ons trek saans formeel aan vir ete. Dit is deel van hierdie seuns se opvoeding.” Hy kyk vies na die rok wat sy aanhet.
Christa se ken wip en die woede flits in haar oë maar sy uiter geen woord nie en kyk hom net vreesloos aan. Sy sien hoe hy ’n oomblik lank huiwer maar dan gaan hy ongeërg voort asof daar geen onderbreking was nie.
“Hierdie seuns kom uit ’n baie hoë stand. Hulle opvoeding vereis etiket en dissipline sodat hulle hul eendag op ’n hoë vlak in die samelewing sal kan handhaaf. Daar moet dus te alle tye korrek opgetree word. As u twyfel aan die regte manier, vra gerus vir Bernard …”
Die bloed stoot in Christa se wange op as sy besef wat hy bedoel, maar sy byt haar woorde, dat sy nie seker is of sy régtig die korrekte maniere ken nie, met mening terug.
“Kan u my asseblief meer inligting omtrent die seuns gee?” Sy verander die gesprek voordat sy heeltemal ontsenu word. “Ek verstaan van meneer Oelofse dat hulle almal weeskinders is en …”
Hy kyk vinnig op. “Juffrou Van Graan, ek wil geen sentimentele snert hê nie. Die seuns aanvaar die feit dat hulle nie ouers het nie. Hulle word goed versorg. Ons handhaaf dieselfde standaard as waaraan hulle in hulle eie huise gewoond was.”
Christa wil weer iets sê maar sy hele houding sê vir haar dat hierdie gesprek verby is.
“Ek sal vir Bernard stuur met die kinders se lêers sodat jy dit vanaand nog kan deurwerk. Ontbyt is soggens stiptelik om sewe-uur en die klasse begin om agtuur,” beveel hy kortaf.
“Waar word die klasse waargeneem?”
“Dit is aan die agterkant van die gebou. Ons sal jou môreoggend daarheen vergesel.” Met genoegdoening besef sy dat hy vanaand die boodskap hard en duidelik gekry het.
Christa hou haar kop omhoog as sy die kamer uitstap. Haar hele liggaam bewe. Woede, seer en simpatie vir die arme seuns, dit alles prut in haar binneste.
3
Christa kyk ondersoekend na die elf gesigte hier voor haar. Hulle is ordelik en stil maar die onrustigheid knaag aan haar. Die geslote gesiggies is net te maskeragtig en die stilte net te onheilspellend. Haar jare in die onderwys het haar geleer dat onder daardie gedissiplineerde houdinkies dikwels ’n duisend duiwels ronddraai.
Adolf draai al om die klaskamer rond en het al twee keer net stil in die deur kom staan. Sy nabyheid is al wat hierdie kruitvat weerhou van ’n ontploffing. Telkens wanneer hy stil voor die klas kom staan, is dit asof die kinders ophou asemhaal.
Christa probeer hard om hulle name te memoriseer. Sy vat dus nou weer die stukkie papier waarop sy dit afgeskryf het en probeer elke naam aan die gesig koppel.
Die oudste een is Gustav Kraft. Hy is sestien jaar oud, nors en in homself gekeer. Hy is onteenseglik die leier. Sy kan die aggressie in hom aanvoel en daardie blou oë van hom is kil en beredeneerd. Hy is tans in standerd agt, in ’n groep van sy eie.
Dan is daar Peter Strauss. Hy is veertien jaar oud en nes sy naamgenoot baie jare gelede, ’n groot pianis in wording. Hy is lank en skraal met ’n ronde brilletjie wat sy oë groot en uilagtig laat vertoon. In dieselfde ouderdomsgroep is daar nog twee, Heinz von Eckenberger en Johann Enke. Hulle moet in standerd ses geplaas word.
In die standerdvyf-groep is daar net twee seuns en hulle is die spreekwoordelike Dawid en Jonathan, onafskeidbaar. Hulle is Carel Leichtner en Niklaus Schultz. Blond, soos die meeste van hierdie Duitse seuns, met groot blou oë. Ondeund staan egter in groot vet letters oor hierdie twee maskergesiggies geskryf, en Christa weet dat hierdie front wat hulle voorhou, nie baie lank sal duur nie.
Daar is vier seuns in die standerddrie-groep. Hulle ouderdomme wissel van tien tot elf jaar. Daar is Jurgen en Stefan von Brandis, ’n tweeling wat lyk soos twee ertjies in ’n dop. Dan is daar Klaus Knake en anders as die ander seuns is sy hare bruin van kleur en sy oë meer groengrys. Hy is maer en seningrig. Die baron se seuntjie is altyd by hom, so asof hy die kleintjie se beskermengel is. Die laaste een in hierdie groep is ’n vet seuntjie. Sy wangetjies is rooi en sy blonde hare krul guitig om sy koppie sodat hy soos ’n groot kabouter lyk. Hy is Udo Sneider en sy naam sal sy nie maklik vergeet nie, want dit klink vir haar net so rond soos sy postuurtjie.
Christa loer onderlangs na die jongste van die klomp. Sy gee ’n verlate suggie as sy in die groot blou oë kyk. Hy lyk so baie soos Kurt. Sy naam is nie op die lys nie, en dit versterk haar vermoede van gisteraand.
“Wat is jou naam?” vra sy in ’n vriendelike stemtoon.
“Kurt von Leipsig,” sê hy vinnig en loer skrams na Gustav.
Daar is ’n bewing in haar binneste. Dan … dan ís hy die baron se kind! Hy lyk nes sy oom Kurt, besluit sy, en sy moet vinnig die trane wegknip wat onverwags in haar oë opdam.
Haar blik gaan oor die elf kinders en sy sien die uitdaging in hul oë blink. Haar waaksaamheid verskerp – sy sal nie ’n oomblik lank kan verslap nie.
Sy dwing haar gedagtes na meer rasionele denke om haar selfbeheer terug te kry. Sy sal die baron moet vra of sy vir klein Kurt ook moet klasgee. Hy kan nie ouer as vyf wees nie en is beslis nog nie skoolgereed nie. Daar is ook nie vir hom ’n lêer nie. Sy neem dus aan dat hy hierheen kom net om tussen die ander te wees. Sy sal hom maar laat prentjies inkleur en hom ’n bietjie leer lees en skryf, dat hy nie te verveeld raak nie.
Wat haar die meeste van die kind fassineer, is die feit dat hy hom so een voel met die ander seuns. Hy sit ver van sy pa aan tafel en sy het ’n vermoede dat hy ook by die res van hulle in die slaapsaal wat agter die huis aangebou is, slaap.
Christa kyk met waardering om haar rond. Dié deel is splinternuut aangebou en hier is alles wat ’n mens mag nodig hê en nog meer. Langs hierdie klaskamer is ’n groot musiekkamer met ’n verskeidenheid instrumente en alles is in ’n puik kondisie.
Daar is skielik ’n onrustigheid in die klas. Christa sien hoe Carel amper ongemerk aan Niklaus stamp en liggies met sy kop beduie. Met ’n sinkende gevoel in haar binneste sien Christa hoe Adolf op ’n groot blink swart perd wegry.
Sy maan haarself tot kalmte. Nou sal sy vinnig moet optree want sonder sy teenwoordigheid in die nabyheid sal hierdie klas in ’n oogwenk in chaos omskep word.
“Kom ons gesels eers ’n bietjie sodat ek julle beter kan leer ken. Julle het nou al julle boeke en ek weet naastenby wie julle is.” Sy praat vinnig voordat hulle ’n kans kry om haar te onderbreek.
Gustav staan op en kom staan voor in die klas. “U kan vir my vra wat u wil weet, Fräulein. Ek sal almal se vrae beantwoord.” Hy kyk haar uitdagend aan en Christa voel hoe die naarheid in haar opstoot.
“Gaan sit op jou plek, Gustav. Ek kan heeltemal goed hoor.” Haar oë wyk nie ’n oomblik voor syne nie en daar verskyn ’n smalende trek om sy mond.
“Hulle moes ’n man gestuur het. Wat weet ’n vroumens van musiek af?” Hy klink aggressief en sy hoor ’n onderdrukte gegiggel by die ander. Hy slenter luiweg terug na sy sitplek maar Christa weet dat hy nou gevaarliker is as ’n gewonde tier.
Christa wag totdat hy weer sit. “Aangesien jy die oudste is, Gustav, kan jy my gerus meer van jouself vertel. Waar het jy gebly? Het jy nog familie in Duitsland?” Christa se stem is opreg belangstellend.
“Hoekom? Wat wil jy maak as jy weet? Jy is veronderstel om ons te onderrig, nie om met ons te gesels oor ons families nie,” sê hy astrant en loer onderlangs na die ander om te sien of hulle dit goedkeur.
Christa kners op haar tande. Sy ignoreer Gustav se onbeskofte antwoord en draai na klein Kurt.
“Kurt …” Hy sit en blaai deur een van Klaus se boeke en Klaus stamp aan hom as hy nie dadelik opkyk nie.
Christa glimlag met hom as hy verbaas na haar kyk. Sy groot blou oë lyk net so onskuldig soos Kurt s’n destyds en toe hy terugglimlag, sien sy ’n gaping tussen sy voortandjies, wat hom stout en dierbaar laat lyk.
“Hoe oud is jy, Kurt?” vra sy vriendelik.