Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 9


Скачать книгу

nie, oom. Die duiwel het die beste stookketel van almal,” kan Jonathan die versoeking nie weerstaan nie. Die man sal hom tog nie glo dat ’n hotel ook en veral daar is vir eet en slaap nie.

      Dit was skynbaar ’n rondte in sy guns. Koos “hegge-heg” en bekyk die vreemde kêrel toe met meer aandag. “Ka’ wees,” besluit hy. “Dat hy soos Janmaans lyk. Maar dié was nie so ’n blinkstefaans nie. En hy was bietjie groter van lyf en growwer van aangesig.”

      “Ons kan tog gerus vanaand foto’s soek …” begin sy vrou, maar word onderbreek deur ’n klop aan die voordeur.

      “Kan jy glo … soveel mense op een dag,” besluit sy trots en eendjieloop weg van die mans af.

      “Nou toe?” sê Koos Coetzee toe hulle alleen is.

      “Oom?” Of moet hy dalk “meneer” sê? Hy weet nie waar hy met hierdie man staan nie.

      “Wie’s jy nou eintlik? Jy kan vir Malie vet om die oë smeer, maar nie vir my nie. Ek meen, dat daar ’n sterk trek van Janmaans is …”

      “So baie mense op die wêreld, oom,” mompel Jonathan. “Jy kry tipes gesigte, soos oom wat nes daardie filmster lyk.”

      Maar ’n verdere verduideliking word hom gespaar deur die binnekoms van wyle Janmaans Bergman se niggie.

      “Gileam,” sê sy met ’n mate van ontsag, asof die besoeker iemand watwonders is. “Vir die meneer. Hy wil die meneer sien.”

      “Vir my?” vra Jonathan oorbluf. Die naam Gileam wil ’n klokkie lui, tot hy onthou dat Katrien Tosen hom genoem het. Haar vriend met die motorhawe. So, dan het sy reeds begin rondvertel, seker met smaak en geur, hoe hy hier aangekom het en skynbaar nie eers ’n motor se enjinkap kan oopmaak nie. Dalk het sy ook vertel hoe sy hom die pad gewys het. Wil haar kastige vriend hom met die motor kom help, of wil hy kompetisie bepaal en uitskakel?

      Gileam blyk ’n fors, net duskant gesette, ook net duskant middeljarige, man te wees. Hy is buitengewoon sonbruin en steil hare neig oor sy voorkop. Daar is ’n effense stotter in sy stem wanneer hy praat. Maar met sy selfvertroue skort daar niks; ’n suksesvolle kleindorpse sakeman.

      “Daar is twee dinge waaroor ek kom praat het, meneer … e …” sê hy in die redelik wanordelike sitkamer waar Malie Coetzee hulle alleen gelos het, met ontsag in haar bewegings.

      Dus twyfel hy aan my naam, of Katrien het dit nie vir hom genoem nie, besef Jonathan met verligting. Dalk het sy die hele Gulliver-storie uitgelos, waaroor hy bly sal wees. Agterna gesien was hy werklik ’n bietjie bombasties.

      “Berg van Nothnagels,” mompel Jonathan ’n bykans onhoorbare bekendstelling. “Praat maar.” Hy weet self nie meer of hy “Berg van Nothnagels” is, of Bergman nie.

      “Dormehl. Gieljam Dormehl.” In die vervorming van sy eie naam plaas hy opsetlike argeloosheid. Nie minderwaardigheid nie, daarvoor is hy te seker van homself. Dis eerder asof hy wil sê: Ek kan dit bekostig om ’n bietjie eie eer in te boet, anders is ek te groot.

      “Laat ek hoor,” sê Jonathan.

      Die besoeker neem plaas op die randjie van die rusbank, nadat hy eers ’n hopie gestrykte wasgoed eenkant toe moes stoot. Hy sit breed en gemaklik, vooroor geleun, elmboë geboog en vuiste op die kniekoppe geplant. By die V van sy hals peul growwe vag soos klapperhaar uit, waarin Jonathan met ’n soort leedvermaak ’n paar grys spikkels vermoed.

      “Twee dinge,” herhaal die besoeker asof hy die begripsvermoë van sy luisteraar nou nie juis waffers ag nie. “Die eerste is die uitleg van die nuwe dorpsdeel, en hoe jy dit moet aanpak. Die tweede is Katrien Tosen.”

      3

      Jonathan word hom daarvan bewus dat die wind weer aanswel. Woed dit dan nooit vandag uit nie? wonder hy met benouenis. Dan wind, dan reën. Hy het die eienaardige gevoel dat hy reeds eeue hier op Isaacsdam is. In werklikheid is dit nog nie eers twee ure nie.

      Isaacsdam Kontantwinkel en Katrien Tosen voel ver, vreemd. Dat hierdie man oor haar met hom wil praat, onder andere, ontstel hom in geen geringe mate nie. Het sy allerlei onwaarhede verkondig? Of het sy die waarheid met sout en peper en kruie bewerk, sodat dit onaanvaarbaar geword het vir hierdie Gileam Dormehl? Hoedanig is hulle vriendskap? Of is hy ’n soort beskermheer? Dalk aandele in die winkel? Ongekroonde koning hier op Isaacsdam? Trotse nasaat van ’n heersersfamilie, ’n dinastie? Dit kry jy mos dikwels op die kleiner plekke. Hoekom was Malie Coetzee so beïndruk? Vanuit die kombuis kom daar koppieklanke. Hy besef skielik dat hy honger is; sal daar darem ’n stukkie beskuit op die skinkbord wees? En sal dit sindelik genoeg wees om te eet?

      Hy berei hom voor om te begin praat oor die koeitjies en kalfies wat hier aan die orde van die dag is. “Die wind …” begin hy. Maar hierdie keer het hy hom misgis. Dormehl is nie van plan om klein geselsies te maak nie. In sy donker, hartstogtelike oë broei ’n vreemde gloed. Jonathan kan nie anders as om onder die indruk van sy dwingende persoonlikheid te kom nie.

      Een van Jeannie se soort, besluit hy berekenend. Net minder gekultiveerd. Maar Jeannie sou ten minste nie van hom ontslae probeer raak nie. Hulle sou mekaar se taal verstaan op die terrein van geld, sukses en dryfkrag, al beteken dit dat jy oor die lyke van teenstanders moet loop.

      Dat Jonathan reg is in sy oordeel, blyk uit die man se volgende woorde: “Ek weet wat ek wil hê, meneer … wat het jy nou weer gesê is jou naam?”

      Jonathan mompel iets soos “Berg”, en vervolg harder: “My naam is nie relevant nie, die firma ken my en hulle het my gestuur.”

      “Wat ook al. Wat my betref, ek weet wat ek wil hê, Berg of Wie-ook-al.”

      Die familiariteit steek vir Jonathan dwars in die krop. Maar hy weet nie hoe om die man op sy plek te sit nie. Daar het vir hom ’n verskuiwing van sy gewone vastigheid plaasgevind en hy trap rond en bont om sy balans te herwin. As hy besef het hy lyk na sy pa, het hy nooit hier … het Katrien alles uitgelap, en speel Dormehl toneel?

      “Die twee dinge wat ek wil hê, is die volgende,” sê Dormehl. “Een van my plase lê teenaan die nuwe uitbreiding. Ek gaan die deel aankoop wat van my plaas se grens af tot by die rivier loop. Die terrein sal heet Dormehldorp. Ek het allerhande planne daar. ’n Uitgebreide sakekompleks, later hotel en rivieroord en al dié dinge.”

      Jonathan luister sonder om ’n woord te sê. Eerstens weet hy nie wat om te sê nie, tweedens vermoed hy dat hy gestoomroller sal word.

      Dormehl moet dit as instemming vertolk, want hy stu voort: “Wat die nuwe supermark betref, ek en Katrien Tosen sal saam in die ding wees. Dit bring my by saak nommer twee: Katrien. Jy was vanmiddag daar by haar in die winkel en jy het haar ontstel.”

      “Ontstel?” vra Jonathan. Volgens hom is hý die een wat ontstel is. “Omdat ek haar foon wou gebruik, en vir haar pad gevra het?”

      “Sy was ontsteld. Ek ken vir Katrien. Ons is … wel, ek kan jou maar inlig, ons is meer as vriende. Sy het eers gegrap; my vertel van die vreemdeling, en dat jy gevra het wat doen sy vanaand, en sy is in ’n groef en jy wil haar daaruit help. Maar dis nie al nie. Ek weet dis nie al nie. Jy het iets anders gesê of gedoen om ou wonde oop te krap.”

      “Maar …” Jonathan onthou nie eers wat hy alles gesê het nie. So naïef onskuldig kan die meisie tog nie wees nie. “Ons het ’n bietjie gesels,” verklaar hy hulpeloos. Maar het hy nie dieselfde indruk gekry, dat hy iets gedoen of gesê het om haar te ontstel nie?

      “Met Katrien gesels ’n man nie sommer net nie,” sê Dormehl. Hy wys met ’n dik bruin vinger in beskuldiging na Jonathan wat hom bloedig vererg. Hy hou hom nietemin in toom, een van die lesse in die Nothnagel-wêreld. Vingerwys is van die swakste maniere wat jy kan kry. Barbaar!

      “Toe ek netnou vir Katrien gesien het, was sy hewig ontsteld. Ek weet nie presies wat jy gedoen of gesê het nie, maar …”

      “Niks. Net mooi niks,” antwoord Jonathan bars.

      “Ek weet wat ek weet. Sy is vanaand