Helena Hugo

Haar ma se kind


Скачать книгу

lyk haastig.”

      “Ek moet by die huis kom.”

      “Moet ek saamloop?”

      “Dis nie meer ver nie.”

      “Nes Antie wil. Good night!” Valery gee haar ’n stampie teen die skouer en kies koers.

      Dora herwin haar balans. Sy loop met haar oë op die grond voor haar voete gerig ingeval daar nog boomwortels, halwe bakstene of bottelstukke op die loer lê. Hier ken almal haar, en sy ken almal. Selfsugtig, eiegeregtig, arm, moeg vir die lewe – en so nuuskierig as dit by stories kom, jy kan dink dis iets wat hulle op hul brood kan smeer en eet.

      Almal weet wat daardie aand by die wit kerk se Kersspel gebeur het. Hulle is dit eens: Hulle ken sulke mans in die onderdorp, maar nie een van hulle het nog ooit sy eie kinders ontvoer nie. En waar kry jy ’n mens wat ’n ander mens op die kerk se grond slaat om dood te slaat? Theuns van den Heever met sy sedige gesig, hy skel mos op bruin mense. Maar die polisie soek hom, hy gaan sit.

      Dora loop vinniger. Van hier af is die sypaadjie gelyk geskraap en skoon gevee – Jonnie se werk. Dis etenstyd en netnou begin Sewende Laan. Daar is lig in hul eetkamer en in die kombuis. Dora skep moed. Soms kry Dania ’n bevlieging om aandkos te maak. Oubaas, die basterhond wat sy geërf het, verwelkom haar by die hek. Hy lyk vir haar elke keer teleurgesteld as hy sien dis weer sy en nie oorlede Ampie nie.

      Sy druk die hekkie oop en stap in. Die tuin aan weerskante van die paadjie is natgespuit, sy ruik klam grond. Haar swaardlelies kom mooi aan. Jonnie het hulle opgelei en met ’n draadheining afgeskerm teen Oubaas wat nie uit die beddings kan wegbly nie. Sy vryf die hond se kop en krap agter sy ore. Hy gee verlangende tjanke toe sy instap en die deur agter haar toetrek.

      Haar huis is skoon, dit ruik na potpourri en gister se politoer. Selfs die uie wat in die kombuis braai, ruik vars en verfrissend teen die bedompigheid van die huise wat sy pas besoek het. Sy maak ’n draai by Jonnie. Hy sit by sy lessenaar en werk op sy skootrekenaar. Sy soen hom op sy wang.

      “Ek het ’n verrassing vir jou,” sê hy.

      Sy kan sien hy het e-pos oopgemaak. Die brief is dof omdat sy nie haar leesbril op het nie.

      “Ek gaan eers hande was en kyk wat maak Dania in die kombuis, dan kom lees ek,” belowe sy.

      “Dis van Jo-Anne!” roep hy haar agterna. “Sy het haar plek op die vliegtuig bespreek.”

      Jo-Anne het planne om Desembermaand te kom kuier. Dora weet sy behoort bly te wees, maar sy is nie. Jo-Anne praat deesdae stories wat haar bang maak. Dis nie wat sy reguit sê nie, dis die skimpe tussen die lyne wat Dora bekommer. Jonnie reken haar angs is ongegrond. Jo-Anne kan nie ná al die jare met die waarheid uitkom nie, maak ook nie saak of sy alleen is nie. Wat sal sy sê as Jo-Anne vir goed wil terugkom? Sy sal bly wees, maar sy glo nie Jo-Anne kan haar losmaak van haar lewe daar oorkant nie. Sy hemel dit so hoog op, Dania kan nie wag om te gaan kuier nie. Die kind kyk na Jo-Anne se lewe asof dit ’n mooi storie is, asof sy eenkant staan en haar net kan verwonder. Dit is nie waar nie. Jo-Anne en Dania hoort bymekaar. Dora weet dit met die sekerheid van ma-wees. Jo-Anne word deur verwyte verteer en sy sal nie haar mond hou as sy en Dania saam in Londen is nie.

      Jo-Anne kan nie anders nie, sy kyk altyd met ’n soort verlange na ander mense. Gesinne wat eende voer in die park, ’n ma met ’n kinderwaentjie, ’n pa wat vis en skyfies koop vir sy tienerseun, hom ’n sluk van sy bier gee. As sy soms laataand met die bus uit die stad huis toe ry, loer sy na verligte vensters op soek na gesinne wat hande vat om etenstafels. Die vensters in die huis oorkant haar woonstel fassineer haar. Saans sit sy die lig in haar sitkamer af en kyk na die inwoners – ’n vaal man en sy vrou. Hul hare is ewe lank, hul skouers skraal. In die winter wasem die ruite toe en dan lyk hulle dowwer as gewoonlik, maar nie so vaal nie. Die vrou hang haar helderrooi tjalie om en die man dra sy gestreepte mus, selfs in die huis.

      Toe sy hier ingetrek het, het Jo-Anne haar verbeel daar woon ’n Victoriaanse storie in die huis met sy torings en traliebalkonne. Reuse-akkerbome rys langs die mure op – so hoog, hul sytakke sleep oor die dak se nok. In die herfs maak die eekhorings ryp akkers bymekaar. Hope blare versamel in die geute. Jo-Anne kyk hoe die vaal man teen ’n leer opsukkel agter die blare aan. Soms verbeel sy haar sy hoor kinders wegkruiper speel in die deurmekaar tuin. In die lente sit die vrou potte affodille op die vensterbank. Oral in die parke slaan hulle uit, nie so kleurvol soos margriete en gousblomme en vygies nie, maar songeel-vrolik. Sy skryf alles vir Dania. Sy eet vars aarbeie, soet en geurig. Die kinders bring vir haar rose in die somer. Jo-Anne beskryf haar klaskamer en haar woonstel kamer vir kamer. Sy beskryf die huis langsaan. Sy neem foto’s en e-pos dit. Sy vertel van die seisoene. Van hoe warm dit word in die hoogsomer, hoe koud in die winter. Soms sneeu dit, soms ysreën dit. Dan is die sypaadjies glad en bedrieglik, die kroegies gesellig warm. Haar ouers was eers geskok om te hoor dat gewone gesinne in kroeë kuier, tot sy foto’s saamgestuur het en hulle gesoebat het om te kom kyk hoe dit in die regte lewe lyk. Sy het geld bymekaargemaak om hul vliegtuigkaartjies te betaal. Hulle kry elke keer ’n ander verskoning, en Dania is na hul mening te jonk om alleen te vlieg – wás te jonk.

      Sy skryf vanjaar graad tien. Sy is nie meer ’n klein dogtertjie nie. Jo-Anne het die e-pos vanmiddag gestuur. Sy skimp nie, sy sê reguit dat Dania in die Britse lente moet kom, hulle kan alles uitpluis terwyl sy Kersfees in Suid-Afrika kuier. Sy sien uit na ’n somerkersfees, tel die dae. Dis nou die laaste week van November en Londen is bitter koud. Die bure het vroegaand hul gordyne dig getrek. Haar verwarmers is aan, daar prut sop op die stoof. Sy het vanaand iets groots om te vier. Haar twee beste vriendinne, Sandra Louw – of Sandy, soos sy hier bekend is – en Vicky, asook Vicky se man, Henry, kom om in haar vreugde te deel.

      Haar huislening is drie weke gelede deur, die oordrag gister. Die woonstel is hare, en sy kan bars van trots. Haar ouers weet nog nie, en dit gaan takt kos om hulle te laat verstaan dat dit haar droom was en nou werklikheid is – haar eie huis. Vir hulle is haar onderwyspos hier so tydelik, hulle vra steeds wanneer sy van plan is om terug te kom. Maar sy is al bevorder tot vakhoof, sy het haar burgerskap en eindelik haar huis. Dis permanent. Sy het die stad leer ken en liefkry, die strate en parke en paleise, die optogte en feeste.

      Haar toekoms is hier.

      Jo-Anne wonder of haar pa haar laaste e-pos oopgemaak het. Sy los dit eers en gaan roer ’n slag in die sop. Dis tyd. Haar vriende arriveer onder luide gelag en gestamp van voete. Sy maak oop en kry geskenke van Suid-Afrikaanse rooi wyn en Belgiese sjokolade. Hulle skud jasse uit, raak ontslae van nat stewels en loop op dik wolsokkies sitkamer toe.

      “Dit ruik soos ons plaaskombuis!” roep Sandy uit. Sy verlang verskriklik na hul plaas naby Prieska, maar terug kan sy nie. Sy is ’n verpleegsuster wat nagraads studeer en in elk geval in Kaapstad sou moet gaan werk, indien sy ooit teruggaan. Wanneer sy van huis toe praat, is dit altyd Prieska. Kinderplekke raak romanties as jy lank genoeg wegbly.

      Jo-Anne vrees soms dat sy weer vasgevang gaan word deur die skoonheid van haar kleintyd-omgewing. Nie dat die buurt waar hulle woon dit sal regkry nie – die dorp miskien, die berge en die see heel moontlik.

      Een ding kan sy nie verstaan nie, en sy stry met haar pa en ma omdat hulle steeds in die onderdorp woon. Die landswette het verander. Hy is skoolhoof en ouderling in die wit kerk. Haar ma deel nie net gratis medisyne uit by die kliniek nie, sy doen huisbesoek die hele dorp deur. Hulle is gerespekteerde inwoners, maar woon steeds in dieselfde huis in dieselfde straat in die onderdorp.

      O, hulle het hulle redes.

      “Dis ons huis hierdie, hier sal hulle ons voete eerste uitdra.”

      Teen die huis kan sy nie stry nie. Die huis was daar lank voor die dorp aangelê is en is twintig jaar gelede met sorg deur haar pa gerestoureer, so outentiek hulle kan dit oplaai en in Stellenbosch gaan neerplak.

      “Dis ons mense hierdie, ons sal ons nie bo hulle aanstel nie.”

      Hoekom is dit dan so belangrik dat niemand moet weet nie?

      Henry