hy vir ’n paar oomblikke die waarheid in die oë moes kyk. Hy moes totsiens sê sonder die hoop dat hulle kontak kan hou. Haar oë het in syne gepleit.
Sy het daar gestaan, haar voet so gesond dat hy nie die fyn nuwe sandaaltjies en mooi voete met die pienk toonnaels kon miskyk nie. Sy het vars en jonk gelyk in die bont Arabiese romp en bloesie. Hy het haar aan die boarms vasgevat en net lig op die voorkop gesoen. Daar het soveel konflik in hom gewoed: Hy wou haar in sy arms neem, maar het besef hy sal alle bande met haar moet verbreek. Tog was daar hoop in sy hart om haar eendag weer te kon sien.
Dat dit onder sulke dreigende omstandighede soos vandag sou wees, het hy nie besef nie. Al wat hy nou weet, is dat hy haar ten alle koste wou en steeds wil beskerm – teen wat ook al!
Ari’el vryf oor sy baard. Dié meisiekind het in sy bloed kom sit. Hy pers sy lippe opmekaar en lees berigte uit ’n blog:
Jordan shipping South African armored carriers to Yemen?
There are many ways to skin a cat apparently. In 2010, South Africa sold about R 8.3 million or over 1 million dollars in weapons to Yemen. However no Ratel armored vehicles were sold. Ratel vehicles shown in Yemen in pictures by Reuters show the pro-change or defected military in possession of them currently. The armored carriers were likely shipped to Yemen in violation of their end use certificates. They appear to be converted versions of the South African Ratel carrier produced in Jordan by the Paramount Group, in co-operation with the King Abdullah Design and Development Bureau (KADDB). Additionally, Saleh opened his own bullet and tank factories in the last few years.
CAPE TOWN – South African manufactured Ratel armoured infantry carriers have been photographed in strife-torn Yemen …
The Ratels were apparently being operated in the Yemeni capital, Sana’a, by soldiers who had defected to protesters demanding the end of President Ali Abdullah Saleh’s rule. The presence of the vehicles either means SA authorised their export or that another country sold Ratels to Yemen, which would constitution a violation of the end-user certificate.
Hierdie tameletjie is Suid-Afrika s’n, en dit stuit hom teen die bors dat die spul Sarah nou hierby wil betrek net omdat sy ’n Suid-Afrikaner en haar broer ’n generaal is. Of gaan dit oor haar vroeëre verbintenis met sy organisasie? mymer Ari’el terwyl hy die berigte in sy rekenaarsak terugplaas en dit toeknip.
Hy staan op, sit weer sy tas in die bagasieruim vir die landing in Kaapstad. Die skraal man met die swart klere en grys jekker hou hom stip dop.
Gedurende die laaste stukkie van die vlug sit Ari’el broeiend voor hom en tuur, sy gedagtes op ’n mallemeulerit. Hy sien niks van die pragtige natuurskoon van die Wes-Kaapse wynlande wat onder hul verby skuif nie. Die winter se oggendson uit die ooste tint die see en wolke rondom Tafelberg se skiereiland in goud en pienk skakerings, maar selfs daarvan is Ari’el net vaagweg bewus.
Die Kaapstadse lughawe is nie te besig toe hulle land nie. Ari’el stap vinnig oor die stuk teerblad in die Kaapse wind en bid ’n dankgebed dat dit nie vandag reën nie. Hy het al eenmaal tevore met die Kaapse reënweer te doen gehad. Kol-kol blink daar poele van gisteraand se reën langs die aanloopbaan.
Binne tien minute kry hy sy bagasie en stap vinnig op pad na die motorhuuragentskap se kantoor. Hy skakel sommer in die loop Sarah se nommer wat hy lankal op sy BlackBerry gestoor het. Dit lui egter net aanhoudend. Vervlaks! Waar sou sy wees? Het sy ooit sy SMS gekry?
Ná al die papiere ingevul en die nodige formaliteite afgehandel is, spring Ari’el letterlik in die huurvoertuig, gooi sy rekenaar- en oornagtas op die sitplek langs hom en skakel die SUV se kragtige enjin aan.
Terwyl hy uit die parkeerterrein trek, vang sy oog die beweging van ’n motor in sy truspieëltjie. Die onopvallende ou vaalblou Renault kom net ná hom in beweging en skuif in die linkerkantste ryvlak langs hom in. Agter die stuur sit ’n afgeleefde Kaapse Maleier-oom met ’n fes op die kop en gluur hom skuins aan. Die ou man bestuur met sy linkerhand en met sy ander hand druk hy die selfoon teen sy oor vas.
Ontspan, Ari’el, sê hy amper hardop. Jy is maar net paranoïes omdat Sarah nie haar foon antwoord nie. Dit is niks om jou oor te bekommer nie. Hy konsentreer op die verkeer maar bly bewus van die Renault met die Maleier wat in die baan langs hom ry. Hy versnel om voor die Renault te kom en neem die afrit in die rigting van Sarah se woonbuurt. Die verkeer raak minder druk. Net ná Wynberglaan is daar ’n lang stuk oop veld aan sy linkerkant. Tafelberg se bokant weerkaats in die plasse water langs die pad en Ari’el roer sy skouers doelbewus om van die spanning wat in hom oplaai ontslae te probeer raak. Sy motor stamp deur ’n paar slaggate en hy is dankbaar dit is ’n viertrek.
Die volgende oomblik tref ’n motor hom op die deur aan sy regterkant.
Hy pluk die stuurwiel na links, net om te sien hoe die vaalblou Renault in die geel streep ruimte aan sy linkerkant al hoe nader beweeg. Hy ruk die stuurwiel terug na regs om net weer hard teen die motor wat hom gestamp het, te skuur. Metaal krap teen metaal. Die donkergroen Duitse motor aan sy regterkant wig in sy rigting en Ari’el tref hom net skrams terwyl hy vet gee en konsentreer om die SUV op die pad te hou. Die sterk enjin reageer vinnig.
Hoofstuk 4
❧
Kaapstad
Saterdagoggend, 18 Junie 2011
Sarah is wakker voor die son op is. Sy voel styf van die koud word voor die dooie vuur gisteraand. ’n Paar minute staar sy slaperig na die patroontjies in die ou staalplafon se reliëfwerk bokant haar. ’n Vinnige stappie is net wat sy nodig het, besluit sy toe sy by haar kamervenster uitloer en sien dit is ’n windstil oggend.
Sy trek warm aan en, met haar hare onder haar windbreker se kappie, stap sy en Ounooi haastig die ent na die trappies by Muizenbergstrand. Met Ounooi blaffend en uitgelate voor haar uit geniet sy Kaapstad se vars, yskoue winterlug. Die strand is verlate op hierdie vroeë oggend. Net sy, haar hond en die see. Die wolkies ver oor die baai begin na ’n lig amber verkleur. Sy stap ’n hele ent, gaan sit op die rotse en kyk uit oor Valsbaai. Die strand lê besaai met seewier en hier en daar dryf daarvan in die grys water.
Sy asem die soutlug diep in en luister na die branders teen die rotse. Sonder dat sy dit doelbewus doen, gaan haar gedagtes weer na verlede jaar. Wat sou dit wees wat haar skielik van gister af so aanhoudend laat terugdink aan daardie tyd in Saoedi-Arabië?
Sy was vir lank baie afhanklik van Ari’el. Hy het haar vir weke lank glad nie toegelaat om op haar sleg gebreekte voet te trap nie. Die krukke het gehelp, maar dit was moeilik om reg te kom. Hy was geduldig en baie goed vir haar. Nadat haar voet so genees het dat sy al hinkepink kaalvoet kon loop op die sagte matte in die tentwoning, het sy al hoe meer van die huishoudelike takies uit sy hande geneem. Hulle het soos vertroude vriende saam etes berei en skottelgoed gewas. Hy wou niemand in haar tent toelaat nie. Net daardie een dag het ’n vreemde, vet Arabier die tent ingekom. Ari’el was briesend en het hom uitgeboender.
Daar was die bootrit vanaf Jemen na Egipte. Haar weldoeners wat aanhoudend vir haar veiligheid gevrees het, het ’n paar dae tevore besluit om haar reis terug Suid-Afrika toe te reël. Sy onthou so duidelik die helderblou water van die Rooisee. Die onstabiele bootjie en die golwe teen die boot se kant. Sy onthou ook Ari’el se sterk, bruingebrande hande wat die boot stuur. Al die geheimhouding het haar laat voel hulle is op ’n spesiale missie. Sy is soos ’n Arabier vermom met die blou kopdoek om haar rooi hare gedraai. Ari’el het net eenmaal, toe sy navraag oor die vreemde rit per kameel en boot gedoen het, vlugtig en binnensmonds na ’n moontlike droster verwys.
Sarah ruk haar los van haar droomgedagtes.
Vergeet van Ari’el, Sarah. Jy sal hom nooit weer sien nie. Jy het ’n opwindende nuwe lewe hier in jou geliefkoosde stad.
Maar sy mis hom. Al stry sy daarteen, Ari’el is die een wat nog haar hart besit. Hulle was so na aan mekaar daar in die woestyn. Dit het byna haar hart gebreek toe sy nie weer van hom gehoor het nie. ’n Golf breek hoog teen die rotse en sy moet vinnig opstaan om terug te tree as sy nie natgespat wil word nie.
Waar is Ounooi dan nou? Ai tog, die stoute honne!