en Gustav staar hom aan asof hulle ’n spook gesien het. Die blydskap wat skielik in die kind se oë flits, kan jy ook nie miskyk nie. Hy wonder wat hulle reaksie sal wees as hý moet weggaan.
“Ek dink jy moet ’n bietjie gaan rus. Gebruik een van die ander kamers sodat Kurt jou nie hinder nie. Gustav, die kinders hoef nie vandag terug te kom vir lesse nie. Sorg net dat hulle nie vir Fräulein hinder nie,” sê Adolf vreemd in die nuwe rol.
Die trane blink onverwags in Christa se oë en Adolf wens hy kan dit met sy hand van haar wang af vee.
Ongeloof straal vanuit Gustav se blik. “Gaan … gaan baron my nie straf nie?” vra hy hees.
Adolf wil iets kortaf sê sodat hy nog steeds die leisels in die hand kan hê, maar hier in hom is ’n gevoel van teerheid en ook ’n drang na erkenning. Sy gee die kinders net liefde, en hulle gee so mildelik terug. Hulle gehoorsaam haar omdat hulle vir haar lief is en nie uit vrees nie.
Hy trek sy skouers op. “Dit was mos nie ’n oortreding nie. Bernard het verduidelik.” Hy skaam hom vir die uitdrukking in die kind se oë. Gustav het nooit ’n kans gekry om te verduidelik nie. As dit nie vir Bernard was nie, sou hy dalk weer so opgetree het.
Christa stuur Gustav na buite en hy hardloop behoorlik by die deur uit.
Christa draai skaam na Adolf. “Ek … ek is jammer dat ek u beskuldig het. Ek het nie gedink Frau Maria sal die kinders te lyf gaan nie, daarvoor was sy te subtiel.”
“Jy looi hulle dan?”
Christa kyk vinnig na hom en die tergliggies in sy oë maak haar knieë skielik lam en bewerig.
“Hulle was ook so onmoontlik …” maak sy lamlendig verskoning.
Adolf se hart klop swaar en moeisaam in sy binneste. Sy is mooi! Mooi op ’n ander manier as wat Karla was. Sy is eerlik en opreg. Daardie groen oë weerspieël elke emosie in haar hart.
Adolf maak geen aanstaltes om te loop nie, kyk haar net met daardie vreemde teer en effens verwilderde uitdrukking aan. Christa lek oor haar lippe en is onmagtig om hierdie eienaardige spel te verbreek.
“Ek … ek sal maar by Kurt gaan lê, dan … dan kan Stefan ook gaan speel,” sê sy om haar gedagtes op ’n veiliger pad te kry. “En … en baie dankie, ek kan doen met ’n bietjie slaap.”
Hy val stil langs haar in pas as sy na haar kamer gaan en draai vir haar die deur oop sodat sy kan ingaan. Stefan glip vinnig by hulle verby, dankbaar dat hy nie in die baron se geselskap hoef te wees nie.
“Is jy seker jy wil hier kom rus? Ek kan ook maar ’n rukkie hier by hom sit,” stel Adolf ongemaklik voor.
“Ja, ek is seker. Hy slaap nou, hy sal my nie hinder nie.” Adolf knik en trek die deur net halfpad toe sodat hy later kan kom inloer.
Christa drink die twee pilletjies en gaan lê met klere en al op die bed. Die saligheid van die sagte bed vou soos moederarms om haar. Haar asemhaling raak rustig en egalig.
Kurt sit verras regop as hy ’n slag wakker skrik en haar op die groot bed sien lê. Hy gooi sy kombers af en gaan klim suutjies agter haar rug in. Hy skuif vas teen haar skraal liggaam met sy een arm styf om haar middel terwyl ’n salige glimlaggie om sy lippe plooi.
Wanneer Adolf ’n halfuur later kom inloer, slaap hulle vas en rustig. Saggies sluip hy nader en gaan haal Kurt se kombers en kom maak hulle toe. Hy druk die kombers agter Kurt se ruggie in en vou dit versigtig om haar skouers.
Die hitte van die kombers en die aanraking aan haar skouer laat Christa wakker skrik en sy loer lui deur haar wimpers, vas onder die indruk dat dit Kurt is. Sy voel egter die skraal armpie om haar middel en dan sien sy die groot gestalte stadig by die deur uitsluip. Haar hart klop wild en onstuimig maar die moegheid gee haar nie lank kans om daaroor na te dink nie.
8
“Peter, kom sny jy liewer die brood, Udo is besig om dit in vier te deel …” lag Christa en Udo gee sonder enige kwade gevoelens die broodmes vir Peter.
“Hoeveel van hierdie wors moet ek nog insit?” Jurgen von Brandis is besig om ’n enorme pan vol wors te rol.
“Dit is genoeg!” keer Christa. “Julle is net elf seuns, ons gaan nie die hele Duitse ryk kos gee nie!”
“Ek sal eiers bak,” bied Carel aan en Niko staan ook nader.
“Nee, nie julle twee nie,” sê Christa beslis. “Julle bly weg van alles wat breekbaar is.” Hulle trek hulle skouers gelate op soos mense wat hulle eie beperkinge ken.
“Kurt …” Christa vou die kombers stywer om sy blaaie vas. “Kry jy nie koud nie?” Hy skud sy kop ontkennend. Hy sit op ’n stoel teenaan die tafel sodat hy niks van hierdie pret misloop nie.
“Nee, Fräulein, dit is lekker hier in die kombuis … ons … ons almal so bymekaar.” Kurt klink so tevrede met die lewe.
“Ja, dit is lekker,” sê Niko en kom staan nader aan Christa. “Veral nadat die ou baron weg is.”
“Ja, en die ou Kommandant!” voeg Carel by, die verligting in sy stem duidelik hoorbaar. Christa vee oor sy hare en druk ’n soen op sy kroontjie. As hy opkyk na haar, is daar soveel liefde en verering in sy blou oë dat dit aan goddelikheid grens.
Peter Strauss, wat altyd so stil en eenkant is dat ’n mens skoon van hom vergeet, het die afgelope week sedert Frau Maria weg is, ’n gedaanteverwisseling ondergaan. Hy praat nog steeds nie veel nie, maar vang stil-stil die onmoontlikste goed aan.
Adolf het toe self vir Frau Maria tot op Swakopmund geneem. Hy het vir Bernard gesê dat hy werk het om te doen daar en so twee weke uithuisig sal wees.
Hannie, Simon se vrou, het kom uithelp met die kosmaak en Bernard en Christa het Frau Maria se ander pligte onder hulle verdeel. Bernard doen inspeksie in die seuns se slaapkamer en sy … sy het sommer alles geword: nutsman, onderwyseres, verpleegster en ma.
Hannie kook heerlike boerekos en die seuns dink sy het direk uit die hemel geval. Maar om haar ’n blaaskansie te gee, het sy vanmiddag vir Hannie afgegee en sy en die seuns maak vanaand self kos.
“Gustav, jy en Johann en Heinz moet vir ons tafel dek.” Christa gee bevele terwyl sy die plaasbotter lekker dik op die vars bruinbrood smeer.
Gustav haal die eetgerei uit die laai en moet Christa effe opsy stoot om dit by te kom. “Staan soontoe,” sê hy laggend. “Ou Mutti!” voeg hy skalks by.
Christa glimlag met hom en daar is ’n blinkerigheid in haar oë as sy skielik haar arms om hom sit om hom ’n drukkie te gee.
“Dankie, Gustav … dit is die mooiste kompliment wat ek nog gekry het,” antwoord sy opreg.
Gustav lag en sit sy hande op haar skouers. Hy hou haar ’n entjie van hom af weg. “Maar Fräulein is ons Mutti! Jy is al ma wat ons nog het.”
Daar is iets vreemds, iets ernstigs in die kombuis as die ander kinders alles los waarmee hulle besig is en stil na Gustav en Christa kyk.
“Mutti …!” Klaus rol die woordjie op sy tong. “Dit is lekker om dit weer te sê.” Daar is soveel verlange in sy ou stemmetjie dat Christa vinnig nader staan en hom ook styf teen haar vasdruk.
Almal lag en praat nou gelyk en as Christa na Kurt loer wat stil eenkant sit, is daar ’n blink traan op sy wang. “En nou, ou Kurtie …?” vra sy teer en vee die traan van sy wang af.
“As … as Fräulein almal se Mutti is … dan gaan jy nie meer vir my lief wees nie,” snik hy en snuif liggies.
“Nee man, sy sal!” Klaus vee broederlik oor Kurt se hare. “Ons is een groot familie en jy is die baba … en die baba word deur almal bederf.” Kurt glimlag tevrede en kyk na die ander, nou met ’n heeltemal nuwe lig in sy oë.
“Ons moet eintlik ’n pa ook gehad het. ’n Pa is lekker … my pa was!” sê Niko en draai vinnig