Helena Hugo

Haar ma se kind


Скачать книгу

      “Môre, my kind. Is jy ook vanoggend laat? Of het jy al gedraf?”

      “Nog nie. Oom Jonnie het belowe ek kan e-pos stuur voor hy vanoggend skool toe gaan, toe help ek hom eers en toe skryf ek te lank aan my brief.”

      “Vir Jo-Anne?”

      “Ja. Kan ek vir Antie toast insit?”

      “Asseblief.” Dora gooi vir haar koffie. Sy skep ekstra suiker. Krag na kruis, dis wat sy nodig het. “Wat skryf jy vir Jo-Anne?”

      “Oom Jonnie sê ek is die enigste kind in die skool wat volgende jaar oorsee gaan en dis ’n voorreg.”

      Sal Jonnie haar voorpraat!

      Dania sit die kommetjie skaapvet op die tafel neer.

      “Daar is nie skaapvet in Londen nie,” sê Dora.

      “Daar is skape.”

      “Jy kry nie die stert te koop nie – Jo-Anne het geskryf.”

      “Sy kan ’n heel skaap koop.”

      Teen ’n plaas se prys. Dora vat ’n slukkie van haar soet koffie, kyk weg van die kind. Stry nou met haar oor vetstertskape, en wat sy eintlik wil doen, is om haar te beskerm teen die grootste skok van haar lewe.

      “Antie hou nie van Londen nie,” verwyt Dania, “en Antie was nog nie eens daar nie.”

      “Ja,” sug Dora, “miskien is ek jaloers op jou. Eet jy nie?”

      “Ek sal as ek terugkom van draf, anders kry ek steek in die sy, Antie weet mos.”

      Sy weet, maar dis asof sy vanoggend nie reguit dink nie. Sy ís jaloers – op ’n ander manier. Die idee dat Jo-Anne se skuldgevoelens die oorhand gaan kry, maak haar besitlik oor die kind wat sy help grootmaak het en liefhet en met elke greintjie moederliefde in haar wil beskerm teen nog teleurstellings, nog hartseer.

      Dania sit twee snye roosterbrood op ’n bord en sit dit op die tafel neer.

      “Dankie, my kind.”

      “Nog iets?”

      “Sal jy asseblief vanmiddag vir my pakkies gaan aflaai by antie Loesie en die Nagels, en die koesisters by mevrou Willemse?”

      “Antie Dora! Ek skryf môre.”

      “English composition, anders het ek jou nie gevra nie. Doen jy dit, of moet ek jou betaal?”

      “Ek sal – ek sê net.”

      En uit is Dania, uit by die deur.

      Dora roep haar nie terug nie. Sy stoot die skaapvet eenkant toe en doop haar roosterbrood soos beskuit in haar koffie. Sy moes nie met die geldstorie begin het nie – die kind is geldgierig, maar darem nie só nie. Dis oor die e-pos. Wou sy nie sê wat sy geskryf het nie, of is dit sý wat haar nie kans gegee het om te vertel nie? En Lea. Het sy vanoggend al vir Lea gebel? Nou’s die kind weg voor sy gevra het. Lea is siek. Die familie bekommer hulle oor Lea wat ten spyte van haar hartoperasie kortasem bly en wat – volgens haar oudste dogter, by wie sy inwoon – verseg om terug te gaan dokter toe. Jo-Anne steur haar nie daaraan nie, sy speel op Lea se gevoel en skryf vir haar briewe om raad te vra oor Dania. Dit werk op Lea se gewete, en sy en Dora kan nie die goed oor die telefoon uitpluis nie. Jonnie het gesê hulle kan uitry soontoe sodra die skole gesluit is. Dit raak nou dringend.

      Vanoggend voel sy self nie te gesond nie. Dalk somergriep.

      Sy moet stadig opstaan, aan die tafel vashou, diep asemhaal voor sy die vuil borde en bekers kan bymekaarmaak en wasbak toe dra. Die skottel rou vleis wat sy voor werk in die pot moet kry, wag vir haar. Sy gaan haal die groot vleispot op die onderste spensrak en sit dit op die stoof met olie en uie wat sy gisteraand gekerf het.

      Gewoonlik neurie sy een van haar gunsteling-gesange. Vandag put sy geen vreugde uit die werk nie. Sy het ook nie asem oor om te sing nie, haar arms voel lam.

      Sy is besig om sout en peper oor die vleis te strooi toe sy Dania agter haar hoor.

      “Ek gaan nou,” sê die kind skoorvoetend. “Is daar nog iets?”

      “Net die pakkies wat jy moet aflewer.”

      Haar hare is vasgebind in ’n parmantige poniestert.

      “Moet ek die vleis vir Antie dophou?”

      “Ek stel die plaat baie laag. Jy kan water bygooi as jy ruik dit braai.”

      Die stukke vleis wat sy eerste in die pot laat val, sis hard. Toe sy omdraai, is Dania weg.

      Sy wou nog vra of sy Lea toe gebel het, maar sy sien nie kans om haar agterna te sit nie.

      Here, waar is my kragte heen?

      Sy dwing haarself om die vleis in die pot stuk vir stuk om te keer. Nooit anders nie, dit is griep, en sy sal iets moet drink, anders kom sy nie deur die dag nie. Eindelik kan sy die vleispot se deksel opsit.

      Daar is nog een bruistablet in die medisynekas. Sy gooi dit in ’n glas water en drink dit skuldig.

      Jonnie het dit gekoop om Dania deur die eksamen te help. Dalk het Emma daarvan byderhand om te leen tot hulle weer by Graafwater uitkom. Hoofpynpille het hulle genoeg. Sy drink twee. Voor sy vergeet, maak sy die pakkies vir Loesie-hulle op, speld naamkaartjies aan elkeen en loop kamer toe. Daar stel sy haar wekker en gaan lê op die bed.

      Ontspan, dis senuwees wat jou uitput en siek maak. Kalmeer. Jy weet waar jou krag vandaan kom.

      Trane wel op. Haar Vader is tog genadig, al weet Hy als.

      Hemelvader, help my, troos my, versterk my. Stuur vir my Skrif, al is dit ’n vermaning, ek smeek U.

      Die woorde van die Ou Vertaling kom van ver af, van haar kleintyd toe sy lang stukke uit die Bybel gememoriseer het.

      Die Here is my herder; niks sal my ontbreek nie.

      Hy laat my neerlê in groen weivelde; na waters waar rus is, lei Hy my heen.

      Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.

      Verbasend hoe helder haar verstand skielik is. Sonder huiwering vloei die woorde uit die fontein wat in haar hart opborrel en wat in haar diepste nood nog nooit opgedroog het nie.

      Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf, dié vertroos my.

      U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.

      Sy het werk om te doen. Daar is mense met wie dit slegter gaan, wat nie kan wag om môre by die kerk se tafels te kom aansit nie, mense wat onversorg en eensaam in bedompige sinkhokkies lê en uitsien na die dood, wat net swaar geken het, van die dag van hul geboorte af tot die dag van hul gryse ouderdom, hooplose mense.

      Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae.

      Dora haal diep asem, dit voel beter. Sy kom stadig orent. Haar verpleegstersuniform hang aan die kasdeur. Sy gaan haal dit af en trek haar japon uit.

      Jo-Anne wou van kleintyd gaan skoolhou soos haar pa. Daarmee het Dora vrede gemaak. Sy weet wat háár beroep vereis – veral hier op die platteland. Jo-Anne is te veel van ’n dametjie, te veel van ’n bedorwe enigste kind. Met Dania het hulle ’n ander koers ingeslaan. Sy het haar dagtakies en sy kom by die armes, al is dit net om ’n pakkie af te gee. Dora het tot nou toe gehoop dat Dania geleer het om respek te hê vir die edel beroep van verpleeg en die onselfsugtige pad van naastediens sal kies. As Jo-Anne haar vat, sal daar niks van kom nie.

      Dania luister na die geluid wat haar hardloopskoene op die gruisgrond maak, vinniger en vinniger om weg te kom en terug te kom voor die son te hoog sit. Sy was sesuur reg om Jo-Anne se e-pos te skryf, maar oom Jonnie het haar aangesê om te