almal so hard aan die gesels dat hulle hom nie sou kon hoor nie. Haar hart bons in haar keel. Sy toekomstige vrou. Dis ’n oorweldigende gedagte.
Die skemer sak toe sonder dat hulle kans kry om hul gesprek van vroeër die dag voort te sit. Maar dit bekommer haar nie. Die een of ander tyd sal hulle wel weer ’n geleentheid kry om alleen te wees. Dog, toe die kampvure brand, en sy sien hoe Bets haar stoel langs dié van Peet aan die oorkant van die vuur staanmaak, knaag die onsekerheid weer skielik aan haar. Peet het baie optimisties geklink toe hy gesê het Bets sal nie ’n traan oor hom stort nie. Sy beslistheid daaroor het háár ook half oortuig dat Bets nie regtig so erg oor hom is as wat sy dink nie. Maar nou weet sy nie. Die manier waarop Bets hom pamperlang … vir hom bier aandra, tent toe draf om vir hom ’n sakdoek te gaan haal, haar stoel nader skuif aan syne …
Peet was verkeerd. Bets ís baie lief vir hom. En sy, Alet, is bereid om haar geluk te verongeluk. Om hul jare lange vriendskap tot niet te laat gaan. Hemel, wat moet sy doen? Haar liefde vir Peet prysgee ter wille van haar vriendin, of moet sy voortgaan en vir die res van haar lewe met ’n skuldige gewete rondloop?
Jan gaan haal sy kitaar, en dis nie lank nie, of daar heers weer groot vrolikheid om die vuur. Net Elsie, sien sy, sit afgetrokke voor haar in die vuur en staar. Ben sit by Peet en Bets. Dit lyk nie of haar ongelukkigheid hom pla nie. Hy vertel ’n grap wat Bets laat skater van die lag. Peet lag nie, maar hy’t waarskynlik nie die grap gehoor nie. Sy aandag is by die rooster en die vleis op die vuur. Toe hy op ’n keer opkyk, glimlag hy vir haar, maar toe vat die vleis vlam van die vet op die kole en moet hy vinnig weer sy aandag daarby bepaal.
Slaaptyd verskyn hy skielik langs haar. “Jy moet lekker slaap, hoor.”
“Jy moet ook lekker slaap.”
Maar sy kan nie aan die slaap raak nie. Sy’s bang sy praat dalk weer in haar slaap. Dis eers in die vroeë oggendure dat sy eindelik indommel.
Bets is voor haar op die volgende oggend. Nadat sy by die tent uit is, besluit sy om ook maar op te staan. Sy duik egter vinnig terug onder die beddegoed toe Peet ineens in die tentopening verskyn. “Is jy wakker?”
“Ja. Ek het nou net wakker geskrik.”
“Kan ek vir jou koffie bring?”
“Ek sal sommer daar buite kom drink. Ek was nou net van plan om op te staan.”
“Goed, maak net gou. Ek wil vir jou iets wys.”
Toe sy buite kom, stap hy haar tegemoet met ’n bekertjie koffie in die hand.
“Dankie, dit was nie nodig nie. Wat wou jy my wys?”
“Kyk,” sê hy en beduie in die rigting van die hoë berge. “Die oggendson se strale daar teen die Richtersberg. Is dit nie mooi nie?”
“Dis pragtig.”
“Ek het gedink jy sal daarvan hou om dit te sien,” sê hy en sit doodluiters sy arm om haar lyf om haar nader te trek.
Sy tree verskrik weg. “Moenie! Hulle gaan ons sien!”
“Maak dit saak as iemand ons sien?”
“Natuurlik! Kan jy dink wat Bets sal doen as sy ons hier so saam sien? Dit sal die hele vakansie beduiwel!”
“Die ergste wat kan gebeur, is dat sy effe in haar trots gekrenk sal voel. Maar ek gaan tog netnou vir haar sê hoe sake staan. Dat sy nie langer op my moet steun om …”
“Nee!” keer sy oorstelp. “Sy gaan vreeslik omgekrap wees. Laat dit eers daar. Ons kan later vir haar sê. Daar kom sy juis nou deur die bome gestap. En hier kom Jan ook.”
“Môre, my skat,” word sy tot haar verleentheid deur Jan gegroet. “Het jy lekker geslaap?”
Sy probeer so hard sy kan om ongeërg te klink. “Ja, en jy?”
“Heerlik. Drink jou koffie klaar, dan gaan stap ons ’n entjie.”
Nog voordat sy haar mond kan oopmaak om hom te antwoord, sê Peet: “Ja, dis ’n gawe plan. Ons kan gerus weer ’n entjie gaan stap voor ontbyt.”
As haar gemoed nie so deurmekaar was nie, sou sy kon lag oor sy moedswilligheid. En hoewel sy kan sien Jan is ietwat onthuts oor sy oënskynlike wanbegrip van die uitnodiging, sê hy gelukkig niks. Maar toe Bets opdaag, stel sy voor hulle geniet eers koffie en beskuit vir ontbyt, dan kan hulle almal saam gaan stap, en hoef hulle nie haastig te wees om terug te kom nie.
Hulle stap ver, al met die rivier se oewer langs. “Hier lyk die water beter,” sê Jan op ’n keer. “Ons kan môre hier kom lyn natmaak.” Hy draai na Alet en vat haar aan die arm. “Of hoe sê jy, my skat? Jy gaan mos saam met my kom, of hoe?”
Alet is pynlik bewus van Peet wat na hulle staan en kyk, en verwens sy voorbarige troetelnaam. “Ag, ek twyfel of ek sal saamkom. Met my geluk sal ek tog net weer ’n barber vang.”
Met die teruggaan gebeur dit ’n paar keer dat die mans voor hulle loop. Sy kan nie anders as om haar te verlustig in Peet se ferm sonbruin bene en die ratsheid van sy voete wanneer hy van klip tot klip spring nie. Die buiging van sy lyf, die swaai van sy arms …
“Eina!” Haar gedagtes word plotseling verbreek deur Bets se harde uitroep agter haar. “My voet!”
Almal draai blitsig om na haar toe hulle sien sy’t geval. “Ek dink ek het my enkel verstuit.”
“Hmm, dit wil so voorkom,” sê Peet nadat hy haar voet ondersoek het. “Dit lyk gelukkig nie te ernstig nie, maar jy sal nie op jou voet kan trap nie.”
“Hoe moet ek dan by die tente kom?”
“Jy sal gedra moet word. Kom, klim op my rug.”
Alet wonder hoekom moes dít juis nou gebeur het. En of dit regtig nodig is dat Bets hom so styf om die nek moet vashou. Maar dan knaag die skuldgevoel weer aan haar. Sy het die reg daartoe. Sy, Alet, is die indringer, die een wat haar van haar geluk wil beroof.
By die tent aangekom, wil Bets niks weet van gaan lê nadat Peet haar enkel verbind het nie. “Ek sal met my voet op ’n bankie daar by Mary-Ann gaan sit. Ons twee sal mekaar geselskap hou.”
Toe die ander sien haar voet is verbind, wil almal weet wat het gebeur. “Dis oor jy nie liewer saam met óns gaan stap het nie,” sê Jaco. “Ons het jou gesoek, maar toe was jy skoonveld.”
“Ek het verkies om saam met Peet te stap.”
“Ja, natuurlik! Hoe is dit dan dat ek vergeet het jy’t ’n kêrel?”
“Hoor hier, soek jy my?” vra Bets ergerlik.
“Nee, ek terg sommer,” sê Jaco vinnig. “Klim maar af van jou perdjie, ek sal jou nie verder treiter nie.”
“Jy beter nie, want ek kan van jou ook dinge sê.”
Alet wonder wat die onderonsie tussen die twee beteken toe sy sien hoe vies Bets vir Jaco agterna gluur toe hy wegloop om iets in die vullissak te gooi. Haar blik soek na Peet. Wat dink hy van die situasie? Maar hy gesels ongestoord met een van die ander manne, en het hulle seker nie eens gehoor nie.
Sy en Peet kry nie kans om alleen te gesels nie, want daar is altyd iemand wat óf haar óf Peet se aandag opeis. Sy word ook ingespan om te help met die middagete, en daarna voel sy genoodsaak om saam met die ander meisies te gaan swem toe iemand so ’n voorstel maak. Dis net Bets en Mary-Ann wat agterbly. En toe hulle terugkom, het die mans besluit om die aand ’n potjie te maak. Sy moet weer help om aartappels te skil en uie op te kap. Peet blyk ’n bobaaskok van potjiekos te wees, dus hou dit hom besig tot etenstyd.
Ná ete kom trek Jan haar van die stoel af op. “Kom ons gaan stap ’n entjie.”
“Dis dan donker,” soek sy na ’n verskoning.
“Ons kan ’n flitslig saamvat, maar dis amper nie nodig nie. Die maan skyn helder genoeg. Ons kan padlangs stap.”
“Dink jy nie ons het vandag al genoeg gestap