Kurt gedoen. Hy het baie mooi gesing en sy ma was vreeslik trots op hom. Adolf het geen sinnigheid daarvoor gehad nie, ook nie juis talent nie.”
Bernard haal ’n slag diep asem soos een wat nie gewoond is om so baie te praat nie, en Christa hoop dat hy tog nie nou ophou voordat sy die hele verhaal gehoor het nie.
“Frau Von Leipsig is oorlede toe Kurt seker so sestien jaar oud was. Die ou baron het steeds die skool onderhou, maar was voortdurend op soek na goed opgeleide personeel. Toe kom daar ’n nuwe onderwyseres op Abendruhe aan. Sy het vioollesse gegee. Fräulein Karla. ’n Pragtige dingetjie met lang blonde hare en groot helderblou oë. Meneer Adolf was van die eerste dag af smoorverlief op haar en het dit geensins probeer wegsteek nie. Meneer Kurt was toe al in die weermag en hy het haar eers ontmoet toe sy en meneer Adolf al verloof was.”
Bernard sug, en Christa besef dat hy net so swaar aan hierdie las dra as Adolf self. “Toe kom kuier meneer Kurt. Aantreklik en sjarmant in sy uniform.” Christa kyk voor haar op die grond. Haar hart pyn … sy onthou presies hoe aantreklik hy was in daardie uniform.
“As … as iemand tog maar liewer vir meneer Adolf gesê het dat die twee op mekaar verlief geraak het, sou hy dit kon verwerk het. Dit … dit was egter twee weke voor hulle troue dat hy hulle in mekaar se arms betrap het en toe … toe was sy alreeds swanger met klein Kurt.” Bernard se stem klink so hartseer en gepynig. Dit vind weerklank in Christa en op hierdie oomblik is daar net een groot oorheersende gevoel van jammerte in haar binneste.
“Iets het in meneer Adolf doodgegaan. Hy het so hard en verbitterd geword en alles wat enigsins met die skool te doen gehad het, het hy verag. So … so asof hy daardie deel van Abendruhe heeltemal uit sy lewe wou sny.”
“En Kurt en die … e . . Karla … waar is hulle nou? Hoekom is hy dan hier?” vra Christa en beduie met haar kop na klein Kurt.
“Dood! Die oorlog het meneer Kurt se lewe geëis en Karla is dood met sy geboorte.”
“Ag, Bernard, hoe vreeslik!” Die trane loop ongehinderd oor Christa se wange en Bernard kom sit eenkant op die bed en vryf saggies oor Kurt se warm handjie.
“Ja … die oorlog het baie geëis. Al hierdie kinders se ouers en die ou baron ook … alles wat vir ons dierbaar was. Abendruhe is so verwoes dat ons nie daar kon aanbly nie. Die kinders was reeds so ontwrig en almal het gevoel dat … dat dit beter sou wees dat die kinders hierheen kom solank hulle die skool restoureer. Dit sal seker ’n paar jaar neem voordat ons kan teruggaan.”
Christa laat sak haar kop in haar hande. As sy net nie so haastig was met haar oordeel nie, dan kon sy hier aangebly het om liefde en begrip uit te deel aan hierdie oorlog-suf mense wat reeds hulle kwota van pyn en lyding gehad het. Arme Adolf! ween haar hart.
Bernard stap stil by die kamer uit en kom ’n rukkie later met ’n bottel medisyne terug. Christa kyk daarna maar skud dan haar kop liggies. “Sal jy ’n bietjie hier by hom bly, Bernard? Ek moet die baron gaan sien.”
Hy knik en sy stap vinnig die gang af voordat haar moed haar begewe. Haar maagspiere trek op ’n knop as sy aan die deur klop, maar daar is geen antwoord nie. Sy draai bekommerd om en stap deur na die kinders se slaapvertrek om uit te vind of een van hulle weet waar die baron is.
Hulle is egter nie daar nie, maar wel in die klaskamer, besig met leeswerk. Almal spring op en kom drom om haar saam as sy in die deur verskyn. Hulle probeer almal gelyk praat en Gustav druk hulle weg en kom staan voor haar. “Fräulein, die baron sê u gaan terug …?” sê-vra hy bekommerd.
Christa knik woordeloos en Heinz druk vorentoe. “Fräulein, is dit oor ons … omdat ons so stout is?” die trane spring in Christa se oë en sy maak albei haar arms oop en druk ’n bondel van die seuns wat die naaste aan haar staan, styf teen haar vas.
“Nee! Nee, dit is nie oor julle nie. Dit is iets wat ek self gedoen het,” sê sy gesmoord.
“Dink … dink die baron Fräulein kan nie die dissipline handhaaf nie?” vra Peter bekommerd.
Christa laat gaan van die seuns en trek vir Peter nader. Sy haal sy bril af en soek na haar sakdoek in haar sak. “Nee, ou Peter! Ek foeter julle dan sommer self, hoe sal ek nou nie dissipline kan handhaaf nie.” Sy vryf die bril skoon en sit dit weer op sy oë. Sy probeer opgewek lyk, maar die trane sit vlak agter haar oë.
“Hoe … hoe gaan dit met Kurt, Fräulein?” vra Klaus bekommerd. Christa vee oor haar gesig en die bekommernis is sommer weer ’n deel van haar. “Hy is baie siek …” sê sy sag, sonder om die kinders valse hoop te gee. Die kinders staar geskok na haar. “Ons … ons sal ’n dokter moet kry. Weet een van julle waar die baron is?” vra sy.
“Ons sal hom gaan soek …” Gustav neem oor en van die seuns hardloop in verskillende rigtings.
Bernard is stil en bekommerd as sy terugkom kamer toe. Die kind haal hortend asem en hy gloei soos ’n kool vuur. Bernard is onwillig om Christa alleen met die siek kind te los, maar sy ander pligte moet ook gedoen word.
Skaars vyf minute later is Klaus daar. “Die baron is op pad, Fräulein. Hy was by die stalle.” Hy praat met haar maar sy oë bly onafgebroke op Kurt gerig.
“Dankie, ou Klaus. Kom sit ’n bietjie hier by hom sodat ek die baron kan gaan sien.” Sy stap vinnig uit as Klaus langs Kurt kom sit en sy warm handjie in syne vat.
Christa klop hard aan die studeerkamerdeur. “Binne!” Sy lig haar ken en gaan staan so waardig moontlik voor die lessenaar. Haar oë kyk by hom verby en sy hou haar stem koud en onpersoonlik.
“Kurt is baie siek! Sal u asseblief ’n dokter kry om hom te kom ondersoek,” vra sy kortaf.
“Hy het sekerlik net iets verkeerds geëet. Sê Frau Maria moet hom iets ingee.” Hy gaan met sy werk aan asof die saak afgehandel is.
“Sal u dan asseblief self na hom kom kyk, sodat ek nie sy dood op my gewete hoef te hê nie?”
“Ag, juffrou, staak tog die melodrama. Dit gaan niks aan my besluit verander nie,” antwoord hy neerhalend. Christa draai woedend om en die magteloosheid vou soos ’n kombers om haar as sy by sy kantoor uitstap.
Skielik neem sy ’n besluit. Beslis stap sy terug na die klaskamer en skryf ’n briefie terwyl die kinders haar woordeloos dophou.
“Gustav, gaan gee asseblief vir Lukas hierdie nota. Hy moet dit dringend vir die dokter op Tsoabis gaan gee.”
Die kinders vra nie verder uit nie en Christa voel effe verlig toe sy, kort ná sy terug is in haar kamer, sien hoe Lukas haastig te perd by die hek uitry.
Christa spons die koorsige liggaampie af en gee vir hom nog medisyne in, maar die koors wil net nie breek nie. Haar tasse staan halfgepak maar op hierdie oomblik dink sy nie eers daaraan om daarmee klaar te maak nie.
Sy is jammer dat sy vir Klaus weer laat teruggaan het klaskamer toe. Een van hulle sal by haar moet kom sit sodat sy hulp kan hê. Sy is bang! Bang vir die koors wat hierdie klein ou seuntjie so laat ly en sy lewensdraad so maklik kan afknip.
Na ’n rukkie sluimer hy ’n oomblikkie in en sy hardloop so vinnig as wat sy kan klaskamer toe en roep vir Klaus. Sy sou graag eerder vir Gustav daar wou hê, maar dis beter dat hy die ander stil hou.
Sodra Klaus weer langs Kurt op die bed plek inneem, stap sy af kombuis toe. Sy sal ’n koorsstroop gaan kook wat haar ma altyd vir hulle gemaak het. Sy gee egter eers duidelike instruksies. “Jy roep as iets verkeerd is, Klaus, al skree jy ook die gebou se dak af. Ek gaan net gou ander medisyne kry.”
Frau Maria gluur haar aan wanneer sy die kombuis binnekom en is heeltemal onwillig om aan enige van haar versoeke gehoor te gee. Christa swaai om en stap vasbeslote studeerkamer toe, al moet sy hom met ’n hamer teen sy kop slaan …
“Fräulein, Fräulein!” Klaus se gille weergalm deur die huis. Christa verloor haar een skoen en haar bene is tot by die knieë kaal as sy haar rok hoog oplig om vinniger te kan hardloop. Oral in die huis gaan deure oop, maar sy het nou net een doel voor oë en dit is om by Kurt te kom.