altyd welkom wees. Sy deur sal altyd vir haar oopstaan. Maar Neil …
Die dag toe Deidre van hulle af weggestap het, het daar ’n ysterhek binne-in Neil toegeslaan: ’n hek wat hy nie van plan is om ooit weer oop te sluit nie, ’n hek wat Deidre altyd buite sal hou. Maar hoe kan hy dit juis nou vir haar vertel, noudat sy hul vriendskap en bystand en begrip so nodig het? Hoe kan hy hierdie meisietjie, wat reeds so baie verloor het, so baie gely het, nog ’n wond toedien? Hoe kan hy haar vertel dat haar eertydse en grootste vriend, die man wat sy soos ’n pa beskou het, niks van haar wil weet nie en niks met haar te doen wil hê nie?
“As jy nog nie ander planne gemaak het nie, wil ek en die tante baie graag hê dat jy ’n rukkie na ons toe kom wanneer jy uit die hospitaal ontslaan word,” sê hy nou om die gespanne stilte te verbreek.
“Ek het geen planne nie, oom. Ek … sal graag wil kom, dankie. Ek voel skaam om ná my gedrag teenoor julle van jul gasvryheid gebruik te maak, maar … ek het nêrens om te gaan nie,” erken sy gedemp.
In Alwyn Bruwer se oë is daar skielik ’n vogtigheid en sy stem bewe aangedaan toe hy sê: “My liewe kindjie, jy was nog altyd soos ’n kind vir ons en ek en die tante sal jou dit beslis kwalik neem as jy nie by ons kom aansterk nie. As daar ook enigiets anders is waarmee ek kan help, reëlings wat jy wil tref en dies meer, moet jy net praat.”
“Ek sal so dankbaar wees, oom. Ek sal so bly wees as oom my prokureur hier in die stad kan gaan spreek en sommer my woonstel se huur kanselleer en reëlings tref vir die verkoop van my meubels. Ek … weet nog steeds niks van sulke sake af nie. Norman … Norman het daardie deel maar behartig.”
“Natuurlik, my kind. Maar wil jy al die meubels verkoop? Is daar nie iets wat jy graag wil behou nie?”
“Net Pappa se lessenaar en ’n paar stukkies van Ma. Die ander wil ek verkoop. Ek wil … niks behou nie.”
Nee, sy wil skoon breek met alles wat haar aan die afgelope twee jaar kan herinner. Dis beter so. Hierdie twee jaar was maar net ’n tussenspel in haar lewe. Hoe gouer sy daarvan wegbreek, hoe beter.
“Ek sal by dokter Beneke hoor hoe gou ek ontslaan kan word. Ek … is nou haastig om saam met oom Alwyn te gaan.”
Ja, by oom Alwyn en tant Bettie sal sy miskien weer die drade wat sy jare gelede so skielik afgeknip het, kan optel. En miskien … miskien sal sy vir Neil daar raakloop. As hy haar die geleentheid wil gee, sal sy hom vertel dat sy hom nie werklik vergeet het soos wat hy seker dink nie. Sy het dikwels ontsettend na hom verlang, maar was te trots en hardkoppig om eerste toenadering te soek. Sy sal hom ook vertel dat hy gelyk gehad het. Sy het agter ’n skynglans aangehardloop … En toe sy eindelik haar doelwit bereik, het sy dit wel, net soos hy gesê het, bar en ru en eensaam gevind. Veral eensaam.
Dokter Beneke steek nie sy vreugde weg toe hy hoor dat ou vriende van Deidre haar graag by hulle sal wil neem tot tyd en wyl sy weer haar voete gevind het nie. Hy loop oom Alwyn voor Deidre se deur in die gang raak en die ouer man rig sommer dadelik sy versoek tot die dokter om Deidre saam met hom te neem.
“Jy kan haar maar môreoggend kom haal, meneer Bruwer,” gee dokter Beneke dadelik sy toestemming en die ergste onrus oor haar sak in hom weg. Hy het sommer met die eerste oogopslag van die middeljarige prokureur se gesig gehou, veral toe hy hoor dat Alwyn Bruwer ’n vriend van Deidre was voordat sy as sangeres beroemd geword het. Hy is tevrede dat hy haar met veiligheid in sy hande kan laat. Dit is al deur en deur bewys dat die vriende wat jy geken het voordat roem en rykdom jou te beurt geval het, steeds die beste vriende bly. Ou, bewese vriende is soos suiwer goud – hulle kan die vuurproef deurstaan en gelouter en baie waardevol anderkant uitkom.
Die volgende oggend kom haal oom Alwyn haar by die hospitaal, en solank Deidre haar goedjies bymekaarkry, gaan soek hy haar prokureur op. Toe hy met middagete weer die woonstel binnestap, is sy gesig baie ernstig en kan Deidre sommer dadelik sien dat hy hewig ontsteld is oor iets.
“Wat makeer, oom Alwyn?” vra sy ook dadelik.
Dis of hy eers aarsel, maar dan antwoord hy reguit: “Ek is bevrees ek bring nie alte goeie nuus vir jou van jou prokureur af nie, Deidre. Volgens hom het jy nie geld nie.”
“Wat!” Haar oë rek verbaas. “Maar … maar ek het dan gedink ek maak heelwat geld met my CD’s!” laat sy verdwaas hoor.
Alwyn Bruwer knik grimmig.
“Jy maak ook, maar jy lewe alles uit. Ek is verbaas, Deidre. Jy was nooit spandabelrig nie, maar volgens wat meneer Maree my vertel en bewys het, het jy en jou bestuurder darem buite perke rojaal aangegaan!”
Deidre weet nie hoe om haarself te verweer nie. Sy weet niks van haar eie geldsake af nie. Om die waarheid te sê, het sy nie eens ’n idee wat haar klere kos nie. As Norman gedink het dit is tyd dat sy ’n nuwe uitrusting kry, of ’n nuwe aandrok vir ’n spesiale geleentheid, dan het sy na die beste boetiek in die stad gegaan, een uitgesoek en die rekening is na die prokureurskantoor verwys waar Norman die tjeks geteken het.
Sy sak nou verdwaas op ’n stoel neer en sê bedees: “Dit is jammer. Is dit … baie erg?”
“Ek sou so dink!” laat oom Alwyn driftig hoor. “Laat ek ’n bietjie vir jou voorlees uit hierdie rekening: Een aandrok – drieduisend rand. So ’n bedrag … vir ’n ding om om jou lyf te hang! Werklik, Deidre!”
Sy stem slaan weg en Deidre keer net betyds die glimlag om haar lippe. Oom Alwyn is nog van die goeie ou soort, en om soveel geld te bestee aan ’n ding wat jy net met glansgeleenthede dra, is vir hom die toppunt van spandabelrigheid! Hy het in die harde skool van die lewe grootgeword en dit het tweede natuur by hom geword om respek vir geld te hê.
Sy probeer verduidelik: “Dit is ’n spesiaal ontwerpte modeskepping, oom Alwyn. Norman wou nie hê dat ek iets anders as boetiekklere dra nie. Daar is geen ander aandrok soos daardie een nie. Dit was nodig vir my prestige …”
“Prestige se voet!”
Sy vra haastig: “Is daar nog iets wat … wat baie duur was?”
“Nie nog iets nie! Talle! Luister ’n bietjie hier. Een leerjas – tienduisend rand. Ek bid jou aan! Tienduisend rand vir ’n ding om jou warm te hou … dis verregaande!”
Hierdie keer voel Deidre nie lus om te glimlag nie. Haar gesig het verstil en sy draai haar blik vinnig weg. Die jas was ’n geskenk van Norman daardie aand – so het sy altans aangeneem. Nou blyk dit dat sy self vir haar geskenk moes betaal – en seker vir al die ander wat hy haar in die verlede gegee het. Sy sug saggies. Ag, wat maak dit ook saak? Dit sal haar nie ’n bloue duit in die sak bring om Norman nou te begin verdink en beskuldig van oneerlikheid nie. Oom Alwyn se driftige stem ruk haar gedagtes terug.
“Maar ek het sommer daardie dag geweet toe die laventelhaan so baie vra om mee te begin dat hy geen benul van geld het nie. Meneer Maree vertel my dat hy al dikwels bekommerd was en met jou wou praat, maar aangesien jy hierdie … vent volmag gegee het, was sy hande afgekap.”
“Het ek niks geld nie?” vra sy asof die besef van wat oom Alwyn haar vertel het en watter implikasies en komplikasies dit vir haar gaan meebring, nou eers ten volle tot haar deurdring.
“Daar is so ’n bietjie, maar daar is nog uitstaande skuld. Die prokureur dink egter dat jy van tyd tot tyd nog heelwat geld behoort in te kry uit CD-verkope …”
Hy swyg en kug ongemaklik. Dan gaan hy vinnig voort: “In elk geval, my kind, daar is geen rede om jou te bekommer nie. Jy sal darem nie niks hê nie, maar beslis nie soveel dat jy van nou af tot die dag van jou dood ’n luilekker lewe sal kan voer met uniek ontwerpte skeppings en swierige jasse nie. Maar aangesien jy so ’n fortuin aan klere bestee het, behoort dit jou die volgende vyftig jaar te hou. Ek meen te sê, ’n mens dra mos nie ’n rok en ’n jas in een jaar op nie. Ons moet nou maar reëlings tref en huis toe gaan. Hoe gouer jy uit hierdie woonstel kom, hoe beter. Weet jy hoeveel die huur van hierdie plek is? Agtduisend rand per maand!”
Deidre frons.
“Nee, dit is nie. Dis vierduisend rand. Nee, oom Alwyn, regtig.