my ook,” groet Jan. “Hier is my nommer.”
“Ek sal so maak,” sê sy. “En nogmaals baie dankie vir alles.”
“Ek sal wag dat jy eerste bel,” sê Peet. “Anders pla ek jou dalk op ’n ongeleë tyd.”
As sy nie so sonder gevoel was nie, sou sy kon lag oor sy oënskynlike besorgdheid.
“Nou ja, kom dat ons ry,” jaag Bets die ander aan. “Ek voel so taai en vuil dat ek aan niks anders as ’n bad kan dink nie. Ek sal jou môre bel om te hoor hoe dit gaan.”
Toe hulle ry, sluit sy die voordeur oop, en sien die sitkamer is leeg. Dit laat haar onthou van die trekkery, en skielik raak dit ligter in haar. Die trekkery kon nie op ’n meer geleë tyd gebeur het nie. Nie een van hulle het haar nuwe adres nie. Hulle het ook nie haar selfoonnommer nie, want sy’t dit juis laat verander toe Wouter haar so gepla het. Toe frommel sy die kaartjies wat Peet en Jan vir haar gegee het op, gaan gooi dit in die vullisblik in die kombuis, en loop kamer toe om haar ma te gaan soek.
“Is dit nou die tyd om hier aan te kom!” raas haar ma nadat hulle gegroet het. “Jou pa kon al dood gewees het.”
“Ons het so vinnig gery as wat ons kon. En ek hét Ma mos gesê watter tyd om ons te verwag.”
“Wat gaan van my word?” raak haar ma skielik weer tranerig. “Wie gaan na my kyk as jou pa doodgaan?”
“Moenie aan so iets dink nie, Ma. Pa sal nie doodgaan nie.”
“Kind, ek het lankal ’n voorgevoel gehad dat iets verskrikliks met hom gaan gebeur. En die gesig wat ek voorverlede nag gehad het …”
“Og, is die ou doemprofeet al weer besig om jou ook te probeer oortuig dat jou pa gaan sterf?” kom tant Stien al pratende die vertrek binne. “Dag, my kind. Hoe gaan dit met jou? Eintlik onnodig dat ek vra, want kyk net hoe bruingebrand en gesond lyk jy!”
“Naand, tannie Stien. Baie dankie dat tannie vir Ma kom bystaan het.”
“Jong, ja, hoe jou pa dit uithou met hierdie suster van my, weet ek nie aldag nie. Sy begin my ook al graf toe praat met haar voorbodes en dinge. Maar wag, ek het lekker vars koffie gemaak. Jy’s seker dors, of hoe?”
“Dankie, tannie, dit sal lekker smaak. Ek wil net gou my tasse in die kamer bêre.”
“Ek help jou gou daarmee,” sê haar tante. “Dan kom drink ons koffie agterna.”
“Hoe siek is Pappa regtig, tannie?” wil Alet weet toe hulle buite hoorafstand van haar ma is.
“Ek weet nie wat om vir jou te sê nie, my kind. Met beroerte weet ’n mens mos nooit. Ek en jou ma kom nou net van die hospitaal af. Hy’t nog nie sy bewussyn herwin nie, maar hoofsaak is dat hy nog lewe. Ons kan maar net bid vir hom.”
“Ek wil net gou koffie drink, en dan dadelik hospitaal toe ry.”
“Jy’t dan so ’n lang pad agter die rug. Moet jy nie eers ’n bietjie rus nie? Daar is tog nie veel wat jy in hierdie stadium vir hom kan doen nie.”
“Ek sal nie tot rus kom voor ek hom nie self gesien het nie.”
“Nou goed, maak klaar dat jy kan ry.”
Alet skrik toe sy by die hospitaal kom en haar pa sien. Hy is beslis baie siek. Haar beroep het haar geleer dat daar enigiets in so ’n geval kan gebeur. Maar sy wil nie aan die dood dink nie. Sy moet net bid. Aanhoudend bid, want as hy sterf of verlam is … Hoekom het sy nie haar vakansie liewer by die huis deurgebring nie? Hoekom het sy dit in die Richtersveld gaan vermors, boonop haar hart op die spel geplaas deur met ’n man soos Peet deurmekaar te raak? Die selfverwyt sal haar verteer as haar pa moet sterf, as sy nie eens vir hom kan sê sy’s jammer sy was nie daar toe hy siek geraak het nie …
Die son is amper op toe sy huis toe ry. Haar ma en tannie Stien is dadelik by om te hoor hoe dit met hom gaan.
“Sy toestand is nog dieselfde as gistermiddag. Ons moet net geduldig wees.”
“Sien, ek het jou gesê,” wend haar ma haar na haar suster. “Hy gaan dit nie maak nie. Wat gaan van my word?”
“Hou op met jou treurmares, Truida. Jy sal hom doodpraat soos jy aangaan.” Sy rig haar tot Alet: “Hier het iemand met die naam Peet gebel. Hy’t gevra dat jy hom moet bel sodra jy terug is van die hospitaal.”
“Ek sal later. Hoe laat verwag julle die treklorrie?”
“Seker so teen nege-uur. Maar moet jou nie bekommer nie, alles is ingepak, dis net vir oplaai. Kom eet gou ietsie, dan slaap jy tot hulle hier is. Ek het vir jou ’n bed opgemaak op ’n enkelbedmatras op jou kamervloer.”
Tannie Stien is nie iemand wat van teëstribbeling hou nie. Alet is in elk geval so tam dat sy sommer regop kan staan en slaap. Sy val dadelik weg in ’n diep slaap, en dis reeds tienuur toe tannie Stien haar kom wakker maak.
“Die treklorrie is weg met die laaste goed. Dis net jou beddegoed en tas wat agtergebly het. Dié kan ons sommer in jou motor laai. En o, ja, hier het ’n hele paar mense gebel. Weer Peet, en Jan en Bets ook. Ek het vir hulle gesê jy slaap, maar dat jy sal terugskakel sodra jy wakker is.”
“Dankie, tannie Stien.” Maar sy glimlag wrang toe haar tante die vertrek verlaat. Laat hulle maar lui. Dis nog net ’n rukkie voor hulle nie antwoord gaan kry nie. Niemand sal haar weer kan verpes tot sy terug is by die werk nie.
Maar net toe hulle die huis wil verlaat, lui die telefoon in die gang. “Dit sal vir jou wees,” sê tannie Stien, “gaan antwoord gou.”
Sy weifel, maar dink dan daaraan dat dit die hospitaal kan wees. Dit is egter Peet se stem wat in haar oor opklink. “Voel jy darem nou beter, nadat jy ’n rukkie geslaap het?”
“Baie beter, dankie.”
“Kan ek daar na jou toe kom?”
“Ongelukkig nie nou nie. Ons is ’n bietjie besig met … e … ander dinge.”
“Hoe gaan dit met jou pa?”
“Nie goed nie.”
“Ek is jammer om dit te hoor. Is daar enige kans dat ons mekaar binnekort kan sien?”
“Wanneer gaan jy vir jou tante in Pretoria kuier?”
“Daar is geen haas nie. Ek bly eers hier, vir ingeval jy my nodig kry.”
“Jy hoef nie. My pa se toestand kan baie lank onveranderd bly. Dis dalk beter as jy ry.”
“Is jy seker?”
“Ja.”
“Goed, maar ek wil jou graag eers kom groet.”
Sy moet keer dat hy niks agterkom van die trekkery nie, flits dit deur haar gedagtes. “Miskien moet jy my maar vanaand tydens besoektyd by die hospitaal kom groet. Of wou jy vroeër ry?”
“Nee, dis reg so. Ek sal dan môreoggend ry. Is jy seker daar is nie iets waarmee ek jou intussen kan help nie?”
“Nee, niks nie, dankie.”
“Goed, dan sien ek jou vanaand.”
Sy verwens haarself dat sy nie sommer vir hom oor die telefoon gesê het sy is nie van plan om verder met haar te laat mors nie. Maar met haar ma en tannie Stien wat binne hoorafstand vir haar gestaan en wag het, kon sy dit nie doen nie. Die laaste ding waarvoor sy lus is, is ’n lot verduidelikings. “Sluit die voordeur, dat ons sommer die sleutel by die nuwe intrekkers gaan afgee,” sê haar ma toe hulle ’n laaste keer by die huis uitstap.
Sy sorg dat sy self die bos sleutels vir die nuwe intrekkers gaan gee. Gelukkig vra hulle nie wat hul nuwe adres is nie, anders sou sy noodgedwonge ’n witleuentjie moes vertel het, dat sy nog nie die nuwe woonadres kan onthou nie.
Die aand toe hulle regmaak om hospitaal toe te gaan, draai sy opsetlik sodat hulle eers ’n hele ruk ná besoektyd