Sarah du Pisanie

Sarah du Pisanie Omnibus 11


Скачать книгу

vee vinnig oor sy mond want hy het eensklaps lus om kliphard vir die kinders se stories te lag. As hy nie self gesien het hoe looi sy hulle nie, sou hy dit nooit geglo het nie.

      “Sy kry ons kort-kort terug, baron. Sy doen dit net op haar eie manier. Die oggend wat ek die geitjie onder haar servet gesit het … het sy dit in my bord pap gegooi!” Gustav ril liggies en Adolf moet sy kieste met mening vasbyt.

      Hy haal diep asem en kyk die seuns een vir een deur. “So waaroor is hierdie boetedoening?” vra hy en probeer sy stem so onbetrokke moontlik hou.

      “Ons … ons wil u mooi vra om haar nie weg te stuur nie,” pleit Gustav en kyk voor hom op die grond.

      “Ons … ons sal baie soet wees, baron, ons belowe!” Udo steek sy vinger in sy mond en hou dit dan in die lug, soos hulle altyd maak as hulle iets ernstigs sweer.

      Adolf kyk na die horlosie teen die muur en sug van verligting as hy sien daar is vir hom ’n uitkomkans. “Dit is nou te laat. Die trein is al weg en daar is nie ’n trein voor oor twee dae nie,” antwoord hy en sy stem klink glad nie so kwaai soos gewoonlik nie.

      “Kan … kan sy dan maar bly … vir ewig!” vra Stefan en sy tweelingbroer kyk hom met dieselfde smekende uitdrukking aan.

      “Wel … aangesien julle nou vir my vertel het wie die eintlike sondaars is, kan ons haar nog ’n kans gee. Onthou, net één misstap van julle …!” Maar die kinders is so bang vir hom dat hulle nie eers die tergende klank in sy stem hoor nie. Hulle knik net gedwee en Gustav du hulle vinnig deur se kant toe en beduie met sy vinger op sy mond dat hulle nie nou aan die vreugde in hul binneste moet uiting gee nie.

      Adolf voel soos die bose ou paaiboelie van die Swartwoud. Die kinders is doodbang vir hom en dit is alles deur sy eie toedoen. Hy het skielik ’n vreemde behoefte om ook sy arms om hulle te sit en hulle styf teen hom vas te druk, soos sy vroeër gedoen het.

      Gustav stuur die kinders klaskamer toe en sluip dan saggies na Christa se kamer. “Fräulein …” Hy loer eers vinnig oor sy skouer voordat hy by die deur inglip.

      “Is die dokter al hier?” vra Christa en die bekommernis is nog steeds in haar stem.

      “Ek weet nie, Fräulein, ons was by die baron …”

      “Hoekom?” vra sy afgetrokke. Kurt oorheers al haar gedagtes.

      “Ons het vir die baron gaan sê dat dit alles ons skuld was … en dat hy nie vir Fräulein moet wegstuur nie.” Gustav kyk skaam na sy voete.

      “En …?” Christa se stem is sarkasties. Hy sou hulle tog net met ’n afjak weggestuur het.

      “Hy … hy sê die trein is al weg en Fräulein kan bly … dan moet ons net soet wees.” Gustav gaan vinnig voort wanneer dit vir hom lyk asof Christa hom dalk nie glo nie. “En … hy het nie eers met ons geraas oor alles wat ons gedoen het nie …”

      “Het julle tog nie al julle sondes loop staan en uitblaker nie?” vra Christa ongelowig.

      “Ons moes! Ons het gedink hy stuur vir Fräulein weg omdat Fräulein nie die nodige dissipline kan handhaaf nie. Ons weet mos hoe belangrik dit vir hom is.”

      Christa trek hom nader en slaan haar arm om sy een skouer. “Julle is so dierbaar,” sê sy met ’n snik in haar stem.

      Adolf en die dokter kom by die oop deur in en Gustav kyk verskrik op. Hy het die baron nou net belowe hulle sal nie weer oortree nie en nou het hy dit al klaar weer gedoen.

      Christa sien hoe verbouereerd hy is en stuur hom deur se kant toe. “Laat hulle maar buite speel, Gustav. Hulle is te bekommerd oor Kurt, hulle sal in elk geval niks inneem nie,” sê sy so natuurlik moontlik.

      Christa staan gespanne en wag dat die dokter vir Kurt ondersoek. “Longontsteking!” diagnoseer hy en loer oor sy bril na haar. “Ek dink dit sal die beste wees as ek hom saamneem hospitaal toe.”

      “Ag, nee!” Christa praat voordat sy dink. “Hy gaan bang wees, so op sy eie. Kan … kan hy nie maar hier bly nie?”

      Die dokter glimlag en kyk na Adolf. “En wat sê die pa?” vra hy. “Die kind sal goed opgepas moet word.”

      “Die baron is nie sy vader nie, dokter. Kurt is sy broerskind,” verduidelik Christa stil en loer skrams na Adolf, asof sy nou weet wat die waarheid is en dat sy jammer is.

      Sy sien die verbasing op sy gesig en die bloed stoot dofrooi in haar wange op. Hy kyk vraend na haar, maar sy laat sak haar kop in skaamte. Sy het al weer haar grense oorskry.

      “As ons baie mooi na hom kyk, kan hy dan maar bly?” vra Adolf nederig en voel verleë oor die dankbaarheid wat uit haar oë straal wanneer sy vinnig opkyk.

      “Goed dan! Julle sal baie mooi oor hom moet waak. Hy mag nie weer so ’n aanval kry nie. Julle sal die koors moet afhou.” Hy gee vir Kurt ’n inspuiting en los medisyne langs sy bed.

      Adolf stap saam met die dokter na buite en Christa sit nog ’n rukkie by Kurt totdat hy in ’n rustige slaap wegdommel. Sy kam haar hare en stap af klaskamer toe. Sy wil net die kinders gaan gerusstel. Maar daar is geen sterfling nie en dit is toe sy omdraai dat sy haar trompop teen Adolf vasloop.

      Sy hande gaan instinktief uit en sluit om haar skouerknoppe. Hulle voel hard en gespierd deur haar dun rokkie.

      Christa kyk vinnig op in die blou oë wat haar nou so nederig, so verskonend aankyk. “Ek wou kom kyk wat maak die kinders,” sê sy gesmoord. Skielik is alles wat hy haar laas nag toegesnou het weer koggelend in haar gedagtes en dit maak ’n verlate seer in haar binneste wakker.

      “Hulle speel daar onder by die dam.” Adolf se stem is sag. “E … juffrou …” Adolf wil haar om verskoning vra, maar Christa draai vinnig onder sy hande uit en stap terug. Hoekom sy nabyheid en die wete dat hy nog al die jare so ’n lae dunk van haar het, haar skielik so ontstel, kan sy nie verklaar nie. Sy sal dit later bepeins want nou is sy te moeg om enigiets te probeer ontleed.

      7

      Christa laat sak haar kop in haar hande en vee moeg oor haar oë.

      “Fräulein, wil Fräulein nie ’n bietjie gaan rus nie? Ek sal die klas stil hou.” Gustav sit sy hand besorg op haar skouer.

      Christa glimlag effens vir hom. “Nee! Nee, dit sal ek nie kan doen nie, Gustav. Julle is my verantwoordelikheid. Ek … ek het net ’n vreeslike hoofpyn. Kan jy nie net vir my ’n pilletjie by Frau Maria gaan haal nie, asseblief!”

      Gustav stap dadelik weg. Arme Fräulein, dink hy bekommerd. Sy het klein Kurt se bed by haar laat indra en sy kry seker bitter min slaap gedurende die nag. Die seuns is egter stroopsoet en probeer so stil moontlik wees uit vrees dat die baron haar sal wegstuur.

      “Frau Maria …” Gustav voel altyd ongemaklik in die kwaai vrou se teenwoordigheid. “Fräulein soek ’n hoofpynpil, asseblief.”

      Sy kyk hom vererg aan en gaan voort met haar werk. “Frau Maria …” Gustav staan onseker nader, nie seker of sy hom gehoor het nie.

      “Daar word definitief nie nou pille uitgedeel nie. Sy kan vanaand sesuur ’n pil kry, soos die reëls sê. Dit is sommer pure slegtheid …!” mompel sy onderlangs en stap by die spensdeur in.

      Gustav voel ’n spiertjie in sy wang pluk. Koppigheid en rebelsheid is vinnig besig om na die oppervlak te styg. Fräulein is siek, sy is spierwit bleek en daar is donker kringe onder haar oë. Frau Maria kom uit en stap ongeskik by hom verby by die agterdeur uit.

      Gustav besef dat sy nie nou ’n pil gaan uithaal nie. Hy gaan haal die medisynekas se sleutel en sluit dit oop. Hy haal twee pynpille uit en sluit weer die kas toe. As hy omdraai om die sleutel te gaan bêre, staan Frau Maria groot en dreigend met haar hande op die heupe vir hom en wag.

      Hy hou hom so ongeërg moontlik en wil die sleutel gaan ophang, maar sy gryp hom aan die arm vas. “Kom!” Sy probeer hom saamsleep. “Kom, dat die baron self kan sien watter skelms hy hier onder