Sarah du Pisanie

Sarah du Pisanie Omnibus 11


Скачать книгу

kyk hulle uit die hoogte aan oor so ’n slim voorstel.

      “Nee, man!” Carel skiet dié voorstel af. “Hy is te oud. Hy kan eerder die oupa wees, oupas is ook lekker!” gee hy toe.

      Jurgen gaan staan kiertsregop met ’n kwaai frons op sy voorkop. “Wat van die baron?” vra hy koud en afsydig.

      “Jy moet vir jou snaaks hou! ’n Mens maak nie sulke grappe nie!” Peter klap hom agter sy kop dat hy ’n paar treë vorentoe skuifel. Die ander ondersteun Peter luidkeels met allerhande aanmerkings wat glad nie vleiend teenoor die baron is nie.

      Daar is ’n vreemde jammerte in Christa vir die arme eensame, verbitterde Adolf von Leipsig.

      “Stefan, gaan kyk of die wors al gaar is, ons wil nie houtskool eet nie. Udo, dra asseblief die brood tafel toe. Carel, gaan haal vir ons tamaties, en Peter, kry die eiers dat ons dit gou kan bak.” Christa deel vinnig bevele uit om hierdie vreemde verlatenheid in haar binneste hok te slaan.

      “Goed, Mutti!” antwoord hulle stuitig in ’n koor en so onbeplan word sy herdoop en met naam en al diep in elke seunshart gevestig.

      Die week snel verby en dit is nog steeds met hierdie vreemde jammerte in haar hart vir die baron, dat sy eintlik seerkry as sy sien hoe die seuns die dae probeer verleng.

      Hannie vind geleidelik haar voete en die seuns het haar behoorlik in die sak. Hulle hardloop tydig en ontydig by die kombuis in op soek na iets om te eet. Die gesprekke tussen die seuns en Hannie, wat geen Duits kan praat nie, is maar baie gebrekkig. Hulle beduie met handgebare, sodat Hannie hulle soms laggend met die vadoek by die deur uitboender, tot groot vermaak van die ander.

      “Mutti, wat is ’n Apfeltorte in Afrikaans,” vra Udo terwyl hulle met wiskunde besig is.

      “Ai, Udo, dink jy altyd aan kos?” lag Christa en vee oor sy hare.

      Udo grinnik verleë. “Ek wil net vir Frau Hannie vra om vir ons een te maak, maar sy sal my nie verstaan nie.”

      “Julle het vir Frau Hannie heeltemal in die sak,” sê sy, maar hulle kan sommer hoor dat sy niks verkeerds daarin sien nie. “Julle moet net onthou die baron is seker Maandag terug en dan sal hy wil sien dat hier nog steeds dieselfde dissipline gehandhaaf word as toe hy weg is.”

      Gustav staan op en kom staan voor die klas. “Luister, ouens, ons het die baron belowe. Julle weet wat hy gesê het, dat hy Mutti sal terugstuur as hier nie dissipline is nie. As Mutti weggaan, kry ons weer iemand soos die Kommandant. As julle enige streke uithaal, sal ek self met julle afreken. Julle weet die baron gaan nooit terug op sy woord nie.”

      Christa glimlag met Gustav maar daar is ’n beklemming in haar binneste. Sy het al vergeet van haar en Adolf se rusie en dit is nog glad nie uitgeklaar nie. Vandat Maria en Adolf weg is, heers hier soveel vrede dat dit amper ondenkbaar is om te dink dat alles weer gaan wees soos wat dit vroeër was.

      “Mutti het nog nie vir my gesê wat is ’n Apfeltorte in Afrikaans nie,” hou Udo moedig vol wanneer Gustav gaan sit.

      “Appeltert! Dit klink byna dieselfde.” Sy herhaal dit ’n paar keer en laat hulle dit agter haar aan sê.

      Udo moes die boodskap mooi duidelik by Hannie gekry het want vieruur is daar twee groot appelterte by die koffie en al wat Duitsertjie is se oë blink.

      “Mutti, dit is mos Vrydag.” Heinz hap eers aan ’n stuk appeltert en kou dit met genot voordat hy aangaan. “Gaan ons vanaand weer self kos maak?”

      “Ja, goed,” is Christa dadelik inskiklik. Dit sal hulle laaste kans wees weer voor die baron terugkom. “Maar eers moet ons vandag ’n bietjie langer musiek oefen. Ek het julle ingeskryf vir die talentfees volgende kwartaal.”

      “En as Mutti moet weggaan?” vra Johann. “Sê nou maar net dit is wat hy in hierdie tyd op Swakopmund gedoen het … dat hy ’n ander onderwyser gesoek het!” Christa weet dat hierdie gedagte hom al lankal moet hinder.

      Christa wil nie eers aan die moontlikheid dink nie, veral nie nadat sy oë so sag en vriendelik was nie. “Ag, Johann, dan is julle darem al ingeoefen en kan die nuwe onderwyser net aangaan.”

      Kurt se ogies rek groot en hy skuif vinnig nader aan haar. “Mutti moenie weggaan nie.” Sy lippie begin bewe.

      Sy vryf oor sy hare en klink vrolik en opgewek. “Ons gaan beslis nie ’n bobbejaan agter die bult haal nie. Vat julle koppies en borde self kombuis toe, dan gaan oefen ons. Sê sommer vir Frau Hannie sy kan maar huis toe gaan, ons sal self vanaand kos maak.” Hulle moet so gou moontlik van hierdie morbiede gedagtes vergeet.

      Die seuns sing en speel al hul vrese en bekommernisse, al die opgekropte energie uit hulle uit. Dit is dus ’n vrolike en uitgelate klompie kinders wat die aand in die kombuis saamdrom. Daar is ’n groot bak pasta en die seuns snuif behaaglik in die lug. Gustav en Peter maak slaai en Christa sny laggend van die stukke kleiner as dit soos ganskos lyk. Sy maak gou souskluitjies ook, want aan soetgoed kry hulle tog nooit genoeg nie.

      Heinz kom met ’n beker melk die kombuis binne en hou dit na haar toe uit. Hy begin met sy mooi stem ’n vrolike Duitse drinkliedjie sing en swaai die beker melk heen en weer op die ritme daarvan. Gou sing die ander vrolik saam. Christa wat voor die stoof besig is, hou vir hulle tyd met die houtlepel. Kort-kort onderbreek sy die tydhouery om eers ’n souskluitjie om te draai.

      Adolf is moeg en vuil as hy voor die deur stilhou. Oral brand lig in die huis maar niemand kom uit om hom te ontmoet nie. Iesegrimmig wonder hy of nie eers een van die bediendes die motor gehoor het nie. Dit is eers wanneer hy die voordeur oopstoot dat hy besef hoekom niemand hom gehoor het nie. ’n Vrolike, lawaaierige gesingery klink van die kombuis se kant af op en hy stap verbaas nader. Die middeldeur staan oop en hy hoor een van die seuns hard en luidrugtig lag.

      “Mutti lyk soos een van die vrouens wat bier in die bierhuise bedien,” sê Stefan. Die seuns skater dit uit van die lag en dan is dit klein Kurt wat hard praat om bokant die ander gehoor te kan word. “Wys vir ons hoe dans hulle … toe, asseblief, Mutti.”

      “Wag eers!” keer sy vrolik en sy klink nes een van hulle. “Die souskluitjies gaan brand!”

      Adolf beweeg nader sodat hy ’n beter uitsig op die kombuis kan hê, maar nog ver genoeg sodat die donkerte hom verskans. Die seuns koek almal om haar saam voor die stoof. Die lang tafel in die kombuis is gedek. Hy kyk hoe die seuns waarderend snuif en oor haar skouer loer as sy die groot bak souskluitjies optel.

      “Wys eers vir ons, toe Mutti!” ’n Paar seuns soebat gelyktydig. Christa lag en sit die bak in die oond. Sy kom vat Gustav se hande en die ander seuns maak ’n kring rondom hulle. Almal sing nou saam en klap hande.

      “Kom, Gustav! Drie na hierdie kant toe en een, twee drie na hierdie kant toe.” Sy sing die woorde op die maat van die musiek. “Een, twee, drie en dan al in die rondte … al in die rondte.” Sy spring op en af en Gustav se voete volg outomaties. Vrolik dans hulle al om die lang tafel en weer terug. Haar oë blink. Gustav gooi sy kop agteroor en lag skaterend terwyl die ander uit volle bors sing.

      Dit is eers as Christa uitasem tot stilstand kom dat Adolf weer van homself bewus raak. ’n Paar minute lank was hy ’n deel van die uitbundige vrolikheid! Was dit hy wat haar hande vasgevat en al om die tafel gedans het.

      Hy gee vinnig pad. Hy kan nie nou hulle pret bederf met sy teenwoordigheid nie. Skielik voel hy so alleen en uitgesluit. Hy gaan haal sy tas wat hy in die voorportaal gelaat het en stap na sy kamer toe. Hy bad en trek skoon aan en draai so lank moontlik om hulle kans te gee om klaar te eet.

      Hy gaan staan stil voor die venster. Hy probeer weer die haat en bitterheid van vroeër oproep, enigiets om hom weer rigting te gee. Hy kan mos nie die afgelope ses jaar net so afskud asof dit niks aan hom gedoen het nie. Kurt het destyds alles wat vir hom heilig was, gegryp en besoedel en dit toe onverskillig eenkant toe gegooi toe hy nie meer daarin belanggestel het nie. Hy probeer die seer en eensaamheid van daardie tyd onthou. Hy wíl weer die pyn en woede ervaar.

      Maar alles in hom is stil en rustig. Die bitterheid in hom voel dof en ver, asof