Stefani Serfontein

Oase


Скачать книгу

      Hy steek sy hand uit om te groet, maar Sarah ignoreer dit. Sy loer rond en sien geen geweer of handgranaat nie. Dit lyk darem heel veilig hier in die kleurryke tent. ’n Dokter, uit Jemen, het hy gesê? Dit is vrek ver van Israel en die Negev.

      Sy lig haar kop effens en kyk weer rond. Net mediese masjiene en pype en ’n toringtrollie waaraan die drup in haar arm gekoppel is staan om haar rond. Aan die ander kant van die tent is ’n rooi rusbank en plat tafels met koperware. Afgaanse matte lê oral op die vloer.

      “Kan jy Engels praat, Juffrou, e … Mevrou?”

      Sy Engels klink soos die Britte dit soms praat.

      “Ja,” kry sy dit vir die eerste keer in Engels uit, maar sê nie haar naam nie. “Dis ‘juffrou’. Kan ek asseblief ’n bietjie water kry?”

      Die dokter draai na ’n tafeltjie, help haar met sy een hand agter haar rug regop om ’n paar slukkies water te neem. Sy kreun vir die skerp pyn in haar ribbes.

      “Stadig,” vermaan hy sag.

      Sy sak terug op die dik kussings agter haar en sug diep. “Waar is ek? Die kar, my voet … Daar was geweerskote?” Sy vlieg orent. “Eina!”

      Sy besef sy klink onsamehangend, maar deur haar kop flits honderde beelde en gedagtes. Sy kreun en sukkel terug teen die kussings.

      “Jou voet, ja, erg gebreek, jy moet jou stilhou. Ook ’n paar ribbes, en harsingskudding. Die ander vrae sal ek later beantwoord. Die beste nuus nou is dat jy bygekom het. Jy was erg deurmekaar en vir drie weke nie by jou bewussyn nie. Slaap nou en word sterker. Jy is veilig hier, en tussen vriende.”

      Met dié draai hy om, neem ’n inspuitnaald van die tafeltjie en spuit sonder meer die spuitstof in die buis vir die binneaarse voeding. Sy wil nog iets prewel, maar sak weg in ’n heerlike, diep, sagte niksweesslaap.

      Hoofstuk 2

      ❧

      Kaïro

      10 Junie 2011

      Die groot Arabier storm op die kort mannetjie af, pluk hom aan die bors en lig sy hele twee honderd kilogram met gemak op. Dié se voete swaai heen en weer bokant die grond.

      “Ek wil nie jou opinie hoor nie.”

      “Solank jy net gedoen het wat ek gesê het jy moet.”

      “Dis reg, Groot Sadar. Ek het gedoen wat u gesê het. Die e-pos is van ons anonieme rekenaar gestuur. Ek wou maar net sê …”

      “Ek het gesê ek stel nie belang om te hoor wat jy wou sê nie,” snou Sadar weer die man toe.

      “Al waarin ek belangstel, is dat daardie arrogante Joodse doktertjie die boodskap kry dat ons sy duifie in Suid-Afrika gaan leed aandoen. Hopelik sal hy dan vinnig genoeg sy kontakte in Suid-Afrika, asook Jemen, aansê om die Ratels uit ons strate te verwyder. En laat haar boetie-die-ambassadeur-van-Egipte maar ’n bietjie sweet.” Sadar het die kort, dik mannetjie weer ru op sy voete neergesit en stap heen en weer in die kantoor waarvandaan hy sy besigheid doen.

      Die kort mannetjie vryf nou sy hande met genoegdoening saam. “Ja, Groot Sadar. Daardie dokter wat sy lyf Jemeniet hou, was baie danig met daardie Suid-Afrikaanse meisie terwyl hy haar versorg het daar in die woestyn. Hy was woedend die dag toe ek daar by die tent waar sy versorg is, gaan inloer het. Dit was daarna wat hy my uit die kamp gegooi en ek besluit het om wraak te neem.”

      “Hoe het jy haar opgespoor?” Sadar kan steeds nie die ongeduld uit sy stem hou nie.

      “My neef in die Kaap is mos met een van die Maleiers daar getroud, Groot Sadar. Ek het mos twee maande daar gaan kuier en soos u weet, is alles vandag moontlik as jy net die rekenaar kan gebruik. Facebook en Twitter is handige soekenjins. Die klomp Westerlinge sit hul hele lewe en ook sommer alles wat hulle doen, dink ek, op daardie blaaie. So dit is eenvoudig: Ons weet alles van wat almal doen, waar hulle is, waar hulle bly …” Hy grinnik.

      “Die klomp mense wat op daardie blaaie is, sal nóóit weer kan wegkruip nie. Ha-ha. Ek het tot haar adres en haar huis op Google Earth nagespeur.”

      Sadar gaan staan in sy spore en kyk die dik vent met nuwe oë aan.

      “Nou vat al daardie inligting wat jy oor haar het en stuur dit dadelik vir ons span in Kaapstad. Toe-toe, weg is jy.”

      Sadar wuif in die deur se rigting om aan die dik man te toon dat hy klaar met hom gepraat het.

      Die mannetjie huiwer nog en toe hy sy mond oopmaak om nog iets te sê stoot Sadar hom onsag by die deur uit en klap dit hard agter hom toe. Toe hy later by die venster staan en die vent in die straat agternakyk, grinnik hy egter.

      “Die Joodse dokter sal leer dat ’n mens in ons bedryf nie vyande moet maak nie,” mompel hy by homself, draai om en gaan sit voor sy skootrekenaar. Hy maak die Facebook-blad se soekfunksie oop om self ook kontroleerwerk te doen.

      Kaapstad

      Vrydag 17 Junie 2011, 17:30

      Dis al sterk skemer en Sarah trap versigtig oor die plasse tot by haar voordeur. Sy waardeer elke dag wat sy haar ou pophuisie in dié ou buurt van Kaapstad kan oopsluit. Wanneer sy sommige aande moeg van die ure se rekenaarwerk as navorser by die huis kom, voel dit altyd of haar huis met sy gordyne en matte in warm kleure haar verwelkom. Dis ’n nat vroegwinter hierdie jaar in die Kaap en Sarah is dankbaar dat sy tuis is ná ’n uitputtende werksweek. Die stoepie groet haar met ’n mengelmoes kleure en welige potplante. Die bolplantblomme se geur hang swaar in die klam aandlug. H’m, heerlik.

      Sy skakel die alarm af en Ounooi, haar goue Labrador, storm vrolik van agter by haar verby, draai om en kom skuur stertswaaiend teen haar been. Sy laat sak die pakkies op die kombuistafel en vryf die goue kop met die vriendelike oë. Terwyl sy vinnig die kaggel met lekker groot houtstompe en dennebolle pak, neurie sy saggies. Sy sal moet gou spring om alles klaar te kry voor haar gaste opdaag.

      Toe sy later die twee kerse in die blou keramiekhouers op die gedekte tafel plaas, gaan haar gedagtes vanself terug na meer as ’n jaar gelede, na ’n ander Vrydagaand, ’n Erev Shabbat.

      Dit was in die Negev-woestyn waar sy saam met Friedel en Marlise hierdie selfde twee kershouers gebruik het. Daar was heerlike Mediterreense kos en hulle het haar die voorreg gegee om die kerse aan te steek. Speserygeure het die knus karavaanhuisie gevul met warmte en liefde. Dit was daardie mooi aand voordat sy na Eilat toe sou vertrek.

      Die volgende dag is sy op pad na Eilat aangeval deur Arabiese terroriste. ’n Opportunistiese aanval op ’n onskuldige toeris, het die koerante dit beskryf.

      Sy byt op haar lip. Dit voel so lank terug. Maande ná daardie ongelukkige voorval, veilig terug in Suid-Afrika, het sy ’n pakkie in die pos ontvang. Marlise het die blou keramiekkershouers wat sy so bewonder het daardie aand in fyn sneespapier toegedraai en aan haar gestuur. Aangeheg was ’n kaartjie: “Ons is so dankbaar jy is veilig en weer op die been. Gebruik hierdie blou goed wanneer jy Shabbat hou en dink aan ons.”

      Hoe kosbaar is hul vriendskap nie.

      Die klop aan die deur ruk haar gedagtes terug na die hede. Haar Joodse vriende is hier. Hulle is vir haar net so kosbaar.

      Hulle kuier en sing en eet van haar geurige Kaapse bredie. Die aand vlieg verby. Die Vrede van die Shabbat daal oor haar huisie neer terwyl die sagte lig van die Shabbat-kerse weerkaats in die groot, elegante rooiwynglase. Hulle bid God se seën oor mekaar af en toe gaan haal sy die nagereg. Die souskluitjies se kaneelgeur vul die huisie. Later sit almal knus op haar bont kussings om die kaggel en kuier. Sy is deesdae dankbaar vir elke mooi oomblik en sy drink dit in. Die lewe is so kosbaar en kan so kort wees. Sarah geniet elke minuut van hierdie aand.

      Net ná elf groet sy almal by die voordeur en gooi dan weer ’n paar houte op die vuur in die kaggel. Sy sak voor die vuur neer en toe Ounooi by haar voete kom opkrul, draal haar gedagtes weer na die gebeure van verlede jaar. Sy vryf met haar duim oor die ryk borduurwerk op een van die kussings langs haar. Ari’el het die oortreksel in haar rugsak