sy het aangetrokke gevoel tot hierdie student. Weliswaar was sy Frans vrot en hy het nie veel daaraan probeer doen nie. Dit was vir hom net ’n stopvak, waarmee hy hom deeglik misgis het. Toe Kirsten in die vertrek kom waar Katrien en professor Andrews hom inwag, was dit met ’n houding van kom-ek-om-so-kom-ek-om. Maar niemand kon sê dat hy nie sy bes gedoen het nie.
“Bonjour, mam’selle et monsieur,” het hy beleef gesê. Sy uitspraak was, soos altyd, aaklig. Hy kon die hele tyd nie leer om sy lipspiere te gebruik, van voor uit sy mond te praat en elke lettergreep dieselfde klem te gee nie. Deur etlike maande heen kon hy net nie ’n aanvoeling kweek vir hierdie stamtaal van sy Hugenote-kant nie. Dit het sekerlik ook nie tot sy krediet bygedra dat hy meer as een keer veral van die professor se klasse weggebly het nie. Maar hy was altyd by magte om ’n gees van welwillendheid in die klas te skep met sy argelose humorsin en sy waagsaamheid.
Reg aan die begin van die jaar, toe sy die klas die eerste keer binnestap, was die tekens van sy teenwoordigheid reeds daar. Die klas was tjoepstil, afwagtend. Op die bord het in groot krytletters geskryf gestaan: Koffie, of …? Met heel onder in klein letters die woordjie: Tee.
Sy het natuurlik nie toegegee nie. Sy sou dit nooit waag om die klas te verdaag en die klomp koffiekroeg toe te vat nie, so oorbewus van haar junior posisie tussen al die akademiese ringkoppe. Maar dit is waar dat die guitige poging van Kirsten meteens ’n brug tussen haar en die betrokke studente geslaan het.
Maar daardie liewe mondeling, dit was ’n pyniging. ’n Mens sou die stomme Kirsten opreg kon bejammer as hy ’n ander soort persoon was. Maar eintlik was hy so vindingryk met plannetjies en toertjies om sy lyf te red, Reinaert die Vos uitgeknip. Katrien glimlag stram in die donker. Dat daar vir hom toe uiteindelik geen toertjie oor was nie, dit is vir haar die finale katastrofe van sy lewe.
Maar op daardie tydstip was dit ten minste nog dinge van die toekoms. Toe Kirsten se mondelingsessie verby was, kwalik drie minute van tongknoop en woorde soek, moes hy buite iewers gewag het waar die reën hom nie kon bykom nie. Toe Katrien oplaas met haar sambreel by die hoofdeur van die ou gebou uitkom, het sy iemand na haar hoor roep. Die onbeholpe tongval was onmiskenbaar dié van Kirsten de Villiers: “Mam’selle Tosen, un moment, s’il vous plaît.”
Toe sy omkyk, was sy oë vol lag, hande al weer in sy broeksakke. “Praat maar Afrikaans, boertjie,” het sy hom vrygespreek.
“Dankie, juffrou. Wat is die nuus? Onderdeur?”
“Jy kan met skriftelik nog inhaal,” het sy ontwyk.
“Ek dink ek sal beter kan inhaal met ’n koppie duiwelsterk koffie. Toe, juffrou. U wou heeljaar nooit ’n ou koffieklassie toestaan nie.”
Hy het beskik oor ’n soort rammelkas, en daarmee het hulle na die gewilde koffieplek gery. Op pad het hy heerlik gesit en kluitjies bak. “Ek het vanoggend hard probeer om te druip. Ek wil liewer vanjaar vroeër huis toe gaan. Ek het my moeder nodig.”
“Nou jok jy mos lekker, jy het kleigetrap. Moenie met my probeer doen wat Reinaert met die otter en die kater gedoen het nie.”
Sy was in ligte luim – skielik, onverklaarbaar. Die druppels teen die windskerm het lustig gespat, so anders as op triestige dae wanneer dit skuinsweg druip. Was dit omdat die einde van die akademiese jaar in sig is? Tog nie … sy hou van die werk, so terwyl sy self nagraads studeer. En tuis by Isaacsdam is daar net haar pa met sy verswakkende gesondheid en die sieldodende werk in die winkel. Sy sou laasgenoemde anders aanpak op haar eie. ’n Aantrekliker lokaal, ’n damesboetiek met haarsalon, ruim vensters met kundige uitstallings. Dalk ’n nuwe winkel op ’n nuwe plek, want die storie van dorpsuitbreiding het reeds geloop. Tog het die ou dorpswinkeltjie atmosfeer.
En siende dat haar pa nou nog in beheer is, is daar weinig hoop op vernuwing. Nee wat, sy was nie besonder gretig om tuis te kom nie.
Haar opwinding moes dus wees omdat sy in Kirsten de Villiers se geselskap verkeer en dit aangenaam vind. Oor ’n koppie stomende koffie, met die reuk daarvan saam met die reuk van nat grys reënjasse, het hulle gesels.
Haar vermoede is bevestig. Hy was ouer as die deursneestudent. Het losweg skoolgehou, tydelik, met uitstaande graadvakke. Nou wou hy “die regte pampiere” kry, maar dit lyk vir hom sy are begin verkalk, want hy kan nie so lekker studeer nie. “Ag ja,” het hy verlore gesug, “dis net ’n ou warm koffietjie wat help dat die bloed beter deur die kop sirkuleer. En aangename vroulike geselskap. Ag, dit hoef selfs nie eers in Frans te wees nie.”
“Die probleem met julle studente is,” het sy ernstig vermaan, “dat julle werk en ontspanning apart wil hou. Soos nou, byvoorbeeld: hoekom kan ons nie gesels oor jou vocabulaire en oor die regte gebruik van die cedille nie?”
“Moet tog nie so vloek nie,” het hy gekreun. “In die klas is die soort wreedheid nie so erg nie, ek kan ten minste na u bene kyk as u op die bord skryf. Maar hier sien ek niks daarvan nie; al wat ek sien, is u mooi gesig en u grys oë sonder genade.”
“Julle studente is almal eenders.” Sy kon nie anders as ligweg bloos oor die opmerking aangaande haar bene nie. “As julle maar net wou leer dat die wêreld self sonder genade is …”
Maar hy’t haar erg vriendelik in die rede geval: “Mam’selle, u praat net te dikwels van ons studente. Probeer u dalk die feit verbloem dat u net twee jaar terug self voorgraads was?”
Dat hy so goed ingelig is, het haar laat wonder … en lag. Op voornaamterme is hulle die kafee uit, hy nie min in sy skik oor die alliterasie in “Kirsten” en “Katrien” nie. “Sien, ek het tog ’n aanvoeling vir die lettere,” het hy haar attent gemaak. “Of is dit nou letters?”
Nou het sy opreg spyt gevoel omdat hy na alle waarskynlikheid nie die paal met sy “stopvak” sou haal nie. Dit sou inderdaad beteken dat hy gouer huis toe gaan, want dit was een van die laaste vakke op die jaareindrooster. Maar ’n paar weke het nog voorgelê.
Dit was onvermydelik. Hulle was gou tot oor hulle ore verlief. Noudat die gereserveerdheid opsy geskuif kon word omdat hy nooit weer in haar klas sou sit nie, kon hulle bekostig om te erken dat hulle nog altyd meer as bloot bewus van mekaar was.
Hulle kon gesels oor hulle vorige, onvolkome liefdes. Hy het geweet van Marius, haar jare lange studenteliefde met wie sy oplaas pynloos gebreek het omdat die versotheid getaan het. En met jaloerse opwinding het sy uitgevind van Janie, iewers tuis. Dit was maar dieselfde storie as met haar en Marius, kon nie bra vaart kry nie. “Omdat ons nie vir mekaar bedoel was nie, Katrien. Hoe mooi verstaan ’n mens alles agterna.”
Eintlik is hy ’n diep ou, het sy besef. As hy tog maar net reg was: dat mens alles agterna beter verstaan. Want sy verstaan nie, en nog minder kan sy vergeet.
Sy rol die soveelste keer om. As sy ook maar, soos haar pa, aan die slaap kon raak. Dit was eerder ’n belydenis as vraag wat sy vanaand teenoor die vreemdeling gelug het: wat doen ’n mens as jy nie kan vergeet nie?
En op sy manier, steeds stywerig en sekelnek soos een van Gileam se bloedperde, het hy gebieg dat hy ook dinge het om te vergeet. Syne was egter nie ’n bieg om die bieg nie; dit was ’n middel tot ’n doel, ’n motivering oor waarom hy wil hê sy moet stilbly.
Sy weet verder niks van hom af nie as dat hy hier aangekom het, dat hy ’n taak te verrig het, en dat hy verlangse familie het sonder dat hy dit bra wil erken. Niks daarvan is belangrik nie, dit bring geen insig in hom nie. Al wat sy werklik van hom weet en onthou, is dat hy haar uitermate ontstel het deur sy manier van binnekoms, soseer dat sy in trane was toe Gileam laatmiddag by die winkel aankom vir ’n bietjie kruideniersware en die gebruiklike geselsie.
Waar sy die hele dag reeds weemoedig was, was Gileam se besoek net die laaste druppel wat die emmer laat oorloop. As sy haar net kon losmaak van daardie reëndag, die mondelingklas, met Kirsten wat uit die reën binnekom. Kirsten wie se lippe soek na die regte klanke en woorde en die stand van sy lippe, wat daarna bekwaam geblyk het om innig te soen.
Kirsten … dis of sy nog steeds innerlik krimp van pyn. Ja, selfs nou nog, een jaar na alles, want hoe kort is ’n jaar eintlik. Een jaar nadat hulle liefde vinnig opgebloei het, om