Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 9


Скачать книгу

se goeie boekies kan kom. Hy hou werklik van die man. En van Malie ook. Hulle sal nooit huisvriende van hom en Jeannie kan word nie, maar hulle boei hom. Hy sal hulle altyd verbind met hierdie vreemde middag, en met Katrien Tosen in die winkel. Die vreemdste, egter, is dat hy intens geïnteresseerd geraak het in die kwessie van ’n stookketel. Hy wonder of die sement dan nou juis anders aangemaak word as vir gewone messelwerk?

      Terwyl Malie opwas, nadat sy Jonathan se aanbod om te help summier van die hand gewys het, glip hy uit met die verskoning dat hy die dorp ’n bietjie wil bekyk. Koos is lekker aan ’t rook en hou hom verder besig met ’n twee dae oue koerant.

      Die dorp is nie groot nie, en hy gaan te voet. Die vreemderige laatsomer-kouetjie is verby, maar die wind is nie uitgewoed nie. Met ’n slenter het hy uitgevind dat Tosen se huis vas aan die winkel is. As Malie Coetzee geweet het dat hy meer wil weet, sou sy sekerlik bereid gewees het om te vertel. Maar haar inligting was suinig, wat vir Jonathan oortuig dat hy ’n goeie toneelspeler is. Hy het beslis nie oorgretig gelyk nie.

      Hy stoot sy vingers deur sy verwaaide hare. Jeannie hou daarvan om, tergend, sommer twee vuistevol van sy hare te gryp. Soms net voor ’n vergadering, sodat hy eers skade moet regstel. “Hy kan aan sy pragtige dik hare op die grond vasgemaak word,” het Katrien Tosen gesê.

      Tog snaaks hoe bitterlik gou ’n mens jou by omstandighede kan aanpas. Vanmiddag nog, met sy aankoms hier, was hy vies oor die sending en sou hy enigiets doen om die Isaacsdammers te laat verstaan dat hy nie hulle gelyke is, of hulle syne nie. Maar op hierdie oomblik het hy net een voorneme, en dis om incognito aan die werk te spring en so gou moontlik weer ongemerk hier weg te kom.

      Ek het ’n fout gemaak, dink hy vir die soveelste maal. Hoe feilbaar is ’n mens tog. Jy gaan deur die lewe, skep selfs vir jou ’n nuwe lewe na jou sin en begeerte, gly foutloos soos ’n outomaat deur ’n wêreld wat vir jou vroeër ondeurdringbaar was. Dan, plotseling, soos tydens een stormagtige middag op die dorpie Isaacsdam, maak jy een fout, een klippie in die water, en jy voorsien beangs die gevolge wat kan uitkring. Miskien is jy gelukkig en kom daar absoluut niks van nie. Maar miskien is jy ongelukkig en …

      Ongemerk loop Jonathan vinniger onder die suf gewaaide en gereënde dorpsbome deur. Die straatligte se dowwe glans swaai saam met die wind om ’n mosaïek van lig en skaduwee te vorm, wisselende blaarpatrone.

      Die dorpsbewoners het vroeg in hulle huise teruggetrek en die strate is so te sê verlate. Die wat wel buite is, drentel nie sommer net nie, maar is haastig op koers na wie weet waar; dalk ’n vergete inkopie of ’n boodskap na bure toe, koestend teen die wind. Dis so ’n skreiende teenstelling met die stadslewe waaraan hy gewoond geraak het, dat ’n gevoel van bevreemding vir Jonathan omvou.

      ’n Ent van Isaacsdam Kontantwinkel af gaan hy staan en staar na die lig deur die ruite van die woonhuis onmiddellik teenaan. Waaiende takke gooi wisselende skaduwees teen die voormuur. Die Tosens se huis? Katrien en haar pa? Tot sy verligting sien hy geen besoekersmotor nie, Dormehl was immers per motor by die Coetzees.

      Ek moet Katrien Tosen sien, besluit hy koorsagtig. Want wat het my besiel om vir haar te sê ek het familie hier? Ek, wat in geen jare eers onthou het dat ek familie het nie? En toe gaan staan en raak ek sentimenteel en gryp die Isaacsdam-projek aan?

      En veral noudat Dormehl sy opwagting gemaak het met ’n begeerte wat ek vir hom moet bevredig. Doen ek dit nie, sal hy ’n stok verwelkom om my mee te slaan. Tannie Varkie … Dis genoeg om van te kreun.

      Jeannie. Die Nothnagels. Hulle wat hom onder die vlerk geneem en ’n sakeman asook gentleman van hom gemaak het. Wat hulle betref, is hy die tweede geslag uit Duitsland. Sy ouers is dood en hy is volkome alleen. Hier gebore en hier getoë, en tog alleen. Hy het dit self begin glo. Dit kan waar wees ook.

      Hulle glo hom, tensy hulle toneel speel. Hy wonder of Jeannie hom dalk menige sosiale blaps vergewe het op grond van sy herkoms. Dat sy gereken het sy familie het nie van beter geweet in ’n aangenome land nie.

      Dit maak seer om oor hulle te praat, verseker hy vir Jeannie wanneer sy te spesifiek uitvra. En daarby bly dit dan. Nou het hy deur ’n dom fout alles opgemors.

      Inderdaad maak dit seer, dink Jonathan Bergman waar hy onder die reuse-eik na die huis staan en staar. Die lig is dof. Dalk ook lampe? Dalk is daar met die bedrading ook fout, soos in die winkel? Hy voel vreemd leeg, asof die stormwind van vroeër dwarsdeur hom gewaai het en hy toe verder skoon gereën is. Hy kan verstaan hoekom die suidooster die Kaapse Dokter genoem word. Dis of dit die wasem laat wegdroog wat teen die spieël van jou lewe versamel het.

      Uiteindelik loop hy skoorvoetend nader aan die voordeur wat die Tosens s’n moet wees. Hoedanige ontvangs hy sal geniet, weet nugter alleen. Hy kan nie die meisie in sy vertroue neem nie. Sy klink na ’n neurotiese tipe, as hy Dormehl moet glo. En tog was sy vanmiddag – was dit net vanmiddag? – heel koel en beheers, selfs toe sy kwaad geword het.

      Maar hy vertrou haar g’n niks. Nie as sy ’n skoothondjie van Dormehl is nie. Hy is reeds op die kaal voorstoepie, toe staan hy nog oor die wysheid van die besoek en twyfel. Oplaas lig hy tog sy hand en voel die ou hout teen sy kneukels.

      Dis Katrien self wat oopmaak. Hy is amper seker dat sy wou sê: Al weer jy. Maar daarvoor is sy seker te dorps ordentlik. Sy sê trouens niks. Haar lippe gaan net baie effens oop, en hy verbeel hom dit bewe. Sy het gemaklike drag aan, ’n langbroek en hempbloes. Sy het ’n groot, moderne bril op die neus, wat haar geleerd laat lyk. Gelukkig lyk sy nie meer vies nie, of sy steek dit goed weg.

      Hy sê die eerste ding wat in sy kop kom, en besef dadelik self dat dit ’n stompsinnige ding is: “Jy’t vanmiddag sonder bril gebrei.”

      “Ek kyk nie as ek brei nie. ’n Mens noem dit blind brei.”

      “O.” En daar staan hy sonder ’n verdere woord. Gelukkig weerhou hy ’n nog stompsinniger opmerking oor eenoog in die land van die blindes, of so iets. Sy het hom met die Lilliput-storie te deeglik op sy neus laat kyk.

      Sy staan teenoor hom met ’n vraag in haar gespikkelde grys oë. “Jy wou seker inkom,” sê sy na etlike lang oomblikke. “Dis oor Gileam wat jy kom, is dit nie?”

      “Ja en nee.”

      “Ek is jammer as hy gaan rusie maak het. Ek wou hom keer.”

      “Lyk my nie hy is te keer nie.”

      “Eintlik nie,” glimlag sy skeef. “Wat het hy vir jou te sê gehad? Sy groot planne vir die nuwe uitbreiding?”

      “Eintlik júlle nuwe planne. Kan ek inkom?”

      “Ek het mos gesê jy kan.”

      “Nee, jy’t gesê ek wil seker.”

      Sy antwoord nie en staan net opsy. “Los maar die deur oop,” versoek sy.

      “Ja, seker veiliger vir jou,” kan hy dit nie weerhou nie.

      In die eenvoudige, basiese sitkamer sit hulle, en sy vryf met haar een duim oor die rug van die ander. “Dis net … ek en Gileam …”

      “Ek verstaan,” gebaar hy. En wens hy het. Hoe min hy ook van haar weet, pas sy tog nie juis by Dormehl nie. Sy is van fyner allooi.

      “Dalk verstaan jy tog nie,” weerlê sy ook. “Glo dit as jy wil, en ek weet jy glo dit nie van hom nie, maar Gileam is een wat kan begryp.”

      “Hy sal ’n gedugte vyand kan wees.”

      “Juis. Maar ’n dierbare maat … vriend.”

      “Het ek jou eintlik werklik rede gegee om klagtes oor my by hom aan te dra? Wees eerlik, was jy nie ’n bietjie naïef om aanstoot te neem net omdat ek ’n vriendskaplike afspraak met jou probeer maak het nie? Ek is tog vreemd hier, en jy’t vir my na goeie geselskap gelyk. Jy is ook.”

      “Op die ou end?” sêvra sy skamper. “Nadat dit geblyk het ek is nie heeltemal onkundig oor Gulliver se storie nie?”

      “Kan ons nie daardie een vergeet nie? Ek was grootdoenerig. Dalk die onsekerheid van vreemdheid.”

      “Nou