sê Bets, haar erglikheid van flussies skynbaar vergete. “Ek sal die koeldrank gaan haal. Watter soort wil jy hê?”
“Enige soort.”
Sy kyk Bets agterna toe sy wegloop. Haar buierigheid wys duidelik dat daar iets is wat broei. En met goeie rede. Hoe gouer die vakansie tot ’n einde kom, hoe beter.
’n Rukkie later toe Bets op die kombers aan die slaap raak, staan sy op om te gaan swem. Sy kyk bekommerd berg se kant toe. Dis maklik die warmste dag wat hulle nog gehad het hier in die Richtersveld. Sou die mans darem sonbrandolie saamgevat het?
Toe sy klaar geswem het, gaan lê sy op die gras op haar handdoek. Net tot haar bikini droog is, sê sy vir haarself, maar dis nie lank voor sy weer lomerig word nie. Sy skrik wakker toe iets ysigs haar rug tref. Die skok is so groot dat sy opspring en sommer mik om Peet se laggende gesig ’n klap te gee. Hy koes egter vinnig weg, en toe besef sy eers dis eintlik Jan wat sy moet klap, want dis hý wat water uit die waterbottel oor haar rug gegooi het.
“Ek dag julle is besig om berg te klim!”
“Dit het te warm geword,” sê Peet. “Ons het besluit om om te draai voor die son ons heeltemal verskroei.”
“’n Wyse besluit, sou ek sê.”
“Ons gaan ook kom swem,” sê Jan. “Wag hier vir ons. Ons gaan net gou ons swemklere aantrek.”
Sy staar hulle agterna toe hulle kamp toe loop. Dis eintlik snaaks dat Jan nog nie agtergekom het van haar en Peet nie, dink sy by haarself. Of is dit maar net haar skuldige gewete wat maak dat sy wil glo almal in die kamp moes dit al teen hierdie tyd besef het?
Toe hulle terugkom, piets Peet haar oor die boude met sy handdoek. “Jy moet ’n slag jou bene smeer. Kyk hoe rooi is hulle.”
“Ek sal my gaan smeer wanneer ek teruggaan. Ek het nie my sonbrandolie saamgebring nie.”
“Ek het myne hier,” sê hy, en toe sy haar kom kry, kniel hy langs haar, sy hande vol sonbrandolie, reg om haar in te smeer.
Sy vlieg orent. “Toemaar, ek sal self.”
Sy sien hoe hy vlugtig oor sy skouer loer na waar Jan in die water plas, en toe hy terugdraai, is sy oë vol tergduiweltjies. “Mag jou toekomstige man jou nie insmeer nie?”
“Nie hier nie. Nie nou nie,” sê sy verbouereerd.
“Wanneer en waar dan?”
“Los jou stuitigheid. Jan kyk vir ons.”
“Ek is seker hy sal nie omgee dat ek jou help nie. Wees nou ’n soet meisie en draai terug op jou maag. Hy sal net agterdogtig raak as jy jou langer teësit.”
Sy gehoorsaam half outomaties. Maar ondanks die versengende hitte slaan die hoendervleis op haar uit toe sy hand aan haar bobeen raak. Sonder haas smeer hy haar bene van bo tot onder. As dit nie was vir Jan in die water en vir haar skuldgevoel jeens Bets nie, sou sy haar volkome kon oorgee aan die genot daarvan. Maar juis dit maak dat sy tente se kant toe kyk en Bets na hulle toe aangestap sien kom.
“Wag eers, ek het nog nie klaar gesmeer nie,” sê hy toe sy vinnig orent kom.
“Gee vir my. Ek sal self verder smeer. Bets is op pad hierheen.”
Hy gee ’n suggie. “Ek wens jy wil ’n slag jou lojaliteit teenoor haar los. Ek is moeg daarvan om ter wille van ander my gevoel vir jou weg te steek. Ek wil jou vashou en liefkoos. Ek wil hê die hele wêreld moet sien …”
“Sjuut!” maak sy hom stil en gryp die bottel uit sy hand. “Gaan klim in die water.”
Maar pleks dat hy water toe gaan, kom maak hy hom op ’n klip skuins langs haar tuis. “Dis lekkerder om hier by jou te sit. Ek sal gaan afkoel nadat ek jou liggaamsbou bewonder het.”
Daar is nie tyd om iets daarop te sê nie. Bets is te naby. En sy kan maar net hoop dat dié sal dink haar wange is rooi weens sonbrand. Gelukkig spits Bets haar aandag op Peet toe en vra wanneer hulle teruggekom het.
“So pas. Die son het ons amper verskroei.”
“Het julle darem die piek bereik?”
“Nee, ongelukkig nie. Maar waar was jy dan? Ek het jou nie netnou in die kamp gesien toe ons ons swemklere gaan aantrek het nie?”
“Ek en Mary-Ann het ’n entjie gaan stap. Jy moet weer ’n slag na haar arm kyk. Sy sê dit voel ongemaklik.”
“Gisteraand was daar nie fout mee nie. Maar ek sal netnou weer kyk. As julle twee dames my nou sal verskoon, ek gaan ook eers afkoel.”
“Ek voel nogal jammer vir Mary-Ann,” sê Bets toe Peet in die water klim. “Thinus kon darem tot by die huis gewag het voor hy haar afgesê het.”
“Ja, ek kry Elsie ook jammer,” sê Alet. “Dit lyk my dinge tussen haar en Ben wil ook nie weer op stryk kom nie.”
“Dit sal ook nie. Maar wag, ek gaan gou my swemklere ook aantrek,” sê Bets. “Daardie twee baljaar darem nou te lekker in die water.”
Alet wonder hoekom Bets sê dinge tussen Ben en Elsie sal nie weer op stryk kom nie. Elsie het seker met haar gepraat oor hul verhouding. Arme Elsie.
Toe hulle ’n ruk later by die ander kampeerders aansluit, word die meisies aangesê om solank slaai te maak. Alet merk dat Elsie ledig rondstaan en so verdrietig lyk dat sy sommer die aartappel wat sy besig is om te skil, vir Bets gee. “Hier, skil jy verder. Ek gaan gou vir Elsie vra om ons te kom help.” Maar sy is totaal onbedag daarop dat Elsie haar sou afjak.
“En nou?” vra Bets toe sy terugkom. “Wat het Elsie gesê?”
“Sy sê sy werk nie saam met fariseërs nie,” sê Alet oorbluf. “En toe loop sy sommer van my af weg. Wat sou dit beteken?”
“Hmm, ek het gedink jy maak ’n fout om haar te vra.”
“Maar hoekom? Ek het haar mos niks aangedoen nie.”
“Toemaar, sy sal wel die een of ander tyd daaroor kom.”
“Waaroor kom?”
“Oor Ben.”
“Ai, ek het so gehoop dinge gaan weer regkom tussen hulle.”
“Hoe ver is julle met die slaai?” word hul aandag deur Jan in beslag geneem. “Kan ons al die vleis begin braai?”
“Ja, wat,” sê Bets. “Ons gaan nie aartappelslaai maak nie, dit vat te lank. Ons kook dit sommer net.”
“Wat van pap?” wil Peet weet.
“Dit kan Alet weer môreoggend vir jou maak vir ontbyt.”
“Is dit ’n belofte?” vra hy met sy blik op Alet.
“Ja, goed, as die ander ook wil hê.”
“Gaan jy dit weer so effentjies laat aanbrand ook?”
“Ek sal probeer.” Sy verwens die blos op haar wange en loop vinnig weg om kamma haar hande te gaan afspoel. As hy haar so bly treiter, gaan almal in die kamp binnekort besef sy’s tot oor haar ore verlief op hom, dink sy in haar enigheid.
Terwyl die mans vleis braai, kom sy agter daar is vele onderstrominge om die vuur. Dis ook stiller as ander aande. Ben slaan die een ná die ander bier weg en kyk nie na Elsie se kant toe nie. Sy sit weg van hom af in die vuur en staar. Thinus is baie danig met Ernst se meisie, en dit lyk nie asof Mary-Ann haar enigsins daaraan steur nie.
“Nee, my maggies,” sê Jan op ’n keer. “Hoekom lyk almal vanaand of hulle op pad is na ’n begrafnis? Ben, laat waai daar met ’n grap, man.”
Maar Ben glimlag net, maak vir hom ’n soveelste bier oop en gaan sit langs Mary-Ann.
“Gaan haal liewer jou kitaar,” sê Peet.
Toe Jan terugkom met die kitaar, neem Peet dit uit sy hand, tokkel