Helena Hugo

Haar ma se kind


Скачать книгу

kollege toe, kon ek sien sy gaan haar eie pad loop. Ons het stry gekry oor die somerrokkies wat ek vir haar wou maak. Sy wou jeans koop en sy het, jeans en hoë hakke en henna vir haar hare. Jo-Anne het van kleins af altyd ’n wilde streep gehad. Ergste is: Ek het myself in haar herken. Toe ek jonk was – Here, U wat alles weet – wou ek mos vir my ’n dokter gaan vang daar in Groote Schuur, dis hoekom ek verpleegkollege toe is. Wou soos die ryk wit mense in een van daai glashuise teen Tafelberg se hange woon. Ongelukkig moes ek elke maand een naweek terugkom huis toe, en Jonnie Stals het dieselfde pad gery. Kom ons nou by die einde van daai pad, Here?

      Dora sê nie amen nie, sy onthou skielik dat sy vir Loesie seep belowe het, mieliemeel en koffie vir die Nagels. Paraffien vir die Porters … Sy moet die goedjies vroeg uithaal en vir Dania neersit sodat sy dit kan aflewer. Wat nog? Pynpille. Uitputting oorval haar tussen paraffien en pynpille …

      Toe Jonnie haar wakker skud, begroet sy hom met: “Het ons nog rekverband in die linnekas?”

      “Jy het tot laatnag rondgerol,” verwyt hy haar. “Eerste ding waaraan jy dink as jy jou oë oopmaak, is jou werk.”

      Sy ruik koffie, besef dat sy laat is en sit regop, mislik en met ’n kopseer. “Het ek verslaap?”

      “Dis halfsewe.”

      “Ek moes vyfuur op gewees het! Het jy geëet?”

      “Ek het hawermout in die mikrogolfoond gemaak, vir jou ook.” Jonnie het ’n baadjie en ’n das aan, ’n spierwit hemp. Net sy weet hoe erg dit is om die sweetvlekke onder daai arms uit te was. Hy frons en kyk skeef na haar. “Jy lyk moeg.”

      “Ek sal beter lyk as ek my gesig gewas het en my eerste koppie koffie in het.”

      “Dania het gemaak.” Hy gee haar die gebruiklike piksoentjie en vat sy werkstas.

      Sy klim langsaam uit die bed, so dronk sy moet aan die bedstyl vashou om regop te bly. Min slaap, besluit sy, en wag tot haar ore nie meer suis nie.

squigle.jpg

      Jo-Anne se wekker gaan elke oggend halfsewe af, maar sy staan nie voor sewe-uur op nie – veral nie in die winter nie. Gewoonlik skakel sy die televisie aan en lê en rook haar eerste sigaret. Vanoggend is sy nuuskierig om te sien of haar pa haar e-pos gekry het. Sy gaan haal haar skootrekenaar, klouter weer onder die komberse in, skakel dit aan en tik haar epos-wagwoord in. Met haar een hand soek sy na die sigarette op haar bedkassie en kry ’n leë pakkie. Laas nag mos haar goeie voornemens laat vaar en genoeg gerook vir die res van die week. Dis nie te sê dat sy ingee nie, sy sal die stryd volstry voor sy huis toe gaan en haar ma beïndruk met haar soet asem. Antie Lea rook, maar haar suster sê reguit rook is sonde. Jo-Anne grinnik. Haar ma het ’n neus soos ’n bloedhond wat afgerig is om enige soort sonde uit te ruik.

      Ag nee, nie ’n teken van ’n Stals of ’n Pietersen in haar in-mandjie nie! Miskien later vandag.

      Sy klap die deksel toe sonder om een van haar ander e-posse oop te maak, swaai haar bene uit die bed, steek haar voete in pantoffels en slof badkamer toe. Sy het laas nag haar handdoeke oor die relings gehang en die verwarmers op laag geskakel. Dit help veel.

      Dania sal moeilik aan die winters gewoond raak, al dink sy sneeu is wonderlik. Ja, dit maak romantiese prentjies, maar vandat aardverwarming toegeslaan het, sneeu dit selde behoorlik. Die vieslike winters ten spyt, wil sy die kind hiernatoe bring en haar die moederliefde gee wat sy ontbeer het. Ongelukkig is daar geen vaderfiguur nie, nie op die oomblik nie. William tel nie en Danny sal haar niks baat nie. Nee, Dania mag nie eens weet van Danny wat in Cambridge woon saam met sy Engelse vrou wat klas gee aan die universiteit, en haar twee halfsussies en een halfboetie nie – beslis nie!

      Jo-Anne plak tandepasta op haar tandeborsel en borsel hard en lank aan die bitterheid in haar mond. Hy kom spog mos by haar met sy kinders, maar hy weet nie van Dania nie en sy sal sorg dat hy nóóit weet nie. Een van die dae is sy hier, dan wys sy haar die mooiste stad in die hele wêreld. Museums, kunsgalerye, kastele, parke, tuine, winkels wat enige Weskuskind uit Suid-Afrika net van kan droom – wat sý van gedroom het tot haar hoop verydel is.

      Die tandeborsel land skeef op sy staander. Haar hande bewe, sy blaas op die spieël, vee nie die dowwigheid af nie. Dis hoe sy lyk, soos ’n verlore gees wat iewers in die mis rondsweef op soek na vervulling. Vyftien jaar se verlange doen dit, dit maak jou leeg. Antie Lea ondersteun haar, sy het al baiekeer gesê sy weet nie hoe sy dit hou nie. Sy het agt kinders en sal nie een van hulle kon weggee nie. Sal haar goeie ma dit verstaan, sal sy haar kan oortuig? En haar pa?

      “Ma, Pa, hierdie winter is die laaste winter sonder my kind.”

      Liewe Here, maar wat van Dania? Kan ek dit waag om te vra dat sy haar goedjies pak en saam met my huis toe kom?

      Soms maak dit haar so bang dat Dania haar sal haat, sy wou al voor ’n trein inspring. Ander kere dink sy dit sal goed wees om gehaat te word, dan word sy deeglik gestraf en kry miskien eendag vergifnis. Kan Dania haar vergewe, kan die Here? Sy vra so aanhoudend, miskien het Hy. Maar hoe kan sy seker wees voor sy Dania alles vertel het?

      Jo-Anne draai van die spieël af weg en trek die badkamerdeur met mening agter haar toe. In die slaapkamer maak sy haar hangkas se deure oop. Sy haal dik wintersklere uit, trek aan, kam haar hare sonder om weer in die spieël te kyk en sit haar mus op. In voorbereiding op die modderpad na haar toesluitgarage trek sy haar Wellingtons aan en gooi ’n paar leerstewels in ’n Sainsbury-sak. Haar skooltas is gepak. Sy maak seker dat sy haar handskoene in haar jassakke het, knoop haar serp om, stel die lugreëlaar en maak die woonstel se voordeur oop.

      ’n Yswind waai teen haar vas. Sy sluit toe, trippel rond en trek haar handskoene aan. Ver weg hoor sy die portaaldeur toeklap. Drie verdiepings later stoot sy dieselfde deur oop. Dis nog kouer buite. ’n Dun lagie sneeu bedek die grasperk. Oral lê spore van mense, katte, honde en vosse.

      Dania kan nie glo daar hardloop vosse in ’n groot stad soos Londen rond nie. Jo-Anne het vir haar ’n foto gestuur van die een wat soms op die kerk se agterstoep slaap. Die koster voer hom met brood en vleis. Hy mag nie, maar in die winter kry die Londenaars al wat ’n dier of voël is, jammer. Ou mister Steward is juis besig om ’n papiersakkie voëlsaad uit te skud. Hy is ’n wag by die Portrait Gallery, dertig jaar lank, weet baie van kuns.

      “Good morning, my dear,” groet hy. “Cold today.”

      “Good morning, mister Steward.”

      “What d’you think, colder than yesterday?”

      “Indeed, mister Steward.”

      Hy frommel die leë sakkie op, prop dit in sy jassak, wikkel sy skouers en stap met kruppelstappies na die bushalte langs die hoofhek. Jo-Anne voel sleg omdat sy hom nie ’n saamrygeleentheid aanbied nie, maar jy ry nie met ’n kar die stad in nie. Haar skool is drie blokke van hier af. In die somer loop sy, in die winter ry sy. Mister Steward het met haar vriende gemaak toe sy hier ingetrek het en hy hand bygesit het met afpak en aandra. Dit was die eerste en laaste keer dat hy in haar woonstel was. Hulle gesels buite op die trap of in die tuin en het ’n paar keer saam Harvester toe gestap vir vis en tjips. Sy seun, Charlie, werk al amper twee jaar lank in Doebai. Mister Steward sê dis goed, hulle het lank genoeg by mekaar uitgehou, maar hy is eensaam en kla dat Charlie nie gereeld sy e-posse beantwoord nie.

      Jo-Anne weet hoe hy voel. Sy wou hom al die waarheid oor Dania vertel, maar sy keer haarself. Die ou mense wat sy ken, oordeel hard en sy wil nie sy vriendskap verloor nie. Soms verlang sy so na haar pa, sy sien hom voor haar loop, skraal en effens geboë, asof hy lank in sy lewe ’n las met hom saamdra.

      Drie

      Dora kry Dania in die kombuis. Sy is kaalvoet en dra ’n kortbroekie en T-hempie. Die kind se lyfie is byna breekbaar dun, maar praat van taai! Op die atletiekbaan is sy almal voor, sy speel saam met groot meisies in die eerste hokkiespan en ryg die doele in. As dit kom by straatkrieket, baklei die kapteins om haar in hul span te kry. Blykbaar kan sy ’n bal so draai dat geen kolwer dit terugslaan nie. Staan sy voor die paaltjies, gee sy nie bes voor sy