Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 9


Скачать книгу

      “Jy sal nie weet nie. Dis ook nie nodig nie. Genoeg as jy weet om heeltemal uit haar pad te bly. Katrien is my verantwoordelikheid. Haar pa is te swak en siek om na haar om te sien. Dis net ek wat haar waarlik verstaan, en dis na my toe dat sy met haar probleme kom.”

      “’n Merkwaardige prestasie,” meen Jonathan sarkasties. Die klein rissie, reken … dat sy direk gedraf het om stories aan te dra nog voor sy voetspore koud is. Wie dink sy is sy? En hoe dink sy, wie is hy? ’n Desperate rokjagter? As sy maar vir Jeannie kon sien. Sy sal op haar neus kyk. Daar is nie eers sprake van ’n keuse tussen twee sulke meisies nie. Die antwoord lê kant en klaar oop voor jou.

      “Ek hou nie van jou inisuasie nie, Berg.”

      “Jy bedoel seker ‘insinuasie’,” korrigeer Jonathan styf, nie sonder die onpeilbare glimlagtrekkie van sy mondhoek, dit wat hy deeglik geoefen het nie. Dormehl word donker van ergernis. Dan is dit sy swakheid, besluit Jonathan. Geleerde woorde wat windskeef uitkom.

      “Nou ja, Berg,” sê hy en staan op. Die kakie broekspyp het teen sy fris kuit opgeskuif. Hy skud-skud tot dit afsak. Op sy ruwe manier is hy duiwels aantreklik. Hy laat Jonathan bleek en skraal voel, en daarvan hou hy niks. Hy word beskou as aantreklik, ook welgeklee. Eintlik is hy ’n taamlik blink ster aan die dametjies se horison, maar hy het vir Jeannie uitgesoek … en sy vir hom.

      “Kan ons nou na die terrein gaan kyk?” vra Dormehl. Dit klink meer na ’n bevel.

      “Gaan kyk? Nee. Ek het geluister na jou plan, Dormehl, en dit klink heel interessant. Maar jy moet besef dat die onderhandelinge reeds geruime tyd aan die gang is tussen my firma en julle dorpsraad. Ek moet môre ook maar eers na hulle kantoor toe gaan en my oriënteer.”

      En Katrien Tosen te sien kry, besluit hy onrustig. Een ding wil hy haar vra: dat sy van hom kan skinder soos sy wil, solank sy nie noem dat die Coetzees sy familie is nie. Hy kan sê dat, veral as hy hier loseer, dit as voordeel of partydigheid van die firma se kant beskou kan word.

      Hy wil nie verder met haar argumenteer nie. Sy klink na ’n emosioneel onstabiele mens. Hy kan selfs vir haar sê hy het hom toe misgis, dis nie sy pa se niggie nie. Of so iets. Hy sal nog dink wat. Wat hierdie Dormehl betref: Dis absolute twak dat hy kom staan en hiet en gebied. ’n Ryk grootprater, en niks meer nie.

      Vreemd genoeg oefen Dormehl nie op die oomblik verdere druk uit nie. “Dan sien ek jou môre weer,” belowe of dreig hy.

      Nie as dit van my afhang nie, dink Jonathan. Hy vra nie op sterkte waarvan Dormehl optree nie. Eintlik vind hy die man ontstellend en voel half vies om te dink dat Katrien Tosen ’n vriend in hom vind. In elk geval sal hy teen môre besluit hoe om van die vent ontslae te raak. Hy kan vir Senior Nothnagel self op hom sit. Hy hoop maar net nie Dormehl is reeds weer op pad na Katrien Tosen, waar hulle sy herkoms kan bespreek nie.

      “Totsiens, oom Koos, totsiens, tannie Varkie,” roepgroet Dormehl in die gang af.

      Jonathan kan nie glo wat hy hoor nie: tannie Varkie! Skynbaar ’n aanvaarde naam, want Malie Coetzee kap nie teë nie. Maar sy is goed nuuskierig nadat Dormehl met ’n bulderende stem gang afskeid geneem het. Hy wou nie eers vir die koffie wag nie.

      “Wie is hy eintlik?” begin Jonathan terstond uitvis.

      “Wie hy is?” Malie staar hom aan asof sy wil vra: Weet jy dan nie? Dis duidelik dat sy na tale soek om die onbeskryflike mee te beskryf. “Hy’t … hy’s … ag, meneer, hy is sommer Gieljam vir ons. So ken ons hom maar almal.”

      “Wat doen hy?”

      Sy frons. “Wat hy doen? Ag, sommer maar alles.”

      “Ek het verneem dat hy die motorhawe het.”

      “Die motorhawe … o, die… Koos, Gieljam het mos die garage? Ja, meneer, hy het die garage. Ek het nou amper daarvan vergeet. Hy’t ook so baie hooi op sy vurk.”

      “Wat doen hy dan nog?”

      “Koos, wat doen Gieljam nog?” Want Koos het intussen ingekom vir koffie, en hulle sit al drie in die kombuis. Jonathan probeer sy oë sluit vir die septiese vadoekie waarmee sy die koppies uitgevee het.

      “Hy … e … dingeses. Hy’s mos met die vendusies, en by die slagpale … vrou, kan jy nie die varkies en goed uithou nie? Hulle kan nie hier tussen ons mense bly infoeter nie.”

      “Uit, julle,” raas Malie ingedagte, en help een varkie en twee kuikens by die gaasdeur uit. Sewentien altesaam op en rondom die agterstoep, tel Jonathan. Dis nou varkies, katte, kuikens en twee honde, laasgenoemde regte vuilbaarde.

      “En verder behartig hy ou Tosen se winkel van dié so siek geword het,” besluit Koos.

      “Weet ook nie hoe Katrien anders sou reggekom het nie,” meen Malie. Sy het ’n pruttelende manier van praat, kop skeef, kortgeknipte hare in alle rigtings, terwyl sy die vadoekie in ’n bondeltjie op die tafel onder haar hand hou.

      “Hoe lank is dié Katrien al in die winkel?” loods Jonathan sy poging vanuit ’n ander koers.

      “Maar is dit dan nie nou … Koos, hoe lank is …?”

      Verder as dit kom sy ook nie. Die varkies raak eens te vroetelrig by die gaasdeur. Hongerig oi-oi hulle, sodat Malie geduldig opstaan. Jonathan het reeds afgelei dat hulle nie kinders het nie, en dit kan die troetelgoed verklaar. Dit word ’n grootskaalse kosgeeëry buite, en Jonathan het geen opsie as om hand by te sit nie, hopende dat nie Jeannie of enige ander bekende siel op aarde hom ooit in hierdie rol betrap nie. Aanvanklik staan hy stywearm op ’n veilige afstand, maar die kosnood is ’n soort nood waarvan niemand hom kan distansieer nie. Hy kies in elk geval om kiepkos uit te strooi, bang die varkies kan sy broekspype bemors. Spoedig is hy volstoom aan die werk.

      Sy verblyf hier het nie weer ter sprake gekom nie, maar ongemerk het Koos sy tas afgedra en ’n derde plek word gedek.

      Toe hulle eindelik self klaarmaak om aan te sit vir ete, is dit die Coetzees se beurt om uit te vra. “Nou sien ek darem,” besluit Malie, “dat jy nie rêrig heeltemal soos Janmaans … ek meen, dis soos Koos sê: Hy was heelwat groter van lyf en growwer van gesig.”

      “Seker maar toevallig,” mompel Jonathan. Reg op hierdie oomblik het hy ’n groter probleem: Daar is geen servette op die tafel nie, net dieselfde vadoekie, hierdie keer op ’n piering. Ongemerk vee hy sy vingers af aan die tafeldoek, ook nie alte skoon nie. Die kos is egter lekker, pangebakte skywe vleis met uie en tamatie. Dan ook die brood, hoewel reeds dagoud, waarvan die kriesels deeg aan haar voorskoot klou.

      “Maar ek moet tog kyk of ek foto’s het,” bied Malie aan.

      “Ek sal dit baie graag wil sien,” antwoord Jonathan beleef. “Dis net, my groot werk begin môre, ek wou vanaand my vere regskud.”

      Koos Coetzee het ander voornemens as beide sy vrou en sy besoeker. Hy begin om Jonathan deeglik en stap vir stap te onderrig in die suksesvolle stook van mampoer. Dalk probeer hy my toets, dink Jonathan. Is die hele mampoerstorie een hele groot strik?

      Koos begin by die begin: “Nou kyk, as jy van druiwe stook, is dit witblits. Maar mampoer is my sterk punt, dis nou perskebrandewyn. Teen die wet as jy nie liksens het nie. Jy mag stook, solank jy nie verkoop nie. Nog net ’n paar liksense gewees daarbo, maar dié sterf so saam met die houers uit. Ek weet nou nie of jou kinders dit kan erf as jy kinders het nie.”

      Jonathan skuifel. Hy sou graag wou loskom. Hy het baie om te verwerk, en dan dink hy nie net aan papierwerk nie. Maar die oë onder die wippende wenkbroue pen hom vas. “Het jy al ’n propperse stookketel gesien?”

      “Nee, oom, slaat my dood, nog nooit in my lewe nie.”

      Die blik wat hy ontvang, laat hom vermoed dat hy buite hoop is. “Van koper. Met die hand gemaak. En dan sement jy dit stewig vas. Hoe sal jy die sement aangemaak het as dit nou jy was?” Die kennersblik pen hom vas.

      “Jis, oom, dis ingewikkelde dinge. Kan ek nie eers asemskep nie?”

      “Nee