is verstom. Dit het nog nooit by haar opgekom dat Peet kitaar kan speel nie, laat staan nog so mooi! Maar nou ja, wat weet sy eintlik van hom af? Behalwe dat sy hom liefhet. En dat dit nie net die verliefdheid van ’n vakansie-romanse is nie.
“Ek het nie eens geweet Peet kan kitaar speel of sing nie,” sê Bets wat ná ’n rukkie langs haar kom sit het. “Hy is nogal goed.”
Die musiek skep gou ’n vrolike atmosfeer. Miskien ’n bietjie té vrolik, dink Alet bekommerd toe sy merk Ben sit met sy arm om Mary-Ann se skouers. Dis die laaste ding wat sy verwag het, dat hy hom aan Mary-Ann sou steur. Ben, wat vroeër so uitgesproke daaroor was dat hy nie van mollige meisies hou nie. Wys jou net wat die liefde aan ’n mens kan doen. Het sy nie ook aanvanklik, toe sy Peet die eerste keer gesien het, gedink hy is ’n ou vaal mannetjie nie!
Toe Mary-Ann op ’n keer openlik vir Ben in sy nek kielie, en sy sien dat Bets se blik ook op hulle rus, sê sy: “As jy my vra, het Ben ’n paar sopies te veel in. Arme Elsie. Ek kry haar baie jammer.”
Bets glimlag. “Toemaar, kry liewer vir Mary-Ann jammer. Sy’s ’n sot om te glo Ben steur hom aan haar.”
Toe dit slaaptyd raak, en Bets saam met ’n paar van die ander meisies wegstap ablusieblokke toe, kom sit Peet langs haar. “Het jy gehoor my laaste liedjie was net vir jou?” vra hy sag.
“Dankie. Ek het dit nie besef nie. Jy sing pragtig. Hoeveel fasette is daar nóg in jou lewe waarvan ek nie weet nie?”
“Wat jy dalk nog nie weet nie, is dat ek ’n baie goeie man vir jou gaan wees. En net so ’n goeie pa vir ons kinders.”
“Jy loop dinge vinnig vooruit,” sê sy blosend, maar met ’n warm gevoel in haar binneste.
“Kom ons gaan stap.”
“Nee,” sê sy vinnig. “Ons kan nie alleen gaan stap nie. Wat sal Bets en die ander daarvan dink?”
“Ek gee nie ’n snars om wat hulle dink nie. Toe, kom ons gaan loop ’n entjie.”
“Hoe aanloklik dit ook al klink, nee.”
“Sal jy saam met my gaan stap as Bets haar toestemming gee?”
“Sy sal dit nimmer as nooit gee nie.”
“Jou lojaliteit teenoor haar verstom my.”
“En jou díslojaliteit teenoor haar verstom my. Daar kom hulle juis nou terug,” beduie sy bome se kant toe waar Bets se gelag helder opklink.
“Ek gaan nou vir haar sê hoe sake staan sodat jy kan sien haar sogenaamde liefde vir my is net ’n blufspel.”
“Nee, asseblief nie,” keer Alet vinnig. “Onthou ons twee deel ’n tent. As jy haar wil afsê, moet jy dit liewer môreoggend doen. Anders moet ek die slae alleen verduur.”
“Goed, môreoggend dan. Ek sal my liefde vir jou darem seker nog een nag in toom kan hou.”
Sy woorde maak dat sy weer eens nie kan slaap nie. Sy voel jammer vir Bets, maar is ook bekommerd oor wat haar reaksie gaan wees. Dit gaan bitter jammer wees as dit die einde van hul vriendskap beteken. Maar wat anders moet sy doen?
Die een of ander tyd sluimer sy wel in, maar skrik dadelik wakker toe sy ’n geritsel by die tentopening hoor. Toe sy sien dis Bets wat buitentoe gaan, kyk sy op haar horlosie. Dis twee-uur. Gelukkig darem nog ’n hele rukkie voor opstaantyd. Sy dommel dadelik weer weg, maar skrik wakker toe Bets terugkom. Dis vieruur, sien sy.
“Waar was jy die hele tyd?” vra sy bekommerd. “Is jou maag weer ongesteld?”
“Lê jy al weer wakker en spioeneer op my?”
“Ek spioeneer nie op jou nie. Ek het toevallig wakker geskrik toe jy twee-uur hier uit is. Dis twee uur gelede. En in daardie dun nagklere van jou. Jy sal mos siek raak, man.”
Bets gee ’n kortaf laggie. “Jy hoef jou nie oor my dun nagklere te bekommer nie. Ons het ’n kombers gehad, genoeg bier én ’n bottel vonkelwyn.”
“Wie? Waarvan praat jy?”
Bets klim op die matras en trek die beddegoed oor haar. “Moenie maak of jy dom is nie. Jy weet mos wat gebeur as ’n man en meisie saam onder ’n kombers lê.”
“Jy bedoel tog nie …?” adem Alet geskok.
“Ja, ek bedoel presies dít wat jy dink,” sê sy ergerlik. “Soms gee jou preutsheid my regtig ’n pyn. Hoe oud is jy? Ses-en-twintig? En seker nog altyd ’n maagd. Wel, ek is nie jy nie. Ék geniet ten minste die lewe.”
Alet is stomgeslaan. Dis asof Bets se woorde teen haar ore vasslaan, die betekenis daarvan nie tot haar kan deurdring nie.
“En terloops,” kom dit van onder die beddegoed op die matras langs haar. “Ek is nie onder ’n kalkoen uitgebroei nie, ek weet hoe hard jy probeer om Peet van my af te vry. Jy kan hom nou maar vat, ek is klaar met hom.”
Bets het al begin snork, toe lê Alet nog roerloos onder haar komberse. Sy’t geweet Bets is nie preuts nie. En sy hét al dikwels gesê sy weet hoe om iets te kry as sy dit wil hê. Maar … Peet? Hoe kón hy?
Sy sluk verwoed toe die trane kom. Sy sal nie huil nie. Hy is dit nie werd nie. Haar gemoed raak ’n mengsel van afgryse, woede, diepe teleurstelling en vernedering. Dat hy so vals kan wees! Haar kon laat glo hy’t haar lief! O, hoe lekker moes hy nie in sy mou gelag het nie!
Die tent is ineens te beknop. Sy moet vars lug kry. Buite kom. Sy soek na haar sweetpak, kry dit en trek dit bo-oor haar nagklere aan. Toe glip sy na buite en begin stap. Strompelend in die skemer tussen die bome deur. Struikel dan oor iets – ’n leë sjampanjebottel en twee bierblikkies. ’n Naarheid stoot in haar op, laat haar maag ruk. “Here, help!” ’n Wanhoopskreet. Sy begin blindelings hardloop. Totdat sy nie meer kan nie. Toe begin sy stap. Later raak dit ligter, en kan sy vinniger stap. Nie dink nie, net stap. Die berg uit. Klim, klouter, spring. Van die een gevaarlike rotspunt na die ander. Wat maak dit saak as sy val en haar nek breek? Peet sal verlig wees, want dan hoef hy nie bang te wees sy sal Bets vertel van sy onderduimsheid nie.
Haar ma se waarskuwing … Sy moes daarna geluister het. Dis die één keer wat haar gesigte-sienery reg was. Maar sy was te slim om haar daaraan te steur. Daar bestaan mos nie so iets nie. En nou? Nou het presies gebeur wat haar ma voorspel het. Sy moet liewer nie daaraan dink nie. Sy moet glad nie dink nie. Aan niks dink nie! Eerder wegraak in vergetelheid. Ophou om te bestaan. Sommer net doodgaan.
Toe die son se eerste strale teen die berg oor haar val, kyk sy terug. Haar oog val op die tente in die verte langs die rivier. Dis klein spikkeltjies, kleiner as vuurhoutjiedosies. Sy keer verwoed haar rug daarop. Sy wil dit nie sien nie. Sy wil nie vir Peet, Bets, Jan of enige van die ander ooit weer sien nie! Hoe voel dit om van honger om te kom? Of deur ’n wilde dier verskeur te word? Of om jouself te pletter te val op die rotse?
Maar is Peet dit werd? Nee, beslis nie. Hy’s nie een hartsnaar werd nie. Sy sal teruggaan, vir hulle wys dit maak nie saak nie. Dat sy alles as ’n flankeerdery beskou het. ’n Tussenspel. Vakansieromanse … Geeneen sal die voorreg smaak om te sien die seer in haar is dieper as haar afkeer nie.
Daar is ’n afgestomptheid in haar, maar ook ’n vasberadenheid toe sy opstaan en die terugtog aanpak. Peet se vuilspel met haar is verby. Haar hart is nie gebreek nie. Geen man sal haar hart gebreek kry nie!
Toe sy die kamp nader, sien sy daar is ’n gewoel en gewerskaf om Ben se voertuig. Peet en Jan stap haar tegemoet. “Waar was jy?” vra Peet. “Ons het al bekommerd geraak. Dis al amper halfnege.”
“Ek het nie geweet ons verskuif vandag na ’n ander kamp nie,” sê sy en kyk verby hom na Ben se voertuig.
“Ons skuif nie. Ben-hulle gaan huis toe.”
“O.”
“Ja,” sê Jan. “Thinus en Mary-Ann gaan saam met hulle terug. Die vakansie het blykbaar hul liefdesverhouding deurmekaar gekrap.”
“Vir