Stefani Serfontein

Oase


Скачать книгу

/p>

      Oase

      Stefani Serfontein

      Lux Verbi

      In nederigheid wy ek hierdie storie

       aan my Skepper-Vader en my geliefde ouers.

      Prediker 2:11 Toe het ek gekyk na al my werke wat my hande tot stand gebring het, en al die moeitevolle arbeid wat ek verrig het - en kyk, dit was alles tevergeefs en ’n gejaag na wind, en daar was geen voordeel onder die son nie.

      – Die Bybel, 1953-vertaling

      Openbaring 21:6 En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.

      – Die Bybel, 1953-vertaling

      Hoofstuk 1

      ❧

      Negev-woestyn

      12 April 2010

      Die Arabier lig dreigend sy wapen. Hy gluur met sy swart oë onder sy swart-en-groen geruite keffiyeh na haar en wys met sy vuil wysvinger oor sy mond dat sy moet stilbly. Sarah knipper haar oë. Daar is oral stof en vir ’n oomblik wil sy skree van paniek. Sy kan nie haar bene roer nie. ’n Skerp pyn skiet deur haar liggaam en sy krimp inmekaar.

      Die Arabier druk die vuurwapen se koue loop deur die stukkende venster teen haar keel. Haar gehuurde motortjie is ’n verfrommelde wrak wat bo-op haar lê, daar is stof en petroldampe in haar keel. Sy onthou die harde slag, hoe die karretjie vir ’n paar oomblikke die lug ingesteier het en daarna die lug ingeslinger is. Dis klaar met kiewiet, het sy gedink en ’n flitsgebed opgestuur. Sy en die karretjie het die klipperige grond getref. Dis al wat sy nou onthou.

      En wat soek dié vent dan nou hier? “Eina,” kreun sy.

      “Bly doodstil,” sis hy deur sy tande in Engels.

      Sarah se hart klop in haar keel. Sy wonder of alles sal weggaan as sy haar oë net weer toeknyp. Die pyn, die masjiengeweer! Genade, pleit sy geluidloos.

      Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. Amper prewel sy dit hardop, maar byt haar lip so hard vas dat sy dadelik die bloed daarop proe. Haar bene wat skeef onder die motorwrak vasgeval het, pyn ondraaglik en sy wens sy kan dit net ’n oomblik roer. Swart newels skuif momenteel oor haar en sy proe nog meer bloed. Sy kan nie haar asem intrek nie.

      Ná wat vir haar voel soos ure, draai die Arabiese soldaat sy kop weg en tuur in die rigting waarvandaan sy, nie baie minute tevore nie, aangery gekom het.

      Terwyl die man in die verte tuur, wonder Sarah hoe sy onder die wrak gaan uitkom en of hulle haar gaan doodskiet. Toe is daar ’n sarsie geweerskote hier naby haar. Nog skote klap en toe ’n genadige duisternis. Sy voel nie meer die vuurwapen se metaal teen haar keel nie. Die pyn sak weg en daar heers skielik ’n doodse stilte. Al waarvan sy bewus is, is die gevoel dat sy dryf. Sy veg teen die newels, maar dit oorval haar.

      Sarah raak weer bewus van pyn. Intense pyn. Is sy geskiet? Toe die newels om haar effe wegtrek, is die pyn skielik erger. Haar bene en ander ledemate kan ook nie beweeg nie. Sy haal rukkerig asem. Sy kan nie haar bolyf oplig nie. Haar vingerpunte roer. Sy voel iets klewerigs.

      Iewers ver hoor sy manstemme Engels praat. Die Arabier en nog ’n soldaat? Waar is hy? Sy kreun weer en probeer roep. Eienaardige roggelgeluide kom saam met bloedskuim uit haar mond. Sy kan dit nie afvee nie.

      “Help my!” kry sy uiteindelik uit. Toe dwaal sy weer weg in ’n wêreld van vergetelheid.

      Saoedi-Arabië

      2 Mei 2010

      Sarah raak stadigaan bewus van haar omgewing. Soms sink sy weer weg in die diepte van duisternis, dan weer sien sy om haar pragtige kleure en newels, newels soos misslierte. Dan is dit weer weg en is daar net donkerte rondom haar.

      “Miss, Missie!” Iemand tik haar liggies teen die wang.

      “Vervlaks. Kan sy nie maar bykom nie.” ’n Manstem in Engels met ’n aksent, maar dit is asof dit ver is, dof.

      ’n Gesprek tussen dieselfde stem en nog ’n man. Dowwe stemme, maar haar brein wil nie registreer wat hul sê nie.

      As sy nie so deurmekaar was nie, kon sy dalk uitmaak watse taal hul praat. Klink Arabies.

      Die Arabier! O genade, waar is sy? Haar huurkarretjie. Die ongeluk. Hy het sy vuurwapen op haar gerig gehad. Bloed, sy het bloed geproe.

      Die intense pyn is weg. Dankie tog!

      Is my voet nog onder die kar vasgeval? Eina! Vervlaks! My voet is bitter seer, en ek kan hom nie beweeg nie!

      Sy forseer haar oë oop. Stadig dring die kleure wat sy so tussen die newels deur gesien het tot haar deur. Dis pragtig.

      Ek is nie meer in die Negev onder die kar nie, dis vir seker, dink Sarah. Ek droom tog nie.

      Sy draai haar kop in die rigting van die stemme. Heftige stemme, of verbeel sy haar? Haar beweging trek die aandag van die twee mans wat ’n ent van haar af staan. Sy knipper haar oë.

      Die lig is effe dof om haar maar iewers, daar waar die twee mans staan en praat, is helder lig. ’n Driehoekige ingang of iets. Die twee mans is nou stil en die kort, dik een staar haar aan. Sy frons, probeer beter fokus en trek haar oë op skrefies, draai haar kop van kant tot kant. Dis regtig mooi hier. Toe is die skerp lig weg en dit is weer net die sagte lig om haar.

      Iewers bokant Sarah filtreer ’n paar straaltjies sonlig deur gaatjies in die dak bokant haar en die fyn stof in die lug maak van die lig helder strepies goud. Droom sy? Is sy iewers in ’n tent? Dit laat haar aan die Turkse restaurant in Pretoria dink. Waar is ek tog? wonder sy.

      Sarah sien nou net die een man. Hy laat sak ’n bont doek met blinkers wat in die doflig glim voor die ingang. Toe stap hy vinnig nader.

      “Dankie tog!” roep die lang, donker man in die liggrys uniform wat by haar bed tot stilstand kom met ’n gul glimlag. Hy het ’n ligblou keffiyeh om sy kop. ’n Silwer koord hou dit uit sy gesig. Vir ’n oomblik kyk sy vas in die donker oë.

      Hy lyk darem nie soos die een met die groenbont kopdoek nie, het darem ook nie ’n vuurwapen nie, dink Sarah verlig.

      Sy maak haar oë vinnig weer toe en wonder wat op aarde haar nou te doen staan.

      Hoekom is hy so bly dat sy bygekom het?

      Het hulle haar ontvoer? Sy ken geen staatsgeheime nie en is net ’n eenvoudige Suid-Afrikaanse vrou wat deur die Negev na Eilat toe op pad was. Wel teen die uitdruklike wense van haar Israeli-vriende by wie sy in die Negev gekuier het, onthou sy nou pynlik.

      Ek wou nog so graag in die Rooisee gaan snorkel het, dink sy teleurgesteld. Plaas sy na haar vriende geluister het. Dan was sy nie nou in hierdie gemors nie. Nou seker te laat, nè, Saartjie, dink sy by haarself. Ek sal seker nooit die einde daarvan hoor as ek lewend hieruit kom nie. Ás ek lewend hier uitkom. Liewe Vader in die hemel, help my, asseblief.

      Toe sy voel hoe haar pols vasgevat word, krimp sy onwillekeurig ineen. Sy loer met een oog deur haar wimpers om te kyk wat die Arabier beplan en probeer hewig wegruk. Met die wegruk flits ’n skerp pyn deur haar ribbekas, been en voet.

      “Au!” roep sy hard uit.

      “Sy is definitief beter, ja,” sê die man ewe geamuseerd.

      Sy kyk hom met oop oë aan, verontwaardig.

      Toe hy die konsternasie op haar gesig sien, gooi hy sy kop agteroor en lag heerlik uit sy maag. Hy het nog steeds haar pols in ’n stewige greep. Sy ruk haar hand los, pluk haar ander hand ook onder die ligte, veelkleurige doek waaronder sy lê uit en gryp haar gesig met al twee hande vas.

      “Wat nou? Wat’s die grap, hè? Is daar fout met my gesig?” vra sy sonder om te dink in haar moedertaal.

      Die man het nog lagspikkels in sy oë en sy een mondhoek trek skeef. Hy maak hewig verskoning, duidelik omdat hy agtergekom het sy is verleë. Jammer dat hy haar laat skrik het, verduidelik hy. Hy wil net graag