terug in die huis en sy seuns kom agterna.
Hy gaan sit in sy leunstoel, strek sy bene voor hom uit en glimlag vir Ada. “Dit was sommer ’n agtermekaar ete, skat.” Hy vou sy hande oor sy maag saam en ’n wind glip uit. Hy maak dadelik verskoning. “Ag, ekskuus tog, dit was ’n ongeluk.”
Ada buig weg oor haar naaldwerk om haar glimlag weg te steek.
“Ons het baie werk om die volgende paar dae te doen.” Waite se aandag is weer by sy seuns. “Ons sal elkeen ’n muilwa en ’n paar perde vat. Wat die ammunisie betref …”
“Maar Pa, kan ons nie net …” Garry begin weer.
“Bly stil,” sê Waite en Garry sak ellendig in sy stoel weg.
“Ek het gewonder,” kondig Sean aan.
“Tog nie jy ook nie,” brom Waite. “Vervlaks, hier het jy ’n kans om jou eie beeste te win …”
“Dis net wat ek gedink het,” val Sean hom in die rede. “Almal sal nou so baie beeste hê dat hulle nie sal weet wat om daarmee aan te vang nie. Die pryse sal tot wie weet waar sak.”
“Die pryse sal in die begin sak,” stem Waite saam. “Maar binne ’n jaar of wat sal dit weer styg.”
“Moet ons nie liewer nou verkoop nie? Verkoop alles nou, behalwe die bulle en die teelkoeie. Ná die oorlog sal ons dan teen die helfte van die prys kan terugkoop.”
’n Oomblik sit Waite oorbluf en dan verander sy uitdrukking stadig.
“My wêreld, ek het nog nie daaraan gedink nie.”
“En, Pa.” Sean wring sy hande van entoesiasme. “Ons sal nog grond nodig hê. Wanneer ons die troppe terugbring oor die Tugela, sal daar nie genoeg weiveld wees nie. Mnr. Pye het die verbande op Mount Sinai en Mahobaskloof opgesê en op die oomblik gebruik hy nie die grond nie. Kan ons dit nie nou huur nie, nou voor almal begin weiveld soek nie?”
“Ons het al klaar baie gehad om te doen voor jy begin dink het,” sê Waite saggies. “Maar nou moet ons regtig begin werk.”
Hy grawe in sy sakke, kry sy pyp en terwyl hy dit stop, kyk hy na Sean. Hy probeer om sy gesig neutraal te hou, maar hy kan sy trots nie wegsteek nie.
“As jy so aanhou dink, sal jy eendag ’n ryk mens wees.”
Waite het nie geweet hoe waar hierdie voorspelling sou wees nie. Maar die dag was nog ver dat Sean die koopsom van ’n plaas soos Theuniskraal oor die dobbeltafel sou kon gooi, en oor die verlies daarvan sou kon lag.
16
Nuwejaarsdag trek die kommando uit. Oujaarsaand word daar dubbel feesgevier; dis welkom aan 1879 en voorspoed aan die Ladyburg Mounted Rifles. Die hele kontrei kom die aand dorp toe vir die vleisbraaiery en dansery op die plein. Onthaal die krygsmanne, lag, dans en sing, en laat hulle dan aantree en wegmarsjeer oorlog toe.
Sean en Garry ry vroeg dorp toe. Ada en Waite kom later die middag. Dit is een van daardie helder dae van die Natalse somer: Geen wind en geen wolke nie, die soort dag wanneer die stof van ’n wa lank en swaar in die lug bly hang. Hulle steek die Bobbejaanspruit oor en van die anderkantse bult af kyk hulle oor die dorp en sien hoe die stof opslaan op al die paaie wat dorp toe lei.
“Kyk net hoe kom hulle,” sê Sean. Hy trek sy oë op skrefies teen die son en kyk in die rigting van die noordpad. “Dis seker Erasmus se wa daardie. Karl sal by hulle wees.”
Die waens lyk soos krale in ’n string.
“Dit lyk vir my soos die Petersens of die Niewenhuizens,” sê Garry.
“Komaan,” skree Sean en hy klap met die los teuel teen die perd se nek. Hulle galop die pad af. Die perde is blinkvet diere met kortgeknipte maanhare soos Engelse jagperde.
Hulle ry by ’n wa verby. Voor op die kis sit twee meises by hulle ma. Dis die Petersens se sussies. Dennis Petersen en sy pa ry voor die wa.
“Joe-oe!” skree Sean terwyl hy by die wa verbyskiet. Die meisies lag en skree iets wat in die wind verwaai.
“Komaan, Dennis!” skree Sean terwyl hy by die twee sedig draffende voorryers verbyskiet. Dennis se perd steier eers, maar spring dan weg agter Sean aan. Garrick kom heel agter aan.
Plat op hul perde se nekke en pomp-pomp aan die teuels kom hulle by die kruispad aangejaag. Die Erasmusse se wa kom teen die bult af gedreun.
“Karl!” roep Sean en hou sy perd so effens in sodat hy in die stiebeuels regop kan staan. “Karl, komaan, kêrel, kom ons gaan vang vir Cetshwayo!”
Op ’n bondel ry hulle Ladyburg binne. Hulle is almal rooi in die gesig van opgewondenheid en hulle ry lag-lag in die straat af. Die vooruitsigte van die dans en die gevegte wat volg maak hulle opgeruimd.
Die dorp is stampvol, die strate woel van waens en perde en mans en vroue en meisies en honde en bediendes.
“Ek moet by Pye se winkel langs gaan,” sê Karl. “Kom saam met my, dit sal nie lank wees nie.”
Hulle maak hul perde vas en stap saam met Karl die winkel binne. Sean, Dennis en Karl stap lawaaierig en praat hard met mekaar. Hulle is mans, groot, songebrande mans, gespierd van die harde werk, maar nog bra onseker oor die feit dat hulle mans is. Daarom loop hul windmakerig, lag ’n bietjie harder as wat nodig is en vloek wanneer Pa nie luister nie, en niemand sal weet van enige twyfel nie.
“Wat wil jy koop, Karl?”
“Stewels.”
“Maar dit sal die hele dag duur! Jy moet mos eers die stewels aanpas. Ons sal die helfte van die jolyt misloop.”
“Ag, daar sal die volgende paar uur nog niks gebeur nie. Wag vir my, julle ouens,” smeek Karl.
Karl wat op die toonbank sit en stewels aan sy paar groot voete aanpas, is nou nie juis iets wat Sean se aandag lank kan besig hou nie. Hy dwaal ná ’n rukkie weg tussen die stapels handelsware wat die hele wêreld in Pye se winkel vol